Titel: En toe kom Tom
Skrywer: Edward van de Vendel
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781485301967
Toe ek die eerste keer En toe kom Tom in my hande vasgehou het, het ek afgekyk na die voorblad en effens gesug.
As 'n egte boekwurm kan ek sê dat die voorblad een van die eerste en belangrikste dinge is wat 'n leser se oog vang. Daarna die titel, en dan natuurlik die agterblad se voorsmakie. Dié boek se omslag is nie een van die aantreklikstes wat ek al ooit gesien het nie. Al het ek gehou van Philip Hopman se eenvoudige, en nogtans oulike, illustrasies, is 'n veelkleurige omslag vir veral vandag se kinders noodsaaklik vir 'n goeie eerste indruk. En toe kom Tom verskaf nie veel hiervan nie.
Al begin die storie al afspeel met die heel eerste sin van die boek, het die storielyn vir my 'n bietjie langdradig en stadig in beweging gekom. Die storie het eers rondom die laaste derde van die boek vir my begin woema kry.
My eerste indruk van die karakters was dat hulle dialoog op 'n paar plekke redelik styf en onnatuurlik is, maar dit mag dalk wees hoe dit in die oorspronklike Nederlandse uitgawe deur Edward van de Vendel geskryf is. Nietemin het Daniel Hugo daarin geslaag om die vertaalwerk baie goed en eenvoudig te doen. Woorde soos “gekwispel” en 'n paar ander is egter later gebruik, wat dalk vir die jong ouderdomsgroep moeilik sal wees om te verstaan. Ek neem aan die teikenmark is kinders van ongeveer nege jaar, aangesien dit die hoofkarakter, Kix, se ouderdom is.
Wat vir my uitgestaan het van hierdie boek, is dat daar regdeur die hele storie baie nuwe plaasterme te voorskyn kom, soos byvoorbeeld die skopgraafmasjien waarnatoe Kix verwys, wat dan ook verduidelik word. Selfs dinge soos toe hy en sy sussie hulle vingers in melk doop sodat die lammertjies daaraan kan suig, is iets waaraan die meeste van ons stadskinders nog nooit voorheen bekendgestel is nie. Dit was vir my baie oulik hoe die hele ervaring beskryf is, en hoe jy jou amper kan indink hoe dit moet voel. Selfs ek het 'n paar nuwe plaasdinge deur hierdie boek leer ken, dus sal dit definitief kinders se kennis heelwat verryk.
Aan die ander kant het ek 'n paar dinge opgemerk wat my ongemaklik laat voel het. Die eerste ding was dat daar van Kix verwag was om die bierdoppies vir die ouer mense oop te trek. Dit is dalk nie so onalgemeen nie, maar ek dink nie dit is iets wat negejarige kinders behoort te doen nie. Die tweede ding was dat daar in die laaste helfte van die boek baie oor bloed en dood gepraat word. Dit skep natuurlik die realistiese atmosfeer van die hele situasie, maar mag dalk vir kleiner kinders té ernstig raak.
Oor die algemeen sal die boek diereliefhebbers van 'n lekker storie voorsien, met 'n spannende klimaks en 'n gelukkige einde. Maar as jou kind meer hou van boeke oor towerperdjies of buiteruimtelike robotte, sal hierdie boek hulle nie baie interesseer nie.
The post Boekresensie: En toe kom Tom deur Edward van de Vendel appeared first on LitNet.