SAMA-genomineerde sanger-liedjieskrywer Jodi Jantjies is weereens genomineer vir haar uitstaande musikale talent, hierdie keer deur Pretoria FM-radiostasie se Aitsa-toekennings vir Afrikaanse musikante.
“Hierdie nominasie is vir my ongelooflik. Dit is die derde een hierdie jaar – ’n teken dat my eerste album Woorde van uitstaande gehalte is,” borrel die 21-jarige musikant van Kaapstad wat in twee kategorieë genomineer is vir Nuweling van die jaar, asook Gospel-liedjie van die jaar.
Sy het die eerste snit, “Gee my die woorde” saam met haar musikale ikoon, Karen Zoid opgeneem. Ek is so bevoorreg dat ’n musikant van Karen se kaliber saam aan my debuutalbum gewerk het. Ek glo haar bydrae is beslis een van die redes waarom ek genomineer is,” meen sy.
Dié boorling van Mitchellsplein se musikale pad was nie net altyd met rose besaai nie. Hakkel is een van die uitdagings in haar lewe waarvan sy baie stories het om te deel. “Die gehakkelry het ’n lewe van sy eie,” verduidelik Jodi. “Soms praat ek soos ’n normale persoon en ander kere voel dit of my tong aan my verhemelte vasklou, maar wanneer ek sing, verloop alles seepglad.”
Sy het in ’n musikale huis grootgeword met haar broer Adrian wat ’n professionele musikant in Spanje is. Jodi en haar tweelingsus Jade het van kleins af in haar ma, wat ’n pastoor is, se koor gesing.
Jantjies het die eerste keer aandag getrek toe sy as skaam tiener ’n oudisie by die Cedar Secondary School in Mitchellsplein voor die ATKV-Crescendo-paneel gehad het. Dit was ’n liedjie wat sy self geskryf het. Die res is as ’t ware geskiedenis: Sy was ’n finalis daardie jaar en het by die projek betrokke gebly as Crescendo-ambassadeur en -kunstenaar. Saam met die Crescendo-span het sy onder andere al by Aardklop, Suidoosterfees en #Onse Fees opgetree. Al haar musiek word deur die ATKV opgeneem.
Een van haar noemenswaardige talente is die vermoë om in Afrikaans én Engels te kan sing. In hierdie stadium fokus sy op haar Afrikaanse erfenis en liedjieskryfvaardigheid. “Dit is vir my ’n riem onder die hart dat my oorspronklike komposisies waardeer word. Dit beteken ek hoef nie soos iemand anders te wees of te klink nie.”
Haar lewenslange droom om haar eie musiek as ’n album op te neem, het waar geword toe haar album op alle musikale digitale platforms vrygestel is. Haar selfvertroue is duidelik sigbaar deur haar musiek van die eens skaam jong meisie na ’n storieverteller met diepte as gevolg van die struikelblokke wat sy op haar pad al oorwin het.
Volgens ATKV-Crescendo se projekorganiseerder Morné van Staden is die organisasie oorstelp met Jantjies se Aitsa-nominasie. “Dit is ’n eerste vir Crescendo en vir die ATKV. Dit beteken vir ons baie omdat dit ’n erkenning is van die projek se sukses om ’n daadwerklike bydrae tot Afrikaanse musiek te lewer.”
Die Aitsa-geleentheid vind plaas op 29 November 2022 by die Choose Life-kerk in Pretoria. Kaartjies kan deur iTickets.co.za gekoop word, Tydens die geleentheid gaan nie net die wenners van die onderskeie kategorieë aangekondig word nie, maar Riaan Benade, Elandré, Demi-Lee Moore, Tarryn Lamb en Dream Syndrom gaan tydens hierdie luisterryke aand optree.
Om vir Jodi in haar onderskeie kategorieë te stem, klik hier: https://www.pretoriafm. co.za/aitsa-toekennings/#0
Meer oor Jodi Jantjies:
- ’n Baie skaam sestienjarige meisie het op 4 Maart 2016 by die Cedar Secondary School in Mitchellsplein haar eie komposisie voor die ATKV-Crescendopaneel opgevoer. HemelBesem, Mynie Grové, Danie du Toit en Anna Davel was gaande oor Jantjies. Sy het ’n onmiddellike en definitiewe “ja” van al die kunstenaars ontvang.
- Dit is ’n klinkklare feit dat mense in die toekoms van Jantjies notisie gaan neem – nie net oor haar reis in die Suid-Afrikaanse musiekindustrie nie, maar ook vir haar musikale talent. Sy sing in Afrikaans én Engels, maat fokus op die oomblik meer op haar eie komposisies en die bevordering van haar Afrikaanse erfenis.
- Mense kry nou die geleentheid om Jodi as ’n solokunstenaar te ervaar met haar sielvolle musiek en verwerkings wat onder andere invloed van jazz, soul, gospel en alternatiewe musiek bevat.
Jodi Jantjies: Sosialemediabesonderhede
Facebook: https://www.facebook.com/jodi.jantjiesii
Instagram: https://www.instagram.com/jodijantjies/
Twitter: https://twitter.com/JodiJantjies1
Addisionele musiekskakels:
Apple: https://music.apple.com/za/artist/jodi-jantjies/1527529048
Meer oor ATKV-Crescendo
ATKV-Crescendo is ’n ontwikkelingsprogram wat daarop gemik is om liedjieskrywers deur veterane in die musiekindustrie toe te rus met die nodige vaardighede om ’n sukses in ’n baie kompeterende bedryf te maak. ’n Verdere doelwit is om nuwe stemme tot Afrikaanse musiek by te voeg en deelnemers word aangemoedig om in hul eie dialek te sing. Op hierdie manier verseker ATKV-Crescendo ’n konstante vloei van nuwe talent, stemme en liedjies in die Afrikaanse musiekbedryf.
Webwerfbesonderhede
- https://atkv.org.za/nuus/categories/atkv-crescendo
- https://atkv.org.za/neem-deel/musiek-en-dansprojekte/crescendo
Sosialemediabesonderhede
Facebook: https://www.facebook.com/atkvcrescendo
Lees ook:
The post Persverklaring: Suid-Afrikaanse sangeres en liedjieskrywer Jodi Jantjies palm ’n Aitsa-nominasie in appeared first on LitNet.