Sêgoed van Marié Heese “Dwaal is in ons bloed. Die wil om te reis is in ons gene.” Oor The double crown: “After a while it was almost as though I could hear her speaking to me and I thought, you know what, I have to do this, I have to tell her story.” “As jy die skrywersgeen het, is daar nie uitkomkans nie. Jy skryf jou lewe lank. Al publiseer jy nie noodwendig nie.” “As skrywer het my ma my laat verstaan hoe belangrik selfkritiek is, hoe hard ’n goeie skrywer aan sy ambag moet leer.” (Volksblad, 10 September 2009) “Ek is nie iemand wat op inspirasie wag nie. Ek werk vir ‘iets’ aan die einde van my dag. Skryfwerk is vir my diep bevredigend, byna terapeuties.” “’n Werklike kunswerk moet nie net tot ’n klein groepie spreek nie, maar behoort ’n gewilde aanslag te hê.” In 1981 aan Amanda Botha: “Ek is gekant teen ’n elitisme in die Afrikaanse letterkunde en is bekommerd daaroor dat sekere romans en geskrifte eenvoudig net nie goed geskryf is nie, maar as hoë letterkunde verkoop word. Dit is nodig dat daar groter eerlikheid gehandhaaf moet word oor die kwaliteit van prosa. Om te skryf, is ’n vaardigheid, nie net kuns nie.” Verbeel sy haar (historiese) karakters in besonderhede? “O ja, ek kan my karakters sien, en hoor. En ek probeer aansluit by wat bekend is.” (Volksblad, 10 September 2009) Musiek speel ’n helende rol in Karoo-kantate. Wat is die rol van kuns in ons lewe, en breër in ons samelewing? “[K]uns het bepaald ’n helende krag, maar dit kan en moet ook juis pyn en woede en hartseer en onreg identifiseer en oopgrawe. Nie met ’n politieke agenda nie. Met ’n menslike agenda. Die Spaanse skilder Goya se skilderye The sleep of reason – dis kuns wat jou ruk. Kuns moet ruk én dit moet heel. Nie noodwendig albei gelyk nie.” (Die Burger, 26 September 2013) Moet daar ’n les in kinder- en jeugboeke wees? “Nee, om hemelsnaam, daar moet g’n les in g’n boek wees nie. Dan word dit prekerig. Goeie letterkunde, of dit ’n jeugboek of wat ook al is, behoort elke leser te verryk en dieper insig in haarself en ander mense te help verkry. Maar nie deur ’n sedelessie nie.” (Die Burger, 26 September 2013) “As alternatiewe opsie word daar gesê: ‘Letterkunde verander jou.’ Hiermee kan ek akkoord gaan. Die vraag is nie watse lessie jy geleer het nie. Die vraag is, was daar iets van waarde in die boek vir jou as leser? Sal jy dit liewer nie vir die biblioteek wil teruggee nie? Ek hoop jy wil dit hou. En weer lees.” (Die Burger, 26 September 2013) “Ek werk maar grootliks alleen. Skryf is ’n eensame bedryf.” (Vrouekeur, 4 November 2016) “Vir my is skryf nie ’n liniêre proses nie, dis iteratief. Heeltyd herhalend.” (Vrouekeur, 4 November 2016) “Ek geniet wat ek doen. Omdat ek ’n akademikus is, weet ek hoe om navorsing te doen en dis elke dag interessant. En as jy die skryf-geen geërf het, is jy gedoem om te skryf; jy kan nie anders nie.” (Vrouekeur, 4 November 2016) “Die roman was vir altyd aantreklik. Ek wou wyer en dieper delf as die beperking wat ’n essay vra. Ek wou skryf oor aspekte van die vrou in veranderde tye, die reaksie van die vrou daarop en veral hoe dit in verhoudings neerslag vind.” (Beeld, 28 September 2017) Life lessons? “Happiness is a state of mind. As for myself, I need to be creative to survive. And I’m a great believer in Theodore Roosevelt’s advice: ‘Do the best you can with what you have where you are.’” (Plus 50, Oktober/November 2016) |
Gebore en getoë
Marié Heese is op 27 September 1942 in Kaapstad gebore as die enigste kind van Audrey en AP Blignault. Haar ma was die bekende skrywer Audrey Blignault.
Marié word dus in ’n skrywershuis groot. Ná haar ma se begrafnis op 6 Oktober 2008 (Die Burger 7 Oktober 2008) sê sy dat haar ma ’n “ongewone ma” was, wat bitter onprakties was en nie kon naaldwerk doen of kos kook nie, maar sy “was ’n lekker ma. Sy het altyd opreg gedink ek is wonderlik. Sy was ’n gawe ma.”
Haar ma het vir haar gedigte aan die ontbyttafel voorgelees en sy kon nie anders as om goedgekose woorde te leer waardeer nie. “Ek onthou daardie verskríklike mooi gedig van Charlotte Mew. Hy eindig só: Like the streets of the holy city, old blind beautiful Jerusalem over which Christ wept ...”
Reeds toe sy ’n tienjarige dogtertjie was, het haar eerste werk, ’n Engelse gediggie, in Die Huisvrou verskyn. Sy word in Kaapstad groot en matrikuleer in 1959 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck.
Verdere studie en werk
Ná skool is Marié na die Universiteit Stellenbosch, waar sy in 1962 haar BA-graad behaal met staatsfilosofie en Engels as haar hoofvakke, laasgenoemde met onderskeiding. In 1963 verwerf sy haar BA Honneurs in Engels met lof. Sy behaal ook ’n tweetalige diploma in drama aan die Akademie vir Dramakuns op Stellenbosch, asook ’n onderwyslisensiaat in voordrag en drama deur Unisa.
In 1964 tree Marié in die huwelik met Chris Heese, ’n Natalse onderwyser, en hulle vestig hulle in Durban. Hier is sy vir drie jaar dosent in die Departement Engels van die destydse Universiteitskollege, Durban, wat die Universiteit van Durban-Westville geword het en nou (steeds onder daardie naam) een van die kampusse van die herstruktureerde Universiteit van KwaZulu-Nata vorm. Gedurende hierdie jare skryf sy saam met haar goeie vriendin en kollega, Robin Lawton, The owl critic: an introduction to literary criticism. Dit word in 1969 deur Nasou uitgegee en het ’n groot aantal herdrukke beleef.
In 1967 word Chris en Marié se eerste seun, Frederik Daniel (Fritz), gebore; in 1969 volg Adré Elizabeth en in 1972 Andries (wat in 1999 op 27-jarige ouderdom oorlede is). Ná haar kinders se geboortes hou Marié Heese op met werk.
In 1974 verhuis die Heese-gesin na Empangeni, waar Marié tydelike betrekkings aanvaar, eers aan die Universiteit van Zoeloeland en later as onderwyseres in Engels en ook in Afrikaans aan die Hoërskool Empangeni. Hulle is later na Richardsbaai, waar Chris skoolhoof was en Marié self ook weer onderwys gee.
In 1985 verhuis die gesin na Pretoria, waar Chris aangestel word as onderwyskundige in die destydse Departement van Onderwys en Kultuur. In 1987 gee Marié deeltyds klas in Engels aan Tuks en word in 1988 aangestel by Unisa in die Departement Engels, maar na twee jaar skuif sy oor na die destydse Buro vir Universiteitsonderrig.
Sy het begin met ’n M-studie terwyl sy by Unisa gewerk het en verwerf daarna ‘n doktorsgraad met haar proefskrif getitel “Facilitating English reading competence through text analysis”, wat handel oor hoe om studente te help om beter te lees en te begryp wat hulle lees. “En in die proses het ek ook navorsing gedoen oor die belangrikheid van taal vir studente; en die belangrikheid van móédertaal. En dit is hoekom ek so vás staan op die noodsaaklikheid van moedertaal, en nié nét vir Afrikaanse kinders nie. Ook in die swart skole – as jy vir hulle kan onderrig in ’n taal wat hulle behoorlik verstaan, dan sal dit baie beter gaan met hulle ook. Dis een van ons groot disasters dat daai ding nie besig is om te gebeur nie” (Die Burger, 19 Maart 2010).
Sy was ook ’n akademiese-onderwys-raadgewer aan Unisa, waar sy aangestel is as direkteur van akademiese-personeel-ontwikkeling. Dit het behels dat sy met verskeie fakulteite saamgewerk het aan die ontwikkeling van afstandleermateriaal. In 1999 het Marié met vervroegde pensioen afgetree.
Van Januarie 1979 tot November 1983 dien sy as kommandante van die Richardbaaise Voortrekkers en die Orde van die Wawiel word aan haar toegeken. Sy is ’n assessorlid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en was ook ’n lid van die destydse Skrywersgilde.
Ná haar aftrede is sy in 2003 deur die Noord-Kaapse Departement van Opvoedkunde aangestel om aan onderwysers ’n reeks werkswinkels aan te bied getiteld “The magic of poetry: teaching for understanding and appreciation”.
Terwyl hulle kinders klein was, behartig Marié sewe jaar lank ’n boekerubriek vir Die Huisvrou en skryf sy ook bydraes vir die destydse Sarie Marais (nou Sarie).
Marié se kennis en kritiese beskouings van die Afrikaanse letterkunde kom na vore in die blokboek wat sy oor die werk van Elise Muller geskryf het. Benewens haar letterkundige publikasies het sy ook navorsingsartikels in spesialistydskrifte en konferensiebundels gepubliseer. Die Bradlow-beurs is op grond van haar M-studie aan haar toegeken om haar doktorale studie te voltooi. Sy is saam met Chris na die VSA met ’n postdoktorale studiebeurs wat deur Unisa en die RGN toegeken is. Daar het hulle verskeie insiggewende onderhoude met onderwyskenners gevoer. (Haar man het ’n doktorsgraad in onderwysstelselbestuur.)
In 1981 vertel Marié aan Amanda Botha in Die Transvaler dat sy eintlik as plaasvervanger begin skryf het. “In my ma se plek toe sy na ’n motorongeluk in die hospitaal was en nie haar gereelde tydskrifrubriek kon volhou nie. Ek het, soos sy, persoonlike essays geskryf, gerig op die avontuur van die alledaagse – van kinders grootmaak en jong huisvrou wees.”
