Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie)

$
0
0

Fotobron: www.lifehack.org

Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie)¹

Lees ook: Waardigheidsdoding (eutanasie)

Lees ook: Enkele perspektiewe op waardigheidsdoding (eutanasie)


The assisted suicide lobby is also trying to expand the assisted suicide law by forcing doctors who oppose assisted suicide to refer their patients to doctors who will assist suicides. (Schadenberg 2016)

Schadenberg (2016) is die uitvoerende direkteur en internasionale voorsitter van die beweging Euthanasia Prevention Coalition en ‘n uitgesproke teenstander van hulpselfdoding. Die vraag ontstaan of in die aanhaling hier bo (wat spesifiek op die Kanadese konteks van toepassing is) verwys word na die spreekwoordelike damwal wat aan’t breek is. Dokters wat tans nie ‘n versoek om hulpselfdoding wil uitvoer nie, kan vrywillig onttrek, maar die waardigheid van die sterfproses kom gevolglik in die gedrang indien druk op ‘n dokter uitgeoefen word om van die prosedure te onttrek. Of is al die vrese en bekommernisse wat deur kundiges soos Schadenberg oor waardigheidsdoding opgediep word, dalk eerder grotendeels ongegrond? Kan buitestanders sinvolle opinies waag indien die dood vir ʼn pasiënt egosintonies geword het?

Coligher (2016), ʼn Kanadese medikus wat geassisteerde eutanasie sterk teenstaan, belig sekere belangrike moreel-etiese mediese kwessies. Die verwysing van pasiënte wat geassisteerde eutanasie versoek deur ʼn dokter met gewetensbesware na ʼn kollega wat wel bereid is om die versoek van die pasiënt uit te voer, impliseer die volgende etiese vrae: Behoort dokters hulpselfdoding toe te pas bloot omdat eutanasie volgens wetgewing toelaatbaar is? Behoort alle dokters “in te koop op” die veronderstelling dat eutanasie goeie mediese praktyk is? Indien ʼn pasiënt verwys word na ʼn praktisyn wat bereid is om ʼn eutanasieversoek uit te voer, is die verwysende dokter gedeeltelik aanspreeklik vir die dood van die pasiënt? Kan dokters hulle beroep op die beginsels van gewetensbeswaar/-vryheid? Hoe beïnvloed die respek vir gewetensbesware ʼn mediese praktisyn se benadering tot pasiëntesorg?

Voeg hierby dat Nederlandse wetgewing die basiese voorvereiste van ondraaglike pyn by die pasiënt stel. Wat sou die objektiewe kriteria vir “ondraaglike pyn” wees? Volgens Wijsbek (2016) is hier veral twee elemente van subjektiwiteit ter sprake: die pasiënt is totaal afhanklik van die mediese praktisyn se kliniese oordeel, empatie en begrip om die versoek uit te voer, en indien die versoek deur die praktisyn geweier sou word, kan dit as arrogansie bestempel kon word.

Die verwysing van pasiënte deur dokters met gewetensbesware teen hulpselfdoding het ʼn reeks moreel-etiese vrae tot gevolg. Wat sou die reaksie hierop wees van medici sonder gewetensbesware teen waardigheidsdoding?

Benewens die mediese debat word standpunte oor waardigheidsdoding in die algemeen (Haerens 2015) in vier breë kategorieë ingedeel, naamlik die rol van die staat en gepaardgaande wetgewende implikasies; die invloed van waardigheidsdoding op individue en samelewings; die impak van omstrede aangeleenthede rakende waardigheidsdoding (bv die toepassing op kinders) asook die rol van pasiëntbeskerming, mediese versekering en mediese dienste (soos die Affordable Care Act in die VSA).

In hierdie kort oorsig kan hoogstens aandag gegee word aan die opponerende standpunte van enkele outeurs/groepe en veral binne een kategorie (kyk Haerens 2015), naamlik die effek van eutanasie op individue en die samelewing in die algemeen.

Die statistiek vir selfdoding in die Amerikaanse staat Oregon word eers vooraf bespreek as ʼn voorbeeld en as agtergrondsinligting ten opsigte van die dilemma. 

