Hierdie artikel is deel van LitNet Akademies (Opvoedkunde) se universiteitseminaar. Klik op die “University Seminar 2016”-banier hierbo om alle essays wat deel vorm van die gesprek, te lees.
This article forms part of the ongoing university seminar, with new essays continually being added. Please click on the “University Seminar 2016” banner above to follow the ongoing conversation and to read more essays on education, access, transformation, language and the Constitution.
Persverklaring deur adv JC Heunis SC, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch
In 'n persverklaring wat op Sondag 22 Mei 2016 uitgereik is, sê mnr George Steyn, die voorsitter van die Raad van die Universiteit Stellenbosch (US), dat dit betreurenswaardig is dat 'n paar lede van die Raad die Raad self, die Bestuur en die taalbeleidhersieningsproses in die media verdag maak.
Dié verklaring is voorafgegaan deur 'n berig in Rapport waarvolgens Raadslede hul teleurstelling uitgespreek het nadat die Raad verlede Saterdag 'n mosie wat ek ingedien het, met 'n meerderheid van 13 stemme teenoor 8 verwerp het.
Die mosie lees soos volg:
Dat die Raad hom verbind tot gelyke status aan Afrikaans en Engels en die betekenisvolle ontwikkeling van isiXhosa as 'n akademiese taal en dat die taalbeleid daarop ingestel moet wees om dit in vervulling te laat gaan.
In sy verklaring sê mnr Steyn onder meer dat dit die Raadslede se verantwoordelikheid is om die belange van die US se studente, lektore en professionele en administratiewe ondersteunende personeel te bevorder en nie dié van ander belangegroepe en buite-organisasies nie. Die implikasie is duidelik dat Raadslede wat hul teleurstelling uitgespreek het na aanleiding van die verwerping van die mosie, hierdie verantwoordelikheid nie nakom nie. Dit is louter onsin, veral as in ag geneem word dat in die onlangse verlede transkripsies van die verrigtinge van Raadsvergaderings met reëlmaat openbare dokumente in die konteks van hofsake word, soos wat waarskynlik ook met Saterdag se vergadering sal gebeur.
Op grond van mnr Steyn se eie erkennings, waarna ek hier onder verwys, het die Bestuur op onregmatige wyse op groot skaal afgewyk van die US se taalbeleid. Dít is 'n versuim om die belange van die US te bevorder.
Ek is sedert 3 April vanjaar 'n Raadslid, maar ook die president van die US Konvokasie, 'n instelling wat hopelik nie tel onder die ander belangegroepe en buite-organisasies waarna mnr Steyn verwys nie.
My mosie was nie alleen in ooreenstemming met die Konvokasie se siening oor die US se taalbeleid nie, maar ook in ooreenstemming met die Uitvoerende Komitee van die Konvokasie se kommentaar op die voorgestelde nuwe taalbeleid.
In die breë maak die huidige taalbeleid voorsiening vir Afrikaans en Engels as primêre tale van onderrig met gelyke status.
Die feit dat my mosie nie aanvaar is nie, is onomstootlike bewys daarvan dat Afrikaans in die proses is om hierdie gelyke status te verloor.
Dit het al lankal in die praktyk gebeur, en vir hoe lank, en die skaal waarop dit gebeur, blyk uit erkennings van Bestuurslede in dié verband asook 'n eedsverklaring wat mnr Steyn in die AfriForum- en Adam Tas-studenteverenigings se hofsaak teen die US afgelê het en waarin hy sê:
- Die UK(R) en die Rektor se bestuurspan aanvaar dat tot die mate wat daar van die taalspesifikasies in die 2016 Jaarboek afgewyk word, die US onregmatig optree; en, na die inwin van advies van die US se regsverteenwoordigers …, aanvaar hulle voorts dat resolusie 3 van 20 Februarie 2016 (waarin die Raad die soepele implementering van die taalbeleid probeer wettig het) regtens aanvegbaar is omdat dit in wese op 'n wysiging van die taalplan neerkom en dit nie deur 'n proses voorafgegaan is wat strook met artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997 en met paragraaf 3.6.1 van die ondernemings in paragraaf 7.2.4 hierbo beskryf nie.