Dit was maklik vir haar, maar sy het besef dat dit nie haar genre is nie. Uit haar eerste reeks essays het Tafelberg ’n keuring gedoen en gevra of dit in boekvorm kan verskyn en só het Tokkelspel in 1972 die lig gesien.
Tokkelspel het na sy verskyning baie gunstige resensies ontvang, met resensente wat gepraat het van “’n vrolike en fleurige boek” met essays wat lekker vlot lees (Hoofstad, 24 Desember 1972); “Ernstige essays is die nie: sjarmante, sonnige, spontane geselsies wel” (Volksblad, 27 November 1972); “Net soos haar moeder het sy die gawe om met sensitiewe insig die humor in alledaagse gebeurtenisse te beskryf” (Rapport, 29 Oktober 1972).
Sy wou egter nie met die essays voortgaan nie. “Ek wou nie ‘the poor man’s Audrey Blignault’ word nie. My ma het aan daardie soort essay statuur gegee en dit op meesterlike wyse beoefen. Ek wou nie op daardie vlak kompeteer nie. Ek wou iets van my eie onderneem.”
Sy het toe al lank in die roman belanggestel. Sy het vir haarself ’n uitdaging in die roman-genre gesien om dieper en wyer te delf as wat die beperking van die essay vra. “Ek wou altyd romanskryfster word. Ek het dit as skoolkind geniet om opstelle te skryf en op Stellenbosch het ek al my hand aan ’n roman gewaag. Dit het egter nie geslaag nie, want ek was nie reg daarvoor nie.”
Haar kinderboek Die Pikkewouters van Amper-Stamperland (1974) was die eerste waaraan sy haar hand gewaag het. Dit was ’n groot sukses en sy het dit vir televisie verwerk. Dit is ook as ’n kinderreeks op SABC se Afrikaanse kanaal gebeeldsend, asook vir die verhoog verwerk en by die Maskerteater in Pretoria opgevoer. Die vervolg, Avonture in Amper-Stamperland, is ook vir televisie verwerk en deur die SABC gebeeldsend.
Die storie oor die twee Pikkewouters, Pikketoos en Pokkelwyn, wat in Amper-Stamperland woon waar daar wilderoosbome, pedonkies, brakkevarkies, tamartjies en slakkelange is, is pragtig geïllustreer deur Cora Coetzee. Die illustrasies vul die pragtige verhaal perfek aan. Goeie hoofstukindeling met duidelike opskrifte dui die verloop en hoogtepunte van die verhaal mooi aan en die woordgebruik van die skryfster is uiters oorspronklik. Die tydloosheid van die koddige verhaaltjie met die pragtige woordspelings maak dit vir vandag se kinders nog net so prettig, het wyle Elsabe Steenberg geskryf (bron onbekend).
Die skryf van die kinderboeke was vir Marié ’n diep bevredigende ervaring en die feit dat Pikkewouters so goed ontvang is en lekker geloop het, het vir haar baie plesier gebring, maar die begeerte om ’n eie roman te skryf was nog altyd daar.
Sy wou skryf oor aspekte van die vrou in veranderde tye en die reaksie van die vrou daarop soos dit in verhoudinge neerslag vind. Die ervaringe van haar twee oumas, wat sy goed geken het, was vir haar boeiende materiaal. “My twee oumas was albei merkwaardige vroue. Ek het dikwels oor hul lewe en die tydperk waarin hulle geleef het, gedink. Hulle het in ’n tyd van woelinge geleef wat vele veranderinge gesien het. Ek wou in my roman die toespeling daarvan op die vrou uitbeeld.”
En so het die Die uurwerk kantel, wat in 1976 gepubliseer is, sy ontstaan gehad. Dit was ’n kritiese sowel as literêre sukses en is as ’n radiodrama verwerk en deur die biblioteekgebruikers van die Wes-Kaap aangewys as een van die beste 100 boeke in die 20ste eeu. Dit is ook deur Juanita Swanepoel vir die verhoog verwerk en by die KKNK van 2003 aangebied, asook by die Woordfees. Dit is oor ’n tydperk van 26 jaar vir skole voorgeskryf.
Ná die publikasie van Die uurwerk kantel skryf Audrey Blignault (Rapport, 2 Augustus 2009): “Marié is anders as ek. Sy verwoord nie alles in daaglikse gesprek nie. Sy het nie daardie behoefte [...] nie. Ek het soms gedink sy weet nie hoe iets regtig is nie. Dit wat vir my tot soveel bittere hartseer stem – ek het regtig by tye gemeen dat dit Marié verbygaan. En hier is dit nou in dié boek. Haar oom se dood. Haar pa se dood. Dit is alles in dié boek. Soos Marié vir my die dag met die boek se verskyning gesê het: ‘Ma, ek het my hele lewe lank aan die boek geskryf.’”
Die uurwerk kantel was volgens Marié deels biografies, deels outobiografies en ook suiwer fiksie. “Dit is juis waarom ek die roman verkies, want daar kan altyd agter fiksie geskuil word,” verduidelik sy aan Amanda Botha in Die Transvaler. “Hierdie roman was vir my ’n baie bevredigende ervaring. Die feit dat ek sekere ervaringe kon verwerk – onder meer die dood van my pa – was vir my baie belangrik.”
Die verhaal van Die uurwerk kantel weerspieël wesenlik enkele herinneringsgrepe uit die lewe van Maria du Preez, gebore Celliers, van 1897 tot 1972, waar die ou vrou Maria op haar uiterste siekbed lê. Maar, skryf PD van der Walt (Die Transvaler, 27 November 1976), reeds vroeg in die verhaal is dit duidelik dat dit ’n teruggryp in die lewe van die dramatiese verteller is. “Hierdie rede word in kursief gedruk en dan neem die derdepersoonsverteller oor wie se beelding toegelig word deur Maria se gedagtestroom op daardie tydstip. Die leser is dus bewus daarvan dat dit ’n verhaal in terugskouing is, maar deur die tegniek van afwisseling van gesigspunt word daardie verlede ’n lewende en geskakeerde werklikheid.
“Die eerste deel beeld Maria se kinderjare op die Bolandse wynplaas, haar skoolgaan en haar universiteitsjare tot en met haar huwelik met Willem die meesterbouer van Kaapstad uit. Die tweede deel vertel van haar lewe in Kaapstad en die geboorte van haar kinders. In die derde deel is Maria en Willem reeds middeljarig en die kinders uit die huis. Omstandighede buite die huis, soos die Tweede Wêreldoorlog, raak hulle. Dit is dus ’n gesinsverhaal wat oor vier geslagte strek, met Maria se lieflingskleinkind Mariechen reeds volwasse.
“Die dinge waarvan vertel word, is die klein avontuur van menswees (Van der Walt): kind, jong meisie, vrou, oumens, met al die intieme huislike en familiale lief en leed wat daarmee gepaard gaan. En tog maak die skryfster hiervan ’n boeiende en sinvolle avontuur. Daar is negatiewe dinge in die roman, maar dit doen nie afbreuk aan die verdienstelikheid, die knapheid en rypheid van hierdie debuutwerk nie. Dit is ’n talentvolle stuk skepping en kan die voorspel tot groot dinge wees.”
In 2006 is ’n tweede uitgawe deur Protea Boekhuis uitgegee en is enkele veranderinge aangebring. Nicol Stassen van Protea Boekhuis het gesê dat sekere terme binne die patriargale sisteem en baas-kneg-verhouding verouder was en met hulle rassistiese ondertone aanstoot kon gee. “Maar jy moenie die geskiedenis so verander dat dit onherkenbaar is nie.”
Betsie van der Elst (Tydskrif vir Geesteswetenskappe, Junie 2007) meen dat Die uurwerk kantel nie deur die sif van die tyd irrelevant gemaak is nie en dat veral die algemeen-menslike van die roman die hedendaagse leser steeds behoort te boei.
Anna M Louw het in Beeld van 18 Oktober 1976 geskryf dat Uurwerk ’n baie verdienstelike roman is en een wat aandag verdien. “Dit voldoen aan die vernaamste vereistes van die romankuns en dit boei die leser. Dit is verfrissend om jou te verdiep in die rustiger, waardiger, minder selfsugtige lewenspatroon van daardie dae.”
Oor die 2006-uitgawe skryf Louise Viljoen (Beeld, 24 Julie 2006) dat as dit geplaas word teenoor soortgelyke romans wat sedert 1976 deel geword het van ons leeservaring in Afrikaans, dit wel ’n behendig geskrewe teks is wat mooi momente bevat, maar nie werklik grense kon versit nie.
Marié se roman Tyd van beslissing is vir skole in Suid-Afrika voorgeskryf. In 1984 word The box kite summer, haar eerste jeugverhaal, gepubliseer en vir hoërskole in Natal voorgeskryf. Our secret, wat ook as Ons geheim uitgegee is, is in Xhosa vertaal onder die titel Ihelebu letho en vir video aangepas.
Tyd van beslissing is ’n gyselaarsdrama waarby vooraanstaande Suid-Afrikaanse politieke figure en hul families betrokke raak. In hierdie roman maak Marié Heese gebruik van ’n buitelandse terroristegroep wat ’n ultimatum aan die regering van Suid-Afrika stuur om die tema van die geveg tussen vryheid en “gevangenskap” uit te beeld. Só word die eerste minister verplig om ’n keuse te maak tussen sy persoonlike belange en dié van die staat.
In Volksblad (8 Desember 1983) het Anna van Zyl geskryf: “Dit is ’n spannende aktualiteitsroman wat ’n idee gee van hoe só ’n situasie mense kan inspireer. Daar is knap persoonlikheidsbeelding en die roman lees lekker, hoewel die storie nie altyd intakt is nie. Dit is ook nie van die kaliber van Die uurwerk kantel nie.”
In 1997 publiseer Unisa Uitgewers ’n bundel haikoes deur Marié Heese onder die titel Haiku for Africa. Dit was die eerste digbundel wat by Unisa Uitgewers verskyn het. In 2014 is dit bygewerk en heruitgegee. Die Oos-Kaapse kunstenaar Edith Bukani se linosnee-afdrukke, wat haar reaksie op die haikoes uitbeeld, is as illustrasies gebruik. Natalia Molebatsi, ’n digter en stemkunstenaar, lees die gedigte voor en ’n CD is by die bundel ingesluit. Dit is ook Unisa se eerste e-boek.
