Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Dink anders oor sosiale geregtigheid

$
0
0

In die onlangse taaldebat het dit nou al ’n paar keer gebeur dat die kwessie van identiteit en vervreemding teenoor sosiale geregtigheid gestel word. Die implikasie (as ek dit reg lees) is dat mens nie meertaligheid kan nastreef as dit oor identiteit gaan nie en dat sosiale geregtigheid ’n meer edele doel is.

Die teenstelling tussen identiteit en geregtigheid is egter nie ’n geldige een nie.

Op een vlak is die oproep van die identiteitspook ’n subtiele vorm van verdagmakery. Identiteitspolitiek is naamlik ongewild en roep allerhande vergelykings met Nazi-Duitsland op. Hierdeur kry die skrywers dit reg om te sinspeel op hoekom “taalbulle” iets sê, eerder as om te luister na wat hulle sê. Onlangs weer het Amanda Gouws die taalstryd teenoor die soeke na sosiale geregtigheid geplaas. Vroeër was beide Gouws en Piet Croukamp redelik negatief oor sekere digters en skrywers wat kritiek teen die US se taalbeleid gelewer het. Onder hierdie “taalbulle” tel Dakar-gangers en politieke gevangenes! Hulle is kwalik regse nasionaliste. Digters, skrywers en dramaturge maak ’n loopbaan uit hul taal en kan met reg ongelukkig voel as die regering hulle dieselfde geleentheid ontneem (naamlik om in die taal waarin jy die heel gemaklikste is en waarin jy dus die heel beste kan skep) as wat vir Engelssprekendes gegun word. Dit is eenvoudig ’n kwessie van geregtigheid.

Net so is dit eenvoudig ’n kwessie van geregtigheid dat ’n klein minderheid in die land moedertaalonderrig kan ontvang, terwyl die groot meerderheid nie kan nie. Moedertaalonderrig is ’n voordeel wat ongelyk verdeel word. Die antwoord lê egter tog nie daarin om die getal moedertaalstudente te verminder nie – dit vergroot net die ongelykheid.

Verder is dit ook duidelik dat kwessies van sosiale geregtigheid en identiteit baie nou vervleg is, dermate dat dit ’n valse teenstelling is om hulle teen mekaar af te speel. Identiteitskwessies ontstaan dikwels in ’n konteks van (onregverdige) ongelykheid. ’n Individu teen wie gediskrimineer word, het een van twee opsies: óf hy neem afskeid van sy groepsidentiteit (as hy kan), óf hy dring aan op gelyke behandeling. Mens kan nie vir iemand voorsê watter een van hierdie twee opsies gekies moet word nie.

Taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie. Jou taligheid is ook ’n persoonlike eienskap. Engels mag dalk toegang gee tot allerlei kontekste, maar omdat ons ’n ou Britse kolonie is, is jou toegang dié van ’n outsider. Navorsing dui daarop dat subtiele merkers van taal (bv ’n mens se aksent) beïnvloed hoe geloofwaardig mense jou vind. ’n Nie-Engelse aksent maak dat jy harder moet werk vir dieselfde respek as jou Engelse kollega. Dit laat mens nogal dink aan genderkwessies, waar vrouens harder moet werk net om as gelyke kollegas behandel te word. Jou aksent pla jou dalk nie, maar dit benadeel jou sonder dat jy dit weet. Dis juis hierdie subtiele tipes uitsluiting wat die groot impetus agter #RhodesMustFall is. Onthou, hierdie studente het reeds toegang tot onderrig. Hul betoog was teen die merkers wat hulle laat voel asof hulle minder daar hoort as die Anglo-Saksers. Dit is dus tegelyk ’n gelykheid- én ’n identiteitskwessie.

