Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21497

2022: Die (on)verkwiklike jaar van Trompie en kie

$
0
0

“Die gewoonte om enige jaar die jaar van dit of dat te doop,” sê die boekresensent Jean Meiring, “is dié van bemarkingslui, liegfabrieke en skavotbewoners.”

Maar 2022 sal onthou word as die jaar toe kinder- en jeugboeke die diskoers rondom die Afrikaanse letterkunde oorheers het. Eers was daar die omstredenheid oor Hennie van Coller se Netwerk24-rubriek waarin hy kapsie gemaak het teen die manier waarop “gewone mense” al hoe meer randfigure in Afrikaanse kinder- en jeugboeke word. Kort daarna het Corene de Wet se artikel in LitNet Akademies oor stereotipiese genderuitbeelding in die gewilde Trompie-reeks verdere impetus gegee aan die sluimerende debat wat reeds om Van Coller se kop aan die woed was.

2022 se groot nuusmaker: Die Trompie-sage op die voorblad van Rapport se Weekliks-bylae – 17 Julie 2022 (Foto: Melt Myburgh)

Die hewige bekgevegte wat in 2022 op nasionale skaal gevoer is, het verreikende gevolge gehad. Meganismes waarvolgens instellings funksioneer is in bepaalde gevalle ingrypend hersien. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, waar Hennie van Coller voorsitter van die Letterkundekommissie was, het onder skoot gekom toe twee lede bedank het uit protes teen die onaangenaamheid rondom sy Netwerk24-rubriek. Kort daarna het Van Coller die voorsitterstoel ontruim en sedertdien is die samestelling van die Letterkundekommissie radikaal hersien.

“Dit sou redelik triest wees as dit wel die geval is. Daar was sekerlik groter boeke en gesprekke met meer diepgang as die kinderboek-ene waarmee die jaar geëtiketteer sou kon word.”
– Jean Meiring

Vroeg in 2023 wonder ’n mens of daar in die toekoms anders met Afrikaanse jeugliteratuur omgegaan sal word. Sal 2022 werklik onthou word as die jaar van Trompie en jeugboekkarakters? Of was alles maar net ’n storm in ’n espressokoppietjie, soos Bettina Wyngaard – nou self ’n lid van die Akademie se Letterkundekommissie – vroeër in ’n LitNet-rubriek verklaar het?

Jean Meiring gee traag toe dat 2022 seker wel as die jaar van “Afrikaanse kinderboeke en Trompie” onthou sal kan word. “Maar,” voeg hy by, “dit sou redelik triest wees as dit wel die geval is. Daar was sekerlik groter boeke en gesprekke met meer diepgang as die kinderboek-ene waarmee die jaar geëtiketteer sou kon word.”

Willie Burger en Henriëtte Loubser (Foto’s verskaf)

Die akademici Henriëtte Loubser en Willie Burger stem saam. “Die herrie was in ’n teekoppie en min het hulle werklik daaraan gesteur. Afrikaanse kinderletterkunde het nog altyd aan die agterspeen gesuig en kry hopeloos te min erkenning,” sê Henriëtte.

“Ek dink dit sal ’n oorvereenvoudiging wees om so na 2022 te kyk,” sê Willie Burger. “2022 was die jaar waarin ’n kortverhaalbundel die Hertzogprys vir prosa gewen het vir die eerste keer in baie jare. Dit was ook die eerste keer dat die Hertzogprys vir prosa twee agtereenvolgende kere aan dieselfde skrywer gegaan het. Ook ’n jaar waarin baie opwindende jeugfiksie verskyn het en nuwe skrywers al meer invloed gekry het; 2022 was die jaar waarin ’n skrywer soos Annerle Barnard na vore getree het.”

Die ouduitgewer en skrywer Kerneels Breytenbach voel egter anders oor die jeugboek-etiket vir 2022. Die stormagtige gesprekke rondom Trompie en kie bring belangrike perspektiewe, sê hy. “Die Trompie-reeks, en soortgelyke reekse oor Jasper, Saartjie, die Uile, ens, is geskryf deur onderwysers wat besef het die kinders van die jare sestig het iets nodig wat hulle kan lees in Afrikaans, en waarin ’n Afrikaanse kultuur weerspieël word.

“Die gesprekke rondom Corene de Wet se analise van jeugboeke het my laat besef dat ’n tydvak tot ’n einde gekom het. Ons kan nie aanhou dink oor die uitdagings waarvoor tieners te staan kom as ons die werklikhede van ons eie tyd ignoreer nie.”

Magdel Vorster en Kerneels Breytenbach (Foto’s: verskaf)

Belangrik van die 2022-polemieke, sê Kerneels, is dat dit ons herinner om in ’n tydgenootlike sleutel aan jeugromans te moet dink. “Die alternatief is dinge soos Harry Potter en Lemony Snicket – en jy weet hoe passé hulle vir die nuwe geslag is.”