In Rapport van 13 Julie 2014 skryf Amanda Botha dat dit vir die uitgewers baie spesiaal was om hierdie drie vroue van Afrika te kon gebruik het om aan só ’n projek saam te werk. Die haikoe is ’n Japannese digvorm wat nog nie baie in Afrikaans beoefen is nie en is al beskryf as “die kuns om vervlietende momente met ’n hand vol woorde vas te vang”.
Heese was ook baie in haar skik met dié samewerking, sê sy aan Botha. Vir haar is Bukani se kunswerke baie treffend en is dit die kunstenaar se eie interpretasie van die essensie van Afrika en maak dit die bundel sterker. Oor die klankaanbod in die bundel sê Marié dat gedigte gelees móét word en dat Natalia dit besonder goed gedoen het.
Botha wou by Heese weet wat dit is van die haikoe wat haar aantrek. “Ek dink dit is eerstens die filosofie daaragter, en dit is die intense belewenis en vaslegging van ’n betekenisvolle oomblik. Die digter se oog, se waarneming, vang dan daardie moment vas. (In Engels staan dit bekend as ‘the haiku moment’.)
“Ook die elliptiese stelwyse trek my. In ’n goeie haikoe, soos in elke goeie gedig, staan daar meer as wat direk gesê word. En dan geniet ek die uitdaging van die voorgeskrewe, uiters beperkte struktuur. Ek het my streng bepaal by die 17 lettergrepe, hoewel ek ander sogenaamde ‘haikoereëls’ bewustelik oortree. (Daar is lang lyste reëls waaraan jy jou nie hoef te steur as jy nie wil nie.)
“’n Deel van die uitdaging is dat die leser of toehoorder nie bewus moet word van ’n stryd om aan ’n vaste vorm te voldoen nie. Dit moet net natuurlik klink.”
Oor ander kenmerke van die haikoe vertel Marié verder aan Botha dat dit dikwels in twee helftes uiteenval, “met wat genoem word ’n cutting word wat die twee skei. Die tweede deel is dan meermale ’n kontras of toepassing. Een van myne:
Summer promised not
to take an autumn lover,
but she lied, she lied.
“In hierdie een is ‘but’ die snywoord.”
Oor die betrokkenheid van die bundel by Afrika en die landskap van Afrika sê Marié dat die aard van die haikoe verband hou met die natuur. “Tradisioneel is daar in elke haikoe ’n woord wat hierdie aanduiding gee van die seisoen, hoewel nie altyd direk nie. So byvoorbeeld sou ‘padda’ dui op lente. Ek hou my nie streng daarby nie, maar die meeste van my gedigte handel wel oor die natuur. En as ’n mens in Afrika woon, moet jy oor die natuur om jou heen dig, nie oor verbeelde Europese af Asiatiese tonele nie. Dit sou oneg wees.”
Marié geniet dit om met die haikoevorm te werk, omdat ’n mens lekker in hierdie kunsvorm kan speel. “Dis nie veronderstel om te rym nie, maar ek gebruik soms rymwoorde, binnerym en eindrym, maar waarvan een rymwoord in die middel van die tweede reël val. Dan sou ’n mens die hele gediggie kon oorskryf as ’n koeplet met paarrym. Soos:
I would have liked to
complete the game. But I heard
the owl call my name.
“Jy kan dit sny na game, en dan twee reëls maak.”
In 2010 word Marié se The double crown: secret writings of the female Pharaoh aangewys as die wenner van die Statebond-skrywersprys se Afrika-streeksprys. Sy het aan Willem de Vries (Beeld, 13 Maart 2010) gesê sy was werklik verstom oor die prys. “Die manuskrip was by meer as 40 uitgewers, in Suid-Afrika en oorsee, gewees voordat een dit aanvaar het. Dit het met ’n ompad by Human & Rousseau aangeland. My redakteur Alida Potgieter was van meet af aan geesdriftig daaroor, en met haar voorstelle het ek veranderinge aangebring wat die teks verbeter het.”
The double crown is ’n politieke riller wat lig werp op Hatsjepsoet, een van die interessantste vroue wat Afrika opgelewer het. Sy het teen ongeveer 1 500 vC die dubbele troon van Bo- en Onder-Egipte haar eie gemaak en haarself tot farao en god verklaar en die troon voor haar stiefseun, Thutmose III, bestyg. Terwyl sy regeer het, was daar vrede, voorspoed en ekonomiese welvaart in Egipte. Sy het ook ’n uitgebreide bouprojek van stapel gestuur wat tempels en beelde van ou gode herstel het.
Hatsjepsoet se naam is egter na haar dood van koningslyste en uit tempels verwyder en baie van die standbeelde wat sy laat oprig het, is in puin gelê. Gelukkig het haar eie tempel bly staan, en die unieke ontwerp is steeds ’n monument vir dié besonderse vrou. Argeologiese navorsing deur die Metropolitan Museum in New York het heelwat lig op die era van Hatsjepsoet gewerp, maar daar is steeds, skryf Saartjie Botha in Rapport (2 Augustus 2009), onbeantwoorde vrae oor haar lewe en veral rondom haar dood. En dit is juis hierdie vrae wat vir Marié Heese uitstekende romanmateriaal geword het.
Marié was nog altyd geïnteresseerd in antieke Egipte en het van Hatsjepsoet gelees in Evelyn Wells se biografie Nefertiti, waarin daar na haar verwys word. En die geheimsinnigheid rondom haar het Marié geprikkel en haar verder aan die dink gesit oor hierdie fassinerende vrou, vertel sy aan Amanda Botha (Die Burger, 13 Junie 2009).
“Daar is soveel gissinge, soveel onduidelikhede en net soveel weergawes,” vertel Marié aan Amanda Botha (Die Burger, 13 Junie 2009). “Toe ek nadink oor Hatsjepsoet, as stiefma, se verhouding met haar stiefseun en wonder oor die rol van Senenmut, het ek vir myself gesê: ‘Bliksem, dit kan ’n interessante roman wees’ en toe het my speurtog met mening begin.”
Marié en haar man Chris is op Hatsjepsoet se voetspore na Egipte en in Kaïro se argeologiese museum het hulle op ’n ongelooflike versameling artefakte afgekom. Sy het daardeur gegaan totdat sy uiteindelik op die grondverdieping op ’n enorme beeld van Hatsjepsoet afgekom het. “Dit is ’n reusagtige kop van gepoleerde rooskleurige graniet. Die taamlik ronde gesig, ferm lippe, amandelvormige oë en die vals baard van die farao’s netjies onder haar vasberade ken, waarskynlik in posisie gehou met lusse oor die ore, het my opnuut bekoor. Oor die jare is daar baie verskillende portrette van haar opgestel. Terwyl ek na die reusagtige beeld van haar gekyk het, het baie vrae by my opgekom oor wie sy werklik was.” (Aan Amanda Botha)
Daarna is hulle met die Nylrivier op ’n boot na die Vallei van Konings totdat hulle Hatsjepsoet se tempel opgespoor het by Deir el-Bahri (in vervloë tyd Djeser-Djeseru, “heiligste onder heiliges”). Die tempel staan aan die westelike wal op ’n oop vlakte, met enorme kranse agter, en vir Marié is dit een van die mees verbysterende strukture van die antieke wêreld.
“Daar is geen ander strukture in Egipte wat eens naastenby so lyk nie ... Die ontwerp is ’n oorspronklike verbeeldingsprong en opgerig met doelgerigte toewyding. Ek dink dit is gedoen deur niemand anders as Senenmut nie, en hy het dit pragtig gemaak. Dit was nie bloot ’n opdrag van ’n Farao nie. Dit was ’n grootse ode aan ’n geliefde vrou.”
Senenmut het as ’n nederige skrifgeleerde begin en is aangestel as die leermeester van die prinses Neferure, dogter van Hatsjepsoet. Hy het opgang gemaak tot die regterhand van die farao.
Marié het die roman in Engels geskryf omdat sy wou sien “if I could crack it” en ook omdat die taal van die tydperk ’n antieke retoriek moes hê – “Ivanhoe meets Old Testament.” Afrikaans as taal is te jonk hiervoor.
Ná die publikasie van The double crown vertel Marié aan Saartjie Botha (Rapport, 2 Augustus 2009) hoe sy toe oor Hatsjepsoet voel: “Asof sy ’n mens is wat haar aan my openbaar het. Asof ons kon kommunikeer. Nie in ’n bonatuurlike sin nie. Eerder asof sy ’n halfbekende familielid was wat ek sou geken het, maar toe moes gaan soek in haar nalatenskap.”
Sy het ook gekyk na profiele van veral Elizabeth I, Margaret Thatcher en Golda Meir terwyl sy aan Hatsjepsoet gewerk het. Sy “vrek oor mans”, maar bewonder sterk vrouefigure, wat deel is van haar voorgeslagte.
Oor hoekom sy juis op daardie tydstip aan The double crown begin skryf het, vertel sy aan Corné Coetzee in Volksblad (9 September 2009): “Ná Uurwerk het ek ’n ‘belated’ akademiese loopbaan gehad ... Daar was nie tyd vir ’n vollengte historiese roman nie. Toe het ek vroeg afgetree en besluit ek gaan weer skryf, ’n historiese roman, want dis eintlik my genre en ek geniet die navorsing. Maar ’n lang tyd kon ek geen manuskrip van enige aard aanvaar kry nie.
“Ek het amper moed opgegee, was een derde van die pad deur The double crown toe my seun my ’n boek oor antieke Egipte gee en ek besluit: Nou skryf ek klaar. Hatsjepsoet wil gehoor word.”
Oor die totale respek vir die Egiptenare, en spesifiek Hatsjepsoet se geloof, waarmee sy skryf, vertel Marié aan Coetzee: “Die geloof van die Egiptenare was veral vir die farao van wesenlike belang, nie ’n toeristefoefie nie. Ek wou wys met watter diepe erns Hatsjepsoet daarvolgens probeer leef het, met ’n gevoel van geroepenheid en verantwoordelikheid. En skuld. Ek respekteer verskillende benaderings tot die onsienlike.”
