Die musikant Klierkop, oftewel Marcell Britz, beskou homself as ’n "studeerkamermusikant". Tog het sy ongewone inslag en styl al talle luisteraars se ore laat spits. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Marcell. Hoe's dinge?
Sover as wat ek weet gaan dit met my goed, dankie.
“I guess you haven’t got time to hear my story,” said the dwarf, glancing at me. “It’s a long one.”
Unsure how to answer I took another grape. Time was no problem for me, but I wasn’t that eager to hear the long life story of a dwarf. And besides, this was a dream. It could evaporate at any moment. (Haruki Murakami, “The Dancing Dwarf”)
Om te luister na die verhaal van ’n studeerkamermusikant is miskien ewe makaber – maar nietemin – baie dankie vir die uitnodiging, Henry – ek waardeer dit opreg.
Klierkop het ’n swetterjoel liedjies wat aanlyn beskikbaar is – op SoundCloud, ReverbNation en dies meer. Jy is dus al relatief lank aan't woeker met die opnames en vrystellings, maar tog is Klierkop so half onder die radar, soos ’n mens seker sal verwag van ’n kunstenaar met so ’n sterk niehoofstroom-inslag in die musiekstyl. Hoe beskou jy die affêre? Sou jy eintlik verkies dat iemand skielik daarop moet afkom en jy voorts dikwels in die musiek- en vermaaknuus beland, of is daar vir jou ’n mate van saligheid of integriteit in die relatiewe obskuriteit? Wat sou vir jou die ideale balans in hierdie opsig wees?
Henry, jou vrae is amper in verkeerde volgorde – maar miskien is daar nie ’n daadwerklike verskil tussen die einde en die begin van dinge nie, so laat ek maar my bes probeer om jou vraag te beantwoord.
Jy raai korrek – met myself verskans en verskuil in my winterstudeerkamer – en dit met die gasverwarmer stip op my gerig – is presies waar ek wil wees. Ek is van nature skugter, en sal nooit aard op die verhoog nie.
Ook is my sogenaamde day job van so ’n aard dat dit nie regtig gemaklik lepel sal kan lê met my musiekmaak alter ego nie – so op die einde van die dag was die natuurlike keuse om musiek te maak as ’n sogenaamde studeerkamermusikant my enigste opsie.
Ek skryf liedjies sedert die vroeë negentigs – met my eerste (en soort van laaste) behoorlike studio-opnames iewers in 2001/2002. Die eerste CD was ’n behoorlike affêre – ’n orkes met professionele musikante / tromme / click track, ens. Almal rondom my was heel begeesterd met die eindproduk – maar dit was vir my oombliklik duidelik dat my stem en dit wat my musiek voor staan nie gepas het in dié spesifieke formaat nie.
Die volgende CD het gevolg na ’n tipe van eksistensiële krisis in my eie lewe, en met KOPstories II – Nimfolepsie is ek die geleentheid gebied om die hele aangeleentheid weg te skryf/toor. Dit was tydens die skryf van die materiaal aan die tweede CD dat ek verslaaf geraak het aan die kompulsie om musiek te probeer maak. Op Kopstories II het ek my eerste doelbewuste poging aangewend om aspris lo-fi te gaan.
Jy vra verder oor of ek graag deur die publiek ontdek sou wou word?
Die antwoord is obviously “ja”, maar die kanse raak by die dag skraler. Ek bemark myself suiwer vanaf die internet, en by die dag groei die hoop digitale informasie logaritmies. Ek kompeteer dus met foto's van troeteldiere en poppe met tatoes vir my plekkie in die son – ’n onbegonne taak.
Klierkop se musiek en vokale werk is in die algemeen redelik "lo-fi", soos jy sê – daar's ’n bykans opsetlike niebelangstelling in oordadige produksie te bespeur, met die pendulum wat dan met mening in die ander rigting swaai ... Verfrissend! Wat het jou laat besluit op hierdie benadering? Tot hoe ’n mate is dit vir jou bloot ’n natuurlike inslag? Hoe het jy hierdie inslag ontwikkel oor die jare en sou jy glo jy het dit nou al bemeester? Hoe sal jy dit nog verder wil laat "evolve"?
Smerig – morsig – aspris onafgerond – totally uit ritme en vals. Jip – ’n doelbewuste wilsbesluit.