Oregon

Oregon se Wetgewing op Geassisteerde Waardigheidsdoding is in 1997 goedgekeur. Voorskrifte kan deur mediese praktisyns verskaf word vir die verkryging en gebruik van eutanasikums. Gedurende die periode 1998–2015 is 1 554 voorskrifte kragtens hierdie wetgewing uitgereik, en 991 persone het deur die toediening van eutanasikums op voorskrif gesterf. Van 1998 tot 2013 het die getal voorskrifte met gemiddeld 12,5% jaarliks toegeneem, en vir 2013–14 met 24,4%. In 2015 was die verhouding tussen die getal sterfgevalle deur waardigheidsdoding tot die totale getal sterfgevalle in Oregon 38,6 per 10 000.

­­­­­­­­­­­­Oor die afgelope 18 jaar is jaarliks meer voorskrifte uitgereik as wat daar sterfgevalle was deur die gebruik van voorgeskrewe eutansikums.

In 2015 was die meeste eutanasiepasiënte 65 jaar en ouer (78%) met die mediaanouderdom gelyk aan 73 jaar. Die groep was meestal wit met ʼn goeie opvoedingsbasis (43,1% het oor baccalaureusgrade beskik). 72% was kankerpasiënte. Die meeste gevalle (90,1%) het tuis gesterf en 92,2% was in Hospice se palliatiewe sorg.

Einde-van-die-lewe-bekommernisse wat die meeste genoem is, was die verlies aan deelname aan genotvolle lewensaktiwiteite (96,2%); verlies van outonomie (92,4%) en verlies van waardigheid (75,4%).

In 2015 het 106 dokters 218 voorskrifte voorsien. Slegs vyf gevalle is vir sielkundige/psigiatriese evaluerings verwys. Die voorskrywende dokter en/of palliatiewesorgpersoneel was by betreklik min pasiënte se sterfbed teenwoordig (27 pasiënte, maw 20,5%). Die eutanasiepraktisyn self was by slegs 14 gevalle (10,8%) teenwoordig. Die tydsverloop tussen inname van die eutanasikum totdat die dood formeel ingetree het, het gewissel van vyf minute tot 34 uur.

Uit die resultate van die Oregonverslag maak ek die volgende afleidings:

  • ʼn Beduidende stygende tendens is waarneembaar in die getal hulpselfdodingvoorskrifte en -sterftes oor die afgelope 18 jaar. Veral oor die afgelope twee jaar is die tendens beduidend hoër as die voorafgaande 16 jaar. Die waarskynlikheid dat die syfer van 38,6 eutanasiegevalle tot 10 000 sterftes oor die volgende vyf jaar beduidend gaan verander, is ʼn redelike verwagting.
  • Waarom word meer voorskrifte uitgereik as die getal sterftes wat aangeteken word? Die logiese antwoord is natuurlik dat sommige pasiënte met verloop van tyd tot ander insigte kom, of sterf voordat die eutanasikum gebruik word, of wonderbaarlik genees word, of uiteindelik ʼn natuurlike dood bo eutanasie verkies.
  • Dit is verstaanbaar dat dit meestal ouer persone is wat van geassisteerde waardigheidsdoding gebruik sal maak. Meer ouer mense is terminaal en maak van palliatiewe sorg gebruik as jonger mense. Die feit dat kanker die hoofdiagnose by die groep eutanasiepasiënte was, word verklaar deur die wêreldwye groter voorkoms van kanker relatief tot ander siektetoestande.
  • Die feit dat die groep oorwegend wit met goeie akademiese agtergronde was, kan dalk met sosio-ekonomiese status en welvaart verband hou, omdat die eutanasieprosedure na alle waarskynlikheid ʼn duur prosedure sal wees. Dit is ook moontlik dat ander kultuurgroepe unieke religieuse besware mag handhaaf en dat eutanasie moreel-eties minder aanvaarbaar in hierdie kultuurgroepe sou wees.
  • Die hoofoorweging vir die keuse van eutanasie as ʼn laaste uitweg was dat daar niks wat sinvol is in die huidige (pynlike) lewe oorgebly het nie. Die lewe is dus nie meer genotvol nie. Die sin en betekenis van die lewe het verdwyn. Hierdie oorweging het meer dikwels in die opname as die verlies van outonomie en waardigheid voorgekom. Niks word egter in hierdie verslag gemeld oor die teleologiese aard van die pasiënte se motivering onderliggend aan die hoofoorwegings wat hier bo aangevoer word nie.
  • ‘n Betreklik groot getal dokters het die eutanasikumvoorskrifte uitgeskryf, wat verstaanbaar is omdat die pasiënte hul eie praktisyns met wie hulle ʼn vertrouensverhouding opgebou het vir terminale voorskrifte sou raadpleeg. Waarom so min eutanasiepraktisyns hul pasiënte uiteindelik persoonlik in hul laaste ure van psigiese en fisieke nood bygestaan het (slegs 10,8%) is egter onduidelik. Sou dit eties korrek wees om ʼn eutanasieprosedure uit te voer en dan later nie die pasiënt in sy sterwensuur te ondersteun nie?

