Droom saam met my, Dina Botha se vyftigste Romanza het pas verskyn. Dit is vyftig Romanzas in tien jaar. Dan het sy boonop ses Superromanzas ook al geskryf.
Hierdie ma van vier is nie net ’n bitter harde werker nie, sy is ook geliefd. Sedert 1 Maart 2013 het Nielsen BookData 167 weeklikse topverkoperlyste uitgereik. Dina Botha was 136 keer in die Top 100 vir fiksieverkope in Suid-Afrika. Om op hierdie lys te kom, ding ’n skrywer mee met alle outeurs van reg oor die wêreld, nie net Suid-Afrikaners nie.
Dina het in dié tydperk 60 keer die Top 40 gehaal en was nie minder nie as 24 keer in die top 20.
Haar agtergrond
“My ouma was ’n biblioteekjunkie en het net mooi alles gelees wat voorkom. As skoolkind kon ek nie self liefdesverhale uitneem nie, maar ek kon boeke by haar leen. So is ek aan bekende Afrikaanse skrywers, soos Ena Murray, Elmar Steyn, Wille Martin, Nan Henning en ’n hele paar ander se werk blootgestel. Dit het ’n wonderwêreld vir my oopgemaak. Ek skat dis waar ek begin droom het om self eendag ’n skrywer te word,” vertel Dina Botha.
Ná skool het Dina egter haar joernalisdroom vir eers weggepak en het ’n IT-spesialis geword.
Soos haar kinders groter geword, kon sy egter die nodige tyd afknyp.
Haar eerste Romanza, In ruil vir ’n hart, is tien jaar gelede gepubliseer.
Daarna was daar geen keer aan haar nie. Sy het nou al meer as 50 boeke op haar naam en sy is geweldig gewild. Sedert Maart 2013 het daar nog net 31 weke verbygegaan sonder dat een van haar boeke die weeklikse Nielsen-Topververkoperlyste gehaal het.
“Toe ek begin skryf het, het ek ’n rekenaar in my slaapkamer gehad en dit was omtrent die beste plek om ongehinderd te skryf. Ek kon tot twee uur in die oggend skryf of twee uur in die oggend begin sou ek so voel,” vertel dié ma van vier.
“Toe skaf ek ’n skootrekenaar aan en skielik kan ek enige plek werk. Vroegoggend, by ’n koffiekroeg of terwyl die verkeer na my huis opklaar, smiddae terwyl ek voor die skool op my twee tienerdogters wag of tussen naskoolse aktiwiteite. Ek benut basies elke moontlike tydjie wat ek het om te skryf.
“Ek volg nie ’n spesifieke patroon nie en daar is nie twee boeke wat op dieselfde wyse ontwikkel nie. Alles hang af van die bui waarin ek verkeer. Ek skat dis omdat ek onder die sterreteken van die Tweeling gebore is. Mens is ’n bietjie wisselvallig en onvoorspelbaar.”
Navorsing en verbeelding
Sy doen baie navorsing en is besonder lief vir die historiese romanses.
“Vir my is daar net iets ongelooflik romanties aan historiese romanses. Die rokke, die mans, die kastele en die tweegevegte om ’n meisie se eer te verdedig. Ek kon ’n bietjie fantaseer oor hoe ek dink dinge destyds gewerk het, want niemand weet 100 persent nie. Verder het ek gehou van die idee dat my heldinne onskuldig en oningelig omtrent die liefde en veral die liefdesdaad is. Die nuuskierigheid om uit te vind en die wil om tog ’n bietjie te eksperimenteer, het opwinding aan my stories gegee. Dit is al die ‘uitgestelde begeerte’ genoem.”
Haar Kaapse romanse Stem in die Wind speel af in ’n tydperk in die Kaap waar vroue met pantelette en korsette gemartel is en waar huwelike onder adellikes vooraf gereël is toe klasseverskille en snobisme hoogty gevier het. Dit was die tydperk toe oorsese bloubloedhelde hul koning, familie en geslagsregister bo persoonlike geluk gestel het.
Sy het die navorsing geniet. Hoe het die Kaap toe gelyk?