Die kinderboekkenner Magdel Vorster sluit by Kerneels aan. “Ek sou Trompie miskien nie so baie lugtyd wou gee nie,” sê sy, “maar stem saam dat 2022 binne die Afrikaanse letterkunde-dam as die ‘jaar van kinderboeke’ bekend kan staan. Vir die eerste keer in ’n lang tyd is daar op verskillende platforms kaalvuis oor kinderboeke, en veral temas waaroor geskryf word al dan nie, bespiegel en vurig gedebatteer.”

Jean Meiring glo dat Hennie van Coller se omstrede uitsprake in sy rubriek nie werklik deur baie mense ernstig opgeneem is nie. “Doen enigeen met enige mate van erns aan die hand dat siele met selfs ’n bietjie insig in pag werklik met prof Van Coller se ongelukkige rubriek saamgestem het? Mense met murg tussen hulle ore het mos nog altyd geweet dat boeke – kinderboeke dalk meer nog as ander – towertapyte is wat lesers vervoer, in vervoering bring; wat, deur vreemde wêrelde vir kinders oop te maak, hulle verruim, hulle met die vermoë tot empatie pantser, hulle ménse maak.

Jean Meiring (Foto: Izak de Vries)

“Een van die groot jammertes van Van Coller se rubriek,” vervolg hy, “is dat dit op die ou end ’n terughunkering is na iets wat net gewoon nie meer relevant is nie: ’n wêreld waar mense optree asof dit kort na 1980 is, waar jongmanne chronies Grenswaarts gaan en ouderlinge skor die leviete uitbasuin.”

“Populêre fiksie het ’n vervaldatum.”
– Willie Burger

Die idee dat die Trompie-storm ontstaan het uit sentimente van nostalgie en behoudendheid, word deur Willie Burger beaam. “Ek verstaan die Trompie-bohaai nie heeltemal nie.”

“Ek dink nie daar is baie jong lesers van Afrikaans wat hulle regtig in Trompie verdiep nie. Die boeke het gedateer – soos dit met die meeste populêre leesstof gaan – en ek glo dat al vir meer as twintig of selfs dertig jaar, Trompie nie regtig jong lesers aangryp en inspireer nie. Die aanhang van Trompie is waarskynlik eerder onder ouer lesers wat nostalgies na hulle eie kinderdae verlang en Trompie as deel van daardie nostalgie onthou. Ek vermoed ook dat daar van hierdie nostalgiese ouers is wat Trompie op hul kinders afdwing of ten minste wens dat hulle kinders dit moet lees, soos hulle ook wens dat hulle kinders moet kaalvoet loop en fietsry en kleilat gooi.”

Afrikaners ly oor die algemeen aan ’n nostalgiese beeld van die Afrikaner, sê Willie, maar hulle kinders nie noodwendig nie. “Populêre fiksie het ’n vervaldatum.”

Corene de Wet, LitNet Akademies se nuusmaker van die jaar, en Elsabé Brits en (Foto’s: verskaf)

Elsabé Brits, wat swaarde met Hennie van Coller gekruis het nadat sy rubriek verskyn het, is min gepla oor of 2022 die jaar van “kinderboeke en Trompie” was. “Wat wel deeglik oopgeboor is in ’n wyer konteks,” sê sy, “is dat sommige akademici in Suid-Afrika geen geregverdigde kritiek kan verduur nie en hulle ’n juigkommando in ivoortorings nodig het om hulle arms omhoog te hou. Die ego’s van die patriargie (mans en vroue) is fynbesnaard wanneer minderhede (randfigure) dit durf waag om spasie op te neem as daar uitgediende uitsprake op grond van ras, geslag, diversiteit, seksuele oriëntasie, gestremdheid en dies meer gemaak word.”

“Op aanbeveling van kollegas en familielede het ek na enkele dae opgehou om die Facebook-kommentaar te lees.”
– Corene de Wet

Vir Elsabé was ’n keerpunt in die sage toe SJ Naudé sy punte gestel het in sy aanvaardingstoespraak tydens die oorhandiging van die Hertzogprys verlede jaar. “Hopelik het dit die letterkunde en literêre kritiek in die breë aangespoor om sterker standpunt in te neem oor diskriminerende uitsprake aan eie bors.”

Dat die debat vele onverkwiklike oomblikke gehad het, is ’n feit soos ’n koei. Die snykant van kommentaar wat deur nie-akademiese lesers en algemene nie-lesers op sosiale media in woede en verontwaardiging gelewer is, is veral deur Corene de Wet, skrywer van die Trompie-artikel in LitNet Akademies, gevoel. “Ek was aanvanklik verstom oor die ongenaakbaarheid en felheid van die kritiek, nie net teenoor die inhoudelike van die artikel nie, maar ook teenoor my as persoon. Op aanbeveling van kollegas en familielede het ek na enkele dae opgehou om die Facebook-kommentaar te lees.”