So gesien dien meertaligheid die doel van gelykheid en dus sosiale geregtigheid. Meertaligheid is nie teenliberaal nie. Net soos mens vir rasse- en geslagsgelykheid moet streef, so moet ware meertaligheid ook nagestreef word. Om een tipe gelykheid bo ’n ander te verhef, is moeilik regverdigbaar. Die einste konsep suggereer tog juis die breedste moontlik toepassing: gelykheid moet op soveel as moontlik terreine nagestreef word. So nie, verruil mens maar net een marginalisasie vir ’n ander.

Juis om hierdie rede gaan daar situasies wees waar verskillende vorme van gelykheid gaan bots: as daar byvoorbeeld nie ’n geskikte swart vrou vir ’n pos is nie, sal jy moet kies of jy ’n nieswart vrou moet aanstel of ’n swart man. Ad hoc-kompromieë is dus onvermydelik, maar ’n sistematiese bevoordeling van een gelykheid bo ’n ander is nie ’n goeie ding nie. Weer eens is dit maar net die verruil van een marginalisasie vir ’n ander. Dit is wat sou gebeur indien Afrikaans verder uit tersiêre onderwyse gerangeer word. Dit sou naamlik ’n permanente nietigverklaring van taalgelykheid verteenwoordig. As Afrikaans naamlik sy hoër funksies verloor, weet ons dat dit die taal op die glybaan eerstens na vervlakking en uiteindelik na uitwissing plaas. Dan is die verskansing in die Grondwet maar net lippediens.

Terloops, in die ongeveer 11 jaar van die taaldebat het daar nog nie ’n enkele skrywe verskyn wat op empiriese gronde die vrees vir die vervlakking en/of uitsterf van Afrikaans kon besweer nie. Bestaande etnolinguistiese kennis word óf geïgnoreer óf afgemaak as bog (op grond van ’n paar anekdotes wat kwalik die toets van wetenskaplikheid slaag). Nie een kon al ’n voorbeeld wys waar ’n minderheidstaal, waarvan die sprekers relatief verspreid is, sonder hoër funksies en/of sonder institusionele verskansing bly voortbestaan nie. Johan Fourie voer wel aan dat geen taal waarvan die sprekers ekonomies welvaart ervaar, al ooit gesterf het nie. Hy bied egter net twee voorbeelde: Ysland, waar Yslands ’n oorweldigende meerderheidstaal is, en Wallis, waar die taal sterk gesubsideer word en op institusionele beskerming staatmaak. Mens sou as teenvoorbeeld ook kon vra of die toenemende welvaart van die swart middelklas tot ’n opbloei in Xhosa-, Zoeloe- en Sotho-publikasies gelei het.

Marginalisasie is gif vir ’n multikulturele, demokratiese samelewing. In so ’n samelewing wil ons juis nié hê dat burgers op grond van een of meer van hul groeplidmaatskappe soos tweederangse burgers voel nie. Gegewe die waarde van taalgelykheid is Croucamp se posisie – hy voer aan dat ’n taal wat beskerming nodig het, nie die beskerming werd is nie – slegs kwartpad die waarheid. Ja, natuurlik moet tale kompeterend wees, maar daar is tog iets soos regverdige kompetisie. As jy ’n land militêr oorwin en jou taal op die land afdwing, kan jy mos nie jare later sê: “Ag, julle taal was in elk geval nie die moeite werd nie”! As jou taal se krag grotendeels deur militêre imperialisme en politieke onderdrukking bekom word, is die speelveld nie gelyk nie. Dit is by uitstek waar van Engels en tot ’n mindere mate van Afrikaans. Die ander inheemse tale is beslis aan die verkeerde kant van ’n ongelyke speelveld.

Dit is die regering se plig om die speelveld so gelyk as moontlik te maak. Dit sou beteken dat Afrikaans op institusionele beskerming geregtig is en ander inheemse tale op aktiewe bevordering. Dat dit ’n helse klomp geld en moeite sal kos, is waar, maar met die miljarde wat weens korrupsie verlore gaan, kan mens dalk ’n begin maak. Die wesensaard van ’n multikulturele samelewing is immers op die spel.

 

Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.

This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.

 

The post Dink anders oor sosiale geregtigheid appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21146

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>