Resensie van Wat nou, Suid-Afrika? deur Theuns Eloff (Kaapstad: Tafelberg, 2016, ISBN: 9780624073772 [papier], R210, 224 bladsye; ISBN: 9780624073789 [e-pub], $13,93 Amazon Kindle)
- Alle verwysings is na die Kindle-weergawe.
Lees ook: US Woordfees: Wat nou, Suid-Afrika?
Ofskoon Van Wyk Louw eenmaal wyslik gesê het dat die skrywer agter die boek met rus gelaat moet word, roep die styl en inslag van hierdie boek onwillekeurig die persoon van Theuns Eloff op: sober, nugter, regverdig, gebalanseerd en pragmaties. In ’n sekere sin dus die beste van die Dopper-tradisie wat Eloff gevorm het en wat hy steeds beliggaam.
Daar is nog ’n rede waarom dit in die geval van hierdie boek moeilik en selfs onwenslik is om nie na die skrywer self te verwys aan die begin van hierdie resensie nie. Dit is dat Eloff ’n veelbewoë lewe gelei het waarmee hy moeisaam die status en gesag verwerf het om hierdie boek te kon skryf. As gebore Potchefstromer, predikant van die Gereformeerde Kerk, apartheidskritikus gedurende die jare sewentig en tagtig van die vorige eeu, Dakar-ganger en betrokkene by die Kodesa-onderhandelinge, betrokkene by die burgerlike samelewing ná die land se politieke oorgang, hoogs suksesvolle rektor van die Noordwes-Universiteit (NWU) en nou ’n soort elder statesman (op ’n jeugdige 61) van die Suid-Afrikaanse én Afrikaanse openbare ruimte het Eloff ’n lang pad gestap om te kom waar hy is, en bly hy ’n belangrike stem. Bygesê: die skandalige wyse waarop hy deur sy politieke opponente aan die NWU verdryf en deur die sentralistiese liggewig Dan Kgwadi as rektor vervang is (nadat hy ’n mentor vir Kgwadi was), asook die bisarre kritiek van ander rektore dat hy van die Potchefstroom-kampus van die NWU ’n “taalenklawe” wou maak, het hy, te oordeel aan die moreel suiwere stem van hierdie boek, en die verantwoorde optimisme wat daaruit straal, nie kop toe gevat nie. In hierdie opsig is hy dus ’n voorbeeld van iemand wie se geloof in die nuwe bedeling – en sy geloof as sodanig – al kwaai getoets is, en staande gebly het. Vermoedelik was die skryf van hierdie boek ’n terapeutiese verwerking van die onreg wat hy by die NWU aangedoen is, en indien wel, is die ongeluk wat hom oorgekom het ons almal se geluk, want Wat nou, Suid-Afrika? is ’n deurdagte, hoopgewende bydrae tot die huidige openbare gesprek waar die onontbeerlike deug van hoop so skaars geword het.
’n Verdere pluspunt van die boek is dat Eloff sowel aan die Suid-Afrikaanse as aan die Afrikaanse openbare ruimtes aandag gee. Om die waarheid te sê gee dit aan die boek ’n ekstra dimensie wat nie algemeen voorkom by die stortvloed boeke in hierdie genre wat die afgelope paar jaar van die drukperse af rol nie. Hiermee bewys Eloff dat juis wanneer Suid-Afrikaners vanuit hulle besondere taal-, kulturele, godsdienstige en etniese agtergronde oor hul spesifieke gemeenskappe en oor die land dink, die nasionale en die subnasionale skeppend met mekaar kan praat.
Eloff se aanslag is om in hoofstuk vir hoofstuk Suid-Afrika se uitdagings eerstens te oorweeg aan die hand van die beste beskikbare statistiek en waar moontlik in vergelyking met ander lande. Dit word dan telkens opgevolg met ’n nugtere ontleding van die oorsake van die land se probleme en oplossings, waarin besondere klem gelê word op wat Jan en San Alleman kan doen. In die proses is hy nie skaam om kritiek uit te spreek teen en krediet te gee aan wie dit toekom nie. Hy vertrek vanuit die aanname dat die meeste Suid-Afrikaners gematigde mense is wat die Grondwet respekteer, maar wonder waarom, indien dit so is, hierdie gematigdheid nie aldag te siene is in die nasionale politiek nie:
My uitgangspunt is dat die meeste Suid-Afrikaners welmenend en welwillend is, die Grondwet wil eerbiedig en uitleef en basies dieselfde ideale vir hulle en hul kinders koester. En tog lyk dit nie elke dag so nie. Hoe verklaar ’n mens dit en sien terselfdertyd ons gemeenskaplike toekoms raak? (Kindle-ligging, 43)
Die boek bestaan uit 11 hoofstukke. Die eerste drie hoofstukke vorm die eerste deel van die boek waarin gekyk word na die bates en laste van wat hy “Maatskappy Suid-Afrika” noem, en bespiegel word oor die redes vir die laste. Terwyl die onderwerpe wat in hierdie eerste drie hoofstukke onder bespreking is nie iets is waaraan gewone Suid-Afrikaners aldag veel kan doen nie, kan ons wel iets doen aan die sake wat in hoofstuk 4 tot 10 behandel word, insluitend kwessies soos onderwys, misdaad, moraliteit en versoening. Die slothoofstuk, wat dieselfde titel as die boek dra, voer aan waarom daar nog hoop vir die land is en wat elkeen van ons baie konkreet in die alledaagse lewe kan doen om die hoop te verwesenlik.
Bates
Hoofstuk 1, “Suid-Afrika vandag”, begin by die oorgang vanaf apartheid. Dit is geen verrassing nie dat Eloff positief oor die oorgang is en oor die Afrikaners se vrywillige afstanddoening van mag ’n standpunt herhaal wat Van Zyl Slabbert graag gestel het:
Suid-Afrika het die suksesvolste politieke oorgang in die geskiedenis gehad. Dit het nog nêrens in die wêreld gebeur dat ’n minderheidsgroep wat die politieke mag gehad het dit vrywillig aan die meerderheid afgestaan het nie. Hiervoor sal FW de Klerk altyd erkenning kry. (97)
’n Land kan natuurlik nie bloot op sy louere rus nie, en dus vra Eloff gou reguit of Suid-Afrika vandag ’n mislukte staat is. Hier wys hy daarop dat as dié vraag gevra word, twee dinge in ag geneem moet word, naamlik “die definisie wat jy gebruik en hoe mense die betrokke staat beleef” (137). Vir die definisie steek hy kers op by die gesaghebbende Amerikaanse organisasie Fund for Peace se 12 kenmerke van ’n mislukte staat. Slegs vier van hierdie 12 kenmerke is in ’n mate op Suid-Afrika van toepassing:
Wydverspreide korrupsie en misdaad kom voor, maar die staat is nog nie volledig gekriminaliseer of gedelegitimiseer nie. Daar is ’n mate van demografiese druk, hoofsaaklik weens die instroming van mense uit ander Afrikalande, en ’n agteruitgang in openbare dienste. Laastens is ongelyke ekonomiese ontwikkeling vir sekere groepe ’n werklikheid – ons ongelykheidsindeks of Gini-koëffisiënt is van die hoogste ter wêreld. (170)
Dit is in die lig hiervan dat Fund for Peace die land uit die vier moontlike kategorieë van mislukte-staat-status – “waarskuwing, hoë waarskuwing, baie hoë waarskuwing en alarm (alert)” (163) – bloot in die waarskuwingskategorie plaas. Maar as die definisie een ding is, wys Eloff daarop dat mense se subjektiewe belewenis van die staat ’n heel ander ding is. In dieselfde voege as Alexis de Tocqueville se argument dat die burgery se gedeelde ervaring van lyding deurslaggewend was in die opstand teen die feodale staat voor die Franse Revolusie, vind Eloff hoop op ’n regeringsverandering in die groeiende gedeelde ervaring van lyding aan die hand van ons swakregeerde staat:
Wanneer alle Suid-Afrikaners, ongeag hul klas, egter byvoorbeeld water van ’n swak gehalte kry en aan beurtkrag blootgestel word, kan daar gou groter eenvormigheid kom ten opsigte van hul belewing van die staat. Dieselfde sal gebeur wanneer die armstes ook eerstehands die gevolge van korrupsie ervaar, soos wanneer staatshuise van ’n swak standaard deur onbevoegde kontrakteurs gebou word. (194)
Hierbenewens sonder hy die volgende politieke bates van die land uit. Eerstens het ons ’n goeie Grondwet wat na sy mening deur die meeste mense van die land gerespekteer word. Tweedens is daar vanweë die massasteun wat die ANC geniet, redelike politieke stabiliteit in die land, en sien hy die groei van die DA en die EFF se toetrede tot die parlement met hul gebreke en al as versterkend van die land se veelpartydemokrasie wat “help om weg te kalwe aan die alleenheerskappy of hegemonie van die ANC in die parlement” (252). Derdens is daar die lewenskragtige burgerlike samelewing. Vierdens geniet die land op ekonomiese gebied steeds betreklik goeie fiskale en monetêre beleid, word ons ouditsektor deur die Wêreld Ekonomiese Forum as die beste ter wêreld beskou, en “is Suid-Afrika wat ekonomiese groei betref in ’n sterker posisie as talle Westerse lande” (263). Laasgenoemde punt moet dalk met ’n knippie sout geneem word, gegewe die feit dat die meeste Westerse ekonomieë reeds hul groeipotensiaal grootliks verwesenlik het en in hul burgers se behoeftes kan voorsien.
