Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21582

Kaap: ’n onderhoud met Hans Pienaar

$
0
0

Kaap
Hans Pienaar
Protea Boekhuis
SKU: 9781485313311

Hans Pienaar praat met Naomi Meyer oor sy boek, Kaap, wat onlangs by Protea verskyn het.

Hans, jou boek Kaap het vroeër vanjaar by Protea verskyn. Op die buiteblad neem mens reeds kennis: Dis nie ’n roman nie, dis nie noodwendig kortverhale nie. Dis ’n fiksie in 33 perspektiewe, en ’n waarskuwing. Wil jy hierop uitbrei - en is dit nodig dat ’n boek in ’n spesifieke genre inpas?

Daar is ’n storie wat dwarsdeur die boek loop, so dit sou miskien meer akkuraat gewees het om van ’n verhaal te praat, pleks van ’n fiksie. Ek voel watter genre ’n mens ook al wil gebruik, die verhaal is die ding, met ’n bietjie spanning en verwagting ingebou soos dit ontplooi. Ek het my dit ten doel gestel om minstens ’n liefdestorie, ’n moord en verraad in te bou, sodat dit die leser op ’n basiese vlak sal laat aanhou lees. En te oordeel aan resensies en terugvoer van lesers, werk die verhaal goed, en ek sê dit soos ’n tennisspeler wat so half verwonderd by sy perskonferensie sê: “I play good today, the ball go in.”

..........
Maar ek is ook deeglik bewus dat in die midde van die inligtingstegnologierevolusie wat sedert die 1990’s duur, dit selde vir ’n leser moontlik is om ’n boek, ’n lang verhaal, op een slag deur te lees. So ek werk nou al lank aan proefnemings met kort stukke – hoe om hulle te laat saamvoeg, saam te laat praat aan iets anderkant die stukke self.
............

Maar ek is ook deeglik bewus dat in die midde van die inligtingstegnologierevolusie wat sedert die 1990’s duur, dit selde vir ’n leser moontlik is om ’n boek, ’n lang verhaal, op een slag deur te lees. So ek werk nou al lank aan proefnemings met kort stukke – hoe om hulle te laat saamvoeg, saam te laat praat aan iets anderkant die stukke self. In Chaos, of Op soek na Superman, het ek chaosteorie probeer gebruik om die transendente te suggereer, en in Te veel sorge het ek probeer kyk wat gebeur as ’n mens die resultate van ’n mislukte poging om ’n roman te skryf, aanbied as die werk self.

Daar is ook ’n derde vlak waarop ek alles wat ek skryf aanbied, sonder dat ek dit wil afdwing – die politieke (natuurlik in die breë), filosofiese sin, dikwels meer die politieke onbewuste eerder as enigiets herkenbaar uit ’n openbare diskoers. In Chaos was dit etlike kwessies, soos die deelname van die staat aan die townshipgeweld in die 1990’s, en hoe skrif as wapen van verwoesting dien (dit was ’n vooruitloper van die verwoesting wat sosiale media tans saai). In Te veel sorge was dit die wel en wee van die meestal middeljarige Afrikaanse man wat sukkel met die nuwe bedeling. In Kaap is dit hoofsaaklik die verval van die land. Van staatskaping tot loadshedding.

So om jou vraag te beantwoord, wat die genre presies is in hierdie omstandighede, is glad nie belangrik vir ’n bevredigende leeservaring nie, en beslis nie om die tydsgees vas te vang nie, of om nuwe denke te prikkel nie. Inteendeel.

Die boek skop af met iets wat my laat glimlag. Die skrywer word aangemoedig om ’n "regte boek" te skryf. Oor dinge wat "regtig gebeur". Almal trek Kaap toe, so skryf dan oor die Kaap! En kort daarna is daar ’n ander definisie van kaap – iets wat gekaap word. En dan ook die kaap, as natuurlike landmerk – ’n uitsteeksel. ’n Hindernis en ’n baken. ’n Driedubbele woordspel met die titel. Waar het die titel hom kom aanmeld en het jy dadelik geweet hier kom ’n fiksie,  en wat dit sou wees?

Van die materiaal kom uit ’n moeilike tyd, toe ’n rits van my beste vriende dood is en ek self ná ’n maagoperasie amper saam op die karavaan was. Daar is aspekte wat ek nie mooi onthou nie; ek gee Covid die skuld, want ek het erg daaraan ook gely. Miskien probeer ek al hierdie goed onderdruk, of het my onbewuste die boek gekaap en nou kan hy of sy nie daarmee spog sonder om hom- of haarself te verklap nie.