Oor The double crown skryf Laetitia Pople in Die Burger (13 Julie 2009): “Om ’n leser meer as 3 500 jaar terug te neem in die geskiedenis, na ’n antieke ryk, na mense met ’n gans ander Godsbegrip as die Westerse wêreld en ’n hoogs verwikkelde politieke bestel, wil gedoen wees. Marié Heese laat jou met gemak ’n reusetydsprong maak.
“Hier is nie ’n sweempie muf van die stowwerige geskiedkundige relaas nie. Soos ’n goëlaar roep sy ’n imposante antieke Egipte voor die geestesoog en gee sy vir Hatsjepsoet, die enigste vroulike farao, wat twee dekades regeer het, die lewenskus. (...) As daar ’n rolprent van dié boek gemaak word, sal die kinematograaf die visuele voorstellings en inkleding reeds in die hand hê. Teen dié grootse doek word Hatsjepsoet bekendgestel as die gesalfde van die gode en volgens haar bloedlyn die aangewese heerser. (...) Die verhaal word as haar ‘eie’ rekord van haar bewind aangebied – sy is ‘self’ aan die woord. Elke hoofstuk word afgesluit met ’n tipe voetnoot van haar sekretaris, Mahoe. Sy skrywe verskaf die groter prentjie en skets die verreikende gevolge van haar dade. (...)
“Bowenal staan haar toenemende eensaamheid as farao uit, wat ná haar man se dood nie ’n minnaar mag neem nie, hoewel die manlike farao ’n harem gehad het. Dit sou as verknegting aan ’n sterflike man beskou word en sy sou so summier van haar mag ontneem word. Daar was wel tyd vir liefde en teleurstelling. Wat die leser veral in ’n boeiende greep het, is die onophoudelike verraad en dat Hatsjepsoet niemand kon vertrou nie, selfs nie haar getrouste raadgewers nie. Haar toenemende vereensaming gryp aan.
“The double crown is ’n roman waarin jy jou nou behoorlik kan inleef; dit kan op soveel vlakke geniet word. Hoewel dit fiksie is, maak dit die antieke geskiedenis lewend. Heese se uitgebreide navorsing is so treffend vertolk dat jy ’n verlies voel as jy die boek oplaas toemaak.”
In Rapport Boeke (7 Augustus 2011) skryf Moira Richards dat Marié in The double crown daarin slaag om haarself in Hatsjepsoet se skoene te sien. “Terselfdertyd fokus sy op vraagstukke wat vandag nog steeds van belang is soos ‘glasplafon-magskwessies’ in ’n patriargale samelewing, topposte, die openbare lewe en die prys wat kinders, vriende en die gesin moet betaal.”
Dit is straks Marié se kennis van staatsfilosofie en drama, asook haar ervaring as letterkunde-onderwyser, meen Richards, wat daartoe bydra dat al speel The double crown in ’n onbekende wêreld in ’n vervloë tyd af, dit steeds baie leesbaar is.
In 2010 publiseer Tafelberg Die honger reisiger: reisverhale met resepte, en vir Joan Hambidge (Volksblad, 20 Julie 2010) is dit ’n briljante konsep. Die plekke waar in die boek gekuier word, is heel verskillend en die skets van die reis daarna is net ’n verskoning vir die resep. Met die geregte kuier Marié opnuut weer in daardie lande of streke wat sy en haar man besoek het. “Daar is veel te smul aan die boek: van haggis tot Robert Burns, van hoender met pruimedante tot ’n vaart oor die Bosporus.”
Moira Richards (Rapport, 7 Augustus 2011) meen dat die bekoring van Marié se reisbeskrywings in haar vermoë lê om die versteekte juweeltjies uit te grawe oor die plekke wat sy besoek. En waar daar nie ’n storie is nie, kry sy dit maklik reg om ’n geloofwaardige interpretasie van die feite vir haar en die lesers voor te stel.
Op ’n dag is Marié in Stilbaai se biblioteek toe sy toevallig ’n kopie van National Geographic van ’n paar dekades vroeër raakloop waarin daar oor die Bisantynse Keiserryk geskryf is. Twee jaar na The double crown bring Marié toe vir haar lesers The colour of power: a story of Theodora, Empress of Byzantium, nog ’n deeglik-nagevorste geskiedkundige avontuur wat ’n mens nie kan neersit nie, skryf Moira Richards in Rapport Boeke van 7 Augustus 2011. “Dit spring 2 000 jaar die verlede in en speel af in die 6de eeu nC. Dit vertel die verhaal van die gebore Siriër en ontkleedanseres wat uiteindelik die keiserin, vrou van die groot Justinianus I, keiser van Bisantium, word.
“Nie net beskou Heese die historiese bronne tot haar beskikking versigtig nie, maar sy herbeoordeel ook die afleidings en verklarings van baie geskiedkundiges van die 20ste eeu. Ook is haar houding baie minder seksisties. Een van die bronne wat baie inligting oor daardie tydperk opgelewer het, is die bewaarde en vertaalde werk van Prokopius, 6de-eeuse skrywer en historikus.”
Marié vertel aan Richards: “I find it strange that historians who, on the one hand, do not take seriously Procopius’s statements that Justinian was a daemon who could disappear through walls, on the other hand do swallow accusations that Theodora routinely slept with thirty men per night.”
Verder bevraagteken sy Prokopius se bronne, iets wat net so relevant is vir lesers in 2011: “Doesn’t anyone notice that Procopius passes on totally uncorroborated hearsay? He actually uses the words ‘we are told’ on p 44 and ‘it is said’ on p 84. Hearsay in the passive voice. How can such a reporter be trusted?”
Die middelpunt van The colour of power is Theodora se lewe, haar begrip van die politiek van die dag en haar invloed as keiserin. Vir Richards (Rapport, 7 Augustus 2011) is die eenvoudige, dog toeganklike taal met eietydse dialoog een van die pluspunte van die boek. Die leser is vasgenael en bly aan die raai oor die uiteinde van die storie.
“Die storie begin waar keiser Justinianus toegesluit is in een van sy luukse paleise. Duisende inwoners is besig om te ‘betoog’ teen die keiser se tirannie en hulle wil ’n verandering van heerser hê. Tot die gesamentlike mag van die weermag en die huursoldate kan nie die skare beheer nie. Vir Richards kon dit net sowel die storie oor die Arabiese Lente van 2011 in een van die lande langs die noordelike kuslyn van Afrika gewees het.”
Dit is dan ook in daardie deel van die wêreld waar The colour of power afspeel. Dit is net 1 500 jaar vroeër, in 505–532 nC aan die kus van die Middellandse See. Toe was Istanboel nog Konstantinopel en die Bisantynse Ryk het gestrek van Griekeland en Turkye deur Sirië, Palestina, Egipte en langs die noordkus van Afrika, insluitende Sirenaïka (nou Libië), verby Kartago (nou Tunis). En al het daar so baie dinge intussen verander, is alles tog ook dieselfde.
Shirley de Kock Grueller (Cape Times, 5 Augustus 2011) beskryf The colour of power as historiese fiksie op sy beste. Marié slaag daarin om die tydsgees, die siel van ’n vrou en die etos van ’n wêreld vas te vang. “She takes us along for the ride, from the smells of thousands in the Hippodrome, to the banquets Theodora’s sister gave for the high-born in the mansion supplied by her own lover.
“Heese lets us toss on the seas as Theodora sails from Constantinople to Africa to further her ambitions. (...) We feel the pain of her abortion and the anguish of a miscarriage and, although we know that Heese has taken liberties, we don’t mind. She tells us who is real and who not, and where she has taken licence to embellish.
“We live through Theodora’s conversion and her counsel to her husband; we see the devotion she arouses in eunuchs, soldiers and servants; we feel the hatred of a spurned would-be lover. We see the cruelty.
“The result is a marvellous tale of the grandeur of the past, a story of one woman’s passion for life, a woman who lived beyond the requirements of her times; and it is told in Technicolor.
“With a prologue and several interludes, Heese moves smoothly from past to the then present, and in her notes at the end, she offers perspective, fleshing out the details of the local politics and making us interested in Byzantium and its place in our world.”
The colour of power gaan oor Theodora se reis van ’n klein dogtertjie tot haar huwelik met Justinianus. Op hierdie reis het sy ’n aktrise geword en ’n gesellin vir magtige mans wat voor haar legendariese skoonheid geswig het. Sy het geen ander keuse gehad nie, aangesien haar pa oorlede is toe sy vyf jaar oud was en haar ma die drie dogters alleen moes grootmaak (Business Day, 8 Augustus 2012).
Maar Marié was nog nie klaar met Theodora nie. In 2012 volg A triple-headed serpent, wat ’n vervolg op The colour of power is. In ’n onderhoud met Sue Grant-Marshall (Business Day, 8 Augustus 2012) sê Marié dat dit haar getref het hoe sleg die geskiedenis beide vroue oor wie sy geskryf het, Hatsjepsoet en Theodora, behandel het.
Sy het ’n “really nasty little book” ontdek wat deur die Romeinse geskiedkundige Prokopius geskryf is waarin hy Theodora as ’n “vicious slut” beskryf. Hy het haar beskryf as dat sy kwansuis seksueel onversadigbaar was en nag na nag met dertig of meer mans seks bedryf het. Marié het hierdie storie as te aaklig en heeltemal onwaar beskryf. Volgens ernstige geskiedkundige verslae was Theodora hoog aangeskryf en haar man, keiser Justinianus, het na haar verwys as sy “pious consort, given to us by God”. Daar is dus, volgens Marié, ’n dichotomie tussen die “vicious slut” aan die een kant en die Godgegewe geskenk aan die ander kant.
A triple-headed serpent neem Theodora se storie verder en begin waar 30 000 mense in die hippodroom afgemaai word. Na die opstand het hierdie koningspaar die gedeeltes van die stad wat vernietig is, heropgebou en verseker dat families wat broodwinners verloor het, versorg is. “Justinianus het die kinders van verraaiers wat doodgemaak is, vrygespreek en hulle eiendom aan hulle terugbesorg,” vertel Marié aan Grant-Marshall.
“Die grootste gedeelte van Serpent konsentreer op die magtige, maar verontrustende, heerskappy van Justinianus en Theodora. Hulle moes aanhoudende aanvalle van die Gote en die Barbare afweer en Rome is ook gereeld bedreig, met die gevolg dat Bisantium hulle moes gaan red.