(Die ondernemings was onder meer 'n onderneming, op sterkte waarvan AfriForum 'n hofaansoek teruggetrek het, dat die US sal verseker dat alle belanghebbers aan die US, insluitende AfriForum, 'n redelike geleentheid gegee sal word om 'n bydrae te maak tot die taalbeleid- en taalplanhersieningsproses.)
- Ek heg hierby aan 'n dokument wat deur US Bestuur saamgestel is vanaf inligting soos voorsien deur dekane … wat die taalspesifikasies en die mate waarin daar tans van die taalspesifikasies afgewyk word, uiteensit. Die aantal modules waarin daar tans hiervolgens van die taalspesifikasies in die onderskeie fakulteite afgewyk word, is as volg:
- Landbouwetenskappe: 25
- Ekonomie en Bestuurswetenskappe: 31
- Ingenieursfakulteit: 67
- Natuurwetenskappe: 16
- Opvoedkunde: 73
- Regsfakulteit: 49
- Teologie: 7.
Dit het daartoe gelei dat die Kaapse hooggeregshof op 19 Mei 2016 'n tussentydse hofbevel finaal gemaak het waarvolgens die US gelas word om sy taalbeleid uit te voer.
Die ironie hiervan is dat die Raad van die US danksy 'n hofaansoek te wete gekom het dat daar van die US se taalbeleid afgewyk word en danksy daardie hofaansoek te wete gekom het presies wat die omvang van die afwyking is.
In 'n poging om die Bestuur ter wille te wees en die de facto-afwyking van die taalbeleid met wettigheid te beklee, het die Raad vroeër vanjaar besluit dat die taalbeleid met soepelheid geïmplementeer kan word.
Die geldigheid van hierdie besluit, waarvan mnr Steyn erken het dat dit regtens aanvegbaar is omdat dit in wese op 'n wysiging van die taalplan neerkom en nie deur 'n proses voorafgegaan is wat strook met artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys en met die onderneming wat aan AfriForum gegee is nie, is ook deur die AfriForum- en Adam Tas-studenteverenigings in 'n hofsaak aangeval en op 'n Raadsvergadering van 9 Mei 2016 het die Raad dit self tersyde gestel.
Indien dit nie gebeur het nie, sou dit deur die hof tersyde gestel gewees het.
Die jongste konseptaalbeleid, wat deur Bestuur geïnisieer is en nie die Raad nie, is net nog 'n poging om die onwettige afwyking van die taalbeleid te wettig. Dat die Raad nie hierdie poging geïnisieer het nie, blyk onder meer uit die feit dat Saterdag se Raadsvergadering belê is met die uitsluitlike doel om die Raad se uitgangspunte vir die taalbeleid te formuleer op 'n tydstip waar die Bestuur al 'n tweede konseptaalbeleid gefinaliseer het.
Om dié pil te versuiker het die Raad, uit die oogpunt van die belange van Afrikaans as onderrigtaal, 'n niksseggende mosie aanvaar dat die Engelse aanbod verhoog moet word sodat geen ingeskrewe student van die akademiese aanbod uitgesluit sal word nie en dat daar terselfdertyd verseker moet word dat die Afrikaanse aanbod nie verminder word nie. Ook dat Afrikaans as onderrigtaal verder bevorder moet word.
Presies hoe betekenisloos hierdie mosie is, blyk uit die statistiese gegewens wat mnr Steyn self verskaf het, en waarna ek reeds verwys het, met betrekking tot die mate waartoe die status van Afrikaans in die praktyk ondermyn en byvoorbeeld (en daar is baie voorbeelde) die feit dat die Bestuur se advertensie vir die pos van studentedekaan nie Afrikaansvaardigheid as 'n vereiste vir dié belangrike pos stel nie, asook, natuurlik, die feit dat die gelyke-status-mosie verwerp is.
Dit is jammer dat ek genoodsaak is om te sê dat mnr Steyn self grootliks aandadig was aan die verwerping van die gelyke-status-mosie deur sy aktiewe deelname, vanuit die voorsitterstoel, aan die debat daaroor en deur opmerkings soos byvoorbeeld dat indien die mosie aanvaar word, die US sal brand. Dit is insiggewend dat dit presies is wat prof Jonathan Jansen tydens die Senaatsvergadering van die Universiteit van die Vrystaat gesê het toe daar besluit is om by die Raad van daardie universiteit aan te beveel dat Afrikaans se gelyke status as onderrigtaal beëindig moet word.