............
Wat ek wel kan bieg, is dat daar ’n tyd was toe ek kwaad was oor die ANC wat ons almal in die steek laat, maar ek wou nie by kwaad vassteek nie, ek wou iets doen, net soos ek destyds nie by kwaad oor apartheid wou vassteek nie, maar dit wou beveg. En ek het gedink: Nou maar as die ANC die staat kaap, kom ons kaap die revolusie by die ANC.
.............

Wat ek wel kan bieg, is dat daar ’n tyd was toe ek kwaad was oor die ANC wat ons almal in die steek laat, maar ek wou nie by kwaad vassteek nie, ek wou iets doen, net soos ek destyds nie by kwaad oor apartheid wou vassteek nie, maar dit wou beveg. En ek het gedink: Nou maar as die ANC die staat kaap, kom ons kaap die revolusie by die ANC. Een moontlikheid wat my vir ’n lang ruk nie wou los nie, was om my te begin beywer vir ’n onafhanklike Kaap, of Wes-Kaap dan. Maar glad nie ’n wit tuisland nie, eerder die teenoorgestelde, waarin die ANC se regte beleid, nie kaderontplooiing of swart nasionalisme nie, maar ’n kosmopolitiese gelykheidstaat, toegepas word. In so ’n Wes-Kaap sal restitusie vir slawerny byvoorbeeld hoog op die agenda wees – en ons gewese koloniale heersers moet opdok, Nederland en Brittanje. Want dis iets wat glad nie op die ANC se agenda is nie. Maar terselfdertyd sal iets soos plaasmoorde ook teengekamp word, of die verengelsing van Stellenbosch-universiteit.

So iets is ’n nog groter fantasie as afstigting deur regses, en ek moes dit maar laat gaan. Maar ek het dit, hierdie progressiewe Kaapse utopie, die obsessie van een van die hoofkarakters gemaak. Of dit sy is wat die boek gekaap het, en of ek my eie boek gekaap het, sal ek nie weet nie.

Foto: https://pixabay.com/photos/muizenberg-beach-house-2305734/

Soos wat mens deur die boek vorder, ontdek mens baie verskillende mense se waarnemings – amper 33 van hulle (as hulle dieselfde mense is wat vroeër genoem is, duik hulle soms in kombinasies met mekaar op). Hulle het met mekaar te doen, of sommige van hulle het met mekaar te doen. Daar is ’n verbintenis tussen hulle. Maar hulle is baie verskillend. Sien die lewe verskillend. Het elkeen by jou kom aanmeld? Jou kop kom kaap? Hoe het die skryf van die boek prakties gewerk?

Die model vir die boek was ’n Duitse werk uit die Rusland van die 1990’s, Ingo Schulze se 33 Augenblicke des Glücks (33 oomblikke van geluk). Toe ek by die titel van myne kom, onthou ek Schulze s’n as 36. Maar nadat Kaap al drukpers toe is, gaan kyk ek op Wikipedia en wraggies, dis ook 33. In elk geval, Schulze se werk was ’n blik op post-1989 Rusland gesien deur die lewensnit-oë van 33 mense. Party van hulle was nog geharde kommuniste, en ek wou dieselfde doen, van my karakters geharde rassiste maak.

’n Ander inspirasie was Georges Perec se Life: a user’s manual, wat ek en my boesemvriend Harry Kalmer saam ontdek het. Ons het baie oor een aspek gepraat: die woonstelgebou waar die meeste van die boek afspeel, met die lewens van elke inwoner wat aan bod kom, en wat op allerhande ingewikkelde maniere ineengevleg is. Harry het uiteindelik Duisend stories oor Johannesburg geskryf, ’n wonderlike werk.

Vir my het Perec egter te veel stories vertel, en Schulze het nou weer nie ’n storie gehad om dinge saam te bind nie. Ek wou iets tussenin doen, en het my kans gekry met die manuskrip wat toe Kaap geword het, maar wou ook die onafhanklikheid van die karakters probeer behou, want dis wat vir my so lekker van Schulze en Perec was. En dis hoe ons lewens is – ons is fragmente van ’n geheel, maar die geheel behou sy bestaansreg juis in die fragmente.

So die perspektiewe in Kaap is nie lense om te kyk na die boodskap of inhoud van die roman nie, maar van die karakters uit na buite. Hulle doen hul deel deur terloopse inligting te verskaf wat die storie verder dra, of neem self deel aan die storie, maar daarna kom hul eie lewens eerste. 

Die newekarakters is dus net so belangrik. Maar so maklik word perspektief gekaap in die letterkunde, en in hierdie land, en in Afrikaans des te meer so. Of hoe?

