Titel: Losprys in Parys
Skrywer: Nerine Ahlers
ISBN 9780639604077
Uitgewer: LAPA
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Dienkie is ’n tipiese 17-jarige. Een oomblik is sy op die kruin van die golf van verliefdheid, en die volgende oomblik in die diep dal van twyfel.
Boonop is beide haar ouers advokate wat aan ’n belangrike saak werk, en vrees hulle vir haar lewe nadat ’n grypdief haar die skrik op die lyf gejaag het.
Dienkie word na haar vriendin in Parys gestuur vir haar eie veiligheid, waar sy die onweerstaanbare Sergio ontmoet. Daar wag egter verskeie ander spannende avonture op die jong heldin![1]
Inleiding
Met die oog op deursigtigheid wil ek meld wat my fokus is – deur watter lense ek jeugboeke lees, ontleed en bespreek – en dat ek in hierdie dokument, soos met my vorige jeugverhaalbesprekings, my persoonlike en professionele indrukke as lesergerigte en ingeligte[2] kritiese leser bied. Gesien in die lig daarvan dat ek vir baie jare onderwysstudente wat gekies het om Afrikaans as vak te onderrig, opgelei het om voorbeelde van jeugletterkunde krities te kies en kreatief te onderrig, het ek toenemend die behoefte gehad om kriteria vir die onderrig van jeugletterkunde saam te stel. Mettertyd het ek ook ’n aanlynleesjoernaal ontwerp waaraan hierdie onderwysstudente interaktief kon deelneem in terme van die responsbenadering (resepsie-estetika)[3] tot die onderrig van letterkunde. Die genoemde kriteria het in die proses ontwikkel om elemente wat die bedoelde leser, die teks en die skrywer as deel van die letterkundige kommunikasieproses behels, aan te spreek. Dit is die kernfokus van hierdie skrywe.
Die responsbenadering is ’n tweerigtingkommunikasieproses waarin die leser herskeppend reageer op die skrywer se fiktiewe skepping van ’n jeugverhaal. Met teksproduksie word bedoel die daarstelling van ’n geskrewe teks, en teksresepsie behels die proses van teksrealisering deur die leser. Dit is in die bespreking van jeugverhale ewe belangrik om te besluit wat die belangrikste elemente in die literêre kommunikasieproses is en wat die funksies van jeugletterkunde is.
Ek motiveer graag wat die redes vir my ontleding en bespreking is wanneer ek ’n narratiewe interpretasie[4] maak. In hierdie dokument beweeg ek van spesifieke interne teks- en literêre stylmiddele wat die betrokke jeugverhaal se genetwerkte wêreld ondersteun en ek integreer algemene kriteria wat te make het met die eksterne waarde van jeugletterkunde as subgenre van literêre tekste. Hierdie skrywe het die potensiaal om onderwysers te bemagtig en inligting aan bibliotekarisse te verskaf – uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer en eindnotas te verskaf met inligting aangaande verwysingsbronne wat my uitgangspunte verhelder.
Waar daar in die verlede veral gekonsentreer is op strukturele teksstudie, blyk dit uit Rita Ghesquiere[5] – ’n erkende kundige aangaande spesifiek jeugliteratuur – se bespreking van die funksies van jeugliteratuur dat die ervaring van die leser tydens die leesproses baie belangrik is. Daarom ag ek hierdie nuwe paradigma nodig, waardeur die leser ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en die skrywer ’n aktiewe aandeel daaraan het, terwyl die literêre vorming en ontwikkeling van kommunikasievaardighede nie nagelaat behoort te word nie.
Ghesquiere (1993) se mening dat die funksies van jeugletterkunde dit onderskei van die gewone roman, sluit aan by die opinie van ’n vroeë kenner (en bekroonde skrywer) van Afrikaanse jeugletterkunde, wyle Elsabe Steenberg,[6] dat jeugverhale novelles is en oorgangsliteratuur genoem word omdat die jeugdige steeds vooruit reik na volwassenheid in die proses van haar[7] groei uit selfgenoegsaamheid en dat dit in hierdie subgenre weerspieël word.
Omdat die verhaal slim geskryf is, wil ek erkenning aan die skrywer gee deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.
Skrywer
Nerine Ahlers en haar man woon in Pretoria. Hulle reis graag, en Frankryk is ’n geliefkoosde bestemming. Sy is mal oor stories en mense, veral kinders – ook maar goed, aangesien sy ’n Frans-onderwyseres is. Humor is ’n belangrike deel van haar lewe en sy deel dit ook met die res van haar familie.
Sy skryf graag vir kinders en tieners. Die Rietrotte-reeks en Onkant het uit haar pen verskyn. Sy is ook medeskrywer van Liefde is …, Ek en jy en die SSS-reeks.
Liefde is … en Selfone, skelms en sjokolade (van die SSS-reeks) het albei ATKV-Kinderboektoekennings ontvang.[8]
Losprys in Parys was op die kortlys vir LAPA se jeugromanwedstryd van 2019.
Lesergerigtheid
Losprys in Parys is beslis toepaslik vir die teikengroep van adolessente meisies naby aan die einde van hulle skoolloopbaan. Die hoofkarakter (Dienkie/Amandine) is 17 jaar oud, skryf haar graad 11-eksamen, en haar vriende Christelle en Lea is waarskynlik dieselfde ouderdom. Sergio van Parys is dalk effens ouer en Eddie is 3 jaar ouer. Dienkie het vir Eddie by die Peter’s Place-gimnasium ontmoet. Hy het haar voete onder haar uitgeslaan, hy lyk soos Tristan Evans (sanger en tromspeler van die Britse popgroep The Vamps) en hulle drink iets by Stars oorkant die gym.
Dienkie word – nadat ’n man haar handsak wou steel – gedwing om na haar vriendin Lea in Parys, Frankryk te gaan, waar sy ’n hele nuwe lewe op ’n holderstebolder-tuimeltrein in ’n onbekende wêreld tegemoet gaan. Hiermee sal menige adolessente meisie kan assosieer, want wie wil nie soontoe gaan en soveel avonture in die “stad van die liefde” en ’n sjarmante Fransman wat in haar belangstel, leer ken nie.