“Een van Theodora se beste vriendinne, Antonina, was getroud met Belisarius, die keiser se getrouste generaal, en nogal teen die tradisies van daardie jare het sy saam na die oorlogsgebiede gevaar. Dit is op rekord dat Antonina op hierdie avonture aan Theodora geskryf het. Marié het besluit om meer van hierdie briewe deel van haar boek te maak, want dit was ’n literêre foefie om die oorloë interessanter te maak. ‘They’re dead boring for me – one battle after another.’
“Theodora en Justinianus se liefdesverhaal, wat afspeel in die yslike paleis waar hulle gewoon het met kamers om in aan te trek en ander om in uit te trek, is waar. Dit is ook ’n geskiedkundige feit dat Justinianus dodelik siek was aan die pes en dat dit net Theodora se toegewyde verpleging was wat hom gehelp het om te oorleef.
“Toe Theodora dood is, vermoedelik aan kanker, het haar man vir sy oorblywende 17 jaar, oor haar gerou. Die hospitale, kloosters en kerke wat Theodora laat bou het, en haar invloed op die wette, veral dié wat betrekking gehad het op vroueregte, is ook histories korrek.”
The triple-headed serpent was in 2013 op die langlys van die Sunday Times se fiksieprys.
The colour of power is in Turks vertaal en dit het Marié baie bly gemaak, vertel sy aan Grant-Marshall. “Hulle moes my navorsing aanvaarbaar gevind het. Hulle moet ook glo dat ek hulle geskiedkundige figure, wat baie belangrik vir hulle is, met die nodige respek behandel het.”
Marié het aan Grant-Marshall gesê dat Theodora in die huidige tyd vergelyk kan word met Margaret Thatcher. “But Justinian would not have been Denis.”
Marié lyk baie na haar bekende ma, Audrey Blignault, en klink selfs ’n bietjie soos sy wanneer sy lag. Ná Audrey se dood in 2008 wou Tafelberg Uitgewers haar met ’n vierde bloemlesing huldig. Marié is gevra om dit saam te stel en dit het in Julie 2008 verskyn onder die titel Audrey Blignault: Uit die dagboek van ’n vrou. Hieroor vertel Marié in Die Burger van 4 Junie 2009: “Ek het besluit om ’n ‘outobiografie’ van my ma uit haar werk saam te stel. Ek het na ’n deurlopende narratief gesoek wat al die tydperke en die vernaamste gebeurtenisse van haar lewe uitbeeld. Vyf afdelings het byna vanself tot stand gekom: haar Bredasdorpse kinderjare; studentejare en haar kort onderwysloopbaan; haar eerste huwelik en reise; die dood van haar eerste man in ’n motorongeluk, waarin sy ook ernstig beseer is en die swaar tussentyd; en haar tweede huwelik.”
Marié vertel in Die Burger hoe sy in haar ma se tekste gevind het hoe haar familie, sommige aanvanklik onder skuilname, hul een ná die ander aangemeld het, maar die verhaal is ook nie volledig nie. “’n Verskeidenheid vriende loer in, maar kon nie almal ’n volledige spreekbeurt kry nie, anders was die boek twee keer so lank.
“Wat vir my as samesteller wel belangrik was, was dat die beeld van die skrywer so volledig moontlik moes wees. Ek dink, sonder dat my ma dit beplan het of enigsins kennis gedra het van so ’n verskynsel, het sy haarself as ’n bekende, vertroude en geliefde handelsmerk gevestig. Sy het bepaalde kenmerke gehad waaraan sy dadelik herken is: ’n rooi rok, sy’s boekverskrik, praat graag, skryf baie en is onverpoos vol vreugde. Maar ek wou ’n meer genuanseerde beeld oor haar tot stand bring.”
Chris en Marié is geesdriftige reisigers wat die meeste lande in Wes-Europa, Brittanje, Amerika, China, Israel, Turkye en Egipte al besoek het. Hulle het die eerste ses maande van 2001 in Eritrea deurgebring, waar hulle die ministerie van gesondheid gehelp het om ’n afstandleersentrum op die been te bring.
In 2002 verhuis Chris en Marié permanent na Stilbaai, ’n kusdorp aan die Tuinroete. Hulle het in 2008 betrokke geraak by ’n projek op Stilbaai om ’n botaniese tuin met inheemse fynbos daar te vestig. Dit is in April 2016 ingewy deur Ernst van Jaarsveld en is nou ’n amptelike bate van die Hessequa Munisipaliteit. Marié het aan Eleine Roets (Plus 50, Oktober/November 2016) gesê dat dit ’n uitdaging was met ’n lonende uitkoms.
Marié is nie so ’n ywerige tuinier soos haar ouma nie, maar sy deel haar ouma en ma se liefde vir rose. Haar ouma se huis se naam was Rosedene, en sy het Marié met elke besoek aan die rose voorgestel. “My man, Chris, het ’n stukkie grond by Vanwyksdorp gekoop met die mooiste uitsigte op die Langeberge en die Rooiberge,” vertel sy aan Saartjie Botha (Rapport, 2 Augustus 2009): “Ons het die twee ou plaashuise gerestoureer en ek was verbaas om te sien dat die roosbome ná jare se verwaarlosing en droogte oorleef en sowaar blom. Dit het my geïnspireer om nog te plant. Net dié wat soos rose ruik.”
Haar geliefde tydverdrywe is lees, fynkookkuns en afrigting vir openbare redevoering. Sy is ’n kompulsiewe leser, ’n entoesiastiese, maar middelmatige, brugspeler en glad nie goed in enige sport nie. Sy is baie lief om te onthaal met Italiaanse en Griekse kos met baie knoffel, sjokolade, ernstige koffie, enkelmoutwhiskie, goeie geselskap, jazz, klassiekekitaarmusiek, kamermusiek, ballroom dancing, lewende teater en katte. Sy hou nie van rooi uie, beet, kruietee, oefening, honde (behalwe haar eie) en realiteitstelevisie nie.
In 2013 verskyn Marié se eerste jeugroman in Afrikaans, Karoo-kantate. Dit was glad nie op haar program om ’n jeugverhaal te skryf nie, maar ná die sukses van haar drie Engelse romans het sy weer die manuskrip van dit wat “soort van ’n jeugboek” is, uit haar laai gaan haal en afgestof nadat sy dit amper weggegooi het.
Sy vertel aan Leatitia Pople in Beeld van 26 September 2013: “Dis ’n ou manuskrip wat verskeie uitgewers van die hand gewys het. Met die sukses van die historiese romans het ek hierdie een gelos. Maar uiteindelik kyk ek weer daarna, toe sien ek dis nie goed nie. Dit was oorspronklik twee keer so lank en dit was soort van ’n jeugboek, want die een hoofkarakter is hierdie kind, maar ook nie heeltemal nie. Ek het darem al baie tyd en moeite daaraan bestee, toe dog ek, miskien kan ek iets red.”
Toe haal sy wat sy noem die boomsaag uit. “Dit is die helfte korter, newe-intrige is uitgesny, heelparty karakters is ook uit en mislukte pogings tot magiese realisme is uit. En toe lyk dit beter. Maar ek moes nog heelwat hulp kry om daaraan te skaaf.”
Karoo-kantate handel oor die weeskind Jannie Lappies wat met haar nagtegaalstem ’n ommekeer in haar eie lewe en die lewe op die Karoodorpie Van Stadensdorp en sy mense bring.
Die vroegste inspirasie vir Karoo-kantate was die romans van die Britse kinderboekskrywer Elfrida Vipont wat Marié reeds as kind so geniet het. “Vipont se The lark in the morn en The lark on the wing handel oor so ’n jong meisie wat goed kon sing. En toe sien ek ’n program met Charlotte Church, die jong meisietjie wat so pragtig sing, wat my aan die Vipont-boeke herinner het. Maar ek het die boeke nie weer gaan lees nie en ek glo die verloop van die verhaal is heeltemal anders. Ek wou dit ’n eietydse, Afrikaanse konteks gee,” vertel sy aan Pople.
Skryf ’n mens anders vir die “jeug”? wou Pople weet.
“Miskien skryf ander mense anders vir die jeug. Ek probeer net om ’n goeie storie goed te vertel. Tog moet jy wel ’n idee hê van jou waarskynlike leser. Ek dink die eerste weergawe van Karoo-kantate het mank gegaan aan my gebrek aan duidelikheid hieroor. Daarby gesê, as dit as ’n jeugroman bemark gaan word, haal die proeflesers al jou vloekwoorde uit. Byvoorbeeld, toe Nols Jannie die eerste keer hoor klavier speel, het ek hom laat sê: ‘Godverdomme’ en nie ‘hond se kierie’ nie, maar dis uitgehaal.”
Op watter dorpie is Van Stadensdorp gegrond? “Dis ’n amalgamasie van allerhande dorpies wat ek as kind geken het. Onder meer ook Vanwyksvlei, waar ek en my man nou se dae ’n stukkie grond het en waar ek en ene Martiens ’n lieflike roostuin gemaak het. Maar daar’s nie ’n gastehuis of ’n paksaal nie. Dis ’n Platoniese ideaal van ’n dorpie” (Beeld, 26 September 2013).
Amanda Botha (Rapport, 4 Oktober 2013) beskryf Karoo-kantate as “die verhaal van Jeanne Labuschagne (beter bekend as Jannie Lappies) en Arnold (Nols) Terblanche se deursettingsvermoë en medemenslikheid wat tot selfverwesenliking lei. Daar is ’n mate van simmetrie in hulle lewe, hoewel ’n bruin weeskind van Woodstock en ’n wit, afgetrede, internasionaal bekende komponis en dirigent op die oog of niks gemeen het nie.
“Jannie Lappies is uiters musikaal en het al onderrig van ’n goeie stemafrigter ontvang. Nols se susterskind, Stien, neem Jannie vir ’n kort vakansie na Van Stadensdorp. Wanneer Nols haar hoor sing, prikkel haar uitsonderlike stem hom om ’n kantate te voltooi waarmee hy gesukkel het. Die kind en die ouerige man speel deurslaggewend op mekaar se lewe in. Dit bring ook vir die dorp as geheel voordeel mee.”