 Godsdiensleiers se standpunte

Justin Welby (2015), aartsbiskop van Canterbury en die mees senior biskop in die Anglikaanse Kerk, het onlangs saam met ʼn groep kerkleiers ʼn verenigde front teen minister Rob Marris se voorgestelde wetgewing op eutanasie in die Britse parlement gevorm. Hul standpunt teen hulpselfdoding is gebaseer op die ingeligte mening van gemeenskappe wat die kerk se standpunt verteenwoordig. Die standpunt is gevorm deur die ontleding, bespreking en debattering van kwessies oor eutanasie oor etlike jare. Die kerkleiers se reaksie word gebaseer op die teologie, die filosofie asook pastorale ervaring in die praktyk.

Die Britse kerkleiers wys veral op drie kernbesware teen eutanasie:

  • Deur die nuwe beoogde Britse wetgewing oor hulpselfdoding te ondersteun word ʼn fundamentele regskundige en etiese Rubicon oorgesteek. Die beginsel van respek vir die lewe van ander word daardeur in beginsel vaarwel toegeroep. Selfdoding is ʼn verskynsel wat in die eerste plek voorkom behoort te word. Die nuwe konsepwetgewing impliseer ʼn omswaai in vertrekpunt van voorkoming na ʼn subtiele bevordering van selfdoding.
  • Die nuwe konsepwetgewing hou risiko’s in vir groot getalle kwesbare mense in die samelewing. Meer as 500 000 bejaardes in die VK word jaarliks geviktimiseer en uitgebuit en dit is moontlik dat onregverdige en subtiele druk op hierdie kwesbare groepe uitgeoefen kan word om hul lewens vroegtydig te beëindig. Geen logiese teenwigte hiervoor is moontlik nie.
  • Die konsepwetgewing bevorder ʼn sielkundige klimaat vir die ontwikkeling van houdings en ingesteldhede in die samelewing dat die konstruk “lewe” nie meer die moeite werd is om te beskerm, in stand te hou, te koester en voor te veg nie.

Die Amerikaanse Konferensie van Katolieke Biskoppe (Haerens 2016) sluit aan by die vertrekpunt van hul Britse eweknieë en verklaar dat ʼn besorgde (caring) gemeenskap sy mees kwesbare lede eerstens moet beskerm en tweedens lewe as ʼn kosbare geskenk moet respekteer.