Van die sketse wat sy oor die vroeë Kaapse uitleg kon kry, het kompanjietuine, groentetuine asook die stadsaal uitgewys. Sy het dié inligting as raamwerk gebruik om ’n milieu vir haar storie te skep.
Dina sê dat, alhoewel sy haar navorsing deeglik gedoen het, is haar historiese werke nie noodwendig op feite gebaseer nie, maar eerder produkte van haar vrugbare verbeelding.
“En dié kan nogal handuit ruk!”
Sy glo in die liefde
Dina glo liefde is soos om ’n klippie in ’n poel water te gooi. Die rimpeleffek kan nie anders as om ander mense se lewens te raak nie.
Sy glo alle vroue hunker na romantiese liefde en dat dit in ’n vrou se gene is om iemand lief te hê en om in gelyke maat liefde terug te verwag.
Sy is ook daarvan oortuig dat, as die liefde nie ’n eerste keer slaag nie, dan probeer jy weer. Jy gooi nie tou op voor jy nie jou bestemde lewensmaat gevind het nie.
Is ’n gelukkige einde verpligtend?
“Persoonlik hou ek van gelukkige eindes. As ek iets lees waar die twee geliefdes nie bymekaar uitkom nie, spook daardie storie dae lank by my. Ek voel dieselfde oor flieks met ’n onbevredigende einde. Ek voel amper beroof van iets wonderliks. Daarom sal ek ’n einde oor en oor skryf tot ek daardie salige gevoel van welbehae ondervind. Ek wil ’n boek toemaak met ’n behaaglike sug en sê: ‘Aaa, dit was nou oulik en romanties.’
“Ek skryf dus presies die soort stories waarvan ek as mens hou. Gelukkige mense en ’n gelukkige einde.”
Dit werk. Haar verkope toon dit en in 2013 het sy ’n ATKV-Veertjie gewen vir Boks vol soentjies.
Privaat
“Ek hou net nie daarvan om op ’n foto te verskyn nie. Ek is ook ’n baie privaatmens. My skryfwerk is een aspek van my lewe en my huislike lewe ’n ander. Dis selde dat ek die twee meng. Ek sal wel af en toe foto’s van my kinders deel, maar dis al. Ek gebruik Facebook om my werk ’n bietjie te bemark en met my lesers kontak te maak.”
Dina behoort aan ’n damesgroepie genaamd Cherish. Sy is ’n lidmaat van die Doxa Deo kerk in Raslow. “Een keer per week deel ons lewenservaringe soos Christenskap, die huwelik en moederskap. Om na ‘regte stories’ te luister is ’n groot inspirasie vir wanneer ek my ‘fiktiewe stories’ skryf.”
Romanzaklub
Dina is een die gunstelingskrywers onder die lede van LAPA se Romanzaklub.
Om te voorsien aan die klublede se verwagting, is ’n bitter groot verantwoordelikheid en Dina besef dit. Daarom skryf sy vir haar leser.
Hier staan sy saam met die res van die span wat masjiene aan die gang hou. Van links na regs is Charlene Hougaard, Dina, Marlies Haupt, Cliffordene Norton en Mandie Human.
Lede van die klub kry groot afslag op hulle Romanzas, en kry boonop 30% afslag op alle ander LAPA boeke ook. Klik hier om meer oor die klub te lees, of aan te sluit. https://www.lapa.co.za/Romanza/Romanza-klub
Dina se vyf gunstelingskrywers
Johanna Lindsey
Nora Roberts
Ena Murray
Ettie Bierman
Magdaleen Walters
Dina se vyf gunstelingboeke
Once a Princess (Johanna Lindsey)
Gone with the Wind (Margarite Mitchell)
Rebecca (Wilna Adriaanse)
Pride and Prejudice (Jane Austin)
Sense and Sensibility (Jane Austin)
Foto’s: Ian Dennewill en Izak de Vries
Onderhoud: Carla van der Spuy
Addisionele inligting: Izak de Vries
The post Dina Botha, koningin van die liefde appeared first on LitNet.