In die vyfde plek oordeel hy dat daar sedert 1994 heelwat vordering in die sosio-ekonomiese en sosiokulturele omgewing gemaak is, waaronder die suksesvolle bekamping van MIV/Vigs sedert 2008. Die vraag moet wel gestel word wat van hierdie sukses gaan word indien die Amerikaanse regering sy steun vir die veldtog onttrek, soos wat moontlik gaan gebeur.
Laastens maak Eloff baie gewag van die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) wat in 2011 gepubliseer is. Hy lig die nege doelwitte van die NOP instemmend uit:
- Skep werksgeleenthede en bestaansmiddele (livelihoods). 2. Brei infrastruktuur uit. 3. Skakel oor na ’n laekoolstofekonomie. 4. Transformeer stedelike en landelike ruimtes. 5. Verbeter onderwys en opleiding. 6. Voorsien kwaliteitgesondheidsorg. 7. Bou ’n staat wat kapasiteit het. 8. Beveg korrupsie en verbeter verantwoordbaarheid. 9. Transformeer die gemeenskap en verenig die nasie. (309)
Die NOP is dan ook ’n hoopgewende teken waarna in feitlik elke hoofstuk verwys word. Vreemd genoeg, gegewe die robuuste kritiek wat Eloff nie skroom om oor ander aspekte te lewer nie, verwys hy nie na die feit dat die NOP vir praktiese doeleindes tans lê en stof vergaar nie – buiten die pogings wat die huidige minister van finansies met sterk politieke winde van voor aanwend om minstens aspekte van die plan uit te voer.
Laste
In hoofstuk 2, “Gevaarligte wat flikker”, pak Eloff “Maatskappy Suid-Afrika” se laste. Sy eerste groot bron van kommer is onrusbarende tekens dat die Grondwet se gesag toenemend deur die ANC en ander politieke rolspelers ondermyn word. Volgens hom is daar ’n groep mense wat die Grondwet beskou “as ’n dokument wat die raamwerk skep waarbinne Suid-Afrikaners hulself en hul waardes kan uitleef, dus ’n raamwerk wat saamleef en saamwerk toelaat” (365). Nodeloos om te sê, skaar hy homself ooglopend by hierdie groep. Daarteenoor is daar ’n ander groep wat die Grondwet sien “as die manier waarop die ANC-regering verandering moet bewerkstellig” (368) en wat die Grondwet die drywer wil maak van transformasie – ’n term wat, soos Eloff beklemtoon, nie in die Grondwet voorkom nie. Eloff skryf laasgenoemde toedrag van sake veral toe aan ’n “nuwe geslag politieke leiers wat nie die grondwetlike onderhandelings deurgemaak het of deel was van die gees van versoening en kompromie wat tydens die onderhandelings en daarna by die skryf van die 1996-Grondwet geheers het” nie (382). Hiermee sluit hy hom aan by ’n standpunt wat die parlementêre veteraan Pieter Mulder al dikwels gestel het, te wete dat namate die parlement al hoe meer lede bevat wat apartheid nie eerstehands beleef het nie, wat nog te sê die oorgang, daar al hoe meer onverdraagsaamheid jeens minderhede in die parlement posvat. Eloff lewer ’n kragtige pleidooi vir wat hy noem die Grondwet as toelatingsraamwerk:
Die Grondwet behoort dus verstaan te word as ’n toelatingsraamwerk, eerder as ’n transformasieraamwerk. Die toelatingsraamwerk maak natuurlik ook voorsiening vir regstelling. Slegs deur die balans tussen saamleef en -werk aan die een kant en regstelling aan die ander kant te behou, sal ’n stewige fondament vir ’n demokratiese en voorspoedige Suid-Afrika gelê word. (411)
Wat betref die poging om die Grondwet te vertolk as ’n transformasieraamwerk, sien hy die neiging om die Vryheidsmanifes hoër as die Grondwet te stel as deel van die probleem. En, skryf hy tereg, “hoewel die Vryheidsmanifes ’n belangrike historiese dokument is en as deel van ons geskiedenis verstaan behoort te word, was dit nooit bedoel om die hoogste wet van die land te wees nie” (428).
Vir sover dit ander politieke laste van die land aangaan, wys hy op die “swak toestand van die ANC as politieke party, alliansievennoot en regerende party” (434). Teen hierdie agtergrond sien hy groeimoontlikhede vir ’n sosialistiese party, asook vir die EFF – hoewel hy ook kon bygevoeg het dat sodanige groei ook slegs aan ’n deel van die burgery se politieke gevoelens uitdrukking sal gee, en heel waarskynlik nie ’n meerderheidsentiment verteenwoordig nie. Hy wys ook op hoe die ANC veral in onlangse jare die werking van die parlement ondermyn, onder meer deur opposisiepartye te minag, parlementêre komitees met onkundige mense te laai en nie reg aan ministeriële vrae te laat geskied nie. Die laaste politieke las wat hy uitsonder, is die staat se gebrekkige vermoë om dienste te lewer en in die burgery se behoeftes te voorsien.
Die land se politieke laste hang natuurlik saam met sy ekonomiese laste, beginnende by armoede en werkloosheid, en groeiende staatsuitgawes te midde van ernstig verlangsamende ekonomiese groei. Een van die grootste redes vir groeiende staatsuitgawes is natuurlik die maatskaplike toelae wat die staat aan iets tussen 16 en 18 miljoen Suid-Afrikaners uitbetaal. Eloff praat reguit oor die positiewe en negatiewe aspekte van dié toelae:
Alhoewel ’n mens kan verstaan dat die staat iets moes doen aan die groeiende armoedevraagstuk en dat hierdie toelaes definitief ’n verskil maak, is die probleem dat baie Suid-Afrikaners daarvan afhanklik word en dan dikwels nie meer werk soek nie. Die onbedoelde gevolge hiervan is nog nie verreken nie. (476)
’n Verdere ekonomiese las is die gebrekkige instandhouding van infrastruktuur, wat almal tot onlangs eerstehands in die vorm van beurtkrag beleef het. Heel onheilspellend, en bes moontlik tereg, waarsku hy dat die land hom gereed kan maak vir dieselfde probleme met drinkwater en riool- en sanitasiegeriewe. Gegewe dat die boek verskyn het voor die effekte van die huidige droogte duidelik begin word het, was hy heeltemal reg as ’n mens kyk watter waterkrisisse dele van die platteland reeds ervaar.
Ander laste wat hy uitlig, is die land se gebrekkige basiese onderwysstelsel en openbare gesondheidsdienste, die hoë vlakke van misdaad en korrupsie, rassepolarisasie en openbare haatdraendheid, en lae verdraagsaamheid soos versinnebeeld deur die xenofobiese aanvalle van 2008 en 2015.
’n Laaste las waarby hy redelik uitvoerig stilstaan, is die verskynsel van president Jacob Zuma. Hy wys daarop dat Zuma oënskynlik nie werklik ’n ideologie aanhang nie, maar eerder ’n opportunis is. Hy verwys na die feit dat Zuma se rigtingloosheid as leier volgens sommige kommentators te make het daarmee dat hy die houvas onderskat het wat lojaliste met wie se steun hy aan bewind gekom het, op hom sou hê. Dit is ’n welbekende standpunt wat al deur verskeie kommentators gehuldig is. Minder bekend is ’n alternatiewe en nie noodwendig ongeloofwaardige vertolking nie:
’n Ander denkrigting is dat die SAKP-leierskorps hom toelaat om welvaart op te bou (om dit sag te stel), en hom daarin beskerm, maar dat hulle intussen die mag van veral ekonomiese beleid in hul hande hou en al meer in ’n sosialistiese rigting stuur. (580)
Oor hierdie saak sonder Eloff slegs ’n paar hoopgewende tekens uit, wat helaas nie tans baie konkreet is nie. Dit sluit in dat daar nog goeie mense in die ANC is, en dat genoeg mense in die party as sodanig met Zuma ontevrede moet raak voor iets sal verander. Te oordeel aan hoe hy selfs ná die onlangse uitspraak van die konstitusionele hof dat hy die Grondwet geskend het, steeds vasklou aan mag, beskaam dié hoop nog. Laastens wys Eloff in hierdie verband op hoe ’n belangrike motivering ’n lang genoeg dienstermyn as minister of parlementslid ten einde vir ’n pensioen te kwalifiseer vir politici is.
Redes vir onderprestasie
Hoofstuk 3, “Al die sondaars”, gaan in op die vraag hoekom die land hom bevind “in die posisie waarin ons tans is en hoekom [...] ons nie die afgelope meer as 20 jaar die meeste van ons prioriteite bereik [het] nie” (620). Die eerste faktor wat hy hier uitlig, is die nalatenskap van apartheid. Hoewel hy min erg het aan hoe die ANC dié verskoning misbruik, wys hy daarop dat die ANC-regering in 1994 ’n gefragmenteerde staatsdiens geërf het en dat die land in daardie stadium tegnies bankrot was. Maar dan maak hy gou beswaar teen die wyse waarop die ANC wit mense in die algemeen en Afrikaners in die besonder blameer vir die stadige pas van verandering. As bewyse van hoe min waarheid in hierdie veralgemening steek, wys Eloff op die Nasionale Besigheidsinisiatief wat in 1995 gestig is as “’n konkrete voorbeeld van die gewilligheid van die wit sakesektor om met die regering saam te werk om die land te laat werk” (647). Nog ’n voorbeeld was die Besigheidstrust wat in 1999 gestig is en waarby hy ook betrokke was, maar wat in 2011 doodgeloop het omdat die regering nie die vergaderings daarvan bygewoon het nie en die inisiatief verwaarloos het.
