Laasjaar was vir my ‘n moeilike jaar. Dit was my eerste jaar van skoolhou en amper my broer se laaste van skoolgaan. Dis nie altyd vir my maklik om oor my eie situasies te skryf nie, maar ek weet dat geen mens ‘n eiland is nie. Êrens is daar dalk iemand wat deur ‘n soortgelyke situasie gaan of dalk erger.
Clayton is my 15-jarige broer en laasjaar wou hy skool los. Ek en Clayton was nog altyd baie close. Ons het saam-saam deur baie dinge gekom. So jonk soos wat hy was. Ek is tien jaar ouer as wat hy is en het nog altyd my rol as sy oudste suster baie ernstig gevat. Ek het nie altyd ‘n ander keuse gehad nie.
My oudste broer, Clayon, was 19 jaar oud toe hy vermoor was. Ek moes sy lyk op ‘n verlate skoolveld gaan uitken op die oggend van 26 September 2006. Clayon was ‘n jaar voor sy dood vir twee jaar in Pollsmoor-gevangenis op aanklagte van roof en poging tot moord. Dié poging tot moord saak het ontstaan as gevolg van sy inisiasie tot die 26-bende. Die bende distansieer hulself sodra jy mang vir iets en dis dan nou juis in Pollsmoor waar jy vas moet staan en jou getrouheid aan die bende moet bewys. Clayon se betrokkenheid met die bende het vir ons huisgesin baie trauma gebring. My oupa, wie eintlik die rol van Clayon se pa gespeel het, het gesterf toe Clayon 14 jaar oud was en daarna het alles verkeerd gegaan. Ek onthou hoe ons een aand almal op die vloer moes neerval omdat daar op ons huis geskiet was. Clayon se storie is een wat ek nie in drie sinne kan vertel nie. En dis ook nie sy storie wat hier ter sake is nie, ek gee slegs agtergrond.
Na Clayon se dood het ek myself belowe ek gaan altyd probeer om die beste suster te wees sodat Clayton nooit deur dieselfde trauma hoef te gaan nie.
‘n Paar maande na Clayon se dood het my ma uitgetrek. Ek het haar daarvoor gehaat. My ma was soos een wat in ‘n dwaal gelewe het. Sy het seker haar redes gehad. My ma se liefde van haar lewe en Clayton se pa, Tommy, het ook ‘n jaar voor Clayon gesterf. Sy was stukkend op soveel vlakke. Maar ek was ook. Ek en Clayton het alleen agtergebly by my ouma. Clayton was toe maar nog net ses jaar oud. Ek het alles in my vermoë gedoen om dinge so maklik moontlik vir hom te maak tydens hierdie jare. Hy was te jonk om te verstaan. En ek wou nie hê hy moet bekommerd wees oor enige iets nie. Ons het nooit regtig kort gekom nie. En my ouma het baie mooi na ons omgesien. Al het my ma nie by ons gewoon nie, het sy haar bes probeer om seker te maak dat ons alles het. En Clayton het baie naweke met haar deurgebring. Sy het ook elke aand na werk na ons toe gekom. So ek probeer nie sê dat sy completely absent was nie. Clayton is ontsettend lief vir my ma. Vir hom was sy nooit weg nie, sy was net af in die pad. Maar omdat ek van geboorte tot 15 jaar oud saam haar gewoon het, ek het heeltemal anders gevoel.
Ek voel asof ek Clayton grootgemaak het. Nie net omdat ek verantwoordelik was om sy klere skoon te hou en om sy huiswerk te check nie, maar omdat hy na my geluister het. Ook omdat ek altyd gevoel het asof hy my verantwoordelikheid was. Toe ek op varsity was het ek getutor vir ekstra geld. Ek kon nooit vir myself iets koop as ek weet hy nie iets het nie. Op my manier het ek altyd seker gemaak dat hy gemaklik en warm is.
