“Ek gaan ontsnap,” sê Mister Cool. ’n Bankier, 38 jaar oud.
“Notafok,” sê Fazel. Hy swaai sy bene vanaf die bankbed. “Is jy fokken mal?”
“Nee, donner, Fazel,” sê Willemse. “Moenie jou vuil pote in die kos hang nie. Ek wil nie stink tone en growwe hakke eet nie.”
Hy slaan met die liniaal teen Fazel se voete. Vet spat sproete oor die beddens. Druk die liniaal met sy gekerfde kepe in nog vet, smeer die brood. Skep met ’n uitgedrukte tandepastabuisie ’n knerts tuna in die middel. ’n Spatsel mayonnaise. Plak die broodjies toe.
Roux sit sy beker op die bed neer. Hy staan op.
“Vra jy my of sê jy my?”
“Sê. Dis my werk.”
Mister Cool is lid van die Air Force-bende. Dié berugte tronkbende het gedurende die Tweede Wêreldoorlog ontstaan en spesialiseer in ontsnappings. Mister Cool het laas agter uit ’n polisiebakkie ontsnap nadat hy ’n skoenveter en ’n Bic-pen gebruik het om sy voetboeie mee los te maak.
Gertjie spring van die bed af. ’n Bybelkor-kursus val op die vloer. Binne-in lê ’n Playboy-tydskrif. Hy glip tussen Roux en Mister Cool in. Arms soos ’n skeidsregter uitgesprei, een palm teen Mister Cool se bors, maar die ander een raak nie aan Roux nie.
“Nee, ’seblief, ouens.”
Roux stamp hom weg.
“Daai draai-die-wang-kak werk nie hier nie.”
Sy vuis tref Mister Cool teen die bors. George tel die brood van die warm, omgekeerde strykyster op, gooi dit in die roomysbak. Hou dit gereed. Ingeval Roux dit nodig het om Mister Cool mee te brandmerk.
“Die boere gaan ons stukkend skud. Waar gaan ek weer gebruike kry?”
“Ag, komaan. Die tronk is gebou een lagie sement, een lagie smokkel, een lagie sement. Jy sal wel ’n manier vind om cigarettes en dagga in te smokkel. Toe, maak jou prys.”
“Geld kan nie als koop nie.”
“Almal het ’n prys. Maak joune.”
“Roux!” skree Hagar deur die tralies, “Los die gevryery. Juffrou Swart soek jou.”
“Hoe voel jy?”
Rachel Swart staan met haar rug na Roux. Kyk by die vensters uit.
Hy hou haar gat dop. Die broek span styf. Haar pantielyne wys. Hy wens hy kon sy vingers daarom haak, dit aftrek en sy mond ...
“Roux, ek praat met jou.”
“Oor?”
Sy swaai om.
“Lukas. Raak dit jou nie? Jy’t sy lyk gekry.”
Hy stap nader. Steun met sy hande op die tafel. Kyk haar in die oë.
“Soms is dit ek wat hulle in die stort ophang. Hoekom dink jy pleeg die kindernaaiers so baie selfmoord?”
“Erken jy ...?”
Hy staan regop. Klem sy vuis om die skêr. Druk sy hand in sy sak. Laat die skêr afgly in die sak se vals bodem.
“Ek erken fokkol.”
“As jy pis, staan jy?”
Wat de … Die kru taal pas nie by haar sagte stem nie.
“Antwoord my. Sit of staan jy en pis?”
“Staan.”
“En ek?”
“Sit. Obvious.”
“Onthou dit. Ek’s ’n vrou en verwag dat jy my soos een behandel. Jy vloek nie voor my nie.”
Sy gee vir hom ’n papier, visitekaartjie-grootte. Soek die skêr. Dalk het die skoonmaker dit gevat toe hy haar asblik uitgegooi het. Sy sal dit moet rapporteer.
Hy kyk na die kaartjie.
“Wat de fok is dit?”
“Roux! Jou taal. Asseblief. Maandag, anger management.”
“Maar ek’t dit al drie keer gedoen.”
“Die sertifikaat word nie uitgereik vir bywoning nie, jy moet die inhoud toepas.”
“Ek’s ’n Roux, ons is bedonderd gebore.”
“Jou pa ook?”
“Nee.” Roux skud sy kop, sy stem sag. “Die dronkgat was ’n sissie. Hy’t nie eens die bliksem gemoer wat sy vrou afgevry het nie.”