Die adolessente leser sal kan identifiseer met Dienkie, Sergio en hulle verhouding en uitlewing van musiek en sang. Hiervan is al die populêre liedjies wat genoem word – Carla Bruni en In-Grid se liedjies, “Someone like you" van Adele, “A thousand miles” van Vanessa Carlton, “What I like about you” van die popgroep 5 Seconds of Summer, en ook die film The prisoner of Zenda – deel van hedendaagse adolessente se verwysingsraamwerk.
Literêre-teks-gehalte
Tolkien[9] onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en die gegewe realiteit wat hy die primêre wêreld noem. Burger (2018:46) noem dit ’n kammawêreld in ’n literêre werk. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en die leser in Losprys in Parys dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie – hier kan verwys word na die uitbeelding van Pretoria en so ook Parys, Frankryk.
Styl, genre en register
Losprys in Parys is ’n tipiese jeugletterkundige werk wat ’n subgenre van literêre fiksie is. Die skrywer se styl in Losprys in Parys is tipies van romantiese fiksie waaronder chicklit as genre ressorteer[10], waar romantiese liefde (en ook misdaad) die hooftemas is. Die skrywer van Losprys in Parys se naam kan in dieselfde asem genoem word as menige vroueskrywers soos Chanette Paul, Wilna Adriaanse en Kristel Loots. Hierdie jeugnovelle kan netjies op dieselfde rak staan as die Romanza-boeke in Afrikaanse ligte liefdesverhale van die laaste paar dekades. Chicklit val dus onder die romantiese romangenre (hier ’n novelle), maar het sigself die afgelope paar dekades verhef om op eie bene te staan. Meestal het hierdie boeke die nodige humor en dit help die leser om die konflik in haar situasie(s) te relativeer. In Losprys in Parys is dit veral Dienkie se moeite om met Sergio te kommunikeer terwyl sy nog dink hy is nie Engels magtig nie wat humoristies is. As die leser iets van Frans verstaan, is die betekenis van die plek waar die jongmense in Parys bymekaarkom (Le Ver Vert) in Afrikaans “Die groen wurm” (vgl Google Translate) – ook humoristies, hoewel ek nie hierdie plek op Google kon opspoor nie. Die karikatuuragtige byname wat vir randkarakters gegee word, dra by tot die humor. Dienkie noem die chauffeur van Arnaud Artaud “Aardbolkop” (72), Christelle noem vir Eddie “Rot” (42), en Dienkie dink terug aan haar skoolhoof in SA as “Ou Perd” (46). Ook Dienkie se waarneming dat meneer Artaud se oë haar “aan een van daardie hangoorhonde … [laat dink] … sulke slap ooglede wat saam met die donker sakke onder sy oë soos lang ovale lyk” (97), is ’n lagwekkende prentjie.
Vroue- of romantiese fiksie is fiksie wat spesifiek vir vroulike lesers geskryf, gepubliseer en bemark word. Natuurlik kan mans dit ook lees, maar die aanname is dat die teikenlesers oorwegend vroulik is. Dit het definitiewe romantiese temas met ’n manlike en vroulike karakter wat mekaar heel vroeg in die verhaal leer ken, soos wat dit gebeur met Dienkie en Eddie en later Dienkie en Sergio in Losprys in Parys.
Verder word chicklit gekenmerk daardeur dat die verhaal in die eerste persoon vertel word, wat gewoonlik probleme soos liefde, huisvesting, soms misdaad en die aanwesigheid van ’n ondersteunende vriendegroep insluit. Losprys in Parys voldoen aan al bogenoemde kenmerke, waar die verhaal handel oor Dienkie, haar gevoelens, verhoudings, ervarings, konflikte en probleme.
Alhoewel chicklit nie gewoonlik in tienertaal geskryf word nie – waarskynlik omdat dit meestal oor volwasse vrouens handel – is die register in Losprys in Parys kenmerkend van tienerverhale waar die dialoog van verskillende karakters uitbeeld wat die sosiolek van hulle spesifieke sosiomaatskaplike agtergrond – hier spesifiek tienersleng[11] – is.
Intrige en spanning
In chicklit is die intrige meestal vroulike hoofkarakter se begeerte en soeke na ’n bevredigende romantiese verhouding, waar dit eintlik gaan oor die angs wat sy (Dienkie) oor ’n vorige verhouding ervaar (hier die agterbaksheid van Eddie) en die gevolglike onsekerheid in ’n nuwe verhouding (met Sergio). Losprys in Parys bevat verskeie intriges soos wat dit in verhoudings tussen karakters van en die misdaad in Suid-Afrika en Parys manifesteer. Die hoofintriges is, volgens my, Dienkie se verhouding met haar mansvriende (waar Dienkie die waarheid moet agterkom in verband met Eddie) en met haar ma. Ook moet sy oorlewings- en geregtigheidsbesluite neem terwyl sy in baie moeilike omstandighede in die ou kasteel in Parys is, ’n misdaad aanskou en fotografeer, agtervolg word en later toegesluit word in ’n keldersel in die kasteel, en in ’n huisboot op die Seine-rivier is.
Die gewone Griekse dramatiese struktuur word gevolg, waar die eksposisie of kennismaking gebeur soos wat ons Dienkie in haar gesin en tussen haar vriende leer ken. Die leser maak veral kennis met die protagonis (Dienkie) wie se antagonis eintlik eerstens die grypdief is, dan Eddie, en later mnr Arnaud Artaud en sy chauffeur. Dit lei tot die basiese konflik van die verhaal wat geïntensiveer word deur die feit dat beide te make het met misdaad in Suid-Afrika en Parys. Hierdie ontdekking veroorsaak dat Dienkie aanvanklik nie meer haar eie oordeel kan vertrou nie (omdat sy teen haar beterwete haar foonnommer vir Eddie gegee het), maar dat sy ook toenemend haar intuïsie volg en die waarheid nastreef wat lei tot geregtigheid. Dit lei tot die ontdekking van haar eie identiteit.