Blackford se reaksie op die godsdiensleiers se argumente

Russel Blackford (2016), ʼn dosent in filosofie, Universiteit van Newcastle, se reaksie op die Britse kerkleiers se argumente is soos volg:

  • Rubicon-argument: ’n Goedgereguleerde hulpselfdodingprosedure inisieer in geen opsig ʼn houding van disrespek vir die lewe van ander nie. Moord en manslag kan steeds uitdruklik deur wetgewing verbied word. Geen Rubicon word oorgesteek waar ʼn persoon in ekstreme omstandighede ʼn eie selfstandige wilsbesluit neem om te sterf nie.
  • Kwesbare-groepe-argument: Blackford erken dat die Britse kerkleiers wat hierdie punt betref ʼn sterker argument op die tafel plaas. Sy teenargumente kom op die volgende neer: Daar is ʼn reedsbestaande en goedgevestigde kultuur van mediese sorg wat nie maklik omskep sal word in ʼn nuwe kultuur van die bevordering van hulpselfdoding nie. Hulpselfdoding sal in die konteks van die huidige kultuur van mediese sorg en respek vir die lewe uitsluitlik as ʼn laaste uitweg gebruik word. Nuwe, vernuwende beskermingstrategieë (protective procedures) om die uitoefening van ontoepaslike druk by die rasionele keuse van die dood te voorkom is volgens Blackford ook wel prakties moontlik, soos die inskakeling van professionele sielkundiges in die proses om te voorkom dat die pasiënt se finale besluite deur ongewenste emosionele druk (bv deur gesinslede en niegesinslede) voorafgegaan word.
  • Disrespek-vir-die -lewe-argument: Blackford argumenteer dat die bestaan van ʼn formele statutêre plan om hulpselfdoding te reguleer en te wettig nie noodwendig ʼn houding in die samelewing van ongevoeligheid teenoor selfmoord tot gevolg sal hê nie. Deurdat persone wat in die sogenaamde gedefinieerde kategorie van “desperate lewensituasies” val en vir wie die lewe dus ʼn las eerder as ʼn bate geword het, toegelaat word om hulle lewens te beëindig, is juis ʼn aanduiding van die samelewing se begrip en empatie vir diesulkes se nood en lyding.

Enkele ander argumente

Russel (2016) wys daarop dat die uitoefening van alle keuses inderdaad aan beperkings onderworpe is. Alvorens ʼn spreekwoordelike draadheining afgebreek word, moet eers vooraf gevra word waarom die heining in die eerste plek opgerig is. In die geval van eutanasie is hierdie “heining” of versperring die huidige wetgewing wat vrywillige eutanasie verbied. Die rasionaal vir die verbod is om te voorkom dat gevaarlike presedente geskep word deurdat een persoon (die medikus) teen ʼn ander (die pasiënt) kan diskrimineer op grond van persepsies en houdings oor die relatiewe waarde van die lewe.

Enke, Meyer en Flor (2016) doen navorsing oor neurokognitiewe faktore wat onderliggend aan houdings teenoor eutanasie is. Twintig mediese studente tussen die ouderdomme 20 en 32 is as subjekte betrek. Die gevolgtrekking is dat houdingsvraelyste op sigself nie voldoende en geldige meetinstrumente van die houding tenoor eutanasie is nie. Menslike gedrag word beïnvloed deur kognisies wat outomaties in die brein “afgevuur” (triggered) word, wat ingegraveerde (ingrained) geheue-assosiasies verteenwoordig en wat gevolglik nie deur standaard houdingsvraelyste getakseer kan word nie; addisionele metings soos visueel-motoriese reaksietyd en elektro-enkefalografiese metings behoort derhalwe in sodanige navorsingsontwerpe ingesluit te word ten einde die betroubaarheid en geldigheid van die data te verbeter.

Samevatting en aanbevelings

Hierdie artikel verteenwoordig ʼn bepaalde toevallige “steekproef” van standpunte teenoor eutanasie. Dit is allermins verteenwoordigend en wetenskaplik korrek saamgestel. ʼn Meer volledige oorsig en ontleding van die literatuur sal beslis ook ʼn spektrum ander persoonlike en maatskaplike faktore uitlig.

Daar is beslis grondige besware teen eutanasie vanuit ʼn bio-etiese uitgangspunt (kyk na die argumente van Coligher 2016 en Wijsbek 2016). ‘n Dokter met gewetensbesware wat ‘n eutanasiepasiënt na ‘n kollega verwys vir verdere hantering kan die waardigheid van die sterfproses verder kompliseer.

