Huilboek
Ryk Hattingh
NB-Uitgewers
ISBN: 9780798172493
Skrywers oor hul nuwe boeke: Ryk Hattingh oor Huilboek
Hallo Ryk, kom ek vra jou oor die titel van Huilboek. Beskryf dit jou, die skrywer, se emosie? Of is dit ook ‘n uitroep, ‘n byna-bevel aan alle Suid-Afrikaners om te treur?
Die huilboekie waaroor ek in Huilboek skryf, was ‘n boekie waarin die kleuter ‘n kruisie moes trek as hy begin huil. Dit was dan veronderstel om die oorsensitiewe kind se aandag af te trek en hom te laat ophou huil. Dié boekie was dus op ‘n manier ‘n soort teenmiddel teen huil, ‘n antihuilboekie. Ek beskou Huilboek in dieselfde lig. En ja, verdriet is sekerlik ‘n emosie waarmee ek vertroud is, maar nie nét verdriet nie! Ons leef in ‘n wêreld wat deur monsters regeer word, gierige psigopate, lyklustiges; nog nooit was die enkeling so magteloos soos nou nie. In die kloue van hierdie hartelose wesens word die planeet teen ‘n dolle vaart vernietig, die oseane word suurder, visse vrek, spesies sterf uit, nimmereindigende oorloë en uitbuiting van die weerloses is deel van ons daaglikse lewe. ‘n Mens sou hier ‘n kompendium van gruwels kon opstapel van wat mense mekaar en die aarde aandoen. Huilboek sou dalk ook Woedeboek kon heet, of selfs Walgboek. En tog is Huilboek nie net ‘n klaaglied nie. Ek skryf ook oor die natuur en oor die liefde en, veral, my liefde vir die mense in my lewe. My liefde vir die léwe. ‘n Klein lewe.
Nee, ek wil nie hê mense moet treur nie, ek wil bloot hê hulle moet met groter sorg en sensitiwiteit met mekaar en die wêreld omgaan. En ek wil hê hulle moet in opstand kom, hulle moet kwaad word, woedend; hulle moet saamspan om die orde omver te werp. Ons moet revolusies eerder as vakansies beplan.
Van joernalis tot skoenmaker. Hoe verskil die beroepe? Albei beoefenaars sit tog elke dag lank stil en werk, soos iemand in ‘n steenkoolmyn. Is die werk van skoenmaker nie minder stresvol nie?
O nee, ‘n skoenmaker sit selde. Dit gebeur net in die sprokies. Jy is die heeltyd op jou voete. Ou sole en hakke word afgestroop, die oppervlakke word op die skuurwiel voorberei, patrone word uit dik rubber of leer gesny, gomme word aangesmeer … En tussen alles deur word jou werk voortdurend onderbreek deur klante wat ‘n sleutel wil dupliseer of ‘n paar skoene ingee. ‘n Mens sit wel wanneer jy stikwerk doen. Ek is die enigste skoenmaker op die dorp en dié tyd van die jaar, laatherfs en vroegwinter, is my besigste tyd, want dan stroom die winterstewels in. Dis glad nie stresvol nie. Dis harde werk, maar ek vind dit heel bevredigend.
Jy as emigrant – het jy al jou plek daar in Nieu-Seeland gevind, al is dit altyd jou plek as buitestander? Daardie holte en verpakking word tog op ‘n manier huis, of hoe? En as jy hier is, in Suid-Afrika, waar is jou plek dan?
Ek het ‘n goeie idee van die getye en die stand van die maan. Ek ken die seisoene en die rigtings van die wind. Mense bring hulle skoene na my toe om reg te maak. Ek hou die dorpenaars op hul voete, en op dié manier die pot aan die kook. Miskien is dit wat ‘n tuiste beteken. Suid-Afrika is soos ‘n gewas op my brein. Altyd daar, soms niekwaadaardig, soms terminaal. As ek daar is, in Suid-Afrika, dan is dit in Benoni by my ma, of by vriende in die bosveld of Kaapstad.
Jou boek handel oor taal. Vir Murray la Vita sê jy jy kan nie in ‘n ander taal as Afrikaans skryf nie, so hoe kommunikeer jy dus jou storie daar? Terselfdertyd: Jy woon nou in ‘n ander land, so dink jy Suid-Afrikaners hierso verstaan jou storie dáár, al is dit in hul eie taal?
Dit sal darem erg wees as Suid-Afrikaners nie boeke in hul eie taal verstaan nie net omdat dit in ‘n ander land geskryf is! Dan sou heelwat van die werk van onder meer Breyten en Eben Venter en Zirk van den Berg en JM Coetzee en Marita van den Vyver onverstaanbaar gewees het. Dis dan tog een van die redes hoekom ‘n mens ‘n boek skryf, om jou wêreld, hoe vreemd en ver van Afrika ook, óóp te skryf, om die leser ‘n blik op, of ‘n insig in, jou wêreld te gee.
Taal. Op simboliese vlak. Dit het jou paradys vernietig, sê jy ook vir Murray. Sal jy hierop kan uitbrei?
Die kind, voordat hy of sy deur taal gekoloniseer word, tref nie ‘n onderskeid tussen die self en die ander nie. Die voortaalse kind is een met die wêreld, deel van die wêreld, nie apart nie, maar deel daarvan. Asof die knip van die naelstring nog nie werklik voltooi is nie. Maar dan kruip taal in, woordjie vir woordjie, en voordat die kind sy of haar oë kan uitvee, is daar ‘n mamma en ‘n pappa, en vir die kind is daardie gevoel van een wees met die wêreld, deel wees van die wêreld, verby.
Die uiteindelike huil is omdat jy as wit man nooit die taal kan weergee van ‘n ander wat nie jou taal praat nie. Of sy storie kan vertel nie. Maar as jy bloot sy storie vertel gedagtig daaraan dat jy jou bril op het, kan jy dit tog doen, of hoe? Of is Afrikaans werklikwaar net bagasie en nie ook net ‘n manier om te kommunikeer nie?
Uiteraard is Afrikaans, net soos enige ander taal op aarde, ‘n manier om te kommunikeer. Maar ‘n boek of ‘n gedig of ‘n stuk prosa, in watter taal ook al, is veel meer as bloot ‘n stuk kommunikasie. Dis dit ook, ja, ‘n kommunikasie, maar dis ook werk wat met ‘n sekere toonaard aangebied word, dis (hopelik) deurdag, veelstemmig, veeleisend, beproewend; dit bied verskeie interpretasiemoontlikhede; dis verweef, woorde en sinne resoneer met ander woorde en sinne, en die dele waaruit die werk bestaan, verwys na ander tekste, dikwels uit ander tye en in ander tale, en op dié manier word die boek of die gedig deel van iets groter. Afrikaans is die enigste taal waarin ek iets so kompleks soos ‘n boek kan takel. Indien Afrikaans net bagasie is, dan sleep ek dit heel gelate saam met my totdat die kluite begin klap.
Buiten een klein foto’tjie van Toon, ‘n enkele verwysing na hom in my bababoekie, en ‘n paar verbeelde herinneringe, was daar niks om mee te werk nie. En tog, dié karige gegewe was die oorsprong van Huilboek.
The post Onderhoud: Ryk Hattingh oor Huilboek appeared first on LitNet.