Titel: Rateltaai. Ethienne Reynecke se reis van tragedie tot triomf
Skrywer: Tinus van Staden
ISBN: 9780639602233
Uitgewer: LAPA
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Boeke en rugby word nie te dikwels in dieselfde sin genoem nie – beslis nie in Suid-Afrika nie. Plaas boonop gemengde gevegskuns (mixed martial arts of MMA) en nasionale kampioen saam met rugby en boeke in een sin, dan word dit ’n rare geleentheid, maar dit is presies wat hierdie buksieboek is.
Ethienne Reynecke het vir die Leeus in die Super 14 uitgedraf en het selfs teen die Blou Bulle agter die doellyn gaan kuier.
Later het hy vir Saracens in Londen gespeel en sou daarna Frankryk toe gaan, was dit nie dat sy verhouding met die ma van sy meisiekinders begin verbrokkel het nie.
Reynecke het teruggekeer na Suid-Afrika om naby sy dogters te wees en word toe ’n gewilde sportkommentator.
In 2018 stort sy lewe in duie weens ’n beroerte. Ten spyte van hierdie terugslag klim Reynecke gedurende 2020 in die MMA-kryt en verpletter vir Adei Volker om as Suid-Afrikaanse kampioen gekroon te word.
Rugby, boeke en die goue lepel
Uys Krige het op sy dag as rugbyspeler naam gemaak in Europa met sy raakvathande en sy blitsige lyf.
Fanie Olivier, die digter, was eweneens ’n baie goeie rugbyspeler wat ook oorsee gespeel het.
André P Brink was ’n legendariese rugbyondersteuner.
Tog is rugbyhelde dun gesaai in die Afrikaanse letterkunde.
Enkele jeugboeke het wel rugbyhelde in, maar wanneer John Miles (Blaaskans) of Kerneels Breytenbach (Hond se gedagte) daaroor skryf, gaan dit meer oor die slag van heilige koeie as oor die ophemel van helde.
FJ Labuschagne het dit verander. Hy het Beseringstyd geskryf, ’n onderskatte roman en ’n nodige korreksie vir Afrikaans. Labuschagne se manne is groot, hulle is ryk en hulle is arrogant. Ten spyte van die pyn werk hulle al hoe harder, baklei hulle nog harder en maak hulle naam vir hulself. In Sidney Gilroy se Klikbek is daar ook ’n beroepspeler wat vir hom ’n pad na roem, rykdom en vroue oopboender.
Beide romans onderskryf wat ons weet: Rugbyspelers wat bo uitkom, maak deeglik geld, én dis gewoonlik nie die arm outjies wat bo uitkom nie.
Tog: Siya Kolisi kom nie uit ’n ryk huis nie; Ethienne Reynecke ook nie. Om skielik ’n biografie van ’n jong rugbyspeler te kry wat ’n goeie speler was, maar nie noodwendig onder die heel grotes sal tel nie, is effens verbasend. Tot jy die boek begin lees. Dan verstaan jy waarom Rateltaai verskyn het.
Job sou empatie hê
Die Bybel, wat ryklik leen uit die verhaalskatte van Mesopotamië en ou Griekeland, het ’n groot en belangrike rol te speel as interteks in die Westerse letterkunde. Sou Reynecke se verhaal nie naspeurbaar wees nie, kon ek gedink het dat Tinus van Staden dié storie op die verhaal van Job in die Bybel gebaseer het.
Job was ’n goeie man en hy was ryk. Toe vind daar ’n onkies gesprek tussen die Almagtige en Satan plaas, waarna arme ou Job alles verloor. ’n Beter opsomming vir Ethienne Reynecke se verhaal is daar nie. Hy het swaar grootgeword en moes op skool sy pad na bo oop baklei teen die skool se boelies. Die boelies het altyd verloor.
Ná skool is hy met ’n hengse lening universiteit toe, maar anders as vir die ouens in FJ Labuschagne se boek was Craven-week nie vir hom beskore nie. Hy was ’n niemand in die oë van die rugbywêreld. Wanneer die ander spelers kroeg toe is, moes Reynecke swot.
Tog het sy harde werk, op die veld en van die veld af, gemaak dat hy raakgesien is.
