A cock & bull story: Pieter Toerien en Raminniedam bied die stuk by Theatre on the Bay aan.
Die Brit Richard Zajdlic het A cock & bull story in die tagtigerjare saam met Richard Crowe geskryf. Die toneelstuk is in ’n film, Southside, omskep, met Billy Hayes as regisseur. Quentin Krog, regisseur van die film Ballade vir ’n enkeling en die akteur Geon Nel het die teks aangepas vir ’n Kaapstad-agtergrond en die taal aangepas vir ’n mengsel tussen Afrikaans, Engels en straattaal.
TJ (Dean-John Smith) is ’n jong amateurbokser op die drumpel van ’n deurbraak om professioneel te boks. Jaco (Edwin van der Walt) is sy afrigter, mentor en beste vriend. Hulle droom van Johannesburg, van ’n groot woonstel, geld en roem; ’n ander lewe as die saai bestaan wat hulle in Goodwood voer.
Die stuk open met TJ wat in die kleedkamer by die bokskryt voorberei. Die stel is baie oortuigend ingerig - die sluitkaste met foto’s en uitknipsels op, reusespieëls waarin TJ homself betrag, skoolsaalstoele om die kant gepak, ’n slaansak in die hoek en sy toksak met sy boksklere eenkant, ’n buislig wat die “vertrek” verlig. Dis asof die gehoor deur die venster staan en inkyk in hul lewens, maar ook insig kry in soveel ander se drome wat daar verpletter of bewaarheid is.
Dis die aand van TJ se groot geveg, wat hom en Jaco die geleentheid gaan gee om weg te breek uit hul lewe in die Kaap, waar Jaco kort-kort sy rieme styfloop teen plaaslike skollies.
TJ praat homself moed in, maar gereeld kry sy vrees die oorhand wanneer hy hardop sê hy is bang, dat hy nie die geveg kan wen nie. Sy oë bly soek na die donker hoeke van die vertrek na die deure, vir sy vriend, om hom geestelik te kom help voorberei vir die groot geveg. Hy sê dat hy soos Rocky gaan wees; gaan triomfeer en uitstyg.
Sy T-hemp skree die woorde “Be Fast or Be Last” uit.
Jaco daag uiteindelik op, maar dis duidelik dat sy aandag elders is. Hy is om die beurt krities, aanvallend en dan weer bemoedigend en die tweestryd wat in sy binneste woed, borrel gereeld oor, maar hy is terughoudend met inligting as TJ hom pols oor besonderhede.
Hulle ry soms die golf van euforie as hulle oor hul drome praat, oor hoe TJ sy opponent, Wiseman, gaan vermorsel en hoe die stryd tussen die Kaapstadse woonbuurte, Goodwood en Boston, vanaand vir eens en vir altyd beslis gaan word.
Daar word nie doekies omgedraai in die dialoog nie. Die taal is bar, die geselsies tussen die twee vriende is grootpraterig, chauvinisties en uitdagend. Vir TJ is boks nie net ’n passie nie, dis sy paspoort na ’n beter lewe, weg van ’n arm ouerhuis en grootwordjare. Jaco leef weer in sy pa se skaduwee, ’n plaaslike legende wat bekend is vir sy onderduimse aktiwiteite en straatgevegte.
Van die begin is dit duidelik dat iets Jaco jaag en dat hy wegkruip in die kleedkamer. TJ se opkomende geveg kry egter kort-kort die oorhand en die vriende werk mekaar op vir die geveg; room word ingevryf en verbande omgedraai en so skemer die worstelinge van hul lewe in die Kaap deur. Jaco is deur een van die groot straatskollies in die woonbuurt aangeval en “gaan daarvoor boet”. Die frustrasie en woede is duidelik te bespeur, maar tog is daar vrees in Jaco se stem as hy oor die voorval praat.
Jaco vryf TJ se hande, arms en skouers in en die reuk van Deep Heat vul die teater. Teen die aanbreek van die pouse is TJ genoeg opgewerk om sy opponent te gaan vermorsel en die opgewondenheid van oorwinning wat lok, hang swaar in die lug. “Dis net Wiseman wat tussen jou en Joburg staan,” is Jaco se afskeidswoorde aan sy vriend.
