Beste X
Ek skryf hierdie brief aan jou in reaksie op die Facebook-status wat jy vroeër hierdie week gteplaas het. Jy weet van watter een ek praat, maar omdat ek kies om hierdie brief te laat publiseer,wil ek net kortliks daarna verwys sodat ander die konteks waarbinne ek hierdie brief skryf, sal verstaan.
Ek gaan jou nie verbatim aanhaal nie. In die status spreek jy jou frustrasie uit met al die #BlackLivesMatter-statusse wat jy deesdae sien, omdat vir jou alle lewens van belang is. As jy #BLM-statusse sien, beteken dit jy het swart vriende. Sommige van my eie statusse die afgelope week verwys na #BLM, en waarskynlik het jy dit gesien.
Jy’s nie die eerste of enigste wit persoon wat daai sentiment opper nie. Jy is die enigste een op wie ek reageer, omdat jy regtig ’n besonderse mens is. Ek geniet jou geselskap, en elke interaksie wat ek met jou het, maak die lewe net so ’n titseltjie meer pret en interessant. Jy’s empaties, en ek het nog nooit die indruk gekry dat ras vir jou ’n issue is nie. Dis hoekom ek met jou wil engage hieroor. Ek weet ook daar’s ander wat nes jy voel, en wat ook swart vriende het, en wat waarskynlik nie die ironie besef van die statement wat hulle maak nie. Of die skade wat dit berokken nie.
Alhoewel #BLM gefokus is op die Amerikaanse samelewing, is dit hier ook net so van toepassing. Swart lewens is goedkoop. Dis die hartseer waarheid. En ingeval jy wonder, ek beskryf myself as swart eerder as bruin. Ek weet dis deesdae die tendens om van bruin te praat. Ek verkies om dit nie te doen nie.
Swart lewens is goedkoop, en as jy wonder of dit waar is, kyk net bietjie na die nuus. Kyk na rampe dwarsoor die wêreld. Frankryk is nuus. Sirië is deesdae nuus omdat hulle op Europa impak het. Dwarsoor Afrika is daar rampe wat selde die nuus haal, en selfs meer seldsaam op die voorblad beland. Soortgelyke rampe en aanvalle in Europa of Noord-Amerika haal die voorblad en bly daar vir dae.
Verlede jaar is nege swart mense in ’n Amerikaanse kerk afgemaai. Dit het skaars ’n blip op die radar gemaak. Verlede week is vyf wit polisiemanne geskiet, en dit was nog elke dag in die nuus. Die Amerikaanse president het sy Spaanse staatsbesoek kortgeknip om in Dallas besoek af te lê.
Laat ek myself baie duidelik maak. Ek maak nie hierdie vergelykings omdat ek dink dis ’n kompetisie waar een se swaarkry of seerkry erger as ’n ander s’n is nie. Dis heeltemal moontlik om seer te voel saam met die families van die swart mans wat aan die hande van die polisie gesterf het en om seer te voel saam met die families van die polisiemanne wat gesterf het. Dis moontlik om te treur oor die mense wat in Parys gesterf het en die mense wat in Iran of Ghana of Sirië gesterf het. Dis nie waarvan ek praat nie.
Ek praat van die reaksie op die sterftes. Die een noop mense om hulle Facebook-profielfoto’s te verander, en “Je suis (voeg in Europese/Noord-Amerikaanse ramp)” as status te plaas; die ander ontlok feitlik geen reaksie nie. Swart lewens word nie betreur nie. Daar word nie dieselfde waarde geheg aan die verlies wat swart families ervaar nie.
Dis vir jou maklik om te sê alle lewens is van belang, want jy as wit middelklas man weet nie wat dit beteken om op grond van eienskappe buite jou beheer negatief beoordeel te word nie. Jy weet nie wat dit is om bevrees te wees dat iemand gaan dink jy’t die kar gesteel as jy in ’n luukse voertuig iewers ry nie. Dis maklik om onnadenkend (en ja, ek dink jy het dit gesê sonder om jou woorde behoorlik te weeg) te sê “all lives matter” as jy nie weet wat dit beteken as jou lewe en jou liggaam as goedkoop, weggooibaar hanteer word nie.