Sy laat die vloekwoorde gaan. Vir nou. Dis die eerste keer dat hy oor sy ouers praat.
“Is jy kwaad vir haar?”
“Hoekom? Dit was sy vrou, nie myne nie.”
“Sy’s jou ma.”
“Selfs hoere kan geboorte skenk, dit maak jou nie ’n ma nie. Sy’s fokkol van my.”
Hy stap deur toe, maar swaai dan om.
“Ek vloek langer as wat jy rook, maar ek sal probeer.”
Hy trek die deur toe. G’n rede om dit te klap nie.
Roux pis. Skree: “Flush!”
“Sorry, Roux.”
Die toilet spoel.
“Vreet minder kool,” sê Roux.
Hy draai ’n kraan oop.
“En drink meer water.”
Bo die een wasbak is ’n A4-folio met tandepasta vasgeplak. “Skottelgoed” is in skewe blokletters geskryf. Die reël is dat niemand sy mond in die skottelgoedwasbak mag uitspoel nie. Nog minder half-body daarin was. Dít word in die “bek & lyf”-wasbak gedoen.
Die water stroom uit die skottelgoedkraan. ’n Sterk straal. Babyface was sy varkpan rustig. Dan begin hy om dié plastiekbak waarin spesiale diëte vir MIV-pasiënte opgeskep word, af te droog. Hy is nog so nuut in die tronk, sy groen geverfde nommer op die bord dop nog nie eens af nie. Hy gesels met iemand in die stort. Tokkie.
Roux draai albei krane toe.
“Ek was nog,” sê Babyface terwyl hy die kraan weer oopdraai.
“Jy mors water.”
“Die see is vol water.”
“Ek sweer jy’s die domste poes in die tronk. Draai daai kraan net weer oop.”
“En dan?”
“Babyface, moenie kak waar ek moet skoonmaak nie. Los die man,” bulder Tokkie. “Roux, is ons okay?”
“No stress, brother.”
“En ons?” vra Mister Cool.
Hy hurk langs twee manne wat op ’n kartondoos skaak speel. Trek ’n string toiletpapier van die rol af. Vleg dit. Steek die onderste punt aan die brand. Tronk air freshener. Plak dit teen die toiletmuur. Die teëls is op die hoeke afgebreek en lankal in moordwapens omskep.
Net toe hy die laken voor die toilet wil toetrek, gryp Roux sy arm, sy greep ferm.
“As jy uit dié sel ontsnap, beter jy nie terugkom nie.”
Mister Cool breek nie oogkontak nie.
“Almal het ’n prys. Name it.”
Van agter meteens ’n geraas. Al weer daai Babyface.
“Hoeveel fokken goed wil jy nog was? Fokof nou weg van daai kraan, jou kindnaaier.”
Fazel. Hy stamp Babyface sonder seremonie weg van die kraan.
“Fokken pedofiel.”
“Pedofiele is siek in die kop. Lyk ek vir jou soos een?” lag Babyface.
“Jy’t ’n kind verkrag, jou dom doos,” snou Fazel hom toe.
“Ek’t haar nie gerape nie. Sy’t daarvoor gesoek. Net so ’n jagse bitch soos haar ma. Flirty, flirty met daddy. Lyk ek mooi in my rok, Deddie? Toe wys ek haar. Klein naai.”
Van die ouens lag. Maar nie Roux nie. Hy weet waarom Babyface time doen. Verkragting. Die slagoffer? Sy sesjarige kind.
Middernag. Willemse raak aan Roux se voet.
“Boss.”
Roux is dadelik wakker. Trek die appelboks onder sy bed uit. Haal ’n koekie seep uit. Blou handdoek. Stap stort toe.
Voor die stort hang ’n lang ry waslappe. Dit hou ’n gevangene se plek. Roux skuif Tokkie s’n tot heel agter.
Gertjie sit op die vensterbank by die toilette. Sing een of ander kerkliedjie oor ’n thousand reasons. Blaas daggawalms by die venster uit.
“Hoe lyk dinge?” vra Roux. “Iemand al vir jou koffie gebring?”
“Stil.” Hy kyk op sy horlosie: “Nagskof is laat.”
“Wie?”
“Gerber.”
“Hy slaap in die kantoor. Jy oukei? Koud?”
“Ek’s oukei.”
“As jy koud kry, stort. Fok die lyn.”