Daarna is daar aanhoudend stygende handeling/gebeure waar sekondêre konflikte bekend gemaak word, sowel as al die struikelblokke wat in Dienkie se pad staan – eerstens wanneer iemand Dienkie se handsak wil steel en haar ouers dan besluit dat sy dadelik vir ’n onbeplande tyd (totdat hulle as advokate ’n misdaadsaak opgelos het) Parys toe moet gaan om by haar vriendin Lea en haar ouers te bly; ook die moord in Parys en dat die polisie haar nie wil glo nie, totdat haar foto’s uiteindelik die waarheid bewys. Die hewigste emosionele konflik vind plaas tussen Dienkie en haar ma.
Uiteindelik meen ek dat daar beide emosionele en fisiese klimakse in Losprys in Parys is. Die emosionele klimakse is telkens wanneer Dienkie se intense gevoelsbelewenisse beskryf word – hierdie element word myns insiens nogal melodramaties en oordrewe uitgebeeld, maar tog verstaanbaar in die lig van omstandighede, en dalk pas dit in by chicklit. Die fisiese klimakse vind plaas wanneer Dienkie opgesluit is in ’n sel in die kasteel en deur Sergio bevry word, dan later vasgevang is in ’n huisboot en self agterkom hoe sy daaruit kan ontsnap. Hierdie voorvalle veroorsaak nogal baie spanning en die verhaalmoment in die huisboot is tegelyk ook die krisis waar daar ’n keerpunt kom – haar ma en pa se saak is afgehandel en haar ma raak betrokke by die oplossing van die problematiese situasie waarin Dienkie beland het. Dit lei tot ’n herstel van die (vroeër innige, maar versteurde) verhouding met haar ma.
Daarna is daar die dalende gebeure, die fase waarin die konflik opgelos word en uiteindelik eindig die verhaal oop, wat ’n uitnodiging vir die leser is om met haar verbeelding in te vul wat verder tussen Dienkie en Sergio sou kon gebeur.
Karakterbeelding
Die psigologies-emosionele funksie (as eksterne kriterium vir die waardering van jeugliteratuur) hou verband met die identifikasieproses waardeur die leser insig verwerf in haar eie gevoels- en ervaringswêreld. In Losprys in Parys word dit veral uitgebeeld in die hoofkarakter deur wie se oë en ervarings die leser ’n groter gevoeligheid vir onderlinge verskille tussen mense (verskillende geslagte, ouderdomme, en Suid-Afrikaanse en Franse kulture) ontwikkel. In Losprys in Parys leer Dienkie om haar eie gedrag en die gevolge daarvan te interpreteer en dít lei daartoe dat sy minder veroordelend teenoor ander (bv haar ma en haarself) kan staan.
Jeugliteratuur bied (gewoonlik) vir die tienerleser kompensasie vir die gebreke en onvolkomenheid van die werklikheid waarin sy leef; sy kry kans om daarvan te ontsnap en haar wense te laat vervul. In hierdie opsig is Losprys in Parys bevredigend, omdat Dienkie se posisie en wedervaringe die leser help om te identifiseer deur die tekortkominge in haar ouers en vriende te aanvaar en die beste te bied wat sy as karakter kan bied.
Verder is jeugliteratuur vir die leser ’n middel waarmee sy haarself kan handhaaf en haar eensaamheid en verveling kan verminder. Om te lees help om haar spanningsvlakke te reguleer, want deur die proses van lees kry sy onbewustelik insig in en afstand van haar eie probleme. Omdat lees hoofsaaklik vir die leser ontspanning bied, is sy nie daarvan bewus dat sy intellektueel ontwikkel, emosioneel groei (omdat sy saam kan lag en huil) en kreatief skeppend besig is nie. Ook hierin slaag Losprys in Parys uitstekend, want hierdie leser kon nie die boek neersit nie as gevolg van die hoë spanning en interessante intriges rondom vriendskappe en verhoudings, asook hulle betrokkenheid by misdaad.
Losprys in Parys bevat ’n oorvloed uiteenlopende karakters van verskillende temperamente, agtergronde en geslagte (mbt ouderdom en seksualiteit). Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld en alhoewel daar duidelike hoofkarakters en newekarakters is, is daar nie oorheersende stereotipes nie – behalwe dalk wel die uitbeelding van die eksentrieke Tannie Monique (9) en die randkarakters wat karikatuuragtige byname het. Die leser word voorgestel aan die ouers van Dienkie wat in Pretoria woon – haar pa en haar ma wat ’n advokatespan is en aan ’n internasionale misdaadsaak werk waarby Rusland betrokke is (Dieter Dvatvir se naam verskyn in koerant, aangekla vir moord en misdaad) en ’n lyfwag wil aanstel om vir Dienkie te beskerm. Almal is dus redelik welgesteld – Dienkie se ma het selfs ’n sekretaresse, Anke. Dit is moontlik om Lea se gesin te sien as bruin/swart Afrikaanssprekendes, omdat hulle van Hadebe is (52), en Lea donkerbruin oë en dieselfde bos swart krullerige hare as haar ma, tannie Bina (40), het. Dienkie se vriendinne by die skool is Christelle en Thandi – laasgenoemde dui waarskynlik ook daarop Thandi waarskynlik ’n bruin/swart Afrikaanssprekende meisie is.
Soos wat die gebruik by chicklit is, is die protagonis (Dienkie) ’n moderne, stedelike graad 11-meisie wat vasgevang is in haar omstandighede – sy raak verlief op Eddie omdat sy vir hom kan vertel wat sy voel, wat met haar gebeur en wat sy dink. Later is hierdie innigheid vir haar erg omdat sy ’n foto sien waar hy ’n ander meisie (Sandy) heftig soen by ’n partytjie. Omdat sy by haar kamervenster uitklim, nie haar ouers se raad volg nie en op haar eie na die partytjie toe gaan, beland sy in die moeilikheid en die leser volg haar ervarings wat rol van die een na die ander (dikwels gevaarlike) situasie, haar gevoelens en gedagtes.