Die keuse tot ’n lo-fi benadering spruit direk uit die feit dat my stem en kitaarwerk te kort skiet. Ek het geen illusie omtrent die feit dat ek tegnies gesproke nie ’n musikant is nie – en het myself nog nooit so voorgedoen nie. Ek is ’n tipe van fopliedjieskepper – en kon tot onlangs nie uitfigure hoe om myself te plaas in die Afrikaanse musieklandskap nie.
In ’n onlangse podcast waarin Willim Welsyn vir Danie Marais ge-interview het, opper Danie egter ’n alternatief. In die onderhoud verduidelik Danie die bestaansreg van ’n houding of konsep van sogenoemde artlessness.
Die definisie van artlessness dan: "the quality or state of being simple and sincere".
As ek egter vir Danie reg sou verstaan (en ek hoop opreg ek lê nie woorde in sy mond nie), sou dit kon beteken die vermoë om met beperkte talent tog iets sinvols te kan skep. Hierdie is ’n wonderlike konsep of idee – want skielik gee dit iemand soos ek ’n doelwit ... iets om na te streef.
So dan, om jou vraag te beantwoord: in die toekoms sal ek sê dat ek graag myself wil sien ontwikkel in perfek-gebalanseerde artlessness.
Veral die stemwerk wat jy doen het ’n soort ''twang'' daaraan wat amper ’n kinderlike onskuld betrek, in die uitspraak en die aksent. Waarom dié styl, en hoe het jy dit geskaaf tot jy besluit het dis hoe jy wil voortgaan? Ek sou raai jy kry interessante en diverse terugvoer daarop – wat is jou ervaring van die toeganklikheid daarvan (of gebrek daaraan) tot dusver?
My stemwerk is uit die aard van die saak ’n issue – en duidelik een van my selfopgelegde redes hoekom ek myself tot die studeerkamer verban het. Ek is glad nie blind vir die feit dat my stem allerlei probleme vir ’n potensiële gehoor bied nie – en ’n onnodige skans of brug om oor te steek om uiteindelik by die musiek uit te kom.
Eienaardig genoeg hoor ek my aksent en ontronding van uitspraak net as ek na die opnames luister, maar kan dit nie hoor in my eie alledaagse praat nie.
Negatiewe terugvoer was dus welig. Positiewe terugvoer was Erns Grundling wat skiem ek kan ’n bietjie klink na Billy Gorgan as ek hard genoeg sou probeer ... en dit is dan een van die redes waarom ek die Smashing Pumpkins-cover aangepak het.
Daar is egter ook heelwat afwykings van die lo-fi-aanslag – die lied "Noodlot" se verwerking bevat ’n groot verskeidenheid bykomende instrumentwerk, van vioolklanke tot ’n trekklavier wat iewers inloer. Ditto "Mamma, ek kom huis toe". Is daar sekere liedjies wat bloot smeek vir verdere uitbreiding, of hoe kies jy dit? Is dit jou bandmaat André S se werk? Hoe werk daardie verhouding tussen julle in terme van die skeppingsproses en die besluitneming?
Die wisselwerking / modus operandi tussen my en André S was vanaf dag een tot nou onveranderd. Die resep is en was nog altyd ek met stem en kitaar wat óf die spesifieke liedjie sal opneem in André se home studio, óf (en deesdae meer dikwels) ek wat myself tuis opneem op iPad of iPhone en dan die CD aan André oorhandig. André sal dan die song download op sy klanksisteem en na goeddunke die agtergrondmusiek byverf.
Ek is self aan die stuur van die projek – en het geen probleem om swak-afgewerkte opnames vry te stel nie. Al my akoestiese musiek op SoundCloud is met ander woorde nog eintlik in limbo – met André wat nog sy inset moet lewer.
Dit is egter ’n skeppingsproses wat baie goed uitgewerk het vir ons – en een van die hoofredes hiervoor is dat ons – as ’n tipe van band – totaal en al onafhanklik funksioneer, met geen kruisbestuiwing van ander kontemporêre alternatiewe Afrikaanse musiekkunstenaars tans in sirkulasie nie. Ek glo dit dra by tot die oorspronklikheid van die musiek.
Die oorspronklike liedere is – hoewel daar beslis ’n paar invloede te bespeur is (Koos Kombuis, Piet Botha, Dylan, ’n bietjie Kimya Dawson, dalk selfs die Mountain Goats?) is juis dit: geweldig oorspronklik. Hoe werk die skryfproses by jou, vandat die eerste woord en akkoord neergelê is, tot jy besluit die lied is nou voltooi en gereed vir die wêreld? Hoeveel herskrywery vind plaas en hoe weet jy as ’n liedjie "reg" is?
