Marga & Henriëtte. In die skadu van skisofrenie
Marga van Rooy en Henriëtte Boot
LAPA Uitgewers
ISBN: 9780799374988
Lees ook hierdie boekresensie deur Juliana Coetzer.
Daar is dinge wat ‘n mens as vanselfsprekend aanvaar. Vir sommige is universiteitsopleiding ‘n gegewe. ‘n Maat en ‘n gesin. ‘n Loopbaan. Of bloot lus vir die lewe en motivering.
Henriëtte Boot het in 1985 die skool met planne verlaat. In 1986 het haar ouers haar by die Universiteit Stellenbosch besorg en geglo sy is op die punt om ‘n besondere aantal jare te beleef soos hulle self ‘n generasie vantevore het, sorgvry, verkennende, heerlike jare. Die verantwoordelikhede en pligte wat daar was, sou van die soort wees wat ‘n mens in ‘n sekere leefstyl, uitkyk en demografiese sektor vestig, soos die bou van bande met ander studente ook sou maak. Soos opvoeding en opleiding ‘n mens bied.
Maar die belowende jong student het vreemd begin optree. Gou was haar lewe omgekeer en universiteit ‘n onmoontlikheid. Sy het psigiatriese behandeling begin ontvang, en ongeveer 15 jaar lank sou sy nie gestabiliseer wees nie. Heelwat het met haar gebeur en dit het haar mense ook geraak, soms ten nouste. Die stabiliteit, toe dit uiteindelik kom, was nie net danksy medikasie en terapie nie. Dit was ook die resultaat van ‘n geduldige gesin se sorg en bystand.
Marga & Henriëtte: In die skadu van skisofrenie is die verhaal van verwagtinge, nie net Henriëtte s’n nie, maar ook dié van haar bekende aktrise-ma Marga van Rooy, wat as jong professionele kunstenaar geloof is vir haar werk en aangeraai is om met iemand in die uitvoerende kunste-kringe te trou ten einde te kan bly werk. Sy het nie. Sy het eerder haar lot saam met ‘n man ingewerp wat hom as lewensmaat en later as ouer sou onderskei, nie net as Henriëtte se pa nie, maar ook in die lewens van sy ander kinders. As ma moes Marga nogmaals die keuse tussen werk en gesinslewe maak in ‘n tyd toe daar aanvaar is dat die man in ‘n huishouding ‘n loopbaan kon volg, maar die vrou se plek was merendeels by die huis.
In hierdie opsig is die boek ‘n meditasie oor opoffering. Hoeveel is ons ons medemens verskuldig? En as dit ons kind of suster is wat siek is en lyk of sy siek gaan bly? Is dit reg dat ‘n ouer soveel in ‘n kind, ‘n volwasse kind, belê, dikwels ten koste van eie aspirasies en gemoedskalmte?
Uiteindelik, ja. Anders as verskeie ander werke oor skisofrenie bied hierdie relaas ‘n prognose van hoop, vir die pasiënt sowel as dié wat na aan haar is. Henriëtte is al 15 jaar stabiel en hoewel sy voorsorg moet tref, soos om te sorg dat sy genoeg slaap inkry, seker te maak sy neem medikasie en daarvoor toe te laat dat haar dryfkrag by tye laer mag wees as ‘n gesonde mens s’n, gaan dit goed met haar. Sy het die ondersteuning en roetine wat mediese sorg bied, werk deeltyds, is by leeskringe betrokke, het ‘n groot vriendekring en is baie sosiaal.
Sy gee in ‘n sin aan ‘n roeping gehoor, meen ek, want sy steek nie haar siekte weg nie en gaan eerder uit haar pad om mense daaroor in te lig, ‘n benadering wat nie net vir haar van terapeutiese waarde is nie, maar net kan bydra tot begrip vir mense met psigiatriese siektes.
Die verhaal van die moeder en die dogter is een wat uiteindelik tot almal spreek wat al ‘n droom as jongmens moes prysgee, om dan in groter volwassenheid te ontdek dat ons op aarde is ter wille van mekaar.
The post Lesersindruk: Marga & Henriëtte: In die skadu van skisofrenie appeared first on LitNet.