Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 22021

Oorsig: Die Grahamstadse Nasionale Kunstefees 2016

$
0
0

Die foto van Emma Kotzé is deur Wynne Bredenkamp geneem en was verlede jaar gebruik op 'n feesplakkaat van 'n produksie waarby sy betrokke was.

Die Grahamstadse Nasionale Kunstefees is nie alleen vir Oos-Kapenaars ‘n jaarlikse hoogtepunt nie, maar ook vir feesgangers en kunstenaars van regoor die land en selfs die uithoeke van die wêreld. Anders as baie van die land se groot kunstefeeste, het hierdie feesprogram, wat uit musiek (van klassiek tot kontemporêre jazz), skone kunste, dans, teater en akademiese gesprekke bestaan, ‘n hoofprogram asook ‘n “fringe”- oftewel randprogram. Die werk op die hoofprogram gaan deur ‘n keuringsproses en word deur ‘n groep kurators geselekteer. Die randprogram bied ‘n ruimte vir alle kunstenaars om hul werk ten toon te stel en verg slegs die betaling van ‘n inskrywingsfooi om te kan deelneem. In hierdie berig oor vanjaar se fees bespreek ek net een van die vele elemente waaruit die fees bestaan, naamlik die teateraanbiedinge.

Dit is geen geheim dat dit ‘n reuse-uitdaging is om kuns in Suid-Afrika te skep nie. ‘n Opmerklike stilte het vanjaar by die fees geheers, met ‘n 5%-afname in kaartjieverkope. Alhoewel hierdie fees heelwat goedkoper is om te besoek as ander nasionale kunstefeeste, en boonop een van min veeltalige feeste is, het die huidige ekonomiese druk waaronder Suid-Afrikaners gebuk gaan, beslis ‘n invloed op kaartjieverkope gehad. Tony Lankester, uitvoerende hoof van die fees, meen egter nie dat dit iets is om mens veel oor te bekommer nie, aangesien langtermyngroei steeds positief lyk, met die fees wat oor die laaste dekade met 61% gegroei het.

Beide Lankester en Ismail Mahomed, die uittredende artistieke direkteur, noem dat dit egter nie die chroniese bedreiging van kunstenaars se vryheid van spraak of die sukkelende ekonomie is wat die fees se grootste teëstander is nie, maar eerder die uitdagings wat die plaaslike munisipaliteit bied. Die agteruitgang van infrastruktuur – vanjaar se fees het byvoorbeeld afgeskop sonder enige water in die pype – is ‘n duidelike belemmering van die groei en vooruitgang van die fees wat tans  die dorp uit sy  nate laat bars. Lankester neig om dikwels aan die media ‘n ooroptimistiese uitkyk op die stand van sake te bied, so ook te merk in die persverklaring oor vanjaar se afname in kaartjieverkope. Daar is dus baie in te lees in sy uitgesproke kommer oor die fees se verhouding met die plaaslike munisipaliteit en toekoms van die fees in Grahamstad self.  

Verder het die Nasionale Kunstefees vroeër verlede maand aangekondig dat hulle, na die uittrede van Ismail Mahomed as artistieke direkteur, hierdie rol sal hersien. Die direksie en bestuursliggaam van die fees het besluit om die posisie van die Kunstekomitee (Artistic Committee) te herformuleer om ‘n groter kuratorsrol aan te neem. Ashraf Johaardien is pas aangestel as die uitvoerende vervaardiger van hierdie komitee, wat hoofsaaklik verantwoordelik is vir die deurlopende herevaluering van die fees se posisie as nasionale kunstefees.  Johaardien en sy span het beslis groot skoene om vol te staan. In sy nege jaar as artistieke direkteur het Mahomed waarlik baanbrekende werk gedoen, veral rondom die skep en instandhouding van samewerkende verhoudinge tussen vervaardigers en teatermakers, sowel as  die ontwikkeling van nuwe stemme. 