Die triomf van oorwinning oorheers die teater toe ons ná die pouse ons plekke inneem. TJ is buite homself. Hy vertel vir Jaco dat die wen een ding is, maar die manier hoe hy gevoel het, is wat eintlik tel.
Dis tyd vir feesvier: ’n lewe as professionele bokser weg van die armoede en euwels van die Kaap wink vir TJ en dus vir Jaco ook. Buite wag ’n promotor met ’n kontrak.
Maar Jaco kan nie saampraat oor daardie uitklophou nie, want hy het in die kleedkamer weggekruip en nie die geveg gesien nie. Is hy bang die skelms vind hom daar en maak hom dood?
TJ se eer is gekrenk dat sy vriend nie sy oorwinning gesien het nie. Maar stadig maar seker kom die rede vir Jaco se senuweeagtigheid en agterdog na vore. Hul vriendskap word tot die uiterste beproef. Drome lê skielik aan skerwe.
Marthinus Basson se behendige hand as regisseur is duidelik te bespeur: die akteurs is selfversekerd en speel hul rolle oortuigend. Die dele waar die vriende handgemeen raak, is oortuigend en mens krimp ineen vir die onherroeplike skade wat dit aanrig. Die vuishoue wat klap, is net die metafoor vir die seer wat uitgedeel word. Niemand kan jou só diep kwets soos diegene wat jou die beste ken nie.
Die stuk ontgin wedersydse afhanklikheid, seksualiteit en vriendskap wat die lewe so effe draagliker maak - tot dit teen jou draai.
Beide akteurs het BA Drama aan die Universiteit Stellenbosch studeer.
Edwin van der Walt (Ballade vir ’n enkeling, Hollywood in my huis, Die pro, Modder en bloed en My father’s war) het in 2013 sy professionele debuut in die toneelstuk Bos gemaak, wat ook deur Marthinus Basson geregisseer is en daarna in macbeth.slapeloos en Braai. Laasgenoemde was onder die regisseurshand van Lara Bye wat hom ’n Slurpie-nominasie by die KKNK besorg het.
Hy skitter in die stuk as ’n paranoïese grootpater vir wie daar geen grys in die lewe is nie. Dis reg of weg.
Dean John Smith, (2013 Fleur du Cap-wenner vir belowendste student) maak sy debuut in 2009 in Vaselinetjie, voor hy in Hel op Hemel-en-Aarde, Bos en The Zoo Story te sien is, waarvoor hy by die KKNK aangewys word as beste nuweling. Daarna volg WAM, Die dag is bros, wat hom verlede jaar die Fiesta as beste ondersteunende akteur besorg, toe Gangsters en Kristalvlakte.
Hy is op die oog af ’n effe sagter karakter as sy vriend, wat voortdurend goedkeuring en gerusstelling soek. Hy was beslis die regte keuse vir die rol.
Marthinus Basson het sy loopbaan in 1974 by The People’s Space Theatre begin en was onder meer vir etlike jare dramadosent by die Universiteit Stellenbosch en het al reg oor die wêreld as regisseur gewerk. Hy is al 58 keer as regisseur, akteur en ontwerper vir verskeie produksies nomineer en het dié toekenning 38 keer gewen. Hy is in 2015 deur die Fleur du Cap-toekennings vereer vir sy lewenslange bydrae tot teater.
A cock & bull story
Met: Dean-John Smith en Edwin van der Walt
Deur: Richard Zajdlic en Richard Crowe
Regie, ontwerp en fotografie: Marthinus Basson
Beligtingsontwerp en produksiebestuurder: Chris Pienaar
Theatre on the Bay
Tot 28 Mei, Dinsdag tot Saterdag om 20:00 en 28 Mei om 17:00 en 20:00.
Kaartjies deur Computicket of by die teater se kaartjieskantoor, 021 4383301.
Die stuk word in Afrikaans en Engels opgevoer en ’n voorgestelde ouderdomsbeperking van 16 vir taal en naaktheid geld.
The post A cock & bull story handel oor vriendskap tot die uiterste beproef appeared first on LitNet.