Twee ander redes wat hy vir die land se gebrekkige prestasies sedert 1994 uitsonder, is die gebrek aan ervaring van die staatsamptenare wat na 1994 oorgeneem het en die hope planne en strategieë wat ontwikkel is, maar nooit uitgevoer is nie. Hiervoor sonder hy drie redes uit:
Eerstens was daar nie die kapasiteit in die staatsdiens om dit te doen nie. Tweedens was daar ideologiese verskille tussen ANC-leiers en selfs ministers oor die gepastheid van hierdie beleide. Die gevolg was ’n halfhartige toepassing of selfs ondermyning van sekere planne. Derdens was die planne wat aanvaar is in baie gevalle te gesofistikeerd of ambisieus vir Suid-Afrika se probleme en omstandighede. (668)
In hierdie verband is Eloff op sy mees kritiese wanneer hy dit het oor die verwoestende skade wat kaderontplooiing aangerig het, en veral in die Zuma-jare. Dit hang saam met “die beleide van demografiese verteenwoordigendheid, transformasie, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging”, en al stem almal saam dat “een of ander vorm van regstellende aksie, billike indiensneming (employment equity) en swart ekonomiese bemagtiging ten minste vir ’n tydperk noodsaaklik is, het hierdie beleide tans talle onbedoelde en onvoorsiene gevolge wat groot skade aanrig” (702). Hierdie verskillende beleide word natuurlik byeengebring onder die term transformasie en Eloff wys daarop dat dit nou die nasionale norm geword het – nes apartheid op sy dag die nasionale norm was wat ook nie as term êrens op die wetboek voorgekom het nie.
Nog ’n rede vir die land se swak prestasie is die kultuur van toe-eiening, wat sy oorsprong enersyds vind in die argument dat dit ná wit mense nou swart mense se beurt is om lekker te leef, en andersyds in die groot ekonomiese gaping wat tussen die swart elite en gewone swart mense ontstaan het. Hy som twee van die gevolge van die kultuur van toe-eiening op:
Die kultuur van toeëiening [sic] veroorsaak byvoorbeeld dat vakbonde jaarliks aanspraak maak op onrealisties hoë verhogings, wat uiteindelik juis tot werksverliese lei. Toeëiening [sic] veroorsaak ook dat talle Suid-Afrikaners die houding het dat hulle, ongeag hul aanleg en intellektuele vermoëns of hul vlak van onderwys of opleiding, om enige betrekking moet kan aansoek doen – en dit dan moet kry. (751)
En:
’n Kultuur van toeëiening [sic] gaan dikwels ook hand aan hand met korrupsie. As ek iets wil hê en reken dit kom my toe, sal ek enigiets doen om dit te kry. Ek sal my graadsertifikaat laat vervals, lieg oor my ervaring, gunste by politici verkry in ruil vir omtrent enigiets en my hoofskap van ’n skool koop. (756)
Dit is dieselfde kultuur wat ook ’n rol speel in die welbekende verskynsel van job hopping in die beroepswêreld, waarvoor hy die kostelike vertaling “klipspringery” gee. Hierdie klipspringery kalwe institusionele geheue, lojaliteit en stabiliteit weg – en hy kon bygevoeg het watter skade dit ook toenemend aan Suid-Afrikaanse universiteite aanrig, waar veral senior leierskap en professore lustig van een instelling na die ander beweeg, sakke vol geld maak, en oor die algemeen min bydra.
Ander redes vir die land se swak prestasie is hoe houdings langs rasselyne weer begin verhard het – hier is dit verrassend dat hy nie uitbrei oor watter rol onderlinge vertroue of die gebrek daaraan in ’n land se prestasie speel nie, soos wat Francis Fukuyama in 1996 genoem het in sy boek getiteld Trust: The Social Virtues and the Creation of Prosperity. Nietemin, in die verlenging hiervan het die poging om die staatsdiens werklik diensbaar aan die mense te maak ook mettertyd in die sand geloop en tot ’n kultuur van ke pele (“ek eerste”) gelei.
Regstelling?
Eloff wy vervolgens ’n hele hoofstuk, “Meriete, regstelling en (on)billikheid”, aan ’n vernietigende ontleding van die verheffing van transformasie tot nasionale norm, waarvan die sukses deur die ANC gemeet word aan vlakke van demografiese verteenwoordigendheid, wat op sy beurt die demografiese aandele van die ou apartheidsbevolkingsgroepe in die bevolking moet weerspieël (“80% swart, 9% wit, 9% bruin en 2% Indiër”, 911).
Hy begin deur te verwys na hoe die konstitusionele hof ironies genoeg self hieraan meegedoen het met sy berugte uitspraak in die saak van Renate Barnard teen die Suid-Afrikaanse Polisiediens. Ofskoon artikel 9(2) van die Grondwet voorsiening maak vir “die beskerming en ontwikkeling van persone wat deur onbillike diskriminasie benadeel is” (918), wys hy daarop dat “regstellende aksie die afgelope 20 jaar egter subtiel, maar wesenlik verander [het] in iets wat nie die meeste swart Suid-Afrikaners ‘beskerm en ontwikkel’ nie, maar wat onbillik teen die meeste wit en bruin Suid-Afrikaners diskrimineer” (940). Hy haal uit ’n verslag van die Staatsdienskommissie aan wat die skadelike gevolge van die toepassing van regstellende aksie uitgewys het, maar bevind dat daar dadels van dié kritiek gekom het.
Hoewel Eloff hom teen die verwording van die beleid van regstellende aksie uitspreek, wil dit nie sê dat hy nie erns maak met die diversiteit van die Suid-Afrikaanse samelewing nie. Inteendeel – onder sy rektorskap het die NWU groot erns met hierdie saak gemaak, omdat dit die regte ding is om te doen:
By die NWU is die beginsel van minimum diversiteit nagestreef as basis vir getalleteikens, eerder as demografiese verteenwoordigendheid. Die opvoedkundige rede hiervoor was dat dit onverantwoordelik van die universiteit sou wees om wit of swart studente op ’n kampus in omstandighede te laat studeer wat hulle kan laat dink dat die wêreld daar buite óf net wit óf net swart is. (990)
Eloff beklemtoon ook die belangrike punt dat soos regstellende aksie tans toegepas word, dit minderhede dikwels onwelkom en vervreemd laat voel, wat in uiterste gevalle die vorm van emigrasie aanneem en lei tot ’n verlies aan vaardighede wat die land nie kan bekostig nie.
Wat die Barnard-saak betref, is Eloff snydend in sy kritiek op die uitspraak van die konstitusionele hof:
Regter Dikgang Moseneke het in die meerderheidsverslag geskryf dat die appèlhof die regskwessie verkeerd verstaan en die verkeerde wette in ag geneem het. Die hof was verplig om die gelykheidseis deur die lens van art. 9(2) van die Grondwet en art. 6(2) van die Wet op Gelyke Indiensneming te beskou omdat die SAPD se plan vir gelyke indiensneming nooit in twyfel getrek is as onwettig of ongeldig nie. (1028)
Sy kommentaar op hierdie uitspraak is ewe vernietigend:
Die basiese uitgangspunte van die konstitusionele hof se argument is dat die Grondwet ’n transformatiewe missie het en daarom mag geregverdig teen sekere individue/groepe gediskrimineer word, ten spyte van gelykheidsartikels in die Grondwet. (1044)
Met hierdie kommentaar bevestig Eloff ook die standpunt van Koos Malan in sy Politokrasie: Notas oor die dwanglogika van die territoriale staat waarvolgens die regbank in wese die agenda van die staat en sy heersende elites dien. Met iets van ’n uitsondering laat Eloff hom heel persoonlik oor hierdie uitspraak uit: “Dit het my nie net as ’n wit Afrikaanse man uitgesluit laat voel nie, maar my ook laat dink dat dit die einde van meriete in Suid-Afrika beteken” (1067). Tereg wys hy ook daarop dat die howe nie die staat verantwoordbaar hou vir wat die Grondwet en ander wetgewing éintlik op die terrein van regstelling voorsien nie:
Die howe behoort die staat te wys op sy plig ten opsigte van beter onderwys, opleiding en ekonomiese geleenthede vir voorheen benadeeldes, maar dit word in die bostaande uitsprake geïgnoreer of onderskat, ter wille van ’n dolle najaag van rasseteikens vir ’n klein minderheid van swart mense. (1086)
Om van hierdie waansin weg te beweeg, haal Eloff aan uit ’n persoonlike gesprek met ’n voormalige rektor van die Universiteit van die Wes-Kaapland, Bryan O’Connell, wat heel sober daarop wys dat gegewe die groot meerderheid wat swart mense van die bevolking uitmaak, dit ’n kwessie van tyd is voor hulle hul regmatige plek in die samelewing inneem, en dat die beste talent intussen ingespan moet word tesame met die instel van behoorlike opleidings- en mentorprogramme. Eloff wonder tereg hardop of die ware doel van regstellende aksie “nie dalk die oorneem van die hefbome van mag, spesifiek in die staatsdiens, was nie” (1132). Tipies van sy hoopsoekende styl wys hy wel daarop dat regstellende aksie ’n belangrike rol in die vestiging van ’n swart middelklas gespeel het, en dat mense met die regte kwalifikasies uit minderhede wel een of ander tyd ’n geleentheid sal kry, en dat sulke mense meer gehard gemaak word deur die negatiewe ervaring. In hierdie verband gee hy die puik voorbeeld van die Atterbury-eiendomsontwikkelingsgroep wat in 1994 deur ’n paar wit Afrikaanse jongmans gestig is:
Toe hulle die Openbare Beleggingskorporasie (’n semi-staatsinstelling) om finansiële ondersteuning vra, was die antwoord dat hulle te wit is. In plaas van tou opgooi, of ’n twyfelagtige swart papiervennoot soek, het hulle besluit om gewoon die beste eiendomsontwikkelings op die beste plekke te doen. In 2014 het dieselfde Openbare Beleggingskorporasie hulle gevra om ’n vennoot te word in Atterbury se inisiatiewe in die res van Afrika en Europa. (1163)
Maatskaplike uitdagings
Vervolgens, in hoofstuk 5, behandel Eloff “die moeilike drieling” van armoede, werkloosheid en ongelykheid, wat so nou met mekaar saamhang dat hulle as ’n drieling beskryf kan word. Dit is veral in hierdie hoofstuk dat sy steun op die beste beskikbare statistiek help om die gemoedere te kalmeer oor wat in elk geval ’n baie emosionele saak is – en met rede. Baie mense is so gewoond aan die kritiek op die ANC-regering in die media dat dit ’n verrassing mag wees om te lees dat die “aantal huishoudings wat volgens StatsSA onder die boonste armoedevlak geleef het, [...] tussen 2006 en 2011 sterk gedaal [het] (van 42,2% na 32,9%)” (1257). Die emosie in hierdie onderwerp het deels te make met gevestigde rassepatrone, en deels met die lot van jongmense.