Stelselmatig kon hy sy pad oopspeel tot in die Leeus se A-span.
Dinge was egter steeds nie maklik nie. Daar was studieskuld, en toe hy uiteindelik ’n redelik ernstige verhouding met ‘n meisie ontwikkel, raak sy swanger, al was hulle verhouding baie soos die Leeus se spel – wisselend.
Op dié punt raak die boek regtig interessant, want hier is ’n jong, blonde reus wat besluit hy sal alles gee vir sy dogter, wat toe later twee dogters word.
En hy hét ...
Selfs nadat sy verhouding met die ma van sy dogters op die rotse loop, kies hy om nie ’n kontrak by ’n Franse klub te neem nie, maar om terug te keer na Suid-Afrika sodat hy pa kan wees vir sy meisiekinders. Ook het hy, tussen die rugbyballe en die poefdoeke deur, sommer ’n meestergraad ook verwerf.
Beserings was daar gereeld, maar sy bynaam is nie verniet Ratel nie, want selfs ’n gebarste milt kon hom nie stuit nie.
In 2018 is dit al of die Satan van die Bybelverhaal besluit het dat Job nie genoeg was vir hom nie. Reynecke staan in die stort, word duiselig en ... kry ’n beroerte wat sy spraak sou aantas.
Lees self. Dat hy ’n paar maande later in die kop geskiet sou word, is totaal onwaarskynlik, maar heeltemal waar. Daar is selfs ’n Ierse nooi wat deur die Covid-inperkings van hom weggehou word.
Job het bo uitgekom, Ethienne ook
As jy die Bybelstorie ken, weet jy dat Job weer opgestaan het. Ditto met Ethienne Reynecke.
Tussen dit alles deur is sy meisiekinders steeds die spilpunt van sy lewe.
’n Vinnige boek wat lekker lees
Vroeg in die boek ontmoet Reynecke ’n meisie wat sê sy sal met hom uitgaan, maar dan mag hy nie baklei nie. Toe sal daar jou werklik ’n spiertier wees wat wil moeilikheid maak. Daardie verhouding met gemelde meisie, soos die fight met Spiere, was oor voor dit begin het ...
Die boek voel ook amper so. Dis ’n dun boek wat lekker en vinnig lees.
Tinus van Staden, ’n bekende sportjoernalis, weet hoe om te skryf, hy ken sy gehoor, en hy laat die storie voortsnel.
Ek het opsetlik Rateltaai naas ’n boek uit een van LAPA se bekende Romanza-reeks neergesit, want dit voel klein en lig – iets wat ’n mens op ’n vliegtuigrit sal kaf draf.
Daar word gereeld gesê mans lees nie, want daar word nie boeke vir hulle geskryf nie. Wel, hier is een.
Romanza is geskryf om in vroue se handsakke te pas. Ek het gewonder of Rateltaai in my mansak sal pas?
Gooi dit in die Kerskous van enige sportliefhebber. As die man in jou lewe dalk die Leeus ondersteun of nou en dan MMA kyk, sal dié boek hulle beslis laat lees.
Rateltaai is egter nie juis ’n boek oor rugby of gevegskuns nie. Enige een wat belangstel in ’n storie van ’n man wat skynbaar alles teen hom gehad het, en steeds kon opstaan, sal hierdie boek geniet.
Ek het.
Ethienne Reynecke, die arm seun wat sy pad oopgewerk het, klassieke musiek in sy ou Nissan-bakkie sou speel en ’n liefdevolle pa vir sy meisiemense wou wees, drie grade verwerf het tussen alles deur, dis die mens wat ons ontmoet.
Hy is rateltaai, maar ook volrond. Ek is nie rugbymal nie en het nog nooit ’n MMA-geleentheid bygewoon nie, maar hierdie man het my beïndruk.
Reynecke se storie, soos vertel deur Tinus van Staden, is ’n verhaal “wat verstom en inspireer”, aldus Kobus Wiese.
Wiese is twee keer so groot soos ek, maar selfs al was hy twee keer kleiner, sou ek volmondig saamstem.
The post Selfs Job sou empatie hê met die rateltaaie Ethienne Reynecke appeared first on LitNet.