Marié het ambivalente gevoelens oor die afbakening van genres en glo goeie stories spreek tot alle ouderdomme. “Wat my egter irriteer,” sê sy vir Amanda Botha in Rapport van 4 Oktober 2013, “is as uitgewers se buitelesers of resensente voorskriftelik begin raak. Byvoorbeeld, die storie moet net oor jongmense se lotgevalle handel, grootmense moenie eintlik figureer nie. Twak, man. Karoo-kantate, hoop ek, bewys dat dit nie noodwendig geldig is nie.”
In 2013 verskyn ’n nuwe geskiedkundige roman van Marié in Afrikaans. “Die titel is Vuurklip. Dit speel af in die oertyd en ek kon dit skryf in annerlike Afrikaans. In Engels is dit baie moeilik om so iets te doen. Russell Hoban het dit reggekry met Riddley Walker, maar dit lees vrek moeilik. Ek dink nie my oers is te moeilik nie,” vertel sy aan Pople.
Vir Vuurklip was die kwessie van taal vir haar van kardinale belang: “Ek wou nie dat ’n derdepersoon-verteller tussen die karakter en die leser staan nie,” verduidelik sy aan Amanda Botha in Beeld van 30 November 2013. Maar as daar eerstepersoon-vertellers sou wees, dan moes daar noodwendig taal wees, het sy gedink. Sy kon egter nooit dink hoe moeilik dit sou wees nie. Met haar navorsing oor die oorsprong van taal, het sy eers uitgevind hoe polemies die onderwerp is en dat daar tot vandag toe nog geen wetenskaplike verklaring is nie.
Sy moes vir Vuurklip ’n soort taal daarstel wat die beeld van ’n vervloë tyd (100 000 jaar gelede aan die suidkus van Afrika) vasvang. Daarom het sy ’n nuwe woordeskat daargestel vir die land- en seestamme. Vir hierdie “annerlike Afrikaans” het sy baie gebruik gemaak van Anton Prinsloo se Woordeboek van Afrikaanse kontreitaal.
Daar is geen enkele streektaal wat dominant is nie. Amanda Botha verduidelik (By, 29 November 2013): “Só gebruik sy woorde soos annerlike (Noordwes-Kaap), kwaadsoeklik en ramkind (kwaadsoekerig en manlike kind; Griekwaland-Wes), knopbek (kwaad of nukkerig; onder andere Namakwaland); en kopvreet (bekommer; Kaapstad). Party woorde kom uit haar langtermyn-geheue, soos amegtig, ammelee en aspres. Sommige woorde het sy self geskep, soos weterig en bloruil, waarvan die betekenis hopelik uit die konteks duidelik blyk.”
“Deurgaans het ek probeer om metaforiese taal of idiome wat opvallend later ontstaan het te vermy,” sê Marié aan Botha. “Vir sommige diere het ek omskrywings of ander benamings probeer gebruik, hoofsaaklik die groot diere soos die volstruis, leeu, olifant en luiperd, maar toe ek by die klein diertjies kom, voel dit vir my ’n haas is ’n haas en ’n mol is ’n mol. Miskien nie logies nie, maar g’n taal is logies nie.”
Botha noem dat Heese enkele abstrakte woorde behou het wat moeilik omskryfbaar of vervangbaar was, waaronder bid, heilig, onteer, wyding, geeste, die onsienlike en die Bose. Romanmatig was hierdie woorde vir haar van uiterste belang. “En ek vertrou niemand sal my kan aanvat oor ’n joke-taal nie,” sê sy vir Botha. “Hierdie taal dra religie, ritueel, hartseer, drama en liefde, nes enige ander.”
Sy het ook die volgende aannames gemaak wat wel deur die jongste argeologiese navorsing gesteun word:
- Dat die mens teen 100 000 jaar gelede, die tyd waarin Vuurklipafspeel, reeds die fisieke kenmerke besit het waarsonder taal soos ons dit ken moeilik sou wees, waaronder ’n larinks in die posisie waar dit die vorming van klinkers moontlik maak.
- Dat daar in daardie tydperk reeds sosiale strukture bestaan het wat met spesialisasie van take saamgaan en dus die nodigheid skep vir lede van ’n groep om te kan kommunikeer oor dinge wat nie konkreet teenwoordig is nie (soos: “Ons het ’n groot bok neergetrek, maar julle moet kom help slag en dan moet dit billik verdeel word”).
- Dat die aanwesigheid van ’n verskeidenheid gedifferensieerde werktuie noodwendig op gedifferensieerde taalgebruik dui. Sulke werktuie, wat so lank as bykans 200 000 jaar gelede bestaan het, is gevind.
In Die Burger van 12 Januarie 2014 skryf Joan Hambidge dat Marié Heese se vertolking van die oerbron boeiend is. Sy vervolg: “Vuurklip handel oor die lotgevalle van land- en seestamme aan die suidkus van Afrika ongeveer honderdduisend jaar gelede. En dit is dan die eerste belangrike aspek van die roman: die argeologiese navorsing waar bekende en populistiese navorsing gebruik word soos Robert Ardrey s’n, maar ook dié van wetenskaplike kenners soos John Parkington. (…)
“Die roman word van ’n nuttige lys van karakters (en geeste!) voorsien en die teks is in vier dele opgedeel: Die steelkwaad, Die diepste grot, Die woedende boom en Agterna.
“Dit is ’n roman van primordialiteit en die verwysing na walvisse en die boek Job (as motto) rig ’n lesing wat ónder die oppervlak beweeg. AS Byatt en Ignês Sodré se bekende studie oor psigoanalise en narratief het nuttig te pas gekom om die meervlakkige struktuur van vertelling te benader.
“Elke hoofstuk word deur ’n naam vergesel en die roman is dus ouktoriaal, met ander woorde, saamgestel deur ’n redigerende, interpreterende outeur. Hier tree die werklike outeur, Heese, dan ook ten slotte in en verduidelik op ’n sinryke wyse waarom sy die spesifieke taalgebruik ontgin het. Anton Prinsloo se Annerlike Afrikaans was dan die teks waaruit sy ryklik geput het. (…)
“Dis ’n roman wat soveel vraagstukke hanteer, maar dit veral as storie aanbied. Dit is ’n vuurklip, ’n verhaal van transformasie en besinning oor die geskiedenis, identiteit, ras en taal. Die roman bevat ’n uitgebreide bronnelys wat vir die navorser van onskatbare waarde is.
“Dit is ’n besondere roman deur ’n uitstekende navorser én storieverteller. Dis ’n boek van Job tot Jung; Ardrey tot Marean; van sjamanisme tot wetenskap. Die titel aktiveer dalk ook reïnkarnasie (‘Agterna’). Hierdie skrywer gee dikwels ’n stem aan die stemlose vrou op verskillende maniere.
“En of die ‘suspension of disbelief’ werk in hierdie roman? Die mening is ’n dawerende ja! Hierdie skrywer imponeer omdat sy soos ’n dirigent wat ’n groot orkes begelei die bladmusiek ken en haar eie interpretasie gee van ’n bekende simfonie.”
Marié Heese het nog nooit geskroom om op te staan en haar sê te sê vir ’n saak waaroor sy sterk voel nie. In 2008 is sy tot die raad van die Universiteit Stellenbosch verkies. In 2009 het sy bedank omdat sy gevoel het dat sy, veral wat die taalmedium betref, nie op ’n raad wou dien wat waarneembaar besig was met die doelbewuste verengelsing van die US nie. Sy het dit genoem in haar bedankingsbrief, wat die US geheim gehou het – dit het nooit by ’n raadsvergadering uitgekom nie.
“Dit gaan vir my primêr oor die kwessie van die taalmedium. Ek glo daar moet aan die US primêr in Afrikaans in voorgraadse klasse gedoseer word,” verduidelik sy haar besluit aan Jan Gerber in Beeld (12 September 2009). Sy het gemeen taalbesluite aan die US word strydig met raadsbesluite geneem en Engels word op ’n neerbuigende wyse opgedwing aan Afrikaanse studente, aan wie verkeerdelik voorgehou word dat dit tot hul voordeel is.
In November 2011 het Marié in geen onduidelike taal nie haar argwaan teenoor Pierre de Vos getoon. Hy het op sy blog dwarsklappe na Maties se “stompsinnige taalbulle” gegooi en nadat sy dit gelees het, het sy so kwaad geword dat sy in Rapport van 13 November 2011 kommentaar gelewer het onder die titel “Taal op Maties: Ouma Heese ‘strip’ haar moer”.
Sy vertel aan Hanlie Retief (Rapport, 21 November 2011) dat sy eenvoudig haar humeur verloor het. “Ek bedoel, Peertjie het net beledigings, nie argumente nie. Sy blog is ’n stuk Afrikaner-bashing en dis nie eens goed geskryf nie.
“Mense soos De Vos maak ’n karikatuur van ons, etiketteer ons as hierdie oumense wat bly vasklou aan apartheid. Hulle sê ons maak of ons begaan is oor taal en onderrig, maar eintlik wil ons Maties wit hou. Dis waarop dit neerkom: dat ons wit rassiste is.”
Vir Marié gaan dit alleenlik om die beste belang van ons studente. “Jy kan sê, ja, maar die studente wil Engels hê, en hul ouers wil Engels hê, maar ek weet dat as hulle huistaal Afrikaans is, dan is ‘wil Engels hê’ as eerstejaar op universiteit nie ’n goeie opsie nie. Daar’s wêreldwye navorsing wat dit bewys, daar’s nie meer daaroor te strye nie.”
In 2011 was Marié Heese een van 15 Suid-Afrikaanse vroue wat deur Solidariteit Helpende Hand vereer is vir hul uitmuntende bydrae tot die ontwikkeling op kulturele, geestelike en maatskaplike gebied van die Afrikaner-erfenis. Die toekennings is op Helpende Hand se tweedaekongres by die Vrouemonument in Bloemfontein oorhandig.
Oor watter werke haar skryflus aan die brand geskop het, vertel Marié in Beeld van 17 Maart 2012: “In my geval was dit nie ’n kwessie van ’n boek wat my laat voel het ek wil skryf nie. Ek het in ’n huis grootgeword waar daar gereeld geskryf is – my ma aan haar bydraes vir Sarie en my pa later van tyd vir die SA Mediese tydskrif.