Oorwegings soos hierdie het klaarblyklik niks te make met die meriete van Afrikaans as onderrigtaal nie. Dat dit nie sal help om aan sulke afdreiging toe te gee nie, blyk uit die feit dat dit hoofsaaklik universiteite waarvan Engels die enigste onderrigtaal is, soos Kaapstad, Wits, Mafikeng en Johannesburg, wat onlangs deurgeloop het en deurloop onder brandstigting en geweldpleging.
Indien die de facto-afwyking van die US se taalbeleid regverdigbaar was as gevolg van die bestaan van 'n noodtoestand (wat ek hoegenaamd nie aanvaar nie, aangesien die afwykings al te lank aan die gang is), ontstaan die vraag waarom die Bestuur nie die Raad, of selfs die Uitvoerende Komitee van die Raad, daaroor ingelig het met 'n versoek dat die Raad dit sanksioneer nie. Die Raad het daarvan kennis geneem eers nadat, in mnr Steyn se woorde, ander belangegroepe en buite-organisasies regstappe teen die US ingestel het.
Die "dan brand die universiteit"-opmerkings waarna ek hier bo verwys het, beteken op die koop toe dat minstens twee belangrike tersiêre instellings hulle nie deur pedagogiese en taaloorwegings in die formulering van hul taalbeleid laat lei nie, maar deur wantroue in die staat se vermoë om die reg en orde in 'n regstaat te handhaaf.
Daar is bekommernis dat dit saamval met die druk wat vanuit die Departement van Hoër Onderwys deur die minister, mnr Blade Nzimande, uitgeoefen word op universiteite wat nog Afrikaans as onderrigtaal het om te "transformeer". Hierdie "transformasie" berus bloot op "demografiese verteenwoordiging", 'n konsep van rasseklassifikasie wat veronderstel is om uiteindelik in 'n formule van 80-9-9-2 in ooreenstemming met die bevolkingsamestelling te eindig.
Kenners het reeds daarop gewys dat die US se konseptaalbeleid 'n taalrangorde met Engels as dominant en Afrikaans as ondergeskik vestig. Dit sal onvermydelik herhaal in 'n statushiërargie met Afrikaanssprekendes en hul kultuur as minderwaardig – kortom, kulturele vooroordeel. Dit voldoen hoegenaamd nie aan die mees basiese vereistes van gelykberegtiging in kollektiewe eiewaarde tussen verskillende taalgemeenskappe nie.
Daar is ernstige vrae wat na vore kom na aanleiding van mnr Steyn se "dan brand die universiteit"-opmerking. Soos:
- Oor watter inligting beskik hy, waarmee die Raad nie te vertrou is nie, dat die US sal brand?
- Waar kom hierdie dreigement vandaan?
- Is dit 'n reële dreigement?
- Hoekom word dit nie as 'n veiligheidsprobleem behandel nie, maar as 'n taalargument?
Geen universiteit kan in reaksie op afdreiging en uit vrees vir geweld belangrike besluite neem oor byvoorbeeld die inhoud van sy taalbeleid nie, en sulke oorwegings behoort hoegenaamd nie die besluitnemingsproses te bepaal of beïnvloed nie. Dit is eerder 'n rede om die taalbeleidmakende proses op te skort sodat daar aandag aan die veiligheidsprobleme gegee kan word en sodat, wanneer dit gebeur het, die taalbeleidhersieningsproses voortgesit kan word met inagneming van argumente wat onderliggend aan so 'n proses behoort te wees.
As 'n mens in ag neem dat taal die blywendste en duidelikste kenmerk van 'n taalgemeenskap is (allermins kleur – dit was een van die apartheidsregime se foute), dan is die werklikheid van die implikasies van die verengelsing van al Suid-Afrika se universiteite dat dit gevolg word deur Afrikaanse skole, die Afrikaanse media, koerantwese en uitgewers, om maar 'n paar te noem.
Hoe eerloos die proses is wat hom aan die US afspeel, blyk ook uit die feit dat die universiteit vir dekades die voordeel geniet het van 'n enorme skenking van Jan Marais van £100 000 op voorwaarde dat Afrikaans "geen mindere plaats" aan die US sal beklee nie.
The post Persverklaring deur Jan Heunis, president van die Konvokasie van die Universiteit Stellenbosch appeared first on LitNet.