Het jy geweet jy kan vanjaar na al die boekeitems kyk wat jy verlede jaar op die TV misgeloop het – én nuwe boekgesprekke ook luister?
Hier is vandag se Woordfees TV-boekeprogram:
05:35 ’n Love letter aan kos
Die skrywer vertel hoe haar kosverslawing die inspirasie was vir ’n hoofkarakter wat háár verslawing as inspirasie gebruik om ’n skrynend snaakse verhaal te skryf oor ’n mislukte verhouding en ’n allesverterende passie vir kos.
Ingrid Winterbach praat met Adele Vorster; Llandi Beeslaar lees voor.
07:26 Jy’s meer as jou seerkry
Johannes het besef hoeveel mense trauma oorleef het – en hóé – toe hy self deur die lewe platgevee is; Zarine het die Spaanse Camino gaan stap as ’n reis na binne. Die twee gesels oor wat hulle geleer het en hoe dit ander kan help.
Johannes de Villiers en Zarine Roodt gesels met mekaar.
08:44 Willem Anker – Skepsel
Willem gesels met Louise Viljoen oor die vreemde wêreld van mens en masjien in sy bekroonde Skepsel, en sy hoofkarakters – ’n cyborg, ’n vrou met ’n sterwende pa in ’n slimhuis, en een wat deelneem aan ’n geheime uitgrawing in ’n yslandskap.
In gesprek met Louise Viljoen
Randy Januarie lees voor.
10:50 Veertig jaar getroud met ’n narsis
Ná ’n huwelik van 40 jaar skraap ’n vrou die moed bymekaar om weg te breek uit ’n verhouding gekenmerk deur ekstreme geweld en emosionele aftakeling. Sy begin haar eie storie skryf om in die proses die vrou terug te vind wat sy eens was.
Anastasia de Vries gesels met Ilse Verster; Melanie Scholtz lees voor.
11:22 Miss Benson’s Beetle with Rachel Joyce
’n Eensame onderwyseres besluit op die ingewing van die oomblik om na ’n afgeleë eiland te reis op soek na ’n mitiese goue kewer. Die tog ontaard in ’n avontuur wat haar lewe vir altyd verander. Rachel Joyce vertel meer van haar geliefde heldin.
Met Lana Barnett as aanbieder
13:00 Azille Coetzee – Die teenoorgestelde is net so waar
’n Millenniërroman deur die skrywer van In my vel, waarin drie vriendinne wat ’n studentewoonstel gedeel het die beroepswêreld betree en ’n pad moet vind deur verhoudings, seks, lojaliteit en die onsekerheid van 30. Bibi vra Azille uit.
Azille Coetzee in gesprek met Bibi Slippers
13:33 Gister se feite, vandag se storie
Hoe weef ’n romanskrywer sy navorsing soomloos deur sy storie, en hoe gee ’n niefiksieskrywer sy feite kleurryk weer? Met Een of ander held gebruik Zirk van den Berg die geskiedenis van Duitswes-Afrika en ’n karakter wat in opstand is teen die bestel wat hy moet dien as die vertrekpunt van sy roman, terwyl Nicol Stassen die kwasterige Dorslandtrekkers se verdere spore in Van Humpata tot Upingtonia dokumenteer.
Fransjohan Pretorius in gesprek met Nicol Stassen en Zirk van den Berg
22:58 Die Boereoorlog ingekleur
Tinus le Roux vertel hoekom hy juis ABO-foto’s wou inkleur, van die juwele waarop hy tydens sy navorsing afgekom het, en wys aan die hand van ’n paar voorbeelde hoe detail wat in die swart-en-wit weggesteek was na vore kom in die kleur.
Fransjohan Pretorius gesels met Tinus le Roux.
23:30 Wanneer gister en vandag nie lepellê
Diana Ferrus gesels met with Kirby van der Merwe (Eugene), Audrey Jantjies (As die katjiepiering blom) en Brian Fredericks (Hou jou oë oop). Die drie romansiers deel die agtergrondstories van hulle boeke, en ook hoe hulle die spanning ondersoek wat soms in hul gemeenskappe bestaan tussen iemand se komvandaan en sy lewe vandag.
Diana Ferrus gesels met Kirby van der Merwe, Audrey Jantjies en Brian Fredericks.
Klik hier vir die volledige Woordfees TV-program.
The post Vandag op die Woordfees TV-boekeprogram: Woensdag 20 Julie 2022 appeared first on LitNet.