Maar as gerespekteerde navorser wat al dekades lank besig is in die veld van vergelykende opvoedkunde, kyk Corene met ’n nugtere oog na die aard van diskoers wanneer akademici en die breë publiek se gedagtes op ’n gedeelde platform kruis. Met die stormwinde van 2022 wat gaan lê het, het Corene vroeg vanjaar die Facebook-inskrywings rondom haar artikel herbesoek met die oog op verdere navorsing. Sy het immers al voorheen akademiese artikels oor die geite en dinge van sosiale media gepubliseer.

“Die huidige tendens om akademiese tydskrifte soos LitNet Akademies en die South African Journal of Education toeganklik vir die breë publiek te maak, lei daartoe dat die publiek tot ’n groter mate aan akademiese gesprekke begin deelneem,” sê Corene. “Ek het al verskeie sensitiewe onderwerpe nagevors, onder andere rassisme in skole, seksuele teistering en geweld teen leerders en onderwysers, en taal as onderwysaangeleentheid.”

Dis juis Corene se liefde vir kinder- en jeugboeke wat gelei het tot verskeie artikels en referate oor hoe fiksie ingespan kan word om ’n groter bewustheid van geweld te skep en kinders te help om sodanige geweld te hanteer. Tot en met die verskyning van die Trompie-artikel in LitNet Akademies, vertel sy, was daar geen reaksie van die breë publiek op dié navorsingstukke nie.

Anne-Marie Beukes, hoof van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns (Foto: verskaf)

Waar Corene as individu die uitskot van die dikwels histeriese kommentare en opinies tydens die polemiek moes hanteer, was die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns in 2022 as instansie fel in die kollig. Toe Hennie van Coller as voorsitter van die Letterkundekommissie bedank het, het daar ’n spreekwoordelike “kabinetskommeling” plaasgevind. Die kommissie, nou met Willie Burger as voorsitter, se ledeprofiel het ingrypend verander.

“Hennie van Coller word allerweë besonder hoog geag as ’n letterkundige en daarom was sy bedanking vir die Akademie ’n gevoelige verlies.”
– Anne-Marie Beukes

Anne-Marie Beukes, uitvoerende hoof van die Akademie, moes die skip deur die stormwaters stuur. En soos altyd is sy diplomaties: “Kinderboeke was inderdaad in 2022 in die kollig, maar die Afrikaanse letterkunde is immers veerkragtig en myns insiens veel meer as net kinderliteratuur.”

Oor Van Coller se bedanking en die werksaamhede van die nuwe Letterkundekommissie sê sy: “Hennie van Coller word allerweë besonder hoog geag as ’n letterkundige en daarom was sy bedanking vir die Akademie ’n gevoelige verlies. Ons Letterkundekommissie is een van ons kommissies wat hard werk, veral met die beoordeling van ons gesogte letterkundepryse soos onder meer die Hertzogprys. Ons is baie dankbaar dat prof Willie Burger die voorsitterstoel oorgeneem het en dat bekende skrywers soos Valda Jansen en Bettina Wyngaard by die kommissie aangesluit het.”

Bettina woeker in die nuwe “kabinet”: “Die kommissie is goed op dreef. Ek is nog grasgroen daar, maar ek leer alreeds soveel uit die gesprekke wat gevoer word. Ek is ook baie opgewonde oor die diversiteit en kwaliteit van inskrywings wat vir die verskillende pryse ontvang word. Dit gee my hoop vir die toekoms van letterkunde.”

Ten spyte van die onaangenaamheid wat die debat so dikwels gekenmerk het, hoop Willie Burger dat iets goeds uit alles sal kom – “nie net ten opsigte van kinder- en jeugliteratuur nie, maar vir die breër gesprek oor literatuur, oor kultuur”.

“As ’n mens enigsins na kommentaarkolomme kyk, kan jy net aflei dat Afrikaners onplesierig is,” sê Willie. “Ek is geen voorstander van kanselleerkultuur nie, maar as die hele debakel ons almal dwing om ’n bietjie beter na te dink oor hoekom ons bepaalde houdings en menings het, waarom sekere aspekte van tekste ons hinder en hoe ons eie woorde ook ander kan kwets, hoef dit nie verlammend te wees nie, maar gesonde debat aan te wakker.”

Willie roep Van Wyk Louw se mening op dat die opvoedingspeil van enige groep gemeet kan word aan die literatuur wat daarin geskryf, gelees en selfs geduld word. “Dit sê nie veel vir ’n groep as al wat geduld word kinderboeke uit die 1950’s is nie. Of as ouers nie wil toelaat dat hul kinders Annerle Barnard se Sindikaat lees nie omdat die titel hulle laat terugsteier.”