Nóg ‘n uitdaging wat die fees in die gesig staar, en na my mening die grootste, is die inhoud van werke. Nie alleen noem Mahomed hierdie probleem by name nie, maar feesganger wys ook daarop dat die algemene inhoud van werk die huidige sosiopolitieke strukture teleurstellend min uitdaag. Ek kan nie anders as om volkome daarmee saam te stem nie, en het dieselfde tekortkominge by twee ander prominente feeste vroeër in die jaar opgemerk. Wat is dit wat maak dat kunstenaars sukkel om aan hierdie kwessies ‘n plek op die verhoog te gee? Alhoewel produksies dikwels ewe belangrike universele probleme aansny, lewer min dramaturge sosiopolitieke kommentaar, met uitsondering van ‘n handjievol, soos Mike van Graan en Gita Pather, wat minder huiwerig is om hierdie temas aan te durf. Daar heers ongetwyfeld ‘n tekort aan produksies wat, soos Mahomed sê, werklik gebruik maak van die vryheid van uitdrukking en kreatiwiteit wat deur ons Grondwet verseker word.

As akteur en teatermaker meen ek dat kunstenaars huiwerig is om werk te skep wat mense nie wil sien nie. Alhoewel ‘n mens kan redeneer dat dit ‘n sentrale funksie van teater is om probleme in ‘n samelewing aan te sny, maak dit beslis nie vir “lekker”, maklike of gewilde teater nie. In ‘n land waar ‘n teaterkultuur byna glad nie by jongmense gekweek word nie, en in ‘n tyd waarin vermaak slegs ‘n muisklik ver is, blyk dit al hoe meer uitdagend om die ouditoriumsitplekke vol te hou. Daarmee saam is befondsing skaars, en wil vervaardigers nie noodwendig hul geld belê in werk wat hul vermoed nie groot gehore sal lok nie.     

Hierdie idee, dat werke met uitdagende inhoud nie goed verkoop nie, is egter nie heeltemal waar nie. Mike van Graan se Pay back the curry, ‘n skerp en bitsige satire, en Neil Coppen se hoogs politiese verwerking van Animal Farm, het albei gespog met uitverkoopte vertonings by vanjaar se kunstefees. Veral by hierdie fees is dit ook opmerklik hoeveel jongmense onafhanklik, sonder ouerbegeleiding, die fees bywoon. Die jonger generasie is dus ook daar, wel met slegte teateretiket, maar daar. Waarom is ons gevolglik so skrikkerig vir die skep van kontemporêre, relevante en uitdagende inhoud? Die antwoord hierop lê moontlik in die onlangse verlies van die reënboognasiedroom, of in die huiwering om te krap in die wonde wat leë en onvervulde beloftes van verandering en verbetering by Suid-Afrikaners gelaat het. Alhoewel dit onmoontlik is vir my om namens die kollektief te kan antwoord, vermoed ek ons is bang. Teatergangers, teatermakers, kritici. Ons is bang om die spreekwoordelike sielkundige spreekkamer te betree en dit uit te stry. As gevolg hiervan bestaan daar in ons land tans twee wyses om met hierdie olifant in die vertrek te werk te gaan: een, swyg en hoop dit word beter, in ware Madiba-gees of,  twee, ontplof, rebelleer, brand af.  

Dit is geen geheim dat dit ‘n reuse-uitdaging is om kuns in Suid-Afrika te skep nie, maar miskien nie altyd om die voor die hand liggende redes wat ons voorhou nie. Ons vrees vind heel waarskynlik onder andere oorsprong in die wete dat die toerusting waaroor ons beskik, naamlik om teater te kan maak, so ‘n kragtige bemiddelaarsmedium is en dat mediasie so dringend nodig is. Soos die geykte slagspreuk lui: met groot voorreg kom groot verantwoordelikheid. Om die vooruitgang en groei van teater in Suid-Afrika te verseker, hoop ‘n mens werklik dat teatermakers hierdie voorreg sal besef en daarmee saam die gepaardgaande verantwoordelikheid sal opneem.  

 

The post Oorsig: Die Grahamstadse Nasionale Kunstefees 2016 appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 22021


<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>