Die ander karakters in die verhaal is byspelers wat nie fokaliseer nie. As leser kry ’n mens tog heelwat insig in Lea se gedagtes, en later ook Sergio se gedagtes oor haar en sy gevoelens vir haar. Die leser raak egter nie té betrokke by die randkarakters nie, sodat die (bedoelde vroulike) leser nie weggetrek word van die verhouding tussen die manlike en vroulike hoofkarakters nie.
Die transformasie van die skrywer se fantasieë tot storielyn, simbool en karakters kan verskil van die leser se aktiwiteit wat haar eie fantasieë laat aansluit by wat in die teks voorkom. Gesien in die lig daarvan dat Losprys in Parys se hoofkarakter Dienkie en haar vriende (en dus die bedoelde lesers) in die adolessente fase van ontwikkeling is, is dit gepas om te let op die volgende kenmerke van hierdie lewensfase en in watter mate veral die hoofkarakter hieraan voldoen:
- Adolessente is gewoonlik in ’n aktiewe introversie-fase, wat lei tot die ontdekking van die ek, met haar wêreld van gedagtes, gevoelens, stemminge, drange, strewes en begeertes. Dit word in Losprys in Parys deur Dienkie se perspektief uitgebeeld en dit lei tot die ontdekking van haar (en die leser) se unieke individualiteit.
- Omdat die jeugdige gedurig met haarself besig is, is sy geneig tot selfkritiek, veral bewustheid van haar eie uiterlike voorkoms. Dit manifesteer in Losprys in Parys in Dienkie se siening van haarself wanneer sy in die spieël kyk: “Daar is niks aan my wat uitstaan nie. Lang, donker hare wat heeltemal te veel body het en wat ek nou sommer met ’n toutjie bymekaar hou ... Ek is regtig niks spesiaals nie, nie interessant nie, nie mooi genoeg vir plakkate en mejuffrou Valentyn nie. Ek is plain, straight forward, what you see is what you get ... Ek is doodgewoon” (51). Tog bemoedig Lea se woorde haar onverwags: “Wat het geword van daredevil-Dienkie?” (45), wanneer sy nie kans sien om weer ouens te ontmoet na haar slegte ervaring met Eddie nie.
- Die jongmens is baie bewus van tyd, naamlik verlede en toekoms, die verganklikheid van die lewe en die betekenis van die dood. Dit hang saam met die ontwikkeling van haar waardesisteem. Daar is dikwels van "jeugdige optimisme" sprake wat verbeeld word in Dienkie se buitengewoon positiewe siening van en verliefdheid op Eddie, wat gebalanseer word deur haar konfrontasie met die donker kant van sy misbruik van haar en dat hy in haar oë nou “Eddie, die two-timer, die tweegatjakkals” is (51). Later word sy rol in die misdaadsaak waaraan haar ma en pa gewerk het, bekendgemaak.
Hierdie proses van vergeesteliking word sterk beïnvloed deur die waardes van mense in haar omgewing, byvoorbeeld haar ouers, Ouma Dien (“was spesiaal, een van daardie mense wat net haarself kon wees ... wonderlikste humorsin ...”, wat by Dienkie ’n liefde vir Frankryk en Frans geskep het (56)), en vriende (Lea en Sergio wat haar raad gee wanneer sy in ’n krisis verkeer). Dienkie voel hartseer wanneer sy besef dat sy iets tussen haar en haar ma gebreek het. Nadat al die gevaarlike dinge gebeur het en haar ma in die tyd wat verloop het met haar invloed hulp gebied het, word hierdie verhouding herstel – “Ons twee is weer reg, waar ons laas was voordat ek so simpel was. Ons twee is oukei” (146).
- Kenmerkend van die jeugdige is die uitdaging om saam te leef met haar ontwikkelende geslagsdrang wat ook bydra tot die ontwikkeling van haar persoonlikheid, geestelike kragte en funksies. Nie net is Dienkie redelik bewus van die ontwikkeling van haar eie seksualiteit nie, maar ook van die seksualiteit van die teenoorgestelde geslag, waar spesifiek die twee mans (Eddie en Sergio) vir haar aantreklik is, en dat dit goed voel om deur hulle bewonder te word, of hulle aandag te kry – dit balanseer die besorgdheid oor haar eie fisiese voorkoms.
- In hierdie lewensfase worstel die jeugdige met ’n strewe na selfuiting, wat gestalte vind in skoolwerk, kuns, tegnologie, stokperdjies en belangstellings. Dit kan ook uitgebeeld word in die vorm van kunsuitings, waar die karakter se selfvorming en geestelike of kulturele ontwikkeling plaasvind. In Losprys in Parys ondervind Dienkie ’n aantrekkingskrag tot die geskiedkundige ou kastele, ook ’n sterk waarheidsdrang, veral ten opsigte van haar idee om die gebeure in die kasteel te fotografeer, en haar wil om die probleme waarmee sy gekonfronteer word op te los, waardeur sy gestalte gee aan die waardes wat sy ontwikkel. Dienkie geniet dit intens om saam met Sergio die liedjie “Someone like you” van Adele te sing en Lea merk opdat Dienkie steeds sing “soos ’n droom” (64).
- ’n Ander kenmerk van die jeugfase is die tiener se rebelsheid. Sy word nie meer opgevoed deur woorde alleen nie, maar sy is in opstand teen die mense in haar omgewing se voorbeeld – veral haar ma se rigiditeit irriteer vir Dienkie: “Dis nou maar een ding van my ma, as sy iets besluit het, staan dit vas, in sement gegiet. Onversetlik is haar tweede naam” (20). Maniere waarop Dienkie haar verset in Losprys in Parys toon, is haar eie wil en optrede om by haar venster uit te klim en die partytjie by Amoré by te woon, en ook die teensin om haar ouers te vertel van Eddie. Nog ’n manifestasie hiervan is haar opstandigheid teenoor die gesag wat die polisie het en die feit dat hulle haar nie wil glo nie. In Losprys in Parys word hierdie kenmerk uitgebeeld deur Dienkie se wete dat sy vir die polisie móét vertel wat in die kasteel gebeur het. Hier verloor sy effens haar vertroue in die polisiestelsel in Parys – iets wat wel later gebalanseer word deur die daadwerklike optrede nadat haar ma tussenbeide getree het. Verder kan die gebruik van tienersleng dalk gesien word as ’n subtiele vorm van die hoofkarakter en haar vriende se rebelsheid.