Kyk maar na die nuusdekking oor die SAUK-skorsings. Dit het begin met ’n swart vrou wat ’n beleidsbesluit bevraagteken het. Sy is deur twee wit kollegas ondersteun. Kyk egter na die nuusdekking sedertdien. Haar naam word so in die verbygaan genoem, terwyl die twee wit kollegas as die helde in die saak beskryf word- die wit man eerste, natuurlik. Niemand bevraagteken dit nie, want dis hoe dinge werk. Oor ’n maand of twee sal haar naam heeltemal vergete wees, terwyl die wit man herdenk sal word as die ultimate kampvegter wat teen die SAUK opgestaan het. Swart lewens is minder belangrik, in die keuses wat hulle maak, in die lewens wat hulle lei en in die sterftes wat hulle ly. Dis hoe dinge werk.
Hier is die punt wat jy skynbaar mis: #BLM beteken nie ander lewens is onbelangrik nie. Dit beteken bloot dat daar nou en hier nie voldoende fokus op swart lewens is nie, terwyl swart lewens in gevaar is. Hier en nou. Wat beteken jou stelling? Beteken dit, om dit tot sy absurde gevolgtrekking te neem, dat as een huis brand, moet die brandweer aan al die huise in daai straat ewe veel aandag gee, want almal se huise beteken vir hulle ewe veel? Natuurlik nie, want terwyl die brandweer tyd bestee op ’n huis wat nie brand nie, gaan die brandende huis tot niet.
As jy dokter toe gaan met ’n gebreekte arm, gaan jy die dokter verkwalik dat hy nie al twee jou bene ook in gips sit nie, want al jou ledemate is ewe belangrik?
#BLM, #woke, #luister is nie ’n kompetisie om te sien wie se lyding is die ergste nie. Dis ’n noodkreet, een wat jy verkies om te ignoreer, want dis nie jou huis wat afbrand nie. Jou huis is nie in gevaar nie. Dis ’n noodkreet wat ek vrees baie maklik in ’n oorlogskreet omskep kan word, want die skeidslyn tussen verdriet en woede is net ’n asemteug.
Jy’s gay. Toe jy die nuus van #Orlando kry, het dit nie ’n visceral impak op jou gehad nie? Een wat jou straight kollegas rondom jou nie op dieselfde manier ervaar het nie? Het jy nie seergemaak gevoel toe daar soveel negatiewe sentimente rondom die sterftes uitgespreek was nie? Het jy nie toe verstaan dat gay pride om baie meer gaan as net mooi vlotte wat straat af paradeer nie? Hoekom? Want jy kon identifiseer met gay mans wat in ’n nagklub aangeval word.
Jy kan nie identifiseer met ’n swart man wat doodgeskiet word omdat sy agterliggie in sy kar nie werk nie. Jy kan nie identifiseer met mense wat in vrees lewe wanneer hulle hulle huis verlaat, eenvoudig gebaseer op die kleur van hulle vel nie. Dis buite jou verwysingsraamwerk.
Ek wil jou egter smeek, asseblief, asseblief, gebruik daai empatie waartoe ek weet jy in staat is, en probeer jou indink in die skoene van ’n ma wie se seun nie huis toe gekom het nie, want die polisie het hom vermoor. Ja, vermoor. Hy was nie ’n misdadiger nie, hy was nie ’n moeilikheidmaker nie, hy het sy vierjarige dogtertjie by hom in die kar gehad. Sy enigste misdaad is dat hy swart was. Plaas jou in die skoene van daai dogtertjie.
Die brandweer fokus op die huis wat reeds brand, want hulle weet as hulle daai brand stop, is al die huise in die straat veilig. Hulle hoef nie water op die ander huise te spuit nie.
#BLM is ’n noodkreet wat nie ignoreer kan word nie. As swart rage – en ek gebruik die woord “rage” omdat “woede” net eenvoudig nie beskrywend genoeg is nie – as swart rage oorborrel, dan is niemand se huis meer veilig nie.
#AllLivesMatter voel alte veel soos ’n gevoellose cop-out wanneer dit net swart lewens is wat in gevaar is. Dit maak die verlies aan swart lewens af as goedkoop.
Was dit jou bedoeling?
The post Brief aan ’n vriend wat glo #BlackLivesMatter is nie so belangrik soos #AllLivesMatter nie appeared first on LitNet.