Dit is moeilik as ’n verhaal gedagtestroomtegniek gebruik om te weet wat mens met taal-/skryffoute moet maak. Die styl van praat en vertel pas presies by die karakter en daarom gaan ek dit tersyde laat. As die verhaal in korrekte taal geskryf word, sal dit alle outentiekheid verloor.
Maar “êrens” moet darem ’n kappie kry, en die “’n” se apostroof moet regom lê. Daar is ook enkele woorde wat los of aanmekaar geskryf moet word wat ek in geel op die ms gemerk het. Daar is ook plekke, by uitroepe en so aan, waar leestekens ingevoeg kan word. Maar selfs dit is arbitrêr in ’n verhaal soos hierdie.
Ek dink hierdie verhaal werk uitstekend. Die perspektief is uiters geslaagd en die tempo wat algaande toeneem, is presies reg. Dis ook subtiel geskryf omdat suggestie baie goed gebruik word, bv die groot man wat beskryf word as iemand met dieselfde aksent as Patrick, en vroeër is gesê Patrick kom uit Afrika. As die “stil ou” dan skree “Allez! Allez!” val al die stukkies in plek – die mense kom uit Franssprekende lande in Afrika. Dit is ’n goeie voorbeeld van hoe die leser verhaalmatig in die verhaal ingetrek word. Ek vind die slot ook besonder goed.
Lees gerus Alexander Strachan se verhaal oor die Recce’s (5-23 in Om te skryf) waarin daar ook so ’n stap-vir-stap-verslag oor die verloop van sake gegee word. In die verhaal van die “delivery man” word die toenemende ontsteltenis van die verteller weergegee en in Strachan se verhaal gaan dit om die skynbare gewoonheid van so ’n operasie terwyl dit inderwaarheid ’n geweldige psigologiese impak op die manne het.
*
(Nota aan die leser: Du Plooy het ook aan elke skrywer ’n gemerkte weergawe van hulle verhaal gelewer. Dit is die weergawe wat nie geproeflees is nie. Loer oor haar skouer en laai die gemerkte weergawe hier af.)
Terug na die invalsblad van die LitNet-slypskool Om te skryf. >>
Lees ook:
The post Die delivery man, verslag een deur Heilna du Plooy appeared first on LitNet.