“Eleke Saterag, Madam, dan hou ons begrafmes; laas Saterag ons bêre séwe by die grond,” sê hy en lig ‘n hand vol vingers en nog twee op. Hy sit op die punt van een van my nuwe kantoorstoele. Vuilpienk stoele teen ‘n vuilroom agtergrond met Welfare-posters: “I am drug free & proud to be …” Sy lyf is ‘n boog met ‘n trotse nek. Sy gesig is die gesig van al die ander: dieselfde kepe, donker oë, plat neus wat oopsper na onder en speeksel wat bly kleef aan die mondhoeke.
“Die dokter skryf hier,” en ek wys hom die papier. “Hy skryf jy kan nie pension kry nie.”
“Maar ek moet!” Sy oë spring uit en keer my vas agter die lessenaar.
“Sheva, as die dokter so skryf, dan kan ek niks maak nie.”
Hy beweeg nie. Hy smile net: ‘n seker smile. “Die dokter het my hier na djou gastier.” Die smile word wyer en trek sy hele gesig in ‘n kreukel. Die man is op ‘n missie om my te oortuig, ek kan dit sien aan sy gesig. Hierdie fight het ek te veel kere al verloor, vandag gaan ek nie ingee nie. Die dokter het geskryf, die dokter het gepraat en die maatskaplike werker kan niks daaraan doen nie. Die maatskaplike werker wil niks daaraan doen nie. Ek gaan wragtag nie by die dokter smeek om sy diagnose te verander nie.
“Die dokter sê jy’s nie siek nie. Die dokter skryf jou kop is nog reg en as jy die treatment van die TB nou elke maand vat; dan kan jy werk …” Jy kan mos ligte skropwerk iewers kry. Iets wat jou nie te moeg maak nie.
“Auk! Madam; kyk vir my. Kyk hoe lat ek lyk … ek is siek,” sê hy en hoes dat die spoeg oor my lessenaar spat en die ink op my verslae smeer. Ek skuif onwillekeurig weg van die kieme. Hy haal sy gehawende blou klinieklêer uit en skuif dit aan oor die lessenaar.
Skielik hoor ek dit: die kraan agter in my kantoor wat drup-drup. Watter donner het nou weer water gedrink en nie die kraan ordentlik toegedraai nie? Ek sug, soek my pen en ‘n Intake Form. Miskien as ek sy saak aanteken – miskien sal hy dan tevrede wees. Bo-aan die papier vul ek in: kategorie 83, grant application.
“Wena o mang?” vra ek. Hy verstaan nie my snaakse Tswana nie. “Wat is jou naam, ra?”
“Ke na Manapula Mosemane.”
Ek skryf neer.
“ID?”
Hy begryp my nie … “Pass o kae?”
Hy soek rond in die geheimsinnige sakke van sy blou overall. Gebore iewers in 1944; hy is dus amper oud genoeg vir ouderdomspensioen.
“Een van die dae sal jy kan oumens pension kry,” troos ek hom.
“Madam, miskien volginne Saterag; hulle moet MY by die grond sit!”
Ek sê niks. Agter my drup die kraan: sh-sh-sh-ploink …
“O dula kae, Rra?”
“Vragas, annerkant Southey. Ek het vér gekom met die donkies.”
Ek dink aan die pad Vragas toe. Die gruis en die stof; hier en daar ‘n graspol in die veld. Die verskriklike vlaktes. Die droefnis. En die wolke wat soos vredesvlae aan die horison wapper – altyd maar. Die kraan drup desperaat, eentonig.
“Vragas,” sê ek hard-op en skryf neer.
Ek vat die blou lêer en lees: “B/P: normal. Bad cough – pt must stop smoking.”
“Die dokter sê jy rook te veel – dis dié dat jy so hoes.”
Hy kyk na die pakkie sigarette wat links van my lê; kyk afgemete terug na my: “Die dogeter – hy LIEG. Rook maak niks.”
“Luister nou mooi, Manapula, as die dokter skryf jy kan nie disability pension kry nie; dan kan ek niks maak nie. As die dokter nou sê ‘ja’, ‘hoseame’, ‘dis reg’; dan is dit reg so; maar nou het die dokter hier geskryf: ‘nee’. Nou kan ek niks maak nie …”
Die kraan drup nie meer nie; dit dreun: ‘n waterval net agter my.
“En ek wat Manapula is, sê: ek hoes bloed; ek is siek. Hoor net.” En hy hoes weer. Hy hoes die geraas van die waterval dood.
“Ek gat vir my nog vrek hoes,” hyg hy. “So, Madam, is die hoes van die Tie-Bie; ek weet. Ek ken hom goed. Ons begrawe hulle almal.”
“Maar die dokter skryf die TB is nie so erg dat jy nie kan werk nie – hulle gee jou mos nou treatment.” Drink jy ooit die pille? Hy bly stil.