Wat ras betref:
Dit is duidelik dat daar betekenisvolle verskille is in die vlakke van armoede onder die verskillende bevolkingsgroepe (lees: rassegroepe). In 2011 was meer as 9 uit 10 armes, oftewel 94,2%, swart (African).10 Hierteenoor het 27,6% van bruin mense, 3,4% van Indiërs en 0,8% van wit mense onder daardie vlak geleef. (1260)
En wat jongmense betref, hierdie skokkende statistiek: “In 2011 was meer as 60% van alle armes onder die ouderdom van 25” (1265). Geen wonder dat Julius Malema se EFF soveel opgang onder arm jongmense maak nie! Eloff wys daarop dat hoewel die gaping tussen arm en ryk in ander lande veel slegter as in Suid-Afrika lyk, dit hier baie te make het met hoe mense die gaping beleef – ’n punt wat Adam Habib ook uitlig in sy 2013-boek, South Africa’s Suspended Revolution: Hopes and Prospects.
Eloff stel dit so:
Een van die redes waarom armoede en die belewing daarvan relatief is, is die basiese sielkundige rede van verhoogde verwagtinge. ’n Arm mens in Somalië se verwagtinge is laag, omdat die meeste mense wat hy teëkom ook arm is. ’n Behoeftige persoon in Soweto en Alexandra, wat blootgestel is aan die weelde in die res van Johannesburg, het egter veel hoër verwagtinge, ook omdat daar toenemend meer (swart) rolmodelle is wat welaf is. Hierdie verhoogde verwagtinge plaas groter druk om verandering op die omgewing waarin armoede voorkom. (1275)
Die rol van die persepsie van ongelykheid word bevestig deur ’n ander boeiende statistiek wat Eloff aanhaal. Tussen 1995 en 2005 het die “armste 20% van die bevolking [...] 2,3% van die nasionale inkomste verdien en die rykste 20% het 70% daarvan verdien. Dit het sedertdien ietwat verbeter: volgens StatsSA het die armste 20% in 2011 4,3% verdien en die rykste 20% omtrent 61,3%” (1354).
Eloff vind hoop in die rol wat die burgerlike samelewing speel as buffer teen ongelykheid. Dit sluit die rol van die informele ekonomie in, wat oënskynlik ’n groter deel tot Suid-Afrika se bruto nasionale produk as die formele landbousektor bydra (!), asook die wyse waarop swart mense binne uitgebreide familiestrukture mekaar ondersteun. En, les bes, gewone middelklasmense kan ook hulle deel doen:
Inisiatiewe soos sopkombuise, nagskuilings, huisbou-aksies en die verspreiding van ongebruikte toerusting en klere is volop. Die positiewe uitwerking van hierdie honderde inisiatiewe kan moeilik oorskat word en dit bied ’n geleentheid vir individue om betrokke te raak. ’n Mens kan ook jou gewig ingooi by pogings van gemeenskaps- en welsynsorganisasies, die sogenaamde nieregeringsorganisasies en niewinsgewende organisasies, om die lot van die armes en dié wat swaarkry en oud is te probeer verlig. (1462)
Onderwys
Waarskynlik die enkele belangrikste uitdaging vir Suid-Afrika waaroor die meeste mense sal saamstem, is die land se onderwysprobleme. Eloff is geen uitsondering hierop nie, en hy sny die onderwerp aan in sy boek se sesde hoofstuk, “Die vermiste skakel – goeie onderwys”.
Weer eens begin hy by die statistieke en wys hy heel vroeg op ’n noemenswaardige ontwikkeling, synde dat die aantal privaat skole in die land tussen 2010 en 2014 vanaf 4% van die totaal gestyg het tot 6,5% – ’n neiging wat hy tereg reken gaan voortduur namate die regering in gebreke bly om die onderwysstelsel reg te ruk. Een deel van die onderwysstelsel waar die probleme met basiese onderwys gesien kan word, is in die hoër onderwys. Eloff wys op hom min skoolverlaters aan die einde van hulle skoolloopbaan werklik toegerus is om suksesvolle studente te wees. Menige universiteitsdosent sal dit bevestig, tesame met die feit dat die siening posgevat het dat ’n universiteitsgraad min of meer die enigste manier is om ’n werk te kry. Hiervoor het Eloff ’n oplossing: “Die oplossing vir te min universiteitsplekke lê ten dele daarin dat meer matrieks na die kollegesektor getrek behoort te word, ook omdat die land weens die vaardigheidstekort veral ’n groot behoefte het aan mense met dié soort opleiding” (1560).
Wat basiese onderwys verder betref, wys hy op die feit dat afgesien van die hoë uitvalkoers uit die skoolstelsel, die swak stelsel ook daartoe lei dat die teikens wat regstellende aksie voorsien, doodeenvoudig nie haalbaar is nie:
In die matriekeksamen van 2014 het slegs 3,2% (7 216) leerders onderskeidings in wiskunde behaal en slegs 3,3% (5 513) in fisiese wetenskappe. As in aanmerking geneem word dat slegs ’n paar honderd swart matrieks wiskunde met 60% of hoër slaag, is dit duidelik dat regstellende aksie in sekere werkskategorieë nie die vaardigheidstekort sal kan uitwis nie, selfs al word al die wit mense se vaardighede steeds gebruik. (1589)
Dan is daar ook die problematiese houvas wat die Suid-Afrikaanse Demokratiese Onderwysersunie (SADOU) op die onderwysstelsel het. (Sedert die ter perse gaan van Eloff se boek is ook in ’n verslag van die Departement van Basiese Onderwys bevind dat SADOU-lede in onderwysposte handel dryf.) In hierdie verband wonder Eloff hardop of SADOU se greep ooit verbreek sal word, gegewe die feit dat hulle tydens verkiesings vir praktiese doeleindes die meeste stemlokale beheer, wat natuurlik by skole is.
Natuurlik kan dit ook nie anders nie as dat Eloff die mislukte eksperiment van uitkomsgebaseerde onderwys uitlig. Hy sou ook kon wys op die feit dat die skoolverlaters wat uit die mislukte eksperiment kom, die universiteite die afgelope jaar of drie begin betree het, en dit nie onwaarskynlik is dat daar ’n verband bestaan met die groeiende protes op vele kampusse nie, aangesien die ervaring getoon het dat akademies swak studente dikwels by gewelddadige kampusprotes betrokke is.
Nog ’n kwessie waarmee veral Afrikaanssprekendes vertroud is, is moedertaalonderwys. Hieroor skryf Eloff:
Wat taal betref, is die universele probleem dat baie ouers, asook politici en amptenare, die rol wat moedertaal speel in die kognitiewe ontwikkeling van kinders ontken. Deur die oorgang na Engels te vroeg en onbegeleid te maak, verwoes ons kinders se vermoë om werklik te kan leer en verstaan. Dit het ’n ingrypend negatiewe effek op taalvermoë en wiskunde. (1715)
Inderdaad, sal menige Afrikaanssprekende beaam, hoewel Eloff daarop wys dat die druk waaronder Afrikaans as medium van onderrig in die hoër onderwys verkeer, ook die gevaarligte vir Afrikaanse skole laat flikker.
Wat is die oplossing vir Suid-Afrika se onderwyskrisis?
Eloff lys die volgende stappe wat gedoen kan en moet word: behoorlike voeding vir skoolkinders; minstens twee jaar voorskoolse onderwys; die vermindering van onderwysburokrasie; nie-inmenging by presterende skole; behoorlike aandag aan wanpresterende skole; sterk leierskap; die herbouing van professionalisme in die onderwys; die bou van verhoudings tussen alle belanghebbendes by skole; ’n beter balans tussen kinders se moedertale en Engels; en sterk skoolbeheerliggame. Eloff wys sy Afrikaanse lesers ook op die goeie gehalte van Afrikaanse skole, wat as bate opgepas moet word, selfs deur jou kind aan te moedig om onderwys te gaan studeer.
Misdaad
Die volgende welbekende nasionale probleem word behandel in hoofstuk 7, “Misdaad se lang skaduwee”. Almal stem saam dat Suid-Afrika se misdaadvlak geweldig hoog is, en die vraag waarom dit so is, is een wat al baie bespreek is.