In 2014 het Clayton probleme begin gee by die skool. Dit was skielik. Hy was ook nie meer so klein nie. Ek, my ma en Clayton het laasjaar vir die eerste keer na nege jaar weer saam gewoon. Clayton het twee jaar gelede completely getrou met die idee om ‘n DJ te word. Ek het nooit baie van die idee gehou nie, maar het hom toegelaat om ‘n DJ app op my laptop te laai en te gebruik. My ma het vroeg in laasjaar vir hom ‘n laptop van sy eie gekoop en dis toe die moeilikheid begin het. Clayton het sonder ons wete uit die skool gebly, vir weke aaneen. Hy het soggens opgestaan. Sy skoolklere aangetrek. Sy kosblik gevat. Maar nooit by die skool uitgekom nie. Toe ek uitvind was ek smoorkwaad. Ek was eendag by die skool om uit te gaan vind wat aangaan. Dis toe ek by een van sy onderwysers hoor dat hy vir almal sê hy hoef nie skool te gaan nie want hy gaan ‘n DJ word en hy makeer nie die skool om ‘n DJ te word nie.
Ek het saans huis toe gegaan en elke keer as hy nie in die skool was nie het ons baklei. Ek was ongelukkig. Dit het gevoel asof niemand in die wêreld verstaan nie. Die landlord het my getrou gesê wanneer hy skool gebunk het soos ek haar gevra het om te doen. Ek was moeg. Dit was my eerste jaar van skoolhou. Die eerste jaar dat ons weer as ‘n gesin, hoe gebroke ook al, kon saam lewe, sonder finansiële gebrek. Ek was baie keer moeg om aan ander mense se kinders te sê dat hulle skoolwerk belangrik is wetend dat my eie broer dit nie so sien nie. Ek het baie met Clayton gepraat, geraas, gehuil, geskree. Toe niks meer werk nie, het ek hom gevra om sy klere te pak en loop. Ek het hom mooi laat verstaan dat ek nie ‘n enkele sent op hom gaan spandeer as hy nie wil skoolgaan nie. Dit was die seerste ding wat ek nog moes doen, maar ek wou hê hy moet rede insien.
Hy is toe weer terug na my ouma toe.
So drie weke na ek hom uitgesit het, bel my ouma my eendag seker so vier keer terwyl ek by die werk is. Ek het al vier die oproepe gemis. Ek het nie lugtyd gehad om haar terug te bel nie so toe ry ek na werk by haar om. Sy was franties. Sy was winkels toe en met haar terugkeer het sy vir Clayton onder haar bed gekry tussen al haar skoenebokse. In ‘n toestand. Hy vertel haar toe dat van die bendes in die straat hom weke lank al pla. Hulle wil hê hy “moet nommer optel” en “sabella”. Hy het toe baie hardekwas die een bendelid uitgevloek en dan en daar het hulle vir hom gesê hulle gaan hom vrekskiet nog voor die son sak. Dis toe die dat hy homself onder my ouma se bed gaan wegsteek het. Hy het vir my ouma gesê sy moet vir my bel sodat ek hom Strand toe kan neem na ‘n uncle van ons wat daar woon. My ouma het gebel, maar my foon het net gelui. Sy het ook nie my uncle se nommer gehad nie omdat ons baie lanklaas in kontak met hulle was. Dis toe dié dat sy ‘n kombers vat, dit oor haar kop gooi en na God uitroep. Sy is die een vrou wat my geleer het om in alle situasies God te vertrou. My ouma se geloof het haar al uit soveel situasies gehelp. Ek kan nie begin om te vertel hoe baie die vrou al met gebed vermag het nie. Toe sy klaar gebid is, was daar ‘n klop aan die deur. Die uncle, wie Clayton oor huil onder haar bed, staan toe daar in die deur, net na sy kla gebid het. Sy het vir uncle Willempie vertel wat gebeur het, hulle het Clayton se klere in ‘n sak gegooi en toe is hulle daar weg. My ouma het gebewe toe sy my vertel van daardie middag se gebeurtenis. Ek het myself blameer. My ouma is al 80 jaar oud. Sy verdien dit regtig nie om op haar ouderdom nog deur so baie dinge te gaan nie.
Behalwe die seer wat in my hart gebrand het, het die kwaad my laat uitstorm, straat af. My ouma wou nie hê ek moes gaan nie. In die straat het ek vir ‘n groep gevra waar die een bendelid bly wat vir Clayton met die dood gedreig het. Ek het tot by sy huis gegaan. Sy ma was tuis. Ek weet nie mooi wat ek alles vir hom gesê het nie. My trane het my half blind gemaak, maar ek het nie ‘n enkele bietjie vrees in my gehad nie. Ek was moeg van hulle wat dink hulle kan maak en doen met ander mense se kinders wat hulle wil! Almal is bang vir die bendes. Almal in die gemeenskap weet wie hulle is. Almal weet wie die moordenaars en rowers is, maar niemand wil opstaan en praat nie. Ek sou nie toelaat dat hulle my broer seermaak nie. Hulle moes my ook maar dan vrekskiet. Ek het reeds ‘n broer afgestaan aan die dood as gevolg van dieselfde groep bendes. Ek sou nie die aasvoëls na aan my broer laat kom nie.
