Die eerste in Afrika!
’n Internasionale seëltentoonstelling by KIKS2 in Kaapstad
8 tot 12 November 2022
Die internasionale filateliese tentoonstelling, sal aangebied word by die Kaapstad Internasionale Konvensiesentrum (KIKS2) en toegang vir die publiek is gratis.
Meer as 1 600 rame met seëlversamelings van oor die wêreld sal uitgestal word, met ’n beduidende getal rame uit Suid-Afrika. Elke raam bevat 16 A4 bladsye waarop die seëls gemonteer is en word in verskillende kategorieë vertoon, onder andere lugvaart, poskaarte, posgeskiedenis en sosiale filatelie wat seëls en die geskiedenis by mekaar bring.
’n Hoogtepunt van die uitstalling is Gerhard Kamffer se bekroonde versameling, “The Road to Democracy”. Briewe wat Nelson Mandela vanaf Robbeneiland geskryf het, sowel as ander belangrike items uit die Suid-Afrikaanse geskiedenis, sal uitgestal word.
Voor die instelling van posseëls, was kommunikasie tussen mense ’n duur en tydrowende proses. Hierdie koste het drasties gedaal nadat posseëls op die toneel verskyn het. Met die totstandkoming van georganiseerde posdienste, het sowel die spoed en betroubaarheid van kommunikasie verbeter en het dit vinnig toegeneem.
Tot ’n paar dekades gelede was posstukke, met seëls wat gekoop is om versendingskoste te dek, wêreldwyd die voorkeur metode van kommunikasie. Met die koms van die internet en kitsboodskappe soos e-pos en WhatsApp het dit egter aansienlik verander.
Talle belangrike posstukke wat met die gebruik van posseëls versend is, het behoue gebly as getuienis van ons geskiedenis en word reeds sedert die 19de eeu versamel deur geesdriftiges, bekend as filateliste.
Jannie Hofmeyr, woordvoerder van die Filateliese Federasie van Suid-Afrika, sê: “Suid Afrika is ‘n samelewing wat die trotse herinneringe uit sy verlede tydens sy opmars na demokrasie moet versterk – vir almal. Die uitstalling sal ’n gedeelde sin vir geskiedenis help vestig.”
Seëls en ander posverwante items gaan ook onder die hamer kom, waar almal die kans sal kry om gesogte rariteite te koop – gewoonlik teen verstommende pryse vir nie-versamelaars.
Baie van ons ken, of het seëlversamelaars geken, wat hierdie klein, vernuftige stukkies drukwerk versamel. Seëls is nie net mooi om na te kyk nie, maar vertel ook ’n storie – hetsy rede vir uitgawe, ontwerper, drukker of funksie. Dit voer versamelaars terug na die nostalgiese verlede en die heel eerste aangetekende versameling het as hulpmiddel vir ’n Geografie dosent gedien.
Gemeet aan oppervlak alleenlik, is talle seëls meer waardevol as skilderye van ou meesters.
Versamelbare seëls word steeds in die hedendaagse tyd uitgereik. In Junie het die Amerikaanse Posdiens aangekondig dat hulle ’n posseël uitreik om die James Webb Ruimte teleskoop te gedenk. Dit is eintlik ironies dat futuristiese tegnologie gedenk word deur “posplakkertjies” wat uit die 19de eeu dateer.
Uitgestalde versamelings sal beoordeel word deur ’n internasionale paneel van meer as 40 lede. ’n Gesogte toekenning vir die top versamelaar word op 12 November 2022 aangewys.
Besoekers kan ook die volgende verwag:
- Nasionale en internasionale versamelaars en handelaars.
- ’n Uitstalling deur die SA Poskantoor-museum.
- Besigtiging van waardevolle seëlvesamelings en raar, insiggewende historiese dokumente.
- Die publiek kan hul seëlversamelings bring vir ’n waardasie deur deskundiges.
- Enigeen wat belangstel in geskiedenis en gepaardgaande inligting, sal iets insiggewends en selfs roerend by die uitstalling vind.
Skakels:
- Philatelic Federation of South Africa: https://www.stampssa.africa/
- Cape Town International Stamp Exhibition: https://capetown2022.org/
Sosiale media:
The post Persverklaring: Internasionale seëltentoonstelling by KIKS2 in Kaapstad. appeared first on LitNet.