Eloff se bydrae tot dié gesprek is soos volg:
Dit word algemeen aanvaar dat Suid-Afrika se hoë vlakke van ongelykheid, armoede en werkloosheid ’n wesenlike rol speel in die hoë misdaadsyfers. As ’n mens honger is, is steel altyd ’n opsie – en soms ongelukkig die enigste een. Die verhoogde verwagtinge onder voorheen benadeelde Suid-Afrikaners is waarskynlik ook ’n faktor en daarmee saam die kultuur van toeëiening [sic] waarvan vroeër in hierdie boek gepraat is. Verder help die lae vlak van moraliteit in die land ook nie. (1790)
Hierby voeg hy nog die volgende oorsake van misdaad: die negatiewe gevolge van gebroke huise; alledaagsheid van geweld in Suid-Afrikaanse huise, woonbuurte en skole; gehalte van polisiëring en die algemene toestand van die strafregstelsel; korrupsie in die Suid-Afrikaanse Polisiediens; gebrek aan kapasiteit in die onderskeie departemente; die ideologie van demografiese verteenwoordigendheid; en kaderontplooiing en regstellende aksie.
Die polisie se vermoë om misdaad te beveg word natuurlik ook deur diensleweringsbetogings aan bande gelê, en hier verwys Eloff na ’n sobere insig van die Instituut vir Sekerheidstudies, naamlik dat hierdie betogings hokgeslaan kan word slegs deur bevoegde mense in munisipaliteite aan te stel. Anders gestel, ook in hierdie opsig is die swak toepassing van regstellende aksie dus nieregstreeks ’n bydraende faktor tot die polisie se huidige verloorgeveg teen misdaad.
Eloff haal ook heelwat van die emosie uit hierdie emosionele onderwerp deur weer eens aandag aan statistiek te gee. Hy kom tot ’n optimistiese gevolgtrekking vir die periode van 2004 tot 2015:
In alle billikheid moet ’n mens dus sê dat misdaadvlakke die afgelope tien jaar aan ’n breë front gedaal het. Dis veral waar van misdade teen mense. Die duidelikste uitsonderings is die invloed van drank en dwelms en roof by woonhuise en nie-residensiële geboue. (1882)
Ongelukkig kan hierdie optimistiese gevolgtrekking nie meer gehandhaaf word nie, want soos die onafhanklike polisiekenner Chris de Kock in ’n onlangse onderhoud met Monitor op RSG genoem het, lyk die land se misdaadstatistiek nou weer heelwat slegter weens die rampspoedige termyn van generaal Riah Phiyega. Eloff bevestig dit inderwaarheid met die jongste beskikbare statistieke vir 2012/13 en 2013/14, waarvolgens die land se moordsyfer, asook roof met verswarende omstandighede, asook straatrooftogte, huisrooftogte en die roof van besighede toegeneem het. Die statistiek is natuurlik maar slegs een deel van die verhaal, en na ’n bespreking van hoe Suid-Afrika se misdaadstatistiek met die res van die wêreld s’n vergelyk, kom Eloff tot ’n slotsom waarmee die meeste mense sekerlik sal saamstem: “Dit is amper asof ’n diepgewortelde aggressie in die Suider-Afrikaanse psige sit – en dis nie noodwendig aan ras gekoppel nie” (1948). By die lees van die laaste sinsnede is ’n mens amper verlig dat daar so ’n bietjie goeie nuus by die slegte nuus is, maar by verdere gedagte besef ’n mens dat om dit as goeie nuus te eien, ook iets van die vreemdheid van ons samelewing bevestig.
Eloff sonder ook die kwessie van plaasmoorde uit, en herinner sy lesers aan die skokkende statistiek dat daar jaarliks per 100 000 twee maal soveel boere as polisielede vermoor word. Wyslik vermy hy die oorbeklemtoning van ras as faktor in plaasmoorde, spesifiek deur hom te beroep op ’n bevinding van niemand minder nie as AfriForum “dat daar nie bewyse is dat plaasaanvalle en -moorde spesifiek ras- of polities gedrewe is nie” (1974). Nietemin ontken Eloff nie die uniekheid van plaasmoorde as ’n soort misdaad nie, en haal hy AfriForum met instemming aan dat plaasaanvalle “met uiterste wreedheid gepaardgaan, dat dit gereeld gebeur, dat boere ’n unieke en belangrike rol in voedselproduksie en -sekuriteit het en dat hulle as gevolg van hul geografiese geïsoleerdheid kwesbaar is” (1974). Eloff pak tereg die skuld vir plaasmoorde onder meer op die afskaffing van die kommandostelsel, en wat misdaad in die algemeen betref wys hy op die skadelike gevolge van die afskaffing van verskeie spesiale ondersoekeenhede in die polisie.
Wat staan ons te doen in die geveg teen misdaad? Weer eens vestig Eloff sy hoop onder meer op ’n kultuur van selfstandigheid:
Daar is heelwat wat individue, private maatskappye en die gemeenskap kan doen ten opsigte van die voorkoming en bekamping van misdaad. Dit gaan om vrywilligerwerk en betrokkenheid by nieregeringsorganisasies: van buurtwag- en landelike beveiligingsorganisasies tot gemeenskapsorganisasies wat die slagoffers van misdaad bystaan. (2014)
Uiteraard kan die gemeenskap die stryd teen misdaad nie alleen wen nie. In hierdie lig wys Eloff op hoe skadelik die verkeerde toepassing van regstellende aksie vir die doeltreffende funksionering van die polisiediens is, en hoe noodsaaklik dit is om armoede, werkloosheid en swak onderwys uit te wis.
Sagte temas
In die volgende drie hoofstukke van sy boek pak Eloff drie temas aan wat hy self as “sagte” temas beskryf, maar wat hom as Afrikaner, Afrikaanssprekende en Christen duidelik na aan die hart lê. Heel gepas heet hoofstuk 8 dan “Hartsake vir Afrikaners en Afrikaanses”. Laasgenoemde term doen nog steeds geforseerd en kunsmatig aan, maar waarskynlik werk Eloff met die term om sy diep verbintenis tot inklusiwiteit in die nadenke oor Afrikaans te bevestig. Hoewel taal sterk in die hoofstuk figureer, gaan dit ten diepste oor die komplekse vraag na hoe Suid-Afrikaners die verskillende identiteite wat ons elkeen het, met mekaar moet balanseer. Of, soos Eloff dit aan die begin van die hoofstuk stel: die vraag is of “’n mens in die taal- en kultuurkonteks meervoudige identiteite kan hê en hoe ’n mens hierdie verskillende identiteite kan versoen” (2145). Hy pas die vraag toe op Afrikaners deur te verwys na die debatte wat in sy studentedae op Potchefstroom oor die saak gevoer is:
Suid-Afrikanerskap was – en is steeds – ’n staatkundige konsep, en as jy ’n burger van die land is, is jy ’n Suid-Afrikaner – jy het nie eintlik ’n keuse nie (selfs al sou jy besluit om vir die All Blacks te skree). Afrikanerskap is ’n kulturele konsep en hier het jy ’n keuse. Jy kan een wees of nie. Dat jy Afrikaans praat, maak nie noodwendig van jou ’n Afrikaner nie. Ek moet sê, hierdie insig het nogal die debat ontlont en amper vervelig gemaak! (2150)
Dit is goed en wel om op dié wyse vir die meervoudigheid van Afrikaners se identiteite voorspraak te maak, buiten dat Eloff hom hier oënskynlik laat verlei deur die liberale illusie dat ’n mens jou kulturele identiteit kan kies. In hierdie verband was ’n ander bekende liberale Afrikaner, Van Zyl Slabbert, meer verantwoord toe hy in die voorwoord van sy Afrikaner, Afrikaan na sy Afrikaner-identiteit verwys het as ’n sosiale geboortevlek. Hiermee het hy bedoel dat die individu nie sommer maar kan afstap van hoe hy deur ander mense in ’n spesifieke sosiale konteks gesien word nie, maar dat jy as individu eerder verantwoordelike inhoud aan jou kulturele identiteit behoort te gee – iets wat Eloff as Afrikaner natuurlik oor dekades al doen.
Na ’n bespreking van die uiteenlopende sienings oor Afrikaanse en Afrikaner-identiteit kom hy tot die volgende slotsom oor die oplossing: “Vir my lê ’n oplossing vir hierdie penarie (vir dié wat dit wil oplos) op die vlak van verskillende oorvleuelende vlakke waarvan ’n mens deel is en wat getalsgewys van groter na kleiner gaan” (2165). Vervolgens redeneer hy dat daar in die geval van byvoorbeeld Afrikaners vyf oorvleuelende vlakke van identiteit is: jy’s ’n mens, ’n Afrikaan omdat jy in Afrika woon, ’n Suid-Afrikaner op staatkundige gronde, op taalkundige gronde Afrikaans, en laastens op die vlak van kultuurassosiasie ’n Afrikaner. Oor Afrikaners en hul identiteit verklaar hy dan:
Dis ’n groep mense (binne en buite Suid-Afrika) wat identifiseer met die geskiedenis, algemene sedes, gewoontes en toekoms van ’n kultuurgroep. Hulle praat almal Afrikaans, maar is nie noodwendig deel van dieselfde kerk of geloofsgroep, ras of politieke oortuiging nie. Dit gaan hier oor vryheid van assosiasie. (2175)
In die verlenging van die kritiek wat hier bo uitgespreek is op sy oënskynlik liberale siening oor keusevryheid by kulturele identiteit moet hier op gewys word dat dit in die lig van bostaande aanhaling meer verantwoord is om te sê dat terwyl ’n mens nie bloot as individu jou kulturele identiteit kies nie, dit ook waar is dat ’n kulturele identiteit se welstand onder meer daarvan afhang dat mense wat binne so ’n identiteit gesosialiseer word, dit tegelykertyd ook aktief moet kies wanneer hulle selfstandig en volwasse genoeg is. Daarmee word die nasionalistiese dwangbuis wat Afrikaner-identiteit eens versmoor het, ook geneutraliseer, en dit is vermoedelik presies wat Eloff in die oog het met bostaande aanhaling. Daarom pleit hy ook vir verdraagsaamheid teenoor mekaar onder Afrikaners:
As iemand byvoorbeeld kies om nie met ’n bepaalde kultuurgemeenskap (soos die Afrikaners) te identifiseer nie, moet sy of haar reg om dit nie te doen nie, gerespekteer word. Net so mag iemand wat daardie reg wel uitoefen, nie veroordeel, gemarginaliseer of geëtiketteer word nie. (2185)
Wat die breër Afrikaanse wêreld betref, lê groter samehorigheid tussen bruin en wit sprekers van die taal Eloff na aan die hart, en hy vind betekenis in die stigting van die Afrikaanse Taalraad, wat die produk van die strewe na groter sodanige samehorigheid is. Wat die welstand van die taal betref, bevind Eloff dat dit in die privaat sfeer goed gaan met die taal as dit kom by kunstefeeste, die media, kultuurorganisasies en kerke. In die openbare lewe gaan dit egter nie so goed met die taal nie. In die professies is dit op die agtervoet, om van die staatsdiens en die regbank maar te swyg.