Die stortkoppe is afgebreek. Sterk strale spuit. Roux staan so dat die kokende water op sy rugspiere val. Willemse sing. “Ek kan doen met ’n miljoen.”
“Klink of jy gespyker is,” spot Roux: “Wat’s sy naam?”
“Iets beter. Ek gaan vir my ’n plaas koop en Durban poison plant. Pappa, ek gaan soos ’n zombie loop.”
“Ons gaan ’n bank moet roof vir daai plaas.”
Roux smeer ’n lemoensak vol seep. Skrop sy lyf. Nek. Arms. Bors. Bene. Skrop. Ruik steeds bloed. In hierdie fokken plek ruik als na bloed. Soms ruik hy dit as hy eet, stap, of probeer slaap. Dit bly in sy fokken neus.
“Dis nie geld nie, nè?”
“Geld?”
“Mister Cool se deal.”
“Iets beter.”
Later in die bed roep Willemse vir Roux.
“Boss, leen Sporty vir my.”
“Spyker jou matras, man,” tjirp Fazel in. Die meeste matrasse het gate in – instant pussy pudding.
Fazel scroll op Instagram. Net boude en tiete.
“Kom Fazel, help ’n man uit. Ek’s lank in die tronk, gee my ’n bietjie boude,” kap Willemse terug.
Fazel spring op. “Ek bliksem jou.”
“Ek bandiet for life oor die laaste sterkgevreet wat dit gesê het,” sê Willemse.
Fazel sak terug op sy bed. Dis waar. Willemse is verlede jaar gevonnis. Piet Vark het met hom kak gesoek en ’n draadhanger as strikdas gekry. Hy’s in die stort opgehang as vlag vir almal om te sien wat gebeur as jy met Willemse skoor soek.
“Ouens,” sê Roux: “kom ons val terug in salute.”
Hy streel sy vingers oor Sporty Spice se foto. In ’n hok met net mans is dít wat jy eerste soggens en laaste saans wil sien. ’n Mooi vrou se glimlag.
“Boss,” sê Willemse: “dink jy nou aan Sporty of Rachel?”
“Fokof.”
“Sy’s gepak, nè?”
“Pakistan,” koor George en Fazel.
Mister Cool plak homself ongenooid op die bed neer. Die blikbeker tee wasem sy bril toe.
“Hoeveel soek jy? Ek sal reël dat dit môre oorbetaal word.”
“Klop jy nie?” vra Willemse. “Boss, moet ek hom afstof?”
Roux skud sy kop.
Hy draai na Mister Cool.
“Vat vir my ’n rugsak uit.”
“’n Rugsak? Wat’s binne?”
“Maak nie saak nie. Vat dit uit en begrawe dit. Maak seker dat jy dit met klippe toepak – ek wil nie hoor ’n trop jakkalse het dit oopgegrawe nie.”
“’n Rugsak? Is jy seker? Sê nou ek hardloop met die inhoud weg …”
“Dan moet jy seker maak jou spore lei nie terug vierhoeke toe nie, want ek gaan hier vir jou wag.”
G3-seksie se daaglikse uuroefening vind om 09h00 plaas. Nooit stiptelik nie. Ook nie elke dag nie.
Die gevangenes skram deur die gange na die onderste vloer. Fluit. Skop ’n bal. Roux loop agter. Hy wil nie hê iemand moet ’n mes in sy rug druk nie.
Kramer en Hagar drentel agterna. Knuppels in die hand.
Willemse rus sy hand op Roux se skouer.
“Moet net nie gly nie, Willemse, anders is ek ’n skildery.”
Dis ’n ou grappie. Willemse het een keer bo van die bed afgeval. Amper vir Roux getref en platgedruk teen die muur. Soos ’n muurskildery.
“Fok jou Boss, ek gaan jou nog bliksem.”
“Jy en watter weermag?”
“Jy moet net weet, Willemse,” sê Fazel, “as Boss jou dood gebliksem het, gaan ek jou pap naai.”
In die binneplaas sirkel Roux kloksgewys. Willemse gaan staan agter die sokkerpale. Fazel en George weerskante van hom.
Roux bespied die binneplaas. Die bewaarders speel domino’s. Kerkbroers staan in ’n sirkel en bid. Teen dwelms, bendes, smokkelary en seks. Slippers en Koper lê soos klipdassies in die son. Kaal bolyf. Gespierd.