- In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte na geesgenote, veral na iemand wat in jou belangstel, met wie jy jou gevoelens, gedagtes en ervarings kan deel, en wat jy kan liefhê. Verhoudings met dieselfde en die teenoorgestelde geslag in Losprys in Parys word dus ook uitgebeeld in terme van sulke vriendskappe wat nie noodwendig seksueel van aard is nie. Omdat hierdie verlange dikwels idealisties is, word jongmense soms ontnugter (teleurgestel) in hulle vriendskappe. Dit gebeur met Dienkie wanneer sy nie Eddie se vals optrede kan verstaan nie. Hierdie obsessie met hom word uitgewis deur die ontmoeting met Sergio, die ervaring van gevaarlike situasies saam met hom, hulle gesamentlike liefde vir musiek en sang, sy respek vir haar en sy ridderlike optrede teenoor haar.
Agtergrond/milieu (tyd en ruimte)
Ruimte is binne die skryfkuns een van die sogenaamde skeppingselemente wat tot die kreatiewe skrywer se beskikking is – dit gaan in ’n jeugverhaal om die "vertel" van die lewenstorie, die transformasie van die gegewens van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van die roman is dan per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan.
Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte. Plekke en objekte bestaan in Losprys in Parys nie ter wille van hulleself nie, maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speelruimtes of belangeruimtes eerder as blote lokaliteit. Onder epiese ruimte kan ons praat van die fiktiewe plekke in Losprys in Parys waarbinne die handelinge van die karakters op bepaalde tye gebeur. Dit moet onderskei word van die werklike ruimte (Pretoria en Parys) waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Figs & Friends of Stars Tonight in Pretoria en Le Ver Vert in Parys, ook waarvoor die afkorting FLC staan (in verband met die antagonis Arnaud Artaud), kon ek nie op Google en Google Maps vind nie. Ek kon wel op genoemde soekenjins opvoedkundige inrigtings in Parys vind wat Lycée Voltaire en Lycée Victor Hugo genoem word. Daar is wel ook duidelike aanwysings na die bekende Seine-rivier, die Charles de Gaulle-lughawe en Eiffeltoring in Parys – dit beteken dus dat ons hier epiese en werklike ruimtes het.
Die skrywer van Losprys in Parys het dus ’n narratiewe ruimte[12] geskep wat fisiese ruimte, denkruimte en sosiale ruimte letterkundig uitbeeld. Verder gee die skrywer aan intieme ruimtes betekenis wat identifikasie as abstrakte ruimte aan iets soos geboue (Dienkie en Lea se woonplekke, Peter’s Place-gym, die kasteel in Parys), vervoermiddels (Uber, Nixi-Taxis en ’n huisboot), ’n bekende modetydskrif (Cosmopolitan) as konkrete ruimte koppel. Tegnologiese toepassings soos WhatsApp, Snapchat, e-pos en SMS vorm deel van ’n sosiale ruimte wat die spanning tussen individue en die gemeenskap (ook die polisie en koerantwese in Parys) belig. Laasgenoemde verwys spesifiek na die spanning in verband met Dienkie se ervarings in Parys. Verder is daar in hierdie verhaal oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word. Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap – soos wat Dienkie in die kasteelsel en die kajuit van die huisboot ervaar. Dit beperk fisiese, psigiese, politieke of sosiale beweegruimte. Die ruimte van Losprys in Parys is dus ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan.
Narratief en intertekstualiteit
Onderskeid kan gemaak word tussen die narratief in die roman as letterkundige teks en die novelle. Soos in die inleiding gemeld, meen ek dat Losprys in Parys dalk eerder as ’n jeugnovelle gesien kan word omdat die trant, intrige en karakterbeelding ligter is as dié van die roman (soos wat bespreek is aangaande chicklit).
Die fundamentele en belangwekkendste gegewe in die moderne novelle is dat dit ’n element van konflik in ’n ongewone of opspraakwekkende situasie uitbeeld.[13] In Losprys in Parys word hierdie kenmerk uitgebeeld deur Dienkie se ervarings in Parys, waar sy uitgelewer is aan ’n misdaadsindikaat en op haar eie kreatiwiteit aangewese is om haarself uit die kajuit van die huisboot te kry. Nuuswaardige insidente en aspekte (misdaad en koerantberigte in Losprys in Parys) vorm die basiese bestanddele van hierdie jeugnovelle. Myns insiens kan Losprys in Parys dus wel gesien word as ’n jeugnovelle (eerder as ’n jeugroman) in die vorm wat dit tans is, sonder die formele hoedanighede van die roman se narratief – juis as gevolg daarvan dat dit gekenmerk word deur ’n (relatief) objektiewe vorm van voorstelling (plekke en verwysings na hedendaagse musiek) en konsentrasie op ’n enkele gebeurtenis. Alhoewel daar verskeie gebeure is, lei alles tot Dienkie se besoek aan Parys.
Terwyl die narratief in die novelle ’n streng epiese vloei van begin tot einde het, het die skrywer van Losprys in Parys verkies om – soos reeds genoem – die sentrale konflik op ’n Grieks-dramatiese wyse aan te bied. Die verhaal begin met die begin en loop na die einde, terwyl daar wel enkele terugflitse (na Ouma Dien en Dienkie se herinneringe aan haar tye saam met Eddie) is; die sintaksis en dialoog (sowel as die interne gedagtegang van Dienkie) word benut om die konflik te beklemtoon. Ten slotte is die uiteindelike epiese doelstelling van die skrywer van hierdie jeugteks dié van versoening, waarin die konflik opgelos word (wat wel gebeur wanneer Dienkie en haar ma bydra tot die opsporing en blootlegging van misdaad). Die beweging tussen die begin, die einde en sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee word die hoofhandeling in die rigting van die moment van rus en vrede gestuur. Die feit dat Losprys in Parys se einde oop is, verhoog die leser se spanning en ontwikkel haar verbeelding.