Sterk stygende tendense in die getal eutanasieversoeke is waarneembaar in lande en deelstate (soos Oregon in die VSA) waar eutanasie kragtens wetgewing toelaatbaar is.

Sommige Britse en Amerikaanse kerklui is sterk gekant teen eutanasie op grond van ʼn spektrum weldeurdagte en logiese argumente. Sekulêre teenargumente toon egter ʼn bykans onversoenbare uitganspunt, met die gevolg dat die teologiese en sekulêre standpunte moeilik versoenbaar is.

Die voorkoms en toepassing van waardigheidsdoding is stadig maar seker besig om wêreldwyd veld te wen. Kanada is die mees onlangse land wat pogings aanwend om konsepwetgewing deur die parlement te voer.

Individuele persoonlike standpunte is altyd waardegedrewe, en volgens Enke ea (2016) is die geldigheid van houdingsvraelyste wat as meetinstrumente gebruik word in houdingstudies in sekere opsigte onbevredigend, wat navorsingsinisiatiewe nog verder bemoeilik.

Dit word aanbeveel dat ʼn interdissiplinêre projekkomitee die aard en relevansie van eutanasie in die Suid-Afrikaanse konteks verder ondersoek teen die agtergrond van die mees onlangse internasionale bewegings op die terrein en aanbevelings in hierdie verband maak.

¹ Die verskillende definisies vir die konstruk waardigheidsdoding of eutanasie kan hier nagegaan word

Bibliografie

Coligher, EC. 2016. Six questions about physician-assisted death by a conscientious objector. National Post, April 14, 2016. http://news.nationalpost.com/full-comment/ewan-c-goligher-six-questions-about-physician-assisted-death-from-a-conscientious-objector (22 April 2016 geraadpleeg).

Enke, M, P Meyer en H Flor. 2016. From memory to attitude: The neurocognitive process beyond euthanasia acceptance. PLoS ONE, 11(4). Aanlyn gepubliseer op 18 April 2016: http://dx.doi.org/10.1371/journal.pone.0153910.

Haerens, M. (red). 2015a. Euthanasia 1st Edition: Opposing viewpoints. Farmington Hills, Michigan: Greenhaven Press. http://emktg.cengage.com/marketing/sample_chapters/2015/9780737772623_table_of_contents.pdf (1 Mei 2016 geraadpleeg).

Haerens, M. 2015b. Euthanasia devalues human life and limits individual freedom. In Haerens (red). 2015a. Oorgedruk van: To live each day with dignity: A statement on physician-assisted suicide. Opposing views in context. (4 Mei 2016 geraadpleeg).

Oregon’s Death with Dignity Act: 2015 Data Summary. Oregon Public Health Division, February 4, 2016. http://public.health.oregon.gov/ProviderPartnerResources/EvaluationResearch/DeathwithDignityAct/Documents/year18.pdf (22 April 2016 geraadpleeg).

Russel, P. 2016. Should people be denied choices at the end of life? Choice, safeguards and a loaded question. Mercatornet. http://www.mercatornet.com/careful/view/should-people-be-denied-choices-at-the-end-of-life/17521 (4 Mei 2016 geraadpleeg).

Schadenberg, A. 2016. Oregon 2015 assisted suicide report – another 26% increase in assisted suicide deaths. Euthanasia Prevention Coalition. February 12. http://alexschadenberg.blogspot.co.za/2016/02/oregon-2015-assisted-suicide-report-26.html (21 April 2016 geraadpleeg).

Welby, J. 2015. Why I believe assisting people to die would dehumanise our society for ever. The Guardian. http://www.theguardian.com/commentisfree/2015/sep/05/assisted-dying-suicide-bill-justin-welby-archbishop-canterbury (24 April 2016 geraadpleeg).

Wijsbek, H. 2016. Assessing unbearable suffering in relation to euthanasia. Nederlands Tijdschrift voor Geneeskunde, D160. PubMed: PMID:27096484. http://www.ncbi.nlm.nih.gov/pubmed/27096484 (6 Mei 2016 geraadpleeg).

The post Opponerende standpunte oor waardigheidsdoding (eutanasie) appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 21138

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>