Dan is daar ook nog die aggressiewe druk op Afrikaans as onderrigmedium in die hoër onderwys, wat natuurlik ook ’n negatiewe effek op Afrikaanse skole kan hê, iets waaroor Eloff tereg bekommerd is. Hier verwys hy na die feit dat van die 339 Afrikaanse enkelmediumskole in 2013 daar in 2014 slegs 267 oor was! Dit word veral aan verengelsing ná oorskakeling na parallelmediumonderrig toegeskryf. In hierdie verband sonder hy met reg die aggressief Afro-nasionalistiese LUR vir onderwys in Gauteng, Panyasa Lesufi, se volgehoue aanslag op Afrikaanse skole in daardie provinsie uit.
Eloff skroom ook nie om daarop te wys dat die ANC om ’n verskeidenheid redes nie belang het by die ontwikkeling van die ander inheemse tale nie, en dat Afrikaans vir praktiese doeleindes op sy sprekers en hul toewyding aangewese is. Dit beteken nie dat die grondwetlike ruimtes wat daar vir Afrikaans bestaan, nie benut moet word nie, veral as dit kom by Afrikaans as onderrigtaal op skool en universiteit. “Hiervoor moet Afrikaanses en Afrikaanse organisasies nog harder veg en mobiliseer” (2419). Hy wys ook daarop dat as die ANC konsekwent in sy nastrewing van demografiese verteenwoordigendheid was, “sou 13,5% van die openbare skole en die universiteite in die land in Afrikaans onderrig gegee het” (2421). Nietemin is hy oortuig dat die bestendiging van Afrikaans in die openbare instellings uiteindelik sal afhang van ’n politieke oplossing in gesprek met die ANC, waarvoor die mobilisering van minderhede en goeie argumente noodsaaklik sal wees. Kortom, Eloff bewys hom hier as ’n gematigde voorstander van verantwoorde taalaktivisme.
Wat die heil van Afrikaans binne die Afrikaanse wêreld betref, sonder hy die noodsaak van groter samewerking tussen wit en bruin uit. Hy wys daarop dat sowel armoede as taalverlies te bowe gekom moet word, oftewel dat die “bruin” en “wit” belang by die saak nie teen mekaar afgespeel hoef te word nie. Ook vernuwing is vir die taal se toekoms belangrik, soos die sukses van tolking in die Afrikaanse klaskamer by die NWU se Potchefstroomkampus ook bewys het. Hy reken dat die feit dat dié kampus een uit vier studente het wat nie wit is nie, onder meer aan die gebruik van tolking toegeskryf kan word: “Die studente van die Potchefstroom-kampus is dus ’n lewende bewys dat bruin en wit Afrikaanses rondom taal kán verenig en saam kan tuis voel – in hul taal. Miskien kan die volwassenes iets hieruit leer?” (2450).
Wat Afrikaners spesifiek betref, stel Eloff voor dat ’n liggaam soortgelyk aan die Joodse Raad van Afgevaardigdes tot stand gebring moet word. Hierdie gedagte is ten minste al in die laat jare negentig van die vorige eeu deur onder andere wyle Izak de Villiers voorgestaan, en tog kom dit nog nie op dreef nie. ’n Mens kan maar net wonder waarom. Moontlik het dit te make met die suksesse wat die Solidariteit-beweging behaal om Afrikaners se belange te vertolk en te beskerm – sonder dat die beweging ooit daarop aanspraak maak dat hulle namens alle Afrikaners praat.
Eloff sluit ook hierdie hoofstuk met ’n aantal voorstelle in die gees van taal- en kulturele selfstandigheid af. Dit sluit in dat mense by organisasies en klubs van hul keuse betrokke sal raak en hulle kinders na Afrikaanse onderwysinstellings sal stuur, wat ’n universiteit met Afrikaans as onderrigtaal insluit. Hoewel hy hier goeie sentimentele argumente in die positiewe sin van die woord vir Afrikaans as taal van die hoër onderwys uitmaak, is dit enigsins verrassend dat hy nie meer doen met die harde ekonomiese argumente ter wille van Afrikaans as taal van die beroepswêreld nie. Hy kon byvoorbeeld daarop gewys het dat die einste ouditprofessie wat as die beste ter wêreld beskou word, tradisioneel baie sterk in Afrikaans gevestig, gebou en onderhou is. Die eerste gedoktoreerde in ouditkunde in Suid-Afrika is Kovsies se Dave Lubbe, wat wêreldwyd aansien geniet, en van wie talle en talle Afrikaanse studente die wêreld oor sukses in die ouditprofessie behaal. Toevallig is Lubbe ook by dieselfde universiteit as Eloff opgelei.
Moraliteit
Vervolgens staan Eloff in hoofstuk 9 stil by Suid-Afrika se moraliteitskrisis, soos hy dit tereg beskryf. Dit is ’n vreemde verskynsel dat in ’n land soos Suid-Afrika met sy besonder hoë persentasie gelowiges van die Christendom asook ander gelowe, talle, indien nie die meeste openbare kommentators nie, die rol van hierdie gemeenskappe in ons samelewing verwaarloos of onderskat. Sommige Afrikaanse kommentators is selfs openlik vyandig teenoor hierdie gemeenskappe. Dit is egter nie die geval met Eloff nie: “Vir ’n boek soos hierdie is perspektief op godsdiens en die rol daarvan in die land en die verhouding daarvan tot die staat, asook die rol van die kerke in die moraliteitskrisis in die land, baie belangrik” (2493).
Eloff haal heelwat statistiek aan om tot die slotsom te kom dat iets tussen twee derdes en meer as 80% Suid-Afrikaners hoofsaaklik die Christendom, maar ook gelowe soos die Judaïsme en die Islam aanhang. Anders as die sekulêre hantering van godsdiens as bloot ’n privaat aangeleentheid soos dit byvoorbeeld in Frankryk voorkom, onderskryf Eloff ’n meer verantwoorde postsekulêre rol vir godsdiens in die openbare lewe wat hy in aansluiting by ’n Potchefstroomse akademikus, Koos Vorster, die “aktiewe pluralistiese opsie” noem:
Hierdie opsie verleen aan alle godsdienstige mense die geleentheid om hul geloof in die openbaar te bely en te beoefen, solank hulle niemand anders onder ’n verpligting plaas om dieselfde te doen nie. Die praktiese toepassing van hierdie opsie kan in Suid-Afrika gesien word in die opening van die parlement en ander openbare geleenthede en ook in skole. (2577)
Dit is dus te verstane dat Eloff afwysend staan teen die hofsaak wat die organisasie Ogod aanhangig gemaak het teen ses Afrikaanse skole in ’n poging om godsdiens uit die skole verban te kry. Tereg wys Eloff op die dwangmatigheid in Ogod se standpunt: “Dit is duidelik dat hierdie aansoek gegrond is op die interpretasie dat die Grondwet se freedom of religion eintlik freedom from religion moet wees – ’n denkrigting wat nogal wyd onder niegodsdienstige Suid-Afrikaners voorkom” (2600). Eloff vrees dat indien Ogod die hofsaak wen, dit die bestaande aktiewe pluralisme sal verswak en die privatisering van die onderwys verder sal aanhelp.
Nietemin is hy nie blind vir die sekulêre kragte wat ook vandag op die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse Christendom inwerk nie. Sy liberale voorkeure spreek uit die myns insiens problematiese standpunt wat hy huldig dat kerkkrimping onder meer te make het daarmee dat kerke nie by die veranderende behoeftes van hul lidmate aanpas nie. Hiermee kom hy naby aan die problematiese idee dat die kerk as’t ware volgens die logika van die mark voorsiening moet maak vir sy lidmate se behoeftes – so asof die volkome versorging van mense se behoeftes deur die klassieke Christendom deur eietydse truuks getroef kan word.
Hierdie denkrigting is presies wat tot die dramatiese verswakking van veral die Protestantse hoofstroomkerke in die VSA gelei het, en dit staan bekend as die sogenaamde akkommodasietese, wat in die ou taal daarop neerkom dat die kerk meer soos die wêreld moet word, in plaas van andersom, soos Ross Douthat skryf in sy uitstaande boek oor godsdiens in die Amerikaanse openbare lewe, Bad religion: How we became a nation of heretics.