Ek weet nie hoe ander dit doen nie, maar met my is die skryf of maak van ’n liedjie ’n doelbewuste poging. Maar weirdly genoeg geskied dit in die domein van die onderbewuste. Hiermee bedoel ek dat ek (met die skryf van my eie liedjies) gewoonlik rondspeel op kitaar en skielik ’n verborge wysie hoor. Ek sal dan die wysie eers versigtig uitkerf – en dan daarna die woorde soos Kersfeesversierings aan die takke hang.
Die toonsetting van gedigte is iets heel anders – en om vir Danie Marais aan te haal – hier begin elke gedig met ’n knop in die keel, en ’n mens moet dit respekteer – en is dit kardinaal om daardie gevoel absoluut reg te kry voordat ’n mens enigsins poog om die gedig te toonset. Hierna skiem ek dat, op een of ander onbewuste manier, die gedig begin tokkel aan die onderbewussyn en melodie en ritme word dan stadig gebore.
Die oorvertaling van ’n lied in Afrikaans is die maklikste. Hier het die oorspronklike kunstenaar alreeds al die moeilike werk gedoen – en al wat van my verwag word is om die gevoel en betekenis van die oorspronklike lied tot sy reg te laat geskied.
Dan is daar natuurlik ook heelwat toonsettings, vertalings en ander soort "covers" beskikbaar. Onder meer het jy ’n hele album van toonsettings van Breyten-gedigte opgeneem (maar dis nie beskikbaar aan die publiek nie – wat is die storie daar?). Ook is daar ’n besonder interessante "vertaling" van Smashing Pumpkins se "Perfect", genaamd "Perfek", op jou SoundCloud-profiel. Hoe benader jy so ’n vertaling of toonsetting? Wat is vir jou die belangrike elemente om te behou, en wat is die belangrike dele wat herskep moet word om die oorspronklike inslag te behou?
Die eerste poging tot die toonsetting van ’n Breyten Breytenbach-gedig was na aanleiding van ’n gedig wat Kleinboer in LitNet se briewe-afdeling gepost het in omtrent 2005. Die Breyten-gedig was "Liggaamsoefeninge" en op die ingewing van die oomblik het ek my kitaar nader gepluk en die gedig getoonset. Oor die verloop van die daaropvolgende paar jaar het ek altesaam tien van Breyten se gedigte getoonset. Ek het nie toestemming om die musiek vry te stel nie, maar in my eie kop is Breyten Breytenbach die mees begaafde woordtowenaar in Afrikaans nog ooit.
Die titel van die Breyten-toonsettings-CD heet Waar olifante huppel.
Die enigste ander digter wie se gedigte ek getoonset het, is Clinton V du Plessis se “Wroet” en “Laaste reels”.
Met die toonsetting van Breyten se gedigte moes ek myself herhaaldelik die vraag stel of ek geloofwaardiglik sy gedigte mag vertolk – maw, weet ek regtig wat Breyten vir ons probeer sê? Dis vir seker ’n dilemma.
Ek het op die einde van die dag toe tog besluit dat dit orraait is om Breyten net gedeeltelik te verstaan – want al verstaan ek net ’n fraksie van wat hy sê, is die boodskap op daardie spesifieke oomblik glashelder.
Ek kan dit miskien probeer vergelyk met iets soos om op ’n bitterkoue wintersaand in middernagtelike ure deur die Karoo te ry en met ’n koudlomp duim en wysvinger ’n radiostasie te probeer opspoor. Vir die meeste van die tyd is daar net elektroniese geraas – radioseine wat suis en fluit en tuit in die yskoue nag. Nou en dan kan mens jouself verbeel daar is stemme of ’n musiekwysie, maar vir die meeste van die tyd net te min sensoriese informasie om sinvol ’n patroon te herken of te herskep in ’n mens se eie kop.
Maar elke nou en dan – uit die bloute en kristalhelder – sal dendritiese radiogolftentakels reptielstyf klougrypend aan die kar se lugdraad vleg – en vir ’n paar kilometer in die raafswart nag, teen 120 kilometer per uur, sal ’n radiostasie een honderd persent perfek oor die karradio speel.
