Ek het die artikel van Eusebius McKaiser met belangstelling gelees. Soos ek hom verstaan, wil hy hê dat Afrikaans “dekoloniseer” moet word. Hy voel dat daar van hom verwag word om Radio Sonder Grense-Afrikaans “soos Riaan Cruywagen” te praat, iets wat hy nie met vrymoedigheid kan doen nie. Hy praat dus liewers Engels.
Soos ek dit sien, is dit ‘n kwessie om die gepaste register vir die geleentheid te gebruik. In elke taal van die wêreld is daar verskillende registers: formele skryftaal (akademies en minder akademies) en formele en informele gesprekstaal asook ‘n magdom streekstale en dialekte. Selfs in Brittanje bestaan daar nog steeds Oxford English en BBC English saam met verskeie streekstale en dialekte.
Ek is as jong ingenieur in die sestigerjare na Engeland om tegniese ondervinding op te doen en seker ook om my Transvaalse “Ingels” te verbeter. Die tegniese opleiding was uitstekend, maar my blootstelling aan “goeie Engels” was problematies. Ek beland toe in Newcastle upon Tyne, toevallig die plek waarheen die eerste stiervegter teen die Taalbulle, Chris Brink, later sou uitwyk. Die algemene ingenieurstaal daar was wel goeie Engels en BBC-programme was natuurlik bo verdenking. Die algemene kommunikasietaal was egter Geordie. Om ‘n idee te kry van die taal wat tussen mense gebruik is (en seker nog steeds gepraat word) volg hier ‘n strofe van hul kenwysie, "The Blaydon Races":
O lads, ye shud only seen us gannin,
We passed the foakes upon the road
just as they wor stannin;
Thor wes lots o' lads an lasses there,
all wi smilin' faces
Gannin' alang the Scotswood Road,
to see the Blaydon Races
Hier word dit gesing:
Behalwe die snaakse uitspraak, val sommige woorde ook op: “gannin” is eintlik “going” en herinner sterk aan die Afrikaanse “gaan”, so ook “stannin”. Die dialek toon ‘n mate van ooreenstemming met die Nordiese tale, want Noorweë is net oorkant die Noordsee. Verdere interessante woorde is “bairn” (“child”) en “Howay!” (uitgespreek: “hawaai”, “Come on!”). Die woord “don’t word “deent” (soos in Afrikaans) uitgespreek en ‘n ander vorm daarvan is “divvent”. (Meer inligting by: https://en.wikipedia.org/wiki/Geordie.) Dit het my destyds opgeval hoe sterk die streekstaal gestaan het, ten spyte van jarelange blootstelling aan BBC Engels op die radio, televisie en op skool. Selfs jong kinders het vrolik en onverstaanbaar met mekaar in Geordie gebabbel.
Om terug te kom na Eusebius McKaiser se dilemma. Ek kan my voorstel dat die mense in Newcastle upon Tyne seker voor dieselfde probleem te staan gekom het. Daar is destyds en word seker nog steeds snobisties deur die Londenaars neergesien op “up North”. Die jong professionele mense het tuis in die dialek met mekaar kommunikeer, maar professioneel by die werk tydens vergaderings en voorleggings so na as moontlik aan Standaardengels gebly, met ‘n onmiskenbare Geordie aksent.
Eusebius McKaiser kon dus gerus maar Afrikaans met sy natuurlike aksent gepraat het. As hy nie daarvoor kans sien nie, dan is dit die regte ding om te doen om Engels te praat. Ek kry tog die indruk dat hy ‘n appeltjie te skil het met Standaardafrikaans, geskrewe en gesproke. Daar is deesdae min mense (miskien nog ‘n paar verstote Taalbulle) wat Afrikaans so suiwer as die geskrewe een praat. Luister maar na die jong generasie wie se taal deurspek is met Engelse woorde soos “cool” en selfs op RSG-radio. Verder is daar, benewens dié in die Kaap, ook Transvôlse en Namakwalandse variante.
Die belangrike punt is egter dat elke taal ‘n keurige standaardmodel moet hê, wat selfs sy plek in die akademiese wêreld kan volstaan. Die goeie nuus het ons vanoggend bereik: Afrikaans, vermoedelik die standaardweergawe, word selfs deur Microsoft erken en daar word genoem dat Afrikaans uit 7000 tale wêreldwyd die 140 ste plek inneem, gebaseer op gebruiksfrekwensie, met 7 miljoen sprekers. Ek hoop nie Eusebius McKaiser het ‘n probleem daarmee nie.
The post In reaksie op Eusebius McKaiser: Spreektaal versus skryftaal appeared first on LitNet.