Niemand het ekstra klere aan nie. Geen handdoek is om ’n nek gedraai nie.
Roux sien hoe Gertjie die binneplaas instorm. Hoor hom roep: “Chief! Chief!” Hy stop by die bewaarders.
Roux weet wat hy oordra. Hulle steek mes in die gym.
George en Fazel flank, een regs, een links.
Die bewaarders storm uit die binneplaas.
George en Fazel flank, een regs, een links. Willemse loop na die toilette, die een helfte van ’n skêr in die hand. Roux volg vir Willemse, die ander gedeelte van die skêr in sy hand.
Die bewaarders storm uit die binneplaas. Sekondes later draai Gertjie ’n ketting om die deur, sluit dit met ’n slot.
Fazel fluit. George volg. Dan Willemse.
Dan val als in plek. Militêr presies uitgewerk.
’n Rugsak slinger oor die muur. Twee gevangenes maak dit leeg, verdeel die sakke dagga onder die trop gevangenes wat daarvoor gewag het. Gee die rugsak vir Roux.
’n Groep gevangenes onder leiding van Fazel storm op ’n ander klomp gevangenes af. Roof hul selfone. Steek dié wie weerstand bied. Gooi die buit in ’n catch, hys dit na bo.
George koördineer die dagga. Maak seker dat dit in elf verdeel word, ’n arm vir elke seksie.
Die sokkerbal rol doelloos. Mense vlug na die deur. Die kerkbroers en die vet paptrokke heel voor. Hulle ruk en pluk aan die deur. Skreeu.
“Chief!!!”
Die gewoontemisdadigers, die blou baadjies, gaan staan met hul rûe teen die muur. Up hul voorraad. Bêre die dagga in die kluis. Druk dit in hul gatte op.
Die toilette ruik na dagga, urine en ’n nat asbakkie. Musiek blêr uit ’n selfoon. Snoop Doggy Dog.
Die sirkel sien vir Willemse, die skêr. Vlug na buite.
In die middel van die sirkel sit Babyface op sy knieë. Besig om ’n gevangene af te suig. Die gevangene hardloop na buite, broek om die enkels – ’n pikkewyn in orange.
Babyface het nie tyd vir opspring en weghardloop nie. Sy oë vergroot.
“Ouens, seblief.”
Die skêr glim in die lug. Deurboor sy nek. Bloed spuit in ’n sterk straal deur die lug. Teen die dak, mure, oor die vloer en wasbakke.
“Kindernaaier!” skree Willemse. “Sy’t geflirt nè? Op ses? Fok jou, jou poes.”
Kap die skêr weer en weerweerwéér.
Willemse begin sy nek afsny. Met sulke kaphoue. Ruk en pluk die nekwerwel. Roux druk die skêr in. Probeer die werwels losbreek. Sny deur die senuwee. Babyface se voete ruk.
Willemse gooi die kop in ’n inkopiesak, knoop dit toe. Nog een. Knoop dit ook toe. Na die derde sak gooi hy die kop in die rugsak. Rits dit toe. Gee die rugsak vir Gertjie.
Roux en Willemse begin die liggaam opsny. Willemse neem die voortou. Hy was jare lank ’n blokman voor sy paaie met Roux gekruis en hulle gangsters begin beroof het.
Slippers en Koper verbrysel die bene met dumbbells.
Fazel en George sluit aan. Spoel die liggaamsdele in die toilette af.
Nadat alles afgespoel is, druk die vierman hul klere in die toilette om dit te verstop. Spoel. Spoel. Aaneen. Die toilette oorspoel.
Almal duik onder die stort. Skrop. Trek nuwe klere aan. Die nat klere word by die vensters uitgehang.
Slippers en Koper is G3 se skoonmakers, dus mop hulle die vloer. Daarna gooi hulle twee dromme ontsmettingsmiddels oor die vloer.
Met al die bewyse weg, is Babyface deel van die ontsnappingstatistieke.
“Ouens, staan sterk,” sê Roux. “Die boere gaan ons nou stukkend bliksem. Salute.”
Die gevangenes lê op die sokkerveld. Kaal. Bewaarders trap op hulle, oor hulle, identifiseer die ringkoppe. ’n Gevangene wat waag om sy kop op te lig, of te praat, word gebliksem.
“Boss,” fluister Willemse, “ek wens ek kan by wees as Mister Cool die sak oopmaak.”
The post Geld kan nie als koop nie appeared first on LitNet.