Met al die drama rondom Trompie en kinder- en jeugboeke van 2022, wonder ’n mens natuurlik wat in 2023 op die Afrikaanse letterkunde wag. Wat sien navorsers, kenners en kritici in die kristalbal?

“Niemand is in ’n goeie skedelspasie nie, en dit gaan begin uitspoel in beke.”
– Kerneels Breytenbach

Magdel Vorster hoop dat kinder- en jeugboeke om gesonde redes en meer gereeld die kalklig sal steel. “Maar ek glo nie daar gaan nou anders daarna gekyk word nie,” sê sy. “Tydens een van die paneelbesprekings oor bogenoemde onderwerpe verlede jaar, het ’n skrywer opgemerk dat hierdie kwessies lankal bespreek moes gewees het – dat hierdie gesprekke lank ‘overdue’ is. Dit het by my vasgesteek, so ek gaan nie ophou om ’n geraas te maak oor kinderboeke en die belangrikheid daarvan om die regte boek op die regte tyd in die regte kind se hand te stop nie.”

Vir Elsabé Brits is dit duidelik dat daar reeds lankal anders na kinder- en jeugboeke gekyk word, veral deur skrywers en uitgewers. “Tog,” waarsku sy, “is daar nog ’n lang pad om te loop en is daar steeds rassiste en mense met ’n diepe afsku vir die LGBTQ+-gemeenskap. Hulle sal altyd hunker na ’n ander wêreld en wil nie daarvan in boeke lees nie.”

Henriëtte Loubser glo dat distopiese letterkunde ’n steeds groterwordende rol in Afrikaans sal speel. “Daar het die afgelope tyd heelwat in hierdie genre verskyn om oor opgewonde te raak. Die neiging duur voort.”

Willie Burger en Bettina Wyngaard is van mening dat KI (kunsmatige intelligensie) die grootste invloed op alles in 2023 gaan hê. Willie sê: “Ek het geen kristalbal nie, maar die toekoms is reeds hier en dit lyk asof KI en die impak daarvan op kreatiewe skryfwerk sowel as op die lees en onderrig van literatuur die ding is wat almal van ons gaan raak.”

Bettina Wyngaard (Foto: verskaf)

Bettina herinner dat elke mens die lewe deur ’n unieke lens van ondervinding en agtergrond beskou. “Ware objektiwiteit is dus nie menslik moontlik nie. En, met ’n kopknik na die huidige debat oor KI, dis selfs nie eens vir ’n robot moontlik nie. Hulle word immers geprogrammeer deur mense wat nie vry van ideologie en persoonlike mening is nie.”

Kerneels Breytenbach sê dat polemieke sal aanhou woed, en die stormagtigheid daarvan gaan beslis nie gou taan nie, veral in die nasleep van die COVID-19-pandemie. “Ons is nog té besig om die nadraai van Covid uit te pluis – die groot issue is hoe om ‘off the grid’ te wees tussen mense wat daarop is. Niemand is in ’n goeie skedelspasie nie, en dit gaan begin uitspoel in beke.”

“Daar is weekliks soveel opspraak in die Republiek van die Afrikaanse Lettere,” merk Jean Meiring op, “ek glo nie my hart sal nog meer kan verduur nie. Die versugting by my is eerder vir klein stories wat duskant die wek van opspraak verkeer – duskant die deur die klip bars van riviere of die losskeur van aardmassas.”

Intussen werk Corene de Wet aan ’n splinternuwe navorsingsartikel oor die leier van die Boksombende.

 

  • Die foto’s wat in hierdie artikel gebruik word is aan LitNet verskaf, en die fokusprent van die artikel is ’n detail van die Rapport Weekliks-voorblad van 17 Julie 2022.

 

Lees alles op LitNet oor 2022 se storm rondom Trompie en kinder- en jeugboeke in Afrikaans

Gendertemas in Topsy Smith se Trompie-boeke

Lede van SA Akademie se Letterkundekommissie bedank oor Hennie van Coller se omstrede rubriek

SJ Naudé se toespraak by ontvangs van die Hertzogprys

Persverklaring: Hennie van Coller bedank as voorsitter van die SA Akademie se Letterkundekommissie

Dit sou inderdaad skokkend wees: ’n analise van Hennie van Coller se ope brief aan SJ Naudé

Van Coller – storm in ’n espressokoppietjie

Trompie ’n chauvinis?

Jeugboeke se storm en drang: Onstuimige gesprekke en versugtings na tienerreekse wat die ouers onthou

Trompie, Talaq en Trump: Inleidende gedagtes oor die beslissings in Women’s Legal Centre v President, RSA en Dobbs v Jackson Women’s Health Organization

The post 2022: Die (on)verkwiklike jaar van Trompie en kie appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21497

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>