Hoe dit ook al sy, teen die agtergrond van Suid-Afrikaanse, en veral Afrikaanse, Christene wat hulle geloof al hoe minder op tradisionele maniere beoefen, vra Eloff wat die effek hiervan op die Suid-Afrikaanse morele landskap is. Om hierdie vraag te beantwoord, onderskei Eloff in navolging van ’n ander Potchefstroomse akademikus, Nico Vorster, vier diskoerse oor geloof in die openbaar:
Die profetiese kan óf veroordelend wees óf ’n ideaal stel waarna gestreef kan word. Die narratiewe diskoers vertel verhale waardeur die morele identiteit van die gemeenskap gevorm kan word. Die etiese diskoers omskryf begrippe soos geregtigheid, regte en pligte en argumenteer (sic) dat daaraan voldoen moet word. Die beleidsdiskoers formuleer beleid binne ’n spesifieke konteks. (2655)
Eloff sien die nut van al vier hierdie diskoerse in, solank dit op twee beginsels gebaseer is, naamlik dat moreel-etiese en krities-solidêre getuienislewering van die kerk moet wees. Met solidêr “word bedoel dat die kerk die welsyn van die breë gemeenskap moet dien, nie enger belange of die politieke belange van die lidmate nie” (2663), terwyl met krities bedoel word “dat die kerk haarself nie met politieke ideologieë moet kompromitteer nie” (2664). Laasgenoemde gee duidelik blyke van Eloff se bewustheid van hoe die Afrikaanse hoofstroomkerke vandag nog die rekening betaal vir hulle ondersteuning van die apartheidsbeleid en die Nasionale Party. In aansluiting by Koos Vorster wil Eloff sien dat die kerk en Christene ’n morele energie aan die samelewing moet verskaf.
Die vraag waarmee hy worstel, is waarom ons so min van laasgenoemde sien, te oordeel aan hoeveel Christene daar in die land is, en hoe moreel vervalle die land geraak het. Die naaste wat hy aan ’n antwoord kom – en waarmee ek dit roerend met hom eens is – is die toenemende privatisering van geloof deur gelowiges self, so asof jou geloofslewe slegs op jou individuele geluk betrekking het. Hoewel dit in ’n mate buite die skopus van sy boek val, kon Eloff gerus ’n bietjie meer aandag gegee het aan die enorme teologiese verval wat die afgelope 20 tot 30 jaar in veral die Afrikaanse Christendom voorkom, en wat die Afrikaanse wêreld nog baie duur te staan gaan kom.
Versoening
Eloff sit sy besinning oor die openbare kante van geloof voort in sy voorlaaste hoofstuk, “Versoening en verdraagsaamheid: verdwynende hersenskimme”, waarin hy bestek opneem oor die stand van versoening in Suid-Afrika vandag. Hy herinner sy lesers eers aan die plek wat versoening in die Grondwet beklee:
[A]l is die Grondwet in die eerste plek ’n regsdokument, met die klem op regte en verpligtinge, het dit wel as uitgangspunt “die heling van die verdeeldheid van die verlede” en bevat dit ’n hele aantal verwysings na konsepte wat hierdie heling ondersteun. Trouens, dit lê aan die hart van die regte in die Handves dat wedersydse respek vir daardie regte ’n mate van versoening en verdraagsaamheid impliseer. (2821)
Wanneer daar van versoening gepraat word, is dit dikwels op liberale, sekulêre wyse, wat die Christelike wortels van die begrip onderbeklemtoon. Gelukkig maak Eloff hom nie hieraan skuldig nie en wys hy daarop dat die “begrip versoening [...] sterk teologiese wortels [het] en wys op ’n herstelde verhouding tussen God en mens en daarom tussen mens en mens” (2831). Met gepaste soberheid wys hy ook daarop dat versoening en verdraagsaamheid nie in die eerste plek ’n gebeurtenis is nie, maar voortgaande prosesse wat nie tot die era van die Waarheid-en-Versoeningskommissie beperk kan word nie.
Teen hierdie agtergrond wys hy op hoe die diskoers van versoening en verdraagsaamheid toenemend in die openbare gesprek die wind van voor kry. Een voorbeeld wat hy aanhaal, is dié van die Wes-Kaapse Cosatu-leier, Tony Ehrenreich, wat onlangs gesê het: “The phase of reconciliation that brought together fair-minded white and black people is over. We are now engaged in a struggle for economic and social justice” (2855).
Tog wys die immer hoopvolle en optimistiese Eloff daarop dat dit nie strook met sy ervaring van gewone Suid-Afrikaners op voetsoolvlak nie: “Of ek nou in Pretoria, Johannesburg, Dwaalboom, Mosselbaai of Kaapstad loop, kom ek vriendelike en welwillende mede-Suid-Afrikaners teë – as ek met hulle vriendelik en oop is” (2862).
Vervolgens gaan hy oudergewoonte met behulp van statistiek op die vraag in. Hy beklemtoon veral die navorsing oor onderlinge verhoudinge in die land wat die Instituut vir Versoening en Geregtigheid jaarliks sedert die laat jare negentig van die vorige eeu publiseer. Hieruit kom hy tot die volgende slotsom: “Die ondersoek toon dat gewone Suid-Afrikaners sedert 2003 wegbeweeg het van Suid-Afrikaanse identiteit en etnisiteit, terwyl ras ietwat sterker geword het” (2886). En, vervolg hy:
Saamgevat, kan mens aflei dat rassegroepe in die laaste tien jaar oor die algemeen meer kontak met mekaar gehad en minder wantrouig teenoor mekaar geword het. Aan die ander kant het die begeerte om meer met mekaar kontak te hê en oor mekaar te leer, afgeneem. Dit loop hand aan hand daarmee dat die begeerte om een Suid-Afrikaanse identiteit te bou afgeneem het, ten gunste van ras, taal en etnisiteit as identiteit. Verder het die onderskeie rasse se sienings oor ’n verskeidenheid sosiopolitieke sake nader aan mekaar beweeg. (2937)
Eloff spel dit nie uit nie, maar dis heeltemal moontlik dat die geesdrif vir een Suid-Afrikaanse identiteit afgeneem het vanweë die dalende geloofwaardigheid wat die swak-geregeerde Suid-Afrikaanse staat in die oë van die burgery geniet. Nietemin sien hy ’n geldige silwer randjie aan hierdie donker wolk: “Dat daar in ’n land met Suid-Afrika se geskiedenis van konflik, rassisme en polarisasie steeds relatief goeie interpersoonlike verhoudings is, spreek boekdele van Suid-Afrikaners se vermoë om te vergewe en vorentoe te beweeg” (2946).
Wat betref die gedrang waarin die idee van een Suid-Afrikaanse identiteit gekom het, kry Eloff die ANC voor stok. In die eerste plek wys hy daarop dat die totale uitwissing van armoede toenemend hul maatstaf vir versoening geword het – iets wat gewoon nie realisties is nie. Tweedens wys hy op hoe van hulle beleidsdokumente eintlik maar lippediens aan diversiteit betoon, en dat hulle op sentralistiese wyse die burgery aan ’n proses van homogenisering wil onderwerp – soos dit nou eenmaal die revolusionêre tradisie waaruit die ANC stam, betaam.
As alternatief hiervoor verwys Eloff instemmend na die oorlede Stellenbosse filosoof Johan Degenaar se belangrike artikel oor die mite van nasiebou, en sy voorspraak vir konstitusionele patriotisme. ’n Skeptikus kan natuurlik in navolging van die Franse filosoof Régis Debray daarop wys dat mense eerder hul lewens vir nasionale bande as vir ’n grondwet aflê, met die implikasie dat federalisme in die Suid-Afrikaanse konteks ons verder sal bring as konstitusionele patriotisme, wat volgens Eloff se eie erkenning onder toenemende druk in Suid-Afrika verkeer.
Eloff vind die rede vir hierdie druk in die probleem van stygende verwagtinge, wat daarop neerkom dat hoe meer jy aan mense se eise toegee, hoe meer eis hulle. Indien nie aan die eise voldoen word nie, styg die sosiopolitieke temperatuur.
Eloff kom tot die slotsom dat daar vir die meeste (swart) Suid-Afrikaners geen ekonomiese vryheid nie, geen goeie dienslewering deur die regering nie en geen voortdurende verbetering in lewensomstandighede [is] nie. Die verwagtinge van ná 1994 het dus nie gerealiseer nie. Dit het veroorsaak dat die armes begin het om die maghebbers en die nuwe bevoorregtes te kritiseer. Dit het veroorsaak dat die maghebbers begin sondebokke soek het en dat hulle die voormalige maghebbers (lees minderhede en veral Afrikaners) begin teiken het. (3092)
Hiermee sluit Eloff hom aan by ’n betekenisvolle artikel wat die voorsitter van die FAK, Danie Goosen, in November 2015 op hul webwerf gepubliseer het, en waarin hy in gesprek met René Girard se werk oor die sondebok ietwat onthutsende gevolgtrekkings oor Afrikaners se brose posisie as minderheid maak. Die gevolge van hierdie blaamleggingspolitiek was die afgelope twee jaar of wat alte duidelik:
Só kom onverdraagsaamheid en onversoendheid ook voor in veldtogte wat die vorige maghebbers se eiendom teiken – nie net grond en fisieke eiendom nie, maar alles wat ook lyk en klink soos die vorige maghebbers s’n: skole, monumente, universiteite. Die wekroep aan die vorige maghebbers is deurgaans: julle het te min gedoen, nie genoeg teruggee nie en nie genoeg om verskoning gevra nie. Ons wil nou vat wat ons s’n is, die tyd van versoening en verdraagsaamheid is verby. (3097)
Hoe gemaak om versoening en verdraagsaamheid in Suid-Afrika weer op dreef te kry? Eloff herinner sy lesers nogmaals daaraan dat versoening ’n proses en ’n leefwyse is wat nooit afgehandel is nie. Dit kan slegs “tussen mense wat mekaar se goeie trou aanvaar en mekaar se bestaansreg erken” gebeur (3140) Voorts is dit moontlik slegs “as alle Suid-Afrikaners die geleentheid het om êrens ruimtelik kultureel tuis te voel – en ander húl tuisvoel gun” (3147). Dit vereis ook ’n eerlike onderlinge gesprek en nie oneerlike politieke korrektheid nie, en vereis “’n gesonde konsep van gedeelde patriotisme” (3154). Dit kan slegs vrywillig en nie gedwonge wees nie; as partye die magsbalans tussen hulle respekteer; en as mense genuanseerd en sonder veralgemenings oor mekaar praat. Hiermee gee Eloff dus nie ’n bloudruk nie, want geen ware proses kan met ’n bloudruk hanteer word nie.
