Persvrystelling deur die Gelyke Kanse-inisiatief
Hierdie versoekskrif vra dat US-Raadslede versigtig die implikasies van die huidige konsep vir ’n nuwe US-Taalbeleid moet oorweeg. Ons is oortuig dat die voorstel ernstige negatiewe implikasies vir Afrikaans as onderrigtaal by US, vir die breë Afrikaanse taalgemeenskap en die land in sy geheel inhou, aangesien die vaaghede en voorbehoude wat dit bevat, ’n stelselmatige erosieproses by US gaan ondersteun.
Uitgangspunte
- Dat die Universiteit Stellenbosch as tersiêre opvoedkundige instelling ’n gemeenskaplike bate is wat ten doel het om die menslike en sosiale kapitaal van die Suid-Afrikaanse samelewing, wat uit 11 taalgemeenskappe bestaan, te ontwikkel.
- Dat volhoubare menslike en gemeenskapsontwikkeling binne hierdie diverse Suid-Afrikaanse samelewing ontdooi en kaskadeer vanuit die begripswêreld van ’n taalgemeenskap – wat beteken ontdooiing en kaskadering vanuit moedertaalonderrig en kulturele ontwikkeling.
- Dat die volhoubaarheid van hierdie ontdooiing- en kaskaderingsproses in ’n aansienlike mate afhang van die beskikbaarheid van hoëvlak-vakkundigheid binne die taal- en kultuurgemeenskap wat leiding kan neem en ’n katalisator kan wees vir die opvoedkundige en gemeenskapsontwikkeling van so ’n gemeenskap.
- Dat tersiêre instellings soos universiteite en kolleges hierin ’n sleutelrol het om te vervul, en dus die leiding moet neem om moedertaalonderrig ten bate van ’n besondere taal- en kultuurgemeenskap te bevorder.
- Dat hierdie proses nogtans inklusief moet wees, aangesien die uitsonderlike eienskappe van ’n taalgemeenskap nie ’n obstruksie moet wees tot die ontwikkeling van ’n gemeenskaplike, diverse, Suid-Afrikaanse samelewing nie – dit beteken dat meertaligheid by Suid-Afrikaanse opvoedkundige instellings ’n belangrike rol in die land se ontwikkeling kan speel.
- Dat die Universiteit Stellenbosch in 1918 spesifiek gestig is om ’n onderdeel van die Afrikaanse taalgemeenskap te dien (die ou “idee”) – en daardeur dan ook ’n groot bydrae tot hierdie onderdeel se ontwikkeling gelewer het – en dat dit nou die verantwoordelikheid het om dieselfde te doen met die hele Afrikaanse taalgemeenskap (die nuwe “idee”) wat byna een derde van die Suid-Afrikaanse bevolking uitmaak, van wie die meeste onder haglike omstandighede moet oorleef.
- Daarom is dit Gelyke Kanse se standpunt dat die Universiteit Stellenbosch ’n roeping het om Afrikaans op ten minste ’n gelyke basis met Engels in sy onderrigbeleid te behandel, en ook isiXhosa te help ontwikkel as wetenskapstaal ten einde werklike diversiteit by die universiteit te bevorder.
Die Universiteit Stellenbosch se bestuursuitdagings
Gelyke Kanse is bewus van die finansiële uitdagings waarvoor die Universiteit Stellenbosch sedert die 1990’s te staan gekom het. Die Staat se bydrae het oor die afgelope 20 jaar afwaarts geneig in reële terme, terwyl die koste van gehalte-onderrig en navorsing by die universiteit steeds toegeneem het. Dit het die universiteit gedwing om na ander bronne te soek vir sy onderrig- en navorsingprogramme. Dit skep ’n klimaat van kommersialisering in denke en praktyk by die universiteit, wat goed verwoord is in ’n brief van ’n voormalige voorsitter van die Universiteitsraad, dr Edwin Hertzog, wat op Vrydag 17 Junie 2016 in Die Burger gepubliseer is – met die opskrif: “US pas beleid by markomstandighede aan”. Dit sou onder meer kon beteken dat die US sy programme by vermoënde ouers buite sy normale bedieningsgebied bemark. Dit is moontlik een verklaring waarom studente met Engels as moedertaal oor die afgelope 15 jaar na die US gestroom het.
