’n Aangrypende, menslik, al te menslike storie met die voorwerp van ’n spieëlkas as hoofkarakter. Fasette van die spieëlkas wat algaande genoem word in kreatiewe taal, reeds in die storie aanwesig, werk dus goed. Ironies dan ook dat dit nie die erfporsie is waaroor bespiegel word nie, maar iets heeltemal anders. Dit kom heel aan die einde aan die lig.
Die hoogs idiomatiese taal verleen sfeer aan die storie: “Sak Patrys af...”, “Gaan Patrys aan”. Die skrywer kan egter elke sin en paragraaf fynkam deur onnodige herhaling uit te sny. Moet nooit die leser onderskat en te veel uitdeel nie. Suggereer, laat die leser self die gate invul.
Ek stel ook voor dat die verhaal afskop met Simoné en Venetia wat voor die deur sit en speel. Laat die indra van die spieëlkas deur hulle point-of-view gebeur.
Die verteller van die storie is alsiende en ’n buite-, binnestaander. Dis nie heeltemaal duidelik wie dit is nie, en dit hoef ook nie duidelik te wees nie. Maar ek wonder tog of die vertelling nie gekoppel moet word aan ’n spesifieke persoon of persone nie, bv. die twee dogters, Simoné en Venetia? Mooi name, terloops.
Of, om die storie heeltemaal uit te lig en in ’n ander rat te gooi, kan dit die karakter van die spieëlkas self wees wat die storie vertel. Dis ’n ongewone voorstel, maar hou dié vas: die storie is nie uniek nie. Lesers het al soortgelyke stories raakgelees. Hoe kan die skrywer die storie ánders aanbied?
Die storie kan beter gestruktureer word om die leser te lei en die aandag te vestig op primêre gegewens. Die belangrike sin: “Julle moet plaas toe. Julle erfporsie wag. Wettiglik. Daai tjinners wat so baasspeel, moet beginte plek maak,” klink byna of dit gesê word deur Mevrou Claire, eerder as deur Lisbet op haar siekbed. Ek stel voor die storie word in paragrawe opgedeel om die verloop daarvan duidelik aan te gee.
Die ontplooiing van die storie in die drie slotsinne werk goed en verras die leser. Dis ook ’n aanklag teen die ou, verrotte stelsel.
*
(Nota aan die leser: Venter het ook aan elke skrywer ’n opgemerkte weergawe van hulle verhaal gestuur. Ons kon om tegniese redes dit nie openbaar maak nie, maar tydens ’n volgende ronde sal ’n ander werkwyse gebruik word om ’n meer openbare rekord te hê.)
Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:
The post Die spieëlkas, verslag een deur Eben Venter appeared first on LitNet.