Die US se finale konseptaalbeleid voldoen nie aan basiese vereistes vir die volhoubare bestuur van Afrikaans of Xhosa by die universiteit nie, sê dr Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Afrikaanse Taalraad.
Die beleid maak van Engels die verstektaal en bepaal dat dié taal jaarliks uitgebrei sal word met ’n volle akademiese aanbod binne die volgende vyf jaar as teiken. Daarteenoor word Afrikaans slegs “bevorder”. Hoekom geen teikens vir Afrikaans nie?
Die afwesigheid van enige taalteikens vir Afrikaans wáárborg die geleidelike afskaling van die taal tot ’n tipe “hulptaal” waarin studente soms ondersteuning kan kry. Dít is wat “meertaligheid” in hierdie beleid beteken en die US is nie ernstig oor die “handhawing” van Afrikaans as akademiese taal nie.
Pleks van ’n langtermynvisie vir die taal, is haar gebruik deurgaans onderhewig aan korttermynfaktore soos “redelikheid”, pedagogiese vereistes, en “uitvoerbaarheid”, op grond waarvan die beleid maklik na gelang van die omstandighede aangepas kan word.
Reeds op beleidsvlak word dit gestel dat daar aangepas moet word by die “veranderende taaldemografie” van die universiteit, so asof hierdie verandering iets is wat die universiteit magteloos gade slaan eerder as om ’n direkte invloed daaroor uit te oefen. Dit ís moontlik om ’n 50/50 taalbeleid in te stel. Die 34 000 matrikulante elke jaar regverdig dit. Daarmee gepaardgaande kan die US uiteindelik ook meer toeganklik vir die wyer Afrikaanse gemeenskap maak word.
Internasionale ervaring dui daarop dat universiteite ware meertaligheid kan handhaaf – maar slegs indien die situasie goed bestuur word. Hiervoor is begrip van die waarde van taal in ’n meertalige land soos Suid-Afrika ’n voorvereiste. Dit lyk egter nie asof die US voldoende aandag aan die meer as 500 kommentare op die konsepbeleid en die talle goeie argumente vir ware meertaligheid gegee het nie.
Hierdie tekortkoming verras egter nie. Die evaluasie van die kommentare is in slegs twee dae afgehandel wat die vraag laat ontstaan of die proses wat by die US gevolg is voldoen aan die basiese beginsels van redelikheid.
Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
The post Persvrystelling: US-taalbeleid voldoen nie aan basiese bestuursvereistes appeared first on LitNet.