Gelyke Kanse is ook bewus van die druk op die US-bestuur deur politici en van burgerlike organisasies om te “Afrikaniseer” en te verengels. Die voorsitter van die huidige Universiteitsraad, mnr George Steyn, het dit op ’n onlangse vergadering van die Raad ondubbelsinnig gestel dat die universiteit sal brand as Afrikaans op ’n gelyke voet met Engels by die US geplaas word. Gelyke Kanse beskou hierdie dreigement in ’n baie ernstige lig, aangesien dit beteken dat enige redelike en rasionele verdediging van Afrikaans by die US-Raad ipso facto by die deur uitgegooi sal word. Dit beteken dat Raadsbesluite oor hierdie belangrike saak onder dwang geneem word, en dat die US-taalbeleid onder dwang sal beweeg in die rigting wat politici en burgerlike organisasies aan hom voorskryf.
Gelyke Kanse wil ’n beroep doen op Raadslede en alle betrokkenes om met eerlikheid en openhartigheid die saak vir of teen Afrikaans by die US te bespreek. Dit raak die toekoms van die breër Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap, van wie die meerderheid arm en sonder hoop vir die toekoms voortbestaan. Gelyke Kanse is bewus van die geweldige uitdaging wat die saak vir Afrikaans moet oorkom, maar glo dat hierdie uitdaging die moeite werd is om aan te pak. Dit raak verder ook die toekoms van Suid-Afrika, waar meer as 60 persent van sy jongmense werkloos is en ook nie die vaardighede het om hierdie land op te bou tot iets waarop ons almal trots kan wees nie.
Voorwaardes vir tweetaligheid by die Universiteit Stellenbosch
Sosiolinguiste is dit eens dat tweetalige universiteite slegs op bepaalde voorwaardes kan oorleef, te wete:
- Die inrigting self moet die visie van tweetaligheid as ’n rigtinggewende waarde onderskryf en daar moet die politieke en institusionele wil wees om die inrigting tweetalig te hou.
- Die tweetalige onderrigmodel van die inrigting moet in ’n ondubbelsinnige en konsekwente taalbeleid uiteengesit word. (Sodra kwalifiserende frases voorkom, soos “waar prakties uitvoerbaar” of “na gelang van aanvraag”, sal die model binne ’n kort tydperk begin wankel.)
- Die taalbeleid moet in harmonie met die aanstellingsbeleid en beleid vir studentekeuring bestuur word.
- Daar moet ’n duidelike visie- en missiestelling bestaan wat toekomstige ontwikkelinge in hierdie verband rig.
- Daar moet akkuraat en eerlik met studente gekommunikeer word oor die implementering van die taalbeleid waarop hulle kan reken.
- Metodes moet gevind en deurlopend toegepas word om te monitor wat regtig in lesinglokale plaasvind, asook wat betref aantekeninge, voorgeskrewe werke, werkopdragte, toetse en eksamens. (Vraelyste, sonder meer, aan studente is vir hierdie doel ontoereikend, des te meer as dosente wat ’n partydige belang daarby het, dit opstel en beoordeel.)
- Wanneer nodig, kan deeltydse buitedosente aangestel word om ’n bepaalde projek te bestuur of in sy geheel alleen uit te voer.
- Gevorderde moderne tegnologie maak dit al hoe makliker om veeltaligheid en daarmee gepaardgaande kultuuroordrag sinvol te bedryf.
- Dit sal noodsaaklik wees om die inrigting deurlopend vir die doel van tweetaligheid behoorlik te befonds.
Gelyke Kanse se standpunt oor die voorgestelde Taalbeleid
Die finale konseptaalbeleid wat Woensdag vir bekragtiging voor die Raad dien, toon sulke ernstige gebreke dat die Raad dit in geen omstandighede kan goedkeur nie.