“Ek het dus ’n sterk skryfgeen geërf en het geweet ek moet ook skryf. Maar boeke wat my laat voel het ek wil self skryf, was Charles Dickens s’n. Ek het omtrent al sy romans gelees toe ek op hoërskool was, veral A tale of two cities. Ek het ook oor sy lewe gelees, en van die mense wat op die kaai gestaan het in New York toe The old Curiosity Shop ’n vervolgverhaal was, om te verneem van Little Nell se lot. Hulle roep na die passasiers: ‘Is she dead? Is Little Nell dead?’ En toe die antwoord ‘Yes!’ kom, toe ween die hele Amerika. Ek wou ook skryf sodat mense innig aangegryp word.
“By terugskoue is daardie roman erg sentimenteel. Maar Dickens bly ’n meester van die romankuns. Onlangs weer A tale of two cities gelees, en ja, ek wil nog steeds sulke historiese romans skryf.”
Na die Woordfees van 2014 is Marié genomineer vir ’n Woordtrofee vir beste gevestigde skrywer vir haar gesprek oor Karoo-kantate en Vuurklip.
In 2016 word Heese se vyfde historiese roman in tien jaar deur Human & Rousseau uitgegee onder die titel Maestro met die subtitel ’n roman oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini.
Tydens die bekendstelling van Maestro vertel Marié aan Amanda Botha (Vrouekeur, 4 November 2016) dat hierdie grootse werk haar drie jaar besig gehou het: “Dit bly ’n strawwe dissipline. Ek werk gemiddeld drie tot vier uur per dag wanneer ek met ’n roman besig is.”
Maestro vertel die verhaal van die Italiaanse beeldhouer Bernini wat in 1598 gebore is en al vroeg as geniaal geïdentifiseer is – iemand wat selfs in Michelangelo se voetspore sou kon volg of selfs beter sou wees. Ons leer die jong Bernini ken vanaf sy grootwordjare totdat hy op die ouderdom van 41 in die huwelik tree.
Maryke Roberts skryf verder in Vrouekeur: “Deur Bernini se oë beleef ons die daaglikse lewe in Rome van die 1600’s; die kerk wat korrup en tog toegeeflik teenoor kunstenaars is, en hoe Bernini algaande sy stem as beeldhouer vind. Bowenal sien ons hoe koorsagtig hy dit wat by hom spook, verbeeld – alles ter wille van die marmer, wat hy soos sagte vlees laat lyk.
“Marié skryf hoe hy in sy kinderdae probeer het om sy pa se goedkeuring te kry, maar dat hy altyd ‘n ‘maar’ gehad het. Hy kon beter doen, volgens sy pa. Dit was hierdie voortdurende foutvindery met sy werk wat ’n woede in Bernini wakker gemaak het wat hy moes stil. Heese skryf dat hy ‘absoluut vasberade word om daardie effense frons te laat verdwyn’. Deur beter en beter te word, het hy sy pa se goedkeuring gewen, maar ook sy eie potensiaal ten volle ontgin.
“Maar sy pa se woorde dat geen kunstenaar volmaaktheid kan skep nie – net God kan – bly hom sy hele lewe lank by. Hy word ’n beeldhouer met baie aansien en geld. Hy is op 82 oorlede en was baie ryk vir daardie tyd. Hy het in sy leeftyd voorspel dat sy gewildheid sal taan, maar altyd gehoop dat dit ná sy dood sou gebeur. Dit het, vertel Marié.
“Hy was etlike eeue vergete en sy werk ‘uit die mode’, tot hy weer as die leierfiguur van die Barok-tydperk gereken is.”
Daar is baie geskryf oor Bernini se lewe en kuns, vertel Heese aan Roberts, maar sy verhoudings voor die een met Costanza (sy vrou) is nie opgeteken nie: “Ek probeer so na as moontlik aan die opgetekende feite bly. Ek mors nie daarmee nie. En dis juis hierdie deeglike navorsing wat my gehelp het om die gate in te vul.”
Dan vertel sy vir Roberts oor die geskiedenis van die manuskrip van Maestro: “Dit is aanvanklik van die hand gewys. Dit het amper in die vullisblik beland. Joan Hambidge en Johann de Lange het my moed ingepraat. Toe skryf ek dit maar oor.
“Die manuskrip het ook by Karel Schoeman beland. Die uitgewers het ’n harde kopie aan hom gestuur met die versoek om kommentaar te lewer. Dit het hy mildelik met rooi ink gedoen. Sommige van sy kritiek was nie van toepassing nie, want dit was oor gebeure wat hy gedink het my verbeelding was, maar dan was dit waar – soos die keer toe die pous vir die kind 12 goue medaljes gegee het.
“Schoeman het my wel teruggestuur na my navorsing toe omdat ek nie genoeg geskryf het oor Bernini se tyd in die Vatikaan en presies wat daar gebeur het nie. Ook dat ek moet vertel hoe en wanneer hy geoefen het om die vaardighede te bemeester.”
Marié se boeke begin almal met ’n storie van iemand wat haar oog gevang het en dat sy nie altyd kan sê wie dit gaan wees nie: “Dit is onvoorspelbaar. En as dit histories is, moet die betrokke mense karakters word. Dan voeg ek gewoonlik ’n paar fiktiewe karakters by, soos die storie my rig. Bernini moes immers met ander meisies en vroue verhoudings gehad het voor Costanza Piccolomini, maar hulle is nie op rekord nie, dus moes ek hulle uitdink.”
Wanneer Marié met haar navorsing begin, maak sy heel eerste gebruik van gepubliseerde akademiese werke. “Dikwels vind ek ook akademiese bronne op die internet (soos verhandelinge vir ’n meesters- of doktorsgraad oor ’n spesifieke onderwerp, soos sosiale gebruike van die 17de eeu in Rome). Wikipedia kan nuttig wees, maar is onbetroubaar.
“Voor my skryfwerk kan begin, moet die navorsingswerk gesorteer word. Jy is nie altyd seker wat moet in en wat moet uit totdat die finale redigering gedoen is nie.
“Ek moes heel aan die einde nog ’n stukkie byskryf. (…) Ek moet genoeg stof hê om te kan begin, gewoonlik ná so ’n jaar van lees. Dan trek ek los en skryf, en kyk hoe dit uitwerk. Ek moet voortdurend weer en weer navorsing doen, want nuwe vrae duik heeltyd op. Het hulle horlosies gehad? Het hulle vurke gebruik? Hoe lyk die kroning van ’n nuwe pous?”
Vir Joan Hambidge (Volksblad, 3 Oktober 2016) is Maestro ’n hoogtepunt in Heese se oeuvre. “Die sterk filmiese kwaliteit van die roman is opvallend. Die leser sien en ruik die omkopery, die diefstal – jy sien die kaaswiele, trosse fisante, duifeiers, en wat nog. In hierdie dae van kitskosromans is die werk van Marié Heese en Dan Sleigh belangrike gebeurtenisse. As jy belangstel in die sewentiende-eeuse geskiedenis, behoort jy onverwyld die roman te lees. (…)
“Sy versoen haar historiese belangstelling met ’n besonderse kreatiewe drif. En sy lewer kommentaar op al die fasette van ’n samelewing met die skrywer wat ’n ander kunstenaar vereer. Soos iewers geskryf word: beslis ’n okkasie vir ’n staande ovasie!”
Johann de Lange bespreek Maestro vir Rapport van 6 November 2016: “Die narratief begin in media res en Marié Heese slaag daarin om die verteltrant vol te hou. Die kleiner hoofstukke waarin elk van die vier dele verdeel is, word telkens ’n opskrif gegee wat die fokus van die vertelling verskuif. Deur flink afwisseling van verskillende verhaallyne sorg sy vir ’n narratief wat die belangstelling hou.
“Heese vermy die slaggat om een ná die ander van Bernini se kunswerke te beskryf deur te fokus op dié wat hoogtepunte in sy loopbaan of sleutelmomente in sy persoonlike lewe belig.”
En dan sluit De Lange af: “’n Mens moet respek hê vir die geweldige navorsing wat aan só ’n boek bestee is, en dit is tot Heese se krediet dat die narratief verháál word, en nooit versand in dorre feite nie. Maestro is ’n boeiende vertelling deur een van Afrikaans se voorste skrywers, en nét die boek vir die luilekker Desemberdae wat voorlê.”
Op LitNet spreek Reinhardt Fourie nie so ’n gunstige opinie oor Maestro uit soos bogenoemde twee resensente nie. Hy meen dat die skrywer van romans oor historiese figure voor etlike uitdagings te staan kom: “Welke gebeure en ervarings sluit ’n mens in die storie in en hoe besluit jy watter een dien as die klimaks in jou verhaal? Hoeveel karakters sluit jy in, en hoeveel diepte moet jy aan elkeen gee? In Maestro is hierdie uitdagings nie altyd versigtig en eweredig genoeg benader nie,” skryf Fourie.
Later in die resensie skryf hy: “Hoewel die roman daarin slaag om iets weer te gee van die verterende drif van die beeldhouer se kunstenaarskap, word dit ontsier deur herhalende geykte opvattings oor die kuns, byvoorbeeld: ‘Dit,’ sê Gianlorenzo, ‘is die wonder van kuns. Dit is hoekom elke kunstenaar ’n kulkunstenaar is. Want hy omskep die lelike in skoonheid’ (p 214). Lesers wat nie hierdeur en deur die ensiklopediese beskrywings van sy kunswerke en tydgenote gesteur sal word nie, en wat besonder belangstel in die lewe van Bernini, mag Maestro dalk geniet. Die chronologiese en gedetailleerde struktuur van die roman leen dit egter daartoe dat talle karakters en gebeure deur melodrama verwen word. Van sterftes tot hoofpyne, van liefdesteleurstelling tot ’n onhandige kaphou met die beitel – alles in Bernini se lewe is tot die uiterste aandoenlik. Die ongefokuste aard van die plot, die soms absurde dialoog, en die teenstellende karakterisering het die roman vir my bederf.”
In haar kommentaar op hierdie resensie van Fourie spreek Deborah Steinmair op LitNet haar misnoeë uit oor Fourie se mening en sê sy onomwonde dat sy nie met hom saamstem nie. (Kommentaar-gedeelte by Fourie se artikel, 8 en 10 Desember 2016)
Heese se volgende werk is ’n “vervolg” op JM Barrie se Peter Pan onder die titel Peter Pan en Laurie (2019), wat ook in Engels gepubliseer is.