Daar is twee subtekste – wat gewoonlik gevind word aan die begin van die verhaal of hoofstukke – in Losprys in Parys. Daar is ’n lys van die persone aan wie die verhaal opgedra is (aan die begin) en inligting in verband met die skrywer (aan die einde). Ek kon wel deeglik metatekste raaksien wat as intertekste dien vir Losprys in Parys. Deur die gebruik van kulturele aktiwiteite en media (koerantartikels en -opskrifte, populêre liedjies, TV-reekse) word bestaande strukture, sosiale media en samelewingsverbande gesuggereer, wat die fiktiewe wêreld deur die gepaardgaande intertekstuele verwysings vergroot en konkretiseer.
As parateks[14] kan daar gekyk word na die omslag van die teks waar die illustreerder (Zinelda McDonald) die leser na die inhoud van die jeugnovelle uitnooi met skakerings van pienk, die Eiffeltoring, wit wolke, veelkleurige ballonne, ’n enkele meisie en ’n swerm voëls – iets wat ook aan die begin van elke hoofstuk voorkom. Die simboliek van laasgenoemde het nogal my analitiese denke uitgedaag, totdat ek besluit het dit gaan waarskynlik oor Dienkie se vryheid ...
Verteller en dialoog
’n Onderskeid kan getref word tussen narratiewe stem en fokalisering. Daarvolgens kan daar in letterkundige jeugtekste nagegaan word in watter mate ’n interne ek-vertelling of ’n eksterne derdepersoonsverteller (abstrakte/implisiete outeur) geïdentifiseer kan word wat nie deelneem aan die storie nie, wat intieme kennis van die karakters se innerlike gevoelens en gedagtes het en teenwoordig is wanneer die karakters veronderstel is om alleen te wees. In Losprys in Parys is eersgenoemde waar – daar is ’n interne ek-verteller. Die leser maak deur middel van Dienkie se innerlike monoloog[15] kennis met die sekondêre (kamma-) werklikheid en sien almal en alles wat in die verhaal gebeur vanuit haar perspektief. Daar ’n element van interne karaktergebonde fokalisasie wanneer die fokalisering wissel van Dienkie na die ander karakters en wanneer hulle dialoog wys wat hulle dink, voel en ervaar – dit gee die leser ’n goeie beeld van die oorsake (en oplossing) van die konflik tussen die verskillende karakters.
Wanneer die fasette van fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word (spesifiek wanneer Dienkie die sagte reën in Parys geniet en verlang na haar dierbare – en nou reeds oorlede – Ouma Dien). Dit gebeur ook wanneer sy in die kasteelsel en huisboot ingekluister is en haar omgewing waarneem en soek vir iets waarmee sy ’n opening kan maak om te ontsnap. Ruimtelike fokalisering versterk die fokalisering van die gemoedstoestand of situasie van Dienkie, terwyl die ruimte dien as beklemtoning van haar verwarring en konflik oor watter waardes sy in haarself kan integreer om sodoende haar identiteit te bevestig. Die beskrywing van die verskillende warm drankies wat die vriende drink, wat hulle eet, en Dienkie, Lea en Sergio se besoek aan die outydse kasteel en die kleure, teksture en geure wat hulle daar aantref, is tipies van die ruimtelike fokalisering.
Wat die psigologiese faset van fokalisering betref, word die karakters se gedagtes en emosies deur Dienkie gefokaliseer. Dit sluit in haar kennis (bewussyn dat sy ’n fout gemaak het, wete dat sy die moord gesien het en besef dat sy self uit die verknorsing moet kom), haar vermoede dat die mans in die kar by Lea-hulle se huis deel van Mnr Artaud se sindikaat is, sowel as haar mening (oortuiging daarvan dat sy met misdadigers te make het). Meestal is die ek-verteller in die emosionele en ideologiese komponente van die teks nie neutraal, objektief en onbetrokke nie – die waardes word hoofsaaklik ideologies gefokaliseer vanuit die perspektief van Dienkie en haar belewing van die karakters en gebeure. Dit is interessant om te sien dat veral die momente van spanning en konflik in die verhaal intense emosionele en waardeladings dra (laasgenoemde veral in terme van Dienkie se worsteling om bekend te maak wat sy gesien het en haar konflik toe die polisie haar nie glo nie).
Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is in Losprys in Parys sowel implisiet (wat betref die fokalisering van karakters deur Dienkie se perspektief) as eksplisiet (soos gefokaliseer en uitgebeeld deur die karakters se sienings en ervarings, wel soos wat Dienkie dit waarneem en interpreteer). Die ideologiese konteks van Dienkie se ek-vertelling (as narratiewe stem) bied die ideale geleentheid om waardes oor te dra sonder dat die leser die gevoel kry dat daar gepreek word. Subjektiewe fokalisering van karakters lig verder die moontlike kulturele stereotipes (dalk Madame Piccault, mnr Artaud en sy chauffeur) uit soos dit deur die Dienkie waargeneem word. Behalwe die (genoemde) fisiese eienskappe van die meisies en mans vind ek nie steurende stereotipiese optredes en dialoog in Losprys in Parys nie.
Die lees van jeugliteratuur kan spesifiek bydra tot intellektuele ontwikkeling omdat dit aan die leser inligting verskaf en haar verwagtingshorison kan verbreed. In Losprys in Parys is die leser bewus van verskillende taalgebruike (uitdrukkings in Frans en spesifiek tienertaal[16], wat verwys na die informele niestandaardvariante wat deur tieners gebruik word) en kognitiewe ontwikkeling gebeur in die algemeen. Die adolessente leser van Losprys in Parys se analitiese denke word geoefen omdat die lees van so ’n ongewone teks haar stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – misdaad en geregtigheid, die geaardhede en optrede van verskillende karakters. Haar verbeelding word aangewakker deur die proses waarin sy haar inleef in die lewens van die Franse, asook die herkenning van motiewe en simbole, die bekende en die onbekende omgewing, en gebeure. Dienkie se agtergrond en die feit dat sy die dogter van advokaat-ouers is, kan die leser se verbeelding beslis laat ontwikkel – veral ook haar ontluikende verhouding met Sergio en die feit dat die verhaal ’n oop einde het.
