- Marochel Barnard is 18 jaar oud.
Medisyne vir die siel ...
Wat is dit? Ek kan jou verseker dit is nie antibiotika of hoesstroop nie. Dit kan enigiets wees wat jou as mens lewendig laat voel.
Vincent van Gogh het geel verf geëet. Hy het vas geglo dat geel ’n gelukkige kleur is en dat as hy dit gaan eet, hy van binne af gelukkig gaan wees. Ek het nooit gedink dat iemand so ongelukkig kan wees dat selfs die idee om die mure van jou organe geel te verf sodat alles beter sal voel deur jou kop sal gaan nie. Op ’n manier het ons almal ons eie geel verf, of dit nou seks is, om dwelms te gebruik of selfs om jou liggaam doelbewus te beskadig. Dit is medisyne vir die siel.
........
Op ’n manier het ons almal ons eie geel verf, of dit nou seks is, om dwelms te gebruik of selfs om jou liggaam doelbewus te beskadig. Dit is medisyne vir die siel.
.........
My hele lewe lank was ek oortuig dat my sielsmedisyne adrenalien is. Ek sou enigiets doen vir adrenalien – of dit nou is om in die pad te lê en te kyk of ’n trok gaan uitswaai, om kaal in ’n straat te hardloop, of selfs op ’n Maandagoggend 03:00 naak in die see te swem. Enigiets net vir daai bietjie adrenalien. En ek het geglo dat dit my geel verf is. Tot ek eendag my sielsmedisyne in lewende lywe voor my sien staan het.
Hy was lank, blas, het lang, bruin hare gehad en groen oë. Ons het ontmoet by ’n vriend van my se 21ste verjaarsdag op ’n dansvloer. Ek was dronk en hy was verveeld. Saam het ons die kuier verlaat om na die stadsliggies te gaan kyk. Meer en meer het ons tyd saam deurgebring.
Ons het laataande rondgery en musiek geluister. Hy het gesê dat musiek die voedsel van sy siel is en dat ek hom verstandig hou.
Hy het my uit my maag uit laat lag. Sy grappe was droog en neerdrukkend, maar die manier hoe hy gelag het, was aansteeklik en asemrowend. Elke oomblik was ’n ervaring op sy eie, ’n avontuur. Dit was anders. Ek het nooit gedink dat ’n persoon kan verslaaf raak aan iemand anders nie. Tot ek verslaaf geraak het aan hom.
As ons saam was, was dit ongelooflik, maar een oomblik was ek sy wêreld en die volgende was ek “onmoontlik”, roekeloos en altyd op ’n ander agenda. Hy het altyd geweet wat om te sê om my te breek en wat om te sê om dit reg te maak. As ek nie by hom was nie, het ek skeidingsangs gehad.
Hy was ’n man op sy eie. Ons het saam gelag vir al ons “inside jokes”, saam gedans op ons gunsteling liedjies en hy het saam met my deur my seer gegaan. Hy het my laat glo in ware liefde. ’n Liefde wat passievol is, liefde wat entoesiasties is. Die tipe liefde wat mens net een keer in ’n leeftyd kan ervaar. Maar hy het my ook seer laat voel. Hy het my laat voel asof ek ’n las was, en alhoewel hy dit nooit in direkte woorde gesê het nie, kon ek dit aanvoel. Hulle sê die duiwel kom nie altyd met ’n vurk en ’n stert nie, hy kom soms in alles wat jy nog altyd wou gehad het.
........
Soos enige verslawing kom alle slegte gewoontes eendag tot ’n einde, en dan kom dit: die onttrekkingsimptome. Die konstante angsgevoel en die gevoel van verwerping. Daar is ’n sielkundige feit dat wanneer ’n persoon tot op die punt gekom het waar hy nie verder kan huil nie, is dit omdat hy te veel gehuil het.
.......
Soos enige verslawing kom alle slegte gewoontes eendag tot ’n einde, en dan kom dit: die onttrekkingsimptome. Die konstante angsgevoel en die gevoel van verwerping. Daar is ’n sielkundige feit dat wanneer ’n persoon tot op die punt gekom het waar hy nie verder kan huil nie, is dit omdat hy te veel gehuil het. Jy as mens raak gevoelloos en al wat jy kan doen is stil lê en dink. Dis ’n seer wat mens nie kan verduidelik nie, dis woordeloos. Daar is geen verf wat daai simptome gesond kan maak nie. Daar is nie genoeg nikotien, genoeg alkohol, genoeg adrenalien, genoeg enigiets wat daardie pyn en seer wegvat nie. Hy was die medisyne vir my siel.
As kinders het ons ouers ons gewaarsku teen dwelms: Bly weg van dwelms, dwelms neuk jou lewe op! Maar nooit het hulle ons gewaarsku teen liefde nie. Liefde is die ding wat jou lewe meer as dwelms opneuk. Dit breek jou in stukke wat jy nie eers geweet het jy het nie. Dit laat jou twyfel in jouself, in jou geluk, in jou gesondheid, in jou geestesgesondheid en alles waarvoor jy werk en leef. Dit beïnvloed jou gesin, jou vriendskappe, jou geloof, jou manier van dink. Dit beïnvloed jou siel!
Dan vra ek weer: “Wat is medisyne vir die siel?” Ek kan jou verseker dit is nie antibiotika of hoesstroop nie, maar alles wat jou lewendig laat voel. ALLES!
Lees ook:
Hier is die wenners van LitNet se Skole-skryfkompetisie met Fanie Viljoen
The post Medisyne vir die siel appeared first on LitNet.