..........
Waaroor ouma Kerliena dalk eerder vanuit ’n moederhart sou praat, is die tragedie van 25 jaar gelede toe die koningin se skoondogter, prinses Diana, dood is en hoedat haar twee seuns, William en Harry, nou as volwassenes agter hul ouma se kis moet loop, soos destyds as jong seuns agter hul ma s’n. Maar soos die liewe Heer dit wou hê, was dit ouma Kerliena nie beskore om hierdie twee weke se gebeure mee te maak nie, ook nie om die langdienende monarg se begrafnis komende Maandag op televisie te volg nie.
..........
Die erediens in die VGK op Caledon twee Sondae gelede is deur broer Piet Swart gelei; suster Verna Fortuin het, soos wat die gebruik is, die afkondigings voor die preek gedoen. Dit is nadat die praise & worship-groep ook hul deel bygedra het deur die gemeente aan die gang te kry met koortjies en ’n gewyde gejuig, stemme opgewarm, ledemate losgewikkel.
Die afkondigings sluit die vergaderings van kerkverenigings in, kennisgewings vir katkisante en die Sondagskool, verjaardae, prestasies, sterftes en voorbidding vir die siekes. Suster Caroline Okkers – almal het haar An of ouma Kerliena genoem – se naam was die afgelope tyd deel van die lys siekes, en dié Sondagoggend, twee weke gelede, was dit deel van die lys van sterfgevalle.
Maar ek het al die Woensdag vantevore gehoor dat sy nie meer met ons is nie; dat haar lewensduur van 92 jaar aan sy einde gekom het. Nou is dit weer Woensdag en ons hou ’n gedenkdiens vir haar in die skoolsaal van Swartberg Primêr, en nogmaals is dit broer Piet wat gevra is om ’n boodskap te lewer.
Die vorige keer het hy ’n skrif uit Esegiël 37 gaan haal. Daar waar Esegiël vertel hoedat die Here se Gees hom weggeneem het na ’n laagte waar daar baie bene van mense rondgelê het, droë bene, en hoedat die Here uiteindelik asem, lewe, in die bene geblaas het, vleis en spiere en vel daarom gesit het, en weer lewendige mense van die bene gemaak het. Dit was die Here se manier om te illustreer wat hy vir sy volk Israel sal doen. Hulle wat in ’n graf beland het toe hulle as gevangenes na vreemde lande weggevoer is; hulle wat gevoel het dat hulle daarom ou, droë, dooie bene geword het. Hulle wat geen hoop in die lewe meer oorgehad het nie.
Hierdie keer, die Woensdagaand van die gedenkdiens vir ouma Kerliena, het broer Piet meestal gepraat oor sy eie herinneringe van haar: hoedat hy as kind op die plaas voor haar gespeel het en kattekwaad aangevang het, oor haar stille waardigheid, haar wyse hart, haar talentvolle kinders (uitblinkers in musiek en sport), en die pad van die plaas tot op die dorp – Klipheuwel, Jongensklip, Caledon.
Haar godvresende lewe was ’n voorbeeld vir ander, deurentyd bewus van wat in Psalm 90 vers 10 geskrywe staan: “Die dae van ons jare – daarin is sewentig jaar, of as ons baie sterk is, tagtig jaar [...]” En hier was sy, Caroline Okkers, wat deur genade tot anderkant 90 uitgehou het, vasgebyt en staande gebly het, hoewel in haar laaste jare met ’n kierie in die hand, sukkel-sukkel buitentoe om ’n bietjie son op die stoepie by die voordeur te geniet, die kleur van die graan- en kanolalande te sien verander – ploegvaal, groeigroen, oesgoud – hier oorkant haar huis in Dennestraat en doer anderkant die teerpad wat na die Hemel-en-Aarde-vallei lei.