Clayton was vir ‘n twee weke by my uncle. My ma was hartseer. Net as ek oor Clayton gepraat het en gevra het of sy hom mis, het sy gehuil. Ons het hom een Vrydag gaan haal. Hy was bang. Hy wou nie alleen wees nie. Hy het besef dat daar baie gevare is vir ‘n seun van sy ouderdom buite die skoolbanke in ons gemeenskap. Hy het daarna vir ‘n tydjie by my ander antie gaan bly omdat my niggie, Dia, per dag ook by die huis was.
My ma se oudste suster wat in Calvinia woon het Kaap toe gekom vir ‘n begrafnis. Clayton het mooi gevra dat ons vir hom taxigeld moet gee sodat hy eerder saam haar kan gaan. En so, het ons sy klere gepak en hom op die taxi gesit, Calvinia toe. In Desember het ek my ma Calvinia toe geneem vir Kersfees. Clayton het op ‘n stadium vir my van sy DJ “mixes” gespeel. Ek hou van musiek en dans, en ek wou huil toe ek hoor hoe goed sy mixes eintlik klink.
Ek was kwaad vir myself omdat ek nie in hom geglo het nie. Ek was kwaad dat ek hom soos die skuim van die aarde laat voel het omdat hy eerder wil DJ. Ek was kwaad oor ons so ‘n ophef maak oor studies terwyl talle kinders doodeenvoudig net nie akademies aangelê is nie. Ons leer ons kinders dat as hulle nie ‘n rekenmeester of ‘n dokter wil word nie, is daar niks beters vir hulle nie. Ek was kwaad dat die skoolsisteem nie baie spasie maak vir kinders soos hy, wat kreatief is en eerder ‘n DJ wil word nie. Ons vakke op skoolvlak, veral by publieke skole, bied nie naastenby genoeg geleentheid vir leerders wat “anders” is nie. Ek weet en besef dat skole nie daar is om kinders toe te laat om te spesialiseer nie. En ek sê ook nie die skoolsisteem het hom gefaal nie. Maar ons gemeenskappe lyk woes. As daar niks is op skoolvlak is wat kinders prikkel nie, gaan bendes vir hulle ‘n gun gee in die plek van die pen. Baie kinders kies die gun, want hulle omstandigheid dryf hulle daarna. En daar is nie altyd ‘n ouer suster wat die aasvoëls weghou nie. Hulle is nog so bloedjonk, hulle verstaan skaars die nagevolge van hulle keuses.
Op Nuwejaar het Clayton my ‘n boodskap gestuur om te sê hoe jammer hy is. Hy het gesê dat hy terug skool toe wil gaan. Dit was sy eie besluit. Clayton het laas kwartaal ‘n goeie rapport gekry. Ek het vir hom gesê hy hoef nie sy droom om eendag ‘n DJ te word prys te gee nie, maar hy moet skoolgaan want niemand gaan hom ernstig vat as hy nie skoolgaan nie. Hy het ‘n opstelkompetisie by die skool gewen en het ‘n rap number geskryf oor die gevare van dagga. Laasjaar het regtig sy denkwyse baie verander. Hy wou Maartmaand skaars kom kuier, want hy sing in die skoolkoor en hulle moet oefen tydens die vakansie. Hy het wel kom kuier. En ons twee het vir die eerste keer na ‘n baie lang tyd weer op ‘n bed gelê en lag oor simpel goed.
Ons storie is nog sommer baie onvoltooid. Ek het na laasjaar myself die volgende belowe: nooit weer gaan ek toelaat dat enige iets my vertroue in hom belemmer nie. As ek hom moet tug en tough love wys sal ek dit doen, as dit vir sy benefit is. Maar ek gaan in hom glo al moet ek die laaste een op aarde wees wat in hom glo.
Alle foto's verskaf en met toestemming geplaas
The post The pen is mightier than the gun appeared first on LitNet.