Die vertelling in jeugletterkunde het ook ’n estetiese funksie – dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering te voorkom. Dit gebeur in Losprys in Parys wanneer die leser se aandag op die teks self gevestig word – die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word. Op hierdie manier raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Hier is enkele voorbeelde van treffende vergelykings waarvan sommiges ook humoristies en in ooreenstemming met chicklit as genre is. Dit is verder ’n verryking van kulturele oordrag:
- En sy het ’n gil soos ’n sirene (9)
- Sy bekyk my soos ’n vreemde spesie vlieg (44)
- Dienkie klink soos iemand se troetelpoedel of iets (53)
- Ek gaan in die kleedkamer wegkruip tot die einde van die volgende eeu (50)
- Sy [Madame] lyk vir my soos ’n aasvoël met haar hoog opgetrekte skouertjies en grys kop wat heen en weer draai om vrae te beantwoord. (68)
- Ek hang soos ’n vlermuis tussen die twee groot mans wat dink my arms hoort bokant my kop (88)
- Ek luister na die rollende erre [van Sergio] en die sinne wat inmekaar vloei, soos een lang lied (149).
Die dialoog is oral funksioneel en outentiek aangebied om te pas by die onderskeie karakters. Die gebruik van sleng waar dié soort taal byna die norm is, is aanvaarbaar veral omdat dié betrokke sleng- of informele woord redelik bekend is en die tienerleser dit onmiddellik sou herken en verstaan. Uiteindelik is die perspektief van die verteller betroubaar – die leser kan in Dienkie se skoene staan en sodoende kan haar empatie met die hoofkarakter gewek word en haar verbeelding ontwikkel.
Universele tema
Die vrae wat in hierdie onderafdeling gevra kan word, is: Wat is die waarheid? Is dit soos dit in Losprys in Parys verbeeld word, of nie? Fiksie het met ’n bepaalde beeld of siening van die werklikheid te make, maar is nie in die gewone sin van die woord "waar" nie.[17] Oor die waarde van fiksie as iets wat onwaar is en oor die verhouding tussen waarheid en fiksie word baie gefilosofeer. Die feit bly staan dat die maak of skryf van fiktiewe tekste ’n belangrike en gewilde vorm van kommunikasie is waarin ’n siening van die werklikheid op konkrete wyse in ’n kammawêreld uiteengesit, weergegee en aangebied word. Hoewel hierdie jeugverhaal morele waardes en etiese beginsels uitlig, kom dit nie as sedelesse voor nie.
Ons kan aanvaar dat Losprys in Parys geskep en op ’n bepaalde manier aangebied is om te vermaak, om die ontvanger of leser deur die perspektief van Dienkie te laat dink en te laat ervaar, en om die leser te boei, haar te interesseer, haar mee te voer en tot meelewing met karakters en gebeure in die verhaal te bring. Die maatskaplik-sosiale funksie behels dat die adolessent gehelp word om te sosialiseer deur kontak met jeugliteratuur, want sy maak keuses sonder die invloed van haar portuurgroep. Deur die lees van Losprys in Parys maak die leser kennis met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme – veral ten opsigte van ouderdomme, geslagte en beroepe. Diversiteit van kulture word uitgebeeld wanneer Dienkie in Parys is en sy bewus word van die Franse se onvermoë (of onwilligheid) om Engels te verstaan en gebruik. Hier is daar wel ’n verrassende element wanneer Sergio tog Engels magtig is.
Om jeugletterkunde se maatskaplike funksie te integreer, is dit verder duidelik dat daar in Losprys in Parys universele temas uitgebeeld word ten opsigte van die ontwikkeling van ’n eie identiteit en volwassenheid, onverwagte hulpbronne en ondersteuningsnetwerke in moeilike tye, liefde teenoor kritiek en verwyt, versoening en die oplos van konflikte, aanvaarding en vergifnis (Dienkie en haar ma). Nog ’n universele waarheid wat hierdie jeugnovelle uitbeeld, is dat oorlewing in moeilike omstandighede moontlik is (Dienkie in die sel in die kasteel en later die huisboot op die rivier), en dat die waarheid sal seëvier (mnr Artaud se bedrog en Eddie se betrokkenheid by die misdaad in Suid-Afrika) as almal die waarheid in hul eie lewens erken en aanvaar.
Deur Dienkie se lewe word die leser bygestaan in die proses van aanpassing en om te leer watter rolle sy in die samelewing moet en kan speel. Hier kan spesifiek verwys word na Dienkie die ongehoorsame tiener en Dienkie die soeker na waarheid en geregtigheid in Parys. Só vind kultuuroordrag plaas en sy leer ken haar vryheid, regte en verpligtinge. Die individu word begelei in die proses om haarself as deel van ’n geheel te sien, aldus Carlsen (aangehaal in Ghesquiere 1993:120):
Literature by its very nature is selective and suggests integrations, connections, insights into experience, and values which the individual [reader] might not otherwise find for himself. At the best literature confronts the reader with the basic eternal problems of human beings, thus helping the individual to see himself as a part of an ongoing history.