Wat dan die Breyten Breytenbach-toonsettings betref (in Breyten se eie woorde):
ek het probeer
ek het hard en bitter geprobeer
om ’n groot gedig te skryf
en soms darem dit opgebring
wat in die plek daarvan kon staan.
Ek is jammer as ek meester B se naam so ydellik gebruik – maar ek beantwoord maar net jou vrae.
In die reeks boodskappe waarin ons dié onderhoud gereël het, het jy na Klierkop verwys as "studeerkamermusiek". Hoe beskou jy, vanuit die "studeerkamer", die huidige toestand van die Afrikaanse musieklandskap? Hoe sal jy dit graag wil sien verander, en hoe sou jy jou plek op dié landskap beskryf?
Daar is voor- en nadele daaraan om ’n bestaan te voer as ’n studeerkamermusikant. Die grootste nadeel is dat ’n mens geen visceral terugvoer het om te monitor of te meet wat jou potensiële gehoor van jou dink nie. Die moontlikheid of waarskynlikheid dat ek die pot heeltemal mis sit en ’n totale gek van myself maak is beslis daar.
Ek haal graag vir Ingrid Winterbach (Die Benederyk) op hierdie belangrike punt aan: “Dit is ’n stryd tot die bitter einde. Dit is ’n mirakel om met iets vorendag te kom wat die moeite werd is, wat nie bydra tot die groeiende berg rommel en die rumoerige oordaad in die wêreld nie.”
Die voordeel is dat ek baie vryheid het in my kapasiteit om skeppend op te tree. Ek hoef glad nie te worry oor die feit dat ek oor die bestek van ’n paar uur ’n song kon komponeer en dit via SoundCloud kon post nie. In dié hoedanigheid is my werk ’n eerlike refleksie van wat in "real time" in my lewe en kop aangaan.
Die Klierkop-covers is ’n goeie voorbeeld hiervan. Ek beplan hoegenaamd nie in ’n duisend jaar om die regte te bekom om die musiek hoofstroom vry te stel nie. Omdat ek so nietig en onbelangrik is, gaan geen van die oorspronklike kunstenaars die moeite doen (en het natuurlik nie die vaagste benul van my bestaan nie) om my te dagvaar nie.
Die musieklewe van ’n studeerkamermusikant is egter erg eensaam – maar net soos wat ek sedert 1993 die meeste van die tyd alleen fietsry en dit nog steeds terdeë geniet, maak ek my musiek vir die lekker daarvan – maw, net vir myself.
Terloops – behalwe vir jou is ek ook baie dankbaar teenoor instansies soos Bush Radio se unhappy hour – en Klyntji – wat onbekende musiekskeppers soos ek ondersteun en ons blootstel aan ’n wyer gehoor.
Wat sou ek graag wil sien verander in die Afrikaanse musieklandskap? Wel, met Afrikaans deesdae in die spervuur sal dit fantasties wees as LitNet miskien ’n permanente platform kon skep waar studeerkamermusikante soos ek ons liedjies aan die publiek kan uitstal.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Klierkop? Hoe sal jy dit graag wil sien uitspeel, in so ver jy dit kan beheer?
Ek bewonder altyd ander kunstenaars wat oorborrel van entoesiasme oor al die projekte waaraan hulle beplan en al die idees in hulle koppe.
Ek het geen planne nie, Henry. Ek is altyd oortuig van die feit dat ek so pas my laaste song ooit geskryf het – en dan gebeur daar iets en voor ek weet verskyn ’n nuwe song.
As ek egter die noodlot sou kon tart, sou dit wees om te voorspel dat ek graag nog van Clinton V du Plessis se gedigte sou wou toonset.
Ek graviteer na die domein van melankolie – en hierin is Clinton ’n meester.
Melancholy is at the bottom of everything, just as at the end of all rivers is the sea. Can it be otherwise in a world where nothing lasts, where all that we have loved or shall love must die? Is death, then, the secret of life? The gloom of an eternal mourning enwraps, more or less closely, every serious and thoughtful soul, as night enwraps the universe. (Henri Frédéric Amiel)
Wat is die sin van die lewe?
Jy vra die verkeerde ou, Henry – maar ek skuld jou ’n antwoord.
Hierdie ’n aanhaling uit my gunsteling DVD-series van 2016 sover: "It's the rock we all push ... men. We call it our burden, but it's really our privilege." (Uit Fargo, laaste episode, tweede seisoen)
The post Klierkop: "Ek sal nooit aard op die verhoog nie" appeared first on LitNet.