Aksie van die burgerlike samelewing: Saam die toekoms in met Afrikaans
"Hoër Onderwys-taalbeleid ondermyn samewerking en stel tale teen mekaar op"
KAAPSTAD/PRETORIA ─ Die Afrikaanse Taalraad het in ’n ope brief aan president Cyril Ramaphosa sy diepe kommer uitgespreek oor die Departement van Hoër Onderwys se taalbeleid. Die brief is op 10 Desember by die Uniegebou oorhandig – op die 25ste herdenking van die ondertekening van die Grondwet, ’n grondwet wat veeltaligheid voorstaan en taalregte beskerm.
-
Lees die ope brief aan die President hier.
-
Lees die lys medeondertekenaars hier.
-
Lees die Engelse weergawe van hierdie mediavrystelling hier.
"Die 2020-taalbeleid is ernstig gebrekkig en oortree die minimum vereistes van die Grondwet aangaande die gebruik van amptelike tale," sê die brief. Hoewel die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, aangedui het dat die kabinet nog nie die beleid goedgekeur het nie, voel die Taalraad dat die beleid formeel teruggetrek moet word. Die afwysing van Afrikaans en die Khoi- en San-tale as nie-inheems lyk na ’n "ontstellende daad van taalonverdraagsaamheid en onregverdigheid. Dit voed ’n vrees vir verskerpte toekomstige uitsluiting en onderdrukking".
Die ope brief volg op briewe van die Taalraad en ander taalorganisasies waarop Nzimande nie gereageer het nie. "Waar president Ramaphosa se positiewe uitsprake oor Afrikaans en die Khoi- en San-tale mense hoop oor insluiting en erkenning gegee het, speel die minister speletjies wat samewerking tussen inheemse tale ondermyn. Ons tale word teenoor mekaar opgestel en Afrikaans word saam met die Khoi- en Boesmantale gemarginaliseer," het Conrad Steenkamp, uitvoerende hoof van die Taalraad, gesê.
"Ons wil aandag vestig op die disfunksionele verpolitisering van Afrikaans en van die Khoi- en San of Boesmantale wat steeds voortvloei uit hierdie ondeurdagte beleid. Ons verstaan die historiese bagasie van Afrikaans is ’n gegewe in situasies soos dié, maar ook dat Afrikaans veel groter is as dié verlede," het Steenkamp beklemtoon.
Afrikaans is die derde grootste taal in die land en word deur mense van alle rasse en klasse gepraat. Dit was ’n taal van weerstand teen die ongeregtighede van apartheid en koloniale oorheersing. Dit is steeds ’n taal van bemagtiging vir duisende leerders en studente, waarvan die meerderheid as swart geld.
Die betoog gaan nie net oor Afrikaans nie. Al die inheemse tale behoort bevorder te word as voertuig van bemagtiging vir alle Suid-Afrikaanse burgers. Die Taalraad sê in die brief: "Ons is diep besorg oor die praktiese implementering van die beleid en die beduidende risiko dat ons inheemse tale tot grootliks simboliese funksies by toenemend eentalige universiteite beperk sal word."
Die Taalraad is daarvan oortuig dat inheemse tale op ’n regverdige wyse bevorder kan word en op maniere wat mense bymekaar kan bring eerder as om hulle te verdeel. Die ope brief is ’n versoek aan die president om betrokke te raak en met ’n wye en verteenwoordigende afvaardiging van die Afrikaanssprekende gemeenskap in gesprek te tree.
’n Afvaardiging gelei deur Annelise de Vries, ondervoorsitter van die ATR, het die brief aan die President se kantoor by die Uniegebou oorhandig.
Die brief is onderteken deur meer as 100 taalkundiges, opvoedkundiges, predikers, sielkundiges, regsgeleerdes en besigheidslui, meestal as verteenwoordigers van verskeie organisasies, onder meer die Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, AgriSA, die DAK Netwerk, die Witbooi-Namastam in Suid-Afrika, die Afrikaanse Taal- en Kultuurorganisasie (ATKV), die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT) en die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK) se Centre for Multilingualism and Diversity Research (CMDR).
Die Taalraad se brief bevat ook ’n waarskuwing: "Ons glo die lot van Afrikaans by ons universiteite sal dié van ons ander inheemse tale bepaal – met geweldige kulturele en maatskaplike gevolge." Veeltaligheid kan nie bereik word deur van tweetaligheid terug te val na Engels-gebaseerde eentaligheid nie.
- Foto's: Mia Slabbert
The post Mediavrystelling: Afrikaanse Taalraad oorhandig ope brief aan Ramaphosa appeared first on LitNet.