Die konsep gaan die US onafwendbaar op ’n vinnige glybaan van verengelsing plaas, hoewel dit met die eerste oogopslag billik, regverdig en verdedigbaar klink en klaarblyklik opgestel is om dit met regte en voorregte in die Grondwet te probeer verbind.
’n Diepgaande ontleding daarvan toon egter dat met implementering Engels op feitlik alle terreine ten koste van Afrikaans bevoordeel sal word. So word die onderrigtaal deur die taalvaardigheid van die betrokke dosent bepaal. Met mikpunte wat in die langtermynplan rakende transformasie gestel word, gaan die meeste nuwe dosente net Engelstalig wees. Verder word verpligte leermateriaal net in Engels beskikbaar gestel. Die getal Engelssprekende studente het ook reeds eksponensieel toegeneem en gaan volgens die rektor nog verder toeneem.
Die konsep bots dus regstreeks met die standpunt wat die Raad onlangs gestel het toe hy oplaas as beleidmakende liggaam beleid neergelê het, nadat die rektor se bestuurspan (RBS) reeds geruime tyd op eie stoom en onregmatig taalbeplanning begin aankondig het. Volgens die jongste Raadsbesluit moet die Afrikaanse aanbod as onderrigtaal nie verminder word nie. Die teenoorgestelde word baie duidelik in hierdie konsep gedoen.
Uiteindelik is die konsep ’n poging tot wettiging van die onwettige afwykings van die taalbeleid wat vroeër in hofstukke toegegee is. Die erkende verengelsing in 268 modules in 7 fakulteite sal volgens hierdie konsep, wat taalbeleid na die fakulteite afwentel, gemaklik kan voortgaan, tot nadeel van die oorwegend Afrikaanse taalgemeenskap waarin die US hom bevind.
In die konsep is daar ook geen aanduiding dat, behalwe erkenning van ontvangs, behoorlik kennis geneem is van ’n paar honderd voorleggings wat die RBS-pogings opponeer nie. Van hierdie voorleggings het ’n wye ondersteunersbasis en bevat talle konstruktiewe voorstelle oor ’n volwaardige parallelmediummodel, maar blykbaar is slegs ’n dag of twee daaraan aandag geskenk.
Ten slotte
Afrikaans het oor byna ’n eeu op unieke wyse bygedra tot die nasionale en internasionale aansien en status van die universiteit, en het ’n groot bydrae tot die opheffing van sy teikengemeenskap gelewer. ’n Bepaalde karakter, etos, trots en verbondenheid by die personeel, oud-Maties en huidige studente, donateurs en die breë gemeenskap is gevestig. Daar is oorweldigende bewyse dat indien hierdie karakter vinnig verander word, ’n universiteit van sy beste personeel, studente en ondersteuningsgroepe gaan verloor, met die gevolg dat standaarde daal en aansien verflou.
Ondanks vooroordele teenoor moedertaalonderrig op tersiêre vlak wat uit sekere kommentare blyk, sou dit die universiteit baat om saam met instansies soos die SAOU op uitreikprogramme na veral Afrikaanse bruin skole te fokus ten einde hierdie leerlinge te bemagtig in 'n provinsie waar die meerderheid van die inwoners Afrikaans as huistaal besig.
Implementering is veronderstel om vanaf Januarie 2017 plaas te vind. Dit beteken waarskynlik dat daar teen studente gediskrimineer kan word wat hulle in die onlangse verlede aan US ingeskryf het met die veronderstelling dat hulle in Afrikaans onderrig sal word. Implementering behoort dus met minstens vier jaar uitgestel te word.
Die nuwe taalbeleid moet vir vyf jaar geld, maar dit word dadelik ondergrawe deur verskeie meganismes waarvolgens dit jaarliks hersien kan word. Ten einde te verhoed dat daar jaarliks druk uitgeoefen word wat onvermydelik tot onstabiliteit sal lei, soos geweldsdreigemente oor ’n kampus wat sal “brand” of politieke inmenging wat die universiteit se outonomie ondermyn, moet die termyn op vyf jaar vasgelê word.
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
The post #GelykeKanse: Versoekskrif aan die Raad van die Universiteit Stellenbosch appeared first on LitNet.