Dienkie se etiese standpunt word ontwikkel in die ontginning van die probleme van menswees. In Losprys in Parys gebeur dit wanneer sy bewus word van karakters wat uit verskillende kulture en samelewingsgroepe afkomstig is en die leser met karakters uit verskeie bevolkingsgroepe en die mense in Parys se optredes gekonfronteer word. Integrasie van die maatskaplike funksie van jeugliteratuur hang myns insiens ook saam die ontwikkeling van kulturele geletterdheid, veral in ’n diverse maatskaplike landskap soos Suid-Afrika. Daar is in hierdie jeugnovelle ’n akkurate en gebalanseerde uitbeelding van ’n multikulturele wêreld en daarmee kry die leser ’n menswaardige beeld van ander kultuurgroepe – dit blyk uit die randkarakters van ander kulture, byvoorbeeld Sergio en die bedrieglike mnr Arnaud Artaud, wat ’n hooggeplaaste figuur in die Franse samelewing is en baie mag het. So is ook humor ’n uitdrukking van kulturele geletterdheid.
Hiermee is my slotsom dat Losprys in Parys voldoen aan die volgende kriteria/vereistes vir kulturele geletterdheid[18] as universele tema: Die teks en veral Dienkie se karakter se effek op die leser kan lei tot ’n verbeterde selfbeeld en selfrespek. Die literêre eienskappe (tema, karakterisering en agtergrond) is van hoë gehalte. Kulturele geletterdheid behels dat die jeugverhaal aandag behoort te gee aan kontekstuele en omgewingskwessies en in Losprys in Parys word eersgenoemde gemanifesteer in Dienkie se uitgelewerdheid aan selfoonopsporingstegnologie, korrupsie, misdaad. Hier oorwin goed oor kwaad wanneer die misdadigers opgespoor en in hegtenis geneem word met Dienkie, haar vriende en haar ma se hulp. Verder kan die leser demokratiese waardes ontwikkel deurdat sy identifiseer met Dienkie se soeke na die waarheid en geregtigheid.
Veral in terme van kulturele ontwikkeling slaag die jeugverhaal deur uit te beeld hoe die uiting van verskillende vorme van kreatiwiteit, kunswaardering en die ontwikkeling van verskeie kunsvorme (die pâtisserie in Parys met allerlei gebak, ontwerp van klere met fatsoen en kleur, sang en musiek) bydra tot die karakters se persoonlikhede en uitlewing van hulself.
Slotopmerking
In die lig van die bogenoemde bespreking is dit vir my duidelik dat die skrywer in Losprys in Parys ’n ryk sekondêre (literêre) werklikheid geskep het wat deur al die karakters en gebeure bevolk word.
Saam met Amanda CI (LAPA-resensie, 2021)[19] meen ek dat daar heelwat karakters, dinge en gebeure is wat opvallend is en die storie oortuigend maak. ’n Leser kan onmiddellik scenario’s uitdink oor hoe die intrige mag ontplooi, maar Dienkie – met haar naïewe lewenservaring – kon nie die gevare voorsien nie. Die byna humoristiese aanslag van die verhaal relativeer die spanning en die gevare waaraan sy blootgestel is. Die storielyn vloei lekker en dit kan tieners bewus maak van die gevaar daarvan om iemand té maklik te vertrou.
Uiteindelik meen ek dat Losprys in Parys ’n jeugnovelle is wat ’n tipiese selfleesboek is en nie voorgeskryf kan word nie, omdat die oormaat emosionaliteit met die uitbeelding van Dienkie se gevoelslewe iets is waarmee meeste meisies wel sal kan identifiseer, maar ek dink (gebaseer op my ervaring in die onderwys met hoërskoolseuns) dat dit seuns dalk sal frustreer/irriteer.
Vir my as ingeligte leser was Losprys in Parys ’n uitsonderlike chicklit-jeugnovelle – dit het vir my ’n kritiese lees- en boekbesprekingsproses gebied wat vir my ’n groot voorreg en uitdaging was. ’n Voorreg omdat dit uitstekend is en ek baie min kritiek het. Dit was ook ’n uitdaging omdat die verhaal definitiewe literêre waarde het Gelukwense aan die skrywer en voorspoed vir haar verdere toekoms as fiktiewe jeugboekskrywer.
Eindnotas
[1] Katinka, LAPA-resensie, 2021. https://lapa.co.za/losprys-in-parys#reviews
[2] MA Rossouw (2013) verwys na die “geïnformeerde leser” en haar verduideliking daarvan stem ooreen met wat ek die “ingeligte leser” noem. In Cloete, TT (red). 2013. Literêre terme en teorieë. Pretoria: HAUM-Literêr. (Alle ander verwysings na Cloete is ook na hierdie bron.) https://literaryterminology.com/index.php/l/108-lesertipes
[3] Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.
[4] Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
[5] Ghesquiere, R. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.
[6] Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In Cloete (red) 2013. https://www.literaryterminology.com/index.php/j/78-jeugliteratuur
[7] Die vroulike voornaamwoorde (sy/haar) word deurgaans gebruik om na die leser te verwys, omdat die hoofkarakter (Dienkie) ’n meisie is.
[8] Laaste bladsy van Losprys in Parys.
[9] Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86(7,8,9).
[10] Kapp, S. 2010. Chick-lit. In Riana Scheepers en Leti Kleyn (2010). Die Afrikaans skryfgids (ble 114–118). Johannesburg: Penguin Books.
[11] Die HAT (2000) definieer sleng as “opsetlik gemeensame, ondeftige, ietwat plat taal, stands- of beroepstaal; groep(s)taal”.
[12] Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies 10(3):341–61.
[13] Drennen, IG. 2013. Novelle. In Cloete (red) 2013. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/21-n/150-novelle
[14] Greyling, F. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):209–26.
[15] Scholtz, MG. 2013. Innerlike monoloog. In Cloete (red) 2013. https://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/16-i/72-innerlike-monoloog
[16] Marais, S. 2005. Afrikaanse tienertaal. MA-verhandeling, Universiteit van Johannesburg.
[17] Du Plooy, H. 2013. Fiksie. In Cloete (red) 2013. http://www.litterm.co.za/index.php/lemmas/13-f/42-fiksie
[18] Combrink, L. 1996. Kulturele geletterdheid en multikulturele onderwys. Tydskrif vir Taalonderrig, 30(1):1–16.
[19] https://lapa.co.za/losprys-in-parys#reviews
The post <em>Losprys in Parys</em>, ’n lesersindruk met hulp aan taalonderwysers appeared first on LitNet.