Hemel en aarde: Die wyse waarop ouma Kerliena op aarde gelewe het, het niemand laat twyfel dat die hemel haar voorland is nie. Wat hulle van haar sal onthou, is haar omgee vir ander mense, haar liefde vir rugby en die kerk, die lewenslesse wat sy haar kinders en haar kleinkinders geleer het. Maar wat my in die besonder van haar sal bybly, is haar besondere belangstelling in die nuus, in wat aangaan in die land en in die wêreld, die rede waarom sy ’n koerantleser was, TV-nuus gekyk het, RSG geluister het. Toe sterf koningin Elizabeth II die dag nadat ons die gedenkdiens vir ouma Kerliena in die skoolsaal van Swartberg Primêr gehou het. Hoe sou sy darem nie hiervan gepraat het en alles wat sy kon lees, kyk en hoor, opgeslurp het nie, oor die dood van ’n adellike saam met wie sy oor die dekades so te sê opgegroei het, weliswaar geografies en andersins wêrelde van mekaar verwyderd, maar nogtans.
Was die ouderdomsverskil tussen hulle nie maar slegs vier jaar nie? Dié vier jaar was straks die naaste wat hulle aan mekaar gekom het, dat koningin Elizabeth op 21 April 1926 gebore is en ouma Kerliena op 27 Mei 1930, want koningin Elizabeth se lewe was een van alles hê en op silwer skinkborde kry wat Caroline Okkers nooit sou hê nie: weelde, bevoorregting, verafgoding selfs. Tot hier by ons waar die verteenwoordigers en afdwingers van Britse imperialisme en uitwissing geen plaaslike bevolkingsgroep ontsien het nie, sy hulle wit, swart of bruin was. Ouma Kerliena sou in reaksie op die koningin se heengaan probeer onthou het wat haar bybly van die groot oomblikke in Elizabeth se lewe: haar 21ste verjaardagviering (toe nog as ’n prinses) in 1947 in Suid-Afrika, haar kroning in 1953, drie jaar nadat Kerliena en haar mense amptelik as “kleurlinge” in die land van hul geboorte geklassifiseer is.
Die kanse is so goed as nul dat sy vandag, soos ander, sou aandring daarop dat Elizabeth gedurende haar 70 jaar as monarg verskoning moes vra vir die lys historiese vergrype deur haar en haar voorgangers se onderdane. Wat baat woorde tog as die letsels van verontmensliking bly? Wie se sonde is in elk geval die grootste: verskroeide aarde of gedwonge verskuiwings en vernedering op die plaas? Wat is die waarde dan van ’n apologie sonder vergoeding of die teruggee van gesteelde skatte uit wat koningin Elizabeth in haar mondigwordingstoespraak “ons grootste imperiale familie” genoem het?
Waaroor ouma Kerliena dalk eerder vanuit ’n moederhart sou praat, is die tragedie van 25 jaar gelede toe die koningin se skoondogter, prinses Diana, dood is en hoedat haar twee seuns, William en Harry, nou as volwassenes agter hul ouma se kis moet loop, soos destyds as jong seuns agter hul ma s’n. Maar soos die liewe Heer dit wou hê, was dit ouma Kerliena nie beskore om hierdie twee weke se gebeure mee te maak nie, ook nie om die langdienende monarg se begrafnis komende Maandag op televisie te volg nie.
In The Economist se huldeblyk aan koningin Elizabeth word oor haar kroning in Junie 1953 geskryf dat die roerendste deel daarvan vir die internasionale gehoor van miljoene mense die oomblik was toe die kroon met 2868 diamante op haar kop geplaas is. Maar die enkele mense wat haar goed geken het, word verder vertel, reken die vernaamste oomblik vir haar het vooraf geskied, wég van die kameras: “Then, like monarchs before her back to medieval times, she had stripped to a shift behind screens and been anointed with holy oil: a sign that her election came not just from good Hanoverian blood, but from God.”
Die talle mense wat vir ouma Kerliena Okkers geken het, wat die gedenkdiens vir haar en haar begrafnis bygewoon het, glo stellig haar kenmerkende godvresendheid, statigheid en die wyse waarop sy haar ook oor ánder se kinders ontferm het, om lewe in hul “dooie bene” te blaas en hulle hoop te gee, het van haar ’n koningin in eie reg gemaak.
Haar kerkhoed was haar kroon; haar paleis was die Here se huis.
The post Die koningin is dood: lank lewe ouma Kerliena appeared first on LitNet.