Ja, absoluut. Die tradisionele roman se enjin was meestal die alwetende verteller, en hierdie alwetendheid kan ’n mens verbind aan die hubris van die heersende klasse, of dit nou die paghere van Rusland was of die courtisane van China. Maar gelukkig kon die onbetroubare verteller sake in ’n mate regstel.

Vandag, in die tyd van kwantummeganika en na die bloeddorstigste eeu ooit, is hierdie alwetendheid nie meer moontlik nie. En nou word die bestaansreg van die literêre roman bedreig deur sosiale media, soos gefokus in die kwessie van toe-eiening (appropriation). ’n Chinese skrywer in Hangzhou kan nie meer sonder meer ’n karakter uit Mexiko skep sonder dat ’n dosyn Spaanssprekende immigrante in New York gaan twiet “... maar dis nie hoe Mexikane is nie.”

My newekarakters, wat nie ondergeskik is nie en "oop" is, kan dien as ’n oplossing. Om die metafoor van ’n motorkaping toe te pas, dis ’n ryloper se kaping: ’n Kar word gekaap, en dan ry ons ’n entjie aan, en dan laat ek die bestuurder weer gaan, en kaap die volgende kar. Almal kaap mekaar eintlik. Dis dalk ’n Mexican wave wat in ’n Mexican stand-off ontaard.

In Afrikaans ly ons nog aan die soort alwetendheid wat ons voorouers die hubris gegee het om aan ander groepe voor te skryf hoe hulle moet lewe, hoe hulle Afrikaners se gewaande nasionalisme kan na-aap. Terwyl Afrikaans, die bron van Afrikaners se regverdigings vir hulle politieke projek, nie deur hulle geskep is nie, of nie deur hulle alleen nie. Hulle het dit gekaap.

Ons kan mekaar nie in hierdie land ken nie, want ons praat in die eerste plek nie dieselfde taal nie. Ons almal se Engels is nie goed genoeg nie. Ons verhale kom uit erg verskillende bronne, ons geskiedenisse oorvleuel, maar net in ’n mate, en die res is feitlik geheim vir mekaar. 

Afrikaners het nog steeds min begrip van hoe slawerny hul eie identiteit onderlê, en waarom so ’n identiteit nie kan oorleef sonder drastiese regstelling nie. Ek het myself voorgeneem om my eie boek te kaap vir verwysings na slawerny, en die spook van ’n slaaf wat homself probeer vind, ingespan.

Maar heeltemal aan die ander kant spot ek ook ’n effe met die wokeness van perspektiewe wat heilig is en waaraan jy nie jou hand kan waag nie. Ek gee allerlei niemenslike dinge die kans om hul relatiewe eiertjie te lê, soos ’n lamppaal, ’n Irma Stern-skildery, ’n matras ...

Het jy die intrige beplan? Het jy dit laat ontwikkel sodat dit saam met jou karakters loop? Het jy die karakters die intrige laat beplan en hulle gevolg? (Natuurlik is jy self, die skrywer, ook in een van die hoofstukke, ’n karakter.)

Ek het nogal. Aanvanklik het ek my dit ten doel gestel om 50 karakters te skep, maar ook om ’n lekker storie saam te flans. Soos ek vroeër gesê het, kan ek nie onthou hoe en wanneer alles bymekaar gekom het nie, wel dat ek op ’n kol die intrige uitgewerk het aan die hand van verskillende dinge wat werklik gebeur het, maar onafhanklik van mekaar. Wat ook gebeur het, was dat sekere karakters in die pad was en ek nie meer kon onthou wat hulle daar maak nie, en hulle moes toe maar sneuwel. En party perspektiewe moes ter wille van die storie dié van twee en selfs meer karakters word. Dit was wel ’n ontdekking vir my, hoe ’n perspektief soms ’n kollektiewe ding kan en moet wees. Om praktiese redes, wanneer jou eie allenige gesigspunt jou in die moeilikheid kan bring, jou in gevaar kan stel.

Prent: https://pixabay.com/photos/johannesburg-urban-city-scenic-4322256/

Iewers in die boek het ek gedink: Die titel is Kaap, en dis ’n baken en waarheen die karakters (dalk) op pad is. Maar dis ’n boek oor Johannesburg, uit en uit. Wat is jou gedagtes hieroor?

Jy weet, ek bly nou al ’n jaar self in die Wes-Kaap, en ek kan nou nóg beter sien hoe die Kaap, of ’n idee van die Kaap in die agtergrond, aanwesig is by so baie mense in die noorde en veral Johannesburg. Mense van alle rasse, maar op verskillende maniere.  