“Madam, vandag se dogeters! Hulle kyk, maar hulle sien ook niks!”
Ek gee op. Bedink ‘n ander plan.
“O na le bana ba le kae? Hoeveel kinders het jy?”
“Ja, Madam, ek het ses kinners – maar dis ok verniet. Hulle soek my nie by die jaart nie.”
“Kan hulle nie maar vir jou thusa nie? Net met bietjie pap of rys elke maand.”
“Ek sê mos – hulle weet nie van my nie. Hulle het my net geken toe ek hulle by die skool moes hou. Nee, nou soek hulle nie vir Manapula nie.”
“Ek kan ‘n brief maak … dan roep ons hulle hier na die kantoor toe.”
Hy skud sy kop, krap in sy neus, vee sy hand teen sy broek af. “Daai planniekie sal nie werk nie. Hulle is hoeka se tyd almal ver weg. Die een hy is by die myn by Rustenburg en die ander by Upington en nog die ander hulle is sustertjies; man gevat en hulle is ok weg.”
“Kan ek nie maar steeds bel of soek vir die een by Rustenburg nie?”
“Los dit, Madam. Die government moet my thusa; dis Tie-Bie hierie. Ek soek pension.”
Agter my dreun ‘n woedende water; die wind ruk skielik aan die vensters, slaan ‘n deur toe …
Ek staan op; gee die lêer en sy groen verlepte ID-boekie aan.
“Sorry, rra – ek kan nie help nie.”
Hy kyk op. Sy oë sirkel om my; kyk deur my, verby my, trek ‘n skuldige kring om my.
Ek skud my kop: “Ek is jammer, Manapula.”
“Nou hoe sal ek leef?”
Ek sê niks, trek my papiere bymekaar; kyk op my horlosie. Hy vat sy blou kliniek lêer en sy ID Dan soek hy sy bene en kom stadig regop.
Steeds klink die storm agter my: ek kan myself nie hoor praat nie …
“Score my ‘n gwai samblief, Madam,” sê hy en hou sy hand uit. “Hier, vat so,” ek skud ‘n sigaret los uit die pakkie en nog een. Hy ontvang dit in oop handpalms, krap in sy bosak vir vuurhoudjies.
“Jy mag nie hier rook nie, rra,” sê ek, “dis nou die nuwe ding van die government.”
“Dan’s dit reg, Madam, dan sal ek rook met die pad Vragas toe en ek sal dink aan die Madam wat my vandag so gehelp het met ‘n gwai. Kealeboga, dankie, Madam.” Sy stem is skor. Hy druk sy een hand teen sy bors; en prop die sigarette met die ander hand in die bo-sak van sy overall, by die vuurhoudjies.
Hy stap uit, draai om, kug.
Sy oë is stil in myne; dof: “Die madam is seker?”
Ek sê niks. My oë soek syne; ek wil seker maak dat ek vergewe is … waarvoor waarvoor? Ek het mos niks verkeerd gedoen nie. Ek het mos bloot my werk gedoen. Ek kan mos nie stry met wat die dokter sê nie. Dan dink ek: die dogoter hy weet ook niks. Ek dink: die dogoter weet fokkol van my wat hier moet sit en sukkel om te verduidelik waarom ‘n siek mens nie siek genoeg is vir pensioen nie.
Daar is net ‘n dof wat in my oorbly. ‘n Onvermoë. Hande wat leeg langs my wegsak, stof val daardeur. As ek maar net kon help, maar as is verbrande sigarette.
Manapule stap weg met sy krom lyf in sy blou overall na sy twee donkies ingespan reg vir die pad Vragas toe. Ek hou hom dop soos hy wegstap … skielik krimp hy en word minder …
‘n Brander groter as die kantoor, die hele kliniek, hospitaal en vlaktes tref my van agter. Ek val oor die lessenaar, tol vas teen die muur met die drug-posters. Dit krummel en tuimel in op my. ‘n Stoelpoot druk teen my keel.
Ek hoor hom hoes soos hy wegstap
Soos hy die donkies inspan
Soos hy die stofpad vat
Terug Vragas toe…
Die benoud brand in my bors;
Eers later kom die wêreld weer in perspektief. Die lug is helder en ruik na reën. Die wind het gaan lê. Dis net die stiltes wat sing.
Ek skiet die sigaret weg; kyk hoe die kooltjie effens gloei en dan verword tot as.
Ek keer terug na my lessenaar, my verslae, my nuwe pienk kantoorstoele. Daar is ‘n lang ry kliënte wat wag met pensioenaansoekvorms in verkreukel, vuil en bewerige hande, asems wat na hongerte en pap en gister se ou Kadi Bier stink.
Dis Woensdag, die spesiale dag vir kategorie 83: grant applications. Ek nooi die volgende kliënt binne en ek vra: “Awa thusiwa?”… hoe kan ek jou help?
The post Pensioenaansoek, kategorie 83 appeared first on LitNet.