Die pad vorentoe?
Einde ten laaste kom Eloff in die slothoofstuk van sy boek uit by die vraag: “Wat nou, Suid-Afrika?” Hy vat eerstens die syns insiens belangrikste oorsake van ons probleme op makrovlak saam. Dit is dat die ANC onder Zuma sy nierassigheid verloor het, dat die staat sy vermoë verloor om dienste te lewer, en dat die ANC tussen botsende ideologiese posisies verskeur word. Hy som ook weer die pluspunte op politieke, ekonomiese en sosiale vlakke op, soos dit hier bo reeds bespreek is.
Dan rig hy hom wat die toekoms betref spesifiek op Afrikaners en Afrikaanssprekendes: “Om ons werklikheid beter te hanteer, behoort Afrikaanses en Afrikaners hul verwagtinge aan te pas. Dit kan hulle doen deur ’n nuwe denkraamwerk te ontwikkel wat fokus op die balans tussen eenheid en verskeidenheid” (3222). Aan die een kant behoort hierdie groeperinge te erken dat hulle deel van die groter samelewing en staatsbestel is en hulle deel daarvoor doen. Aan die ander kant is dit goed en reg dat hulle hul grondwetlike regte uitoefen om vir dinge wat vir hulle as gemeenskappe belangrik is, te sorg:
Dit gaan oor gemeenskap en taal en kultuur en godsdiens en erfenis en geskiedenis. Dit gaan oor daardie dinge wat in art. 30, 31 en 185 van die Grondwet toegelaat word. Dit maak gemeenskappe sterk en laat hulle voel hulle behoort. Belangriker nog, dit word die dryfkrag wat ons in staat stel om deel te wees van die eenheid. Dit versterk ons vermoë om ’n bydrae tot die groter geheel te maak. (3227)
Hiermee beklemtoon Eloff ’n baie belangrike punt wat dikwels deur liberale Afrikaanse kommentators onderbeklemtoon of selfs ontken word: om deel te neem aan die groter geheel, moet jy geborge voel in jou kleiner deel van die groter geheel. Dit is egter nié ’n voorspraak vir afskeiding van die groter geheel nie, maar vir balans tussen geheel en deel. Om hierdie balans uit te spel, onderskei Eloff tussen vier groepe onder Afrikaners en Afrikaanssprekendes. Hy lig dit soos volg toe:
Die eerste groep ... noem ek die eksklusief weerstandiges. Hulle het ’n sterk gevoel vir kulturele verskeidenheid, en bitter min geesdrif vir Suid-Afrika as een land en een nasie. Hulle is eksklusief in hul denke oor taal en kultuur en sou tipies Afrikanerskap ook aan ras koppel. Hulle glo nie Suid-Afrika kan slaag nie en weerstaan alle eenheid oor rasse- en politieke grense heen. Hul politieke sienings sal wissel van geografiese afskeiding tot kulturele isolasie. (3237)
Die tweede groep ... noem ek die passiewe weerstandiges. Hulle het net so min erg aan verskeidenheid in die kulturele sin van die woord as aan eenheid. Hulle staan onverskillig oor taal en sou hul kinders maklik in Engelse skole sit – “ter wille van hul toekoms”. Maar hulle werk ook nie juis mee om die land te laat werk nie. Hulle aanvaar die ekonomiese voordele van die nuwe bedeling, maar het eintlik emosioneel geëmigreer – miskien selfs fisiek agter hoë heinings – en leef dikwels in individuele isolasie. (3240)
Die derde groep ... is die inklusiewe bevorderaars. Hulle het nie veel erg aan kultuurverskeidenheid en Afrikaans as taal nie. Hulle praat wel Afrikaans, maar hul kinders sal waarskynlik in Engelse skole wees. Hulle voel sterk oor Suid-Afrika as een land en probeer hul deel doen, nie as Afrikaners nie, maar as Suid-Afrikaners. Hulle sal hulself soms wel Afrikaanses noem. Hulle probeer die nuwe bedeling bevorder, maar voel soms uitgesluit deur die feit dat hulle nie swart is nie. Hulle is polities baie korrek en probeer laag lê, sodat Afrikaans nie ’n nog slegter naam by die regering en swart Suid-Afrikaners kry nie. (3244)
Die vierde groep ... is die aktiewe bevorderaars en hulle voel sterk oor sowel eenheid as verskeidenheid. Hulle is wat van Wyk Louw genoem het “krities solidêr”. Hulle is gemaklik om Suid-Afrikaners én Afrikaanses/Afrikaners genoem te word. Hulle is gewoonlik aktief in die burgerlike samelewing en/of die politiek en wil “’n verskil maak”. Ek noem hulle die aktiewe bevorderaars omdat hulle Suid-Afrika as een land sien en al die mense se belange op die hart dra, maar tog ook aktief hul reg opeis om ’n kultuur-, taal- en godsdiensgemeenskap te vorm en dit uit te leef. Hul houding is: “Ons is hier en ons gaan nie weg nie. Ons sal ons deel doen, maar ons wil dit vanuit ons eie gemeenskap doen.” (3249)
Uiteraard skaar Eloff hom by die vierde groep, en verwoord hy sy keuse so:
Die vierde groep probeer die moeilike maar noodsaaklike balans tussen eenheid en verskeidenheid behou. Natuurlik is daar binne hierdie groep ook uiteenlopende menings oor presies wat so ’n balans in die praktyk beteken. Daar mag selfs partypolitieke verskille voorkom. Maar hulle het dit gemeen dat hulle sowel Suid-Afrikaners as Afrikaanses/Afrikaners is. Hulle sal die regering kritiseer, maar is nie rassisties nie. Hulle sal die welvaart van alle Suid-Afrikaners soek, maar ook hul eie grondwetlike taal- en gemeenskapsregte opeis en verdedig as dit moet. Hulle gaan nie emigreer nie en staan vierkantig in die Suid-Afrikaanse werklikheid. (3262)
Soos sake tans in Suid-Afrika daar uitsien, is hierdie posisie inderdaad vir daardie Afrikaners en Afrikaanssprekendes vir wie hulle taal en kultuur sowel as die land belangrik is, die mees verantwoorde een. Maar indien die prosesse van verval waaroor Eloff dit elders in die boek het, nie gestuit word nie, bestaan die werklike moontlikheid dat al hoe meer mense sal voel posisie een hier bo is die verantwoorde een – met die moontlike uitsondering van die rasbewustheid wat Eloff miskien te gou aan die posisie verbind.
Vir mense wat wel tot posisie vier verbind is, sluit Eloff sy boek met die volgende wenke af:
– Onthou die Grondwet (3271)
– Onthou die Nasionale Ontwikkelingsplan (3273)
– Onthou die belangrikheid van ’n sterk burgerlike samelewing (3275)
– Onthou jou basiese burgerlike plig (3278)
– Onthou die beperkinge van die staat (3280)
– Wees egter nou realisties oor die beperkings en vooroordele van die staat. Werk en leef sover jy kan asof daar nie ’n staat is nie, onafhanklik daarvan (3282)
– Onthou die balans tussen optimisme en realisme (3285)
– Onthou Maatskappy Suid-Afrika is lewensvatbaar (3288)
– Onthou om te dien: As ’n mens eenheid en verskeidenheid in balans het, is diens na binne én buite noodsaaklik (3295).
Op die keper beskou het Theuns Eloff met hierdie boek vanuit hoop en optimisme ’n werk gelewer wat vir alle lesers met ’n algemene belangstelling in landsake goeie perspektiewe op die land se prestasies, tekortkomings en uitdagings bied. Dit is geen diepgaande akademiese werk nie, maar dit gee ook nie voor om dit te wees nie, en sal daarom wyer aanklank as by ’n beperkte akademiese gehoor vind.
Benewens die enkele kritiese punte wat hier bo aangeteken is, het die boek een belangrike tekortkoming, naamlik dat dit nie aandag gee aan die problematiese aard van die Suid-Afrikaanse staat as sodanig nie, wat per slot van rekening ’n klassieke koloniale maaksel is. Maar dit is dalk ’n onderwerp vir ’n ander boek.
Laastens het ek Eloff se terloopse en baie bondige verwysings na ervarings van sy dekade as rektor van die NWU besonder interessant gevind. Gegewe die onstuimige vaarwaters waarin die openbare hoëronderwyssektor in Suid-Afrika vandag staan, is dit te hope dat Eloff nog ’n boek oor sy tien jaar as rektor sal skryf. Te min mense met dié soort ervaring het nog stelselmatig daaroor geskryf, en die land het sulke werk nou dringend nodig.
- Johann Rossouw doseer filosofie aan die Universiteit van die Vrystaat. Hy skryf in sy persoonlike hoedanigheid. Lees meer van sy werk by johannrossouw.co.za
The post LitNet Akademies-resensie-essay: Wat nou, Suid-Afrika? deur Theuns Eloff appeared first on LitNet.