Vir baie wittes is dit die liedjie van Koos Kombuis, nè – almal wil ’n huisie by die see hê. Vir sogenaamde bruin mense bly dit hul bakermat, en by swart mense is daar hierdie vrees – hulle voel ongemaklik in die Kaap, dis te anders as aan die Rand. En hulle is bang vir die relatiewe sukses van die DA-regering, dat dit wys dat meer wit mense in jou provinsie beter regering beteken. Wat natuurlik nie so is nie. In die Wes-Kaap het ’n groter breukdeel van die bevolking vroeër as die res van die land aan die ergste uitbuiting van kolonialisme ontkom.

Vandat ek in die Kaap is, kan ek egter ook sien hoe dit altyd afhanklik van die binneland sal wees, van Johannesburg, en selfs verder: Harare, Windhoek, Luanda. Want die noorde is waar sy toekoms altyd sal lê. 

Jou boek is satiries; dis ook neerdrukkend, en dit laat mens nadink. Is alles van die land soos almal wat dit voorheen gekaap het en geweet het dinge moet verander, nou soos dit moet wees? Dis soos ek dit lees. Wie het wat gekaap en wat het gebeur? So dit gaan net soveel oor die verlede as oor die hede. Wat dink jy?

Ja, ek spot lekker met die libtards en die progressiewes, en dit beteken natuurlik met myself. Ek hou nie van die woord "progressief" nie – dis te eng – maar dis die kant waar ek my sal aanmeld vir diens as ’n burgeroorlog uitbreek. Maar ek spot nie met my soort omdat ek dink die regses was toe al die tyd reg nie. Ek dink eerder ons moet weer van vooraf begin en dat die ideale politieke bestel nog nie uitgewerk is nie. En dat ons progressiewes net soos die regses in die pad staan van die nuwe revolusie wat moet kom met ons nostalgie oor die struggle en nineteen ninety four and all that. 

En deel daarvan is dat ons vanuit die perspektiewe van die slagoffers van beide die ou en die nuwe bedeling moet soek na nuwe denke, nuwe politieke wyses. Dis wat ek met Kaap probeer doen, behalwe net die storie vertel. So daar is die spook van die slaaf wat ronddwaal, en die gemartelde aktivis uit die struggle, maar daar is ook die vrou wat amper verkrag word, plaasaanvalle, misdaad oral, die kaders ...

Hans, jy skryf meestal nie binne ’n spesifieke genre nie. Ook nie wat joernalistiek betref nie. Wat geniet jy die meeste om te skryf?

Nee, gits, dis ’n moeilike vraag. Ek geniet dit om aan ’n gedig te skaaf, maar nie die uitkraam van die eerste woorde nie. “Big reads” vir Business Day is lekker, behalwe as jy ’n gruwelike feitefout ontdek. Teater geniet ek baie, veral as ek die gehoor vies maak, maar ook nie as jy sukkel om geld vir ’n produksie te kry nie. Maar ja, die digkuns verskaf daardie ekstra genot, die room op die vla.

Oplaas trek almal Kaap toe. Dink jy dis hoe die storie van die land gaan eindig? In die regte lewe, bedoel ek, en nie net in die regte boek nie?

Ek dink nie so nie. Die semigrasietendens sal stabiliseer of omkeer na ander dele van die kontinent. Na 150 jaar van harde kolonisasie is die nuwe geslagte, dié wat nou mondig word, vir die eerste keer plaaslik vry, hoewel allerlei neokolonialismes intree. Daar is ’n geweldige kreatiwiteit onder die jongmense van Suid-Afrika. Daar moet tog iets tot stand kom daaruit. Miskien gaan die Kaap dien as model vir soortgelyke enklaves in die res van Suider-Afrika, en die kontinent, maar dit gaan nie tot die Kaap beperk bly nie. Daarvoor sal Kapenaars, van wie baie globaal of kontinentaal dink, self sorg.

Wat is jou gunsteling-genre om te lees? Of jou gunstelingboek?

Op die oomblik lees ek baie filosofie. En ek probeer op die hoogte bly met fisika. Maar daar lê altyd ’n roman op my bedkassie. My gunstelinge is seker Ulysses van James Joyce, of iets van Kazuo Ishiguro, soos The unconsoled.

  • Hans Pienaar tree 10 Oktober saam met Tom Dreyer op by die Woordfees in Stellenbosch. Bibi Slippers is die gespreksleier.

Lees ook:

Toyota US Woordfees 2022 is "Wild": ’n onderhoud met Saartjie Botha

 

The post <em>Kaap</em>: ’n onderhoud met Hans Pienaar appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21582

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>