Op LitNet (10 September 2019) skryf Anke Theron oor hierdie kinderboek: “Hierdie is beslis een van die lekkerste boeke wat ek hierdie winter gelees het! Marié Heese is ’n veelsydige skrywer van literatuur vir kinders én volwassenes. Dié kinderboek is die nuutste uit haar pen, tesame met Marjorie van Heerden as illustreerder, en stel definitief nie teleur nie.
“Heese slaag daarin om ’n uitstekende opvolg-avontuur te skep wat genoegsaam terugkyk na die oorspronklike teks, maar ook nuwe uitdagings en avonture optower wat die leser nuuskierig maak om verder te lees. Hierdie leser is dit eens dat Heese haarself oortref met hierdie verhaal. Sy volg steeds die tradisionele resep as dit kom by ’n Peter Pan-verhaal. Die avonture en die wegvoer van die meisie by die venster van nommer 14, waar daar altyd ’n naglig brand; Laurie in hierdie geval en voor haar Margaret, Jane en natuurlik die oorspronklike Wendy. Die bekende roete na Nimmerland, of beter bekend in die Engelse mond as ‘Neverland’, soos aangekondig deur Peter: ‘Second to the right … and then straight on till morning’ (Barrie 1911:16), word klokhelder weergalm deur Heese se rigtingaanwysing: ‘Uit by die venster, dan tweede regs, en reguit aan tot die oggend’ (Heese 2019:25). Hier weet ons as meer volwasse lesers dat ’n verbeeldingsvlug op ons wag – ’n denkbeeldige adres, of is dit? (…)
“In Peter Pan en Laurie word Peter gekonfronteer met Laurie, wat nie die tradisionele ‘mak’ meisie is nie. Dit is baie interessant hoe Heese vir Laurie voorstel as ’n sterk persoonlikheid, veral as ons haar vergelyk met die meisies wat voor haar gekom het: Wendy, Jane, en Margaret, waarvan ons eintlik net Wendy se verhaal ken. Laurie wil nie ’n mamma wees nie, en sy sê dit ook uit die staanspoor vir Peter. Sterk vroulike karakters is juis in vandag se tye nodig, en waarom nie begin by ’n klassieke verhaal nie?
“Hier is ’n baie innemende gesprek tussen die bewuste (verteenwoordig deur Laurie) en die onbewuste (verteenwoordig deur Peter Pan). Waar die bewuste slegs van die onbewuste bewus is, kan die onbewuste die grense tussen hulle oorskry, maar kan slegs in sy eie ryk ten volle funksioneer. Laurie is bewus van die wêreld waarin Peter leef, danksy die stories wat haar ma en ouma vir haar vertel, alhoewel die grootmense nie meer in hul eie verhale glo nie en vrese het oor Peter en sy besoeke.
“Peter is steeds die magiese figuur wat grense kan oorskry en sonder enige besef grense kan oorsteek. Hy kan die werklike wêreld besoek, en het gereeld die venster besoek, maar het daarvan vergeet. Peter se geheue is soortgelyk aan die onbewuste: dit is onbetroubaar, dit onthou sommige goed, maar het ’n sneller nodig vir ander dinge. Hy vergeet maklik van Laurie, waar hy haar in die wolk gelos het, totdat een van sy verlore seuns hom vertel dat daar gevaarlike Ptero’s in die lug is, wat vlees eet. Dan onthou hy skielik hy het vir haar gesê om daar te wag.
“Peter Pan funksioneer as ’n simbool vir alles wat die bewuste ons moreel verbied. Daar word moord gepleeg, die Grillergaaie word met triomf afgemaai aan die einde van die verhaal en daar is Half-gevreet se uitdaging waar daar tot die dood geveg sou word. Dit is dinge wat as moreel verkeerd vir kinders geleer word, tog is dit alledaags in Nimmerland.
“Die sentrale gedagte wat gereeld na vore kom, is die begeerte na ’n mamma, ’n versorger en dat Laurie dit gereeld afwys, maar ten einde tog die rol vervul. Mens kan dalk ’n goeie argument formuleer dat hierdie element in die verhaal, ook in die oorspronklike JM Barrie-weergawe, wys op die binêre aard van die onbewuste en bewuste en dat die manlike ’n vroulike eweknie soek.
“Die verhaal van Peter Pan en sy avonture is vrugbare grond vir ’n literêr-psigoanalitiese ondersoek. Dit dui op die ryk geskiedenis en sukses van die oorspronklike teks en Marié Heese se opvolgverhaal dra net verder by tot die rykdom van kinders se verbeeldingswêreld.”
Amanda Botha skryf as volg in Beeld (28 September 2017) oor Marié Heese se bydrae tot die letterkunde in Suid-Afrika: “Haar jongste roman is die manjifieke Maestro (2016), wat handel oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini, waarin sy haar indrukwekkende beheer oor taal, haar verbeeldingsvermoë en haar fyn en deeglike navorsing tot ’n meesterlike hoogtepunt bring.
“Heese het op haar eie manier bakens versit – in die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse romankuns en ook as denker, opvoedkundige en Afrikaanse taalaktivis. Haar bydrae is blywend, inspirerend en van groot waarde.”
Publikasies
Publikasie |
The owl critic: an introduction to literary criticism. Saam met Robin Lawton |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0625022599 (sb) |
Uitgewer |
Goodwood: Nasou |
Literêre vorm |
Letterkundige kritiek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Tokkelspel |
Publikasiedatum |
1972 |
ISBN |
0624000869 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Essays |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die wilde loot en Die vrou op die skuit deur Elise Muller |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0949964735 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die uurwerk kantel |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die vrou op die skuit deur Elise Muller |
Publikasiedatum |
1979 |
ISBN |
0868740659 (sb) |
Uitgewer |
Pretoria: Academica |
Literêre vorm |
Studiegids |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Die Pikkewouters van Amper-Stamperland |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboek |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Tyd van beslissing: ’n roman |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
The box kite summer |
Publikasiedatum |
1984 |
ISBN |
0627013759 (hb) |
Uitgewer |
Pretoria: Van Schaik |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Avonture in Amper-Stamperland |
Publikasiedatum |
1985 |
ISBN |
0798119152 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Ons geheim |
Publikasiedatum |
1993 |
ISBN |
1874885478 (hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Anansi |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
|
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Haiku for Africa |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Unisa Press |
Literêre vorm |
Haikoes |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
The double crown: secret writings of the female Pharaoh |
Publikasiedatum |
2009 |
ISBN |
9780798150361 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Historiese roman |
Pryse toegeken |
Wenner van die Statebond-prys vir die beste boek in die Afrika-streek |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die honger reisiger: reisverhale met resepte |
Publikasiedatum |
2010 |
ISBN |
9780624048824 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
|
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
The colour of power: a story of Theodora, empress of Byzantium |
Publikasiedatum |
2011 |
ISBN |
9780798152808 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Turks |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
A triple-headed serpent |
Publikasiedatum |
2012 |
ISBN |
9780798156331 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Karoo-kantate |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780624062707 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Vuurklip |
Publikasiedatum |
2013 |
ISBN |
9780798163767 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Maestro: ’n roman oor die vormingsjare van Gianlorenzo Bernini |
Publikasiedatum |
2016 |
ISBN |
9780798173919 (sb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Human & Rousseau |
Literêre vorm |
Roman |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
|
Publikasie |
Peter Pan en Laurie |
Publikasiedatum |
2018 |
ISBN |
|
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Kinderverhaal |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die troebadoer |
Publikasiedatum |
2021 |
ISBN |
9781485313519 |
Uitgewer |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Historiese fiksie |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Marié Heese as samesteller
- Poort 1976: ’n keur uit die werk van hoërskoolleerlinge. Kaapstad: Nasou, 1976[ISBN 0625005945 (sb)]
- Blignault, Audrey: Audrey Blignault: uit die dagboek van ’n vrou. Kaapstad: Tafelberg, 2009[ISBN 9780624047636 (sb)]
Marié Heese as vertaler
- Brink, Carol Ryrie: Rabbedoe: ’n verhaal uit die Amerikaanse baanbrekerslewe. Kaapstad: Tafelberg, 1965
- Dr Seuss: Herrie broei die eier uit. Kaapstad: Anansi, 1990 [ISBN 0947454489 (hb)]
- Dr Seuss: Willie die Skillie. Oranjezicht: Anansi, 1989 [ISBN 0947454128 (hb)]
- Kalnay, Francis: Die rykste seun in die wêreld. Kaapstad: Tafelberg, 1966
- Mahy, Margaret: 17 konings en 42 olifante. Oranjezicht, Anansi, 1989 [ISBN 0947454179 (hb)]
Artikels oor Marié Heese beskikbaar op die internet
- Botha, Amanda: ’n Kosbare leeftyd wat bakens versit
- Coetzee, Corné: Marié Heese publiseer ná lang stilte
- De Vries, Willem:
- Gerber, Jan: Skrywer Marié Heese bedank by Maties-raad oor Afrikaans
- Heese daag haarself uit
- Marié Heese (Stellenbosch Writers)
- Marié Heese (Wikipedia)
- Ons gesels met: Marié Heese
- Proust herbesoek: Marié Heese
- Retief, Hanlie: Hanlie gesels met Marié Heese: Sy lýk soos ’n ouma ...
- Roets, Eleine: Writer’s profile: Marié Heese
- Van der Rheede, Christo: Rooi kaart aan Pierre de Vos en Marié Heese
- Van Deventer, Hennie: Ouma strip haar moer
- ’n Vroulike farao uit Stilbaai
- Woordfees fokus op Heese
Artikels deur Marié Heese beskikbaar op die internet
- Marié Heese is boekdol
- Infatuations of a features writer: historical hues
- Om in jou taal te leer
- Raad vir Maties se “taalkalfies” [brief]
- Regte vraag nie by konferensie gevra [brief]
- Rooi kaarte: reaksie deur Marié Heese
- Swart én wit voete het omgedraai [brief]
- Taal op Maties: Ouma Heese “strip” haar moer
- Werke ontroerend en snaaks tegelyk
- Wie beoordeel die beoordelaars? [brief]
Marié Heese se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2014-05-10 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
The post Marié Heese (1942–) appeared first on LitNet.