Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

’n Positiewe blik op die onteieningswetsontwerp

$
0
0

Die onteieningswetsontwerp (B4-2015), wat sedert die aanvang van 2013, toe dit ter tafel gelê is, onder geweldige kritiek gebuk gegaan het, is gister deur die Nasionale Raad van Provinsies goedgekeur en sal binnekort tot wetgewing verorden word. Na ons mening is baie van die vrese rondom die wetsontwerp ongegrond indien ag geslaan word op artikel 25 van die Grondwet (die eiendomsklousule), die doel van die wetsontwerp en die feit dat dit daarop gerig is om sy verouderde voorganger, die Onteieningswet 63 van 1975 (die 1975-Wet), te vervang.

Die staat mag nie volgens goeddunke eiendom inperk of wegneem nie. Artikel 25(2) laat onteiening toe slegs vir ’n openbare doel (bv die bou van paaie, lughawens, hospitale, ens) en in die openbare belang (bv die verwesenliking van grond- en ander hervormings, soos gemagtig in artikel 25(4)(a)). Hierdie onteieningsbevoegdheid, wat behels dat die staat eiendom vanaf geaffekteerde eienaars (sonder hul toestemming) verkry, is nie nuut nie – dit het ook tydens die apartheidsera bestaan. Die wetsontwerp voorsien ’n ordelike prosedure waarvolgens die staat eiendom mag onteien. Die openbaredoel- en openbarebelang-vereistes word gestel om te verhoed dat die staat hierdie bevoegdheid misbruik.

Die gebruik van die term eiendom waarna die wetsontwerp verwys, is nie kontroversieel nie, aangesien ook artikel 25(2) hierdie term gebruik. Die definisie van eiendom in hierdie verband is wyer as blote eiendomsreg van grond, aangesien die staat die bevoegdheid moet hê om alle soorte eiedom (insluitend roerende sake, aandele en ander onstoflike kommersiële belange) te onteien indien ’n openbare doel of die openbare belang dit vereis. Dit is daarom onwaarskynlik dat hierdie benadering, wat strook met die regsposisie in ander grondwetlike demokrasieë, soos die VSA, Duitsland en Ierland, ’n bedreiging vir beleggersvertroue sal inhou.

Die wetsontwerp verleen beter beskerming aan houers van eiendom as die 1975-Wet, aangesien dit die staat verplig om die eiendom eers by wyse van ’n ooreenkoms op redelike gronde te probeer bekom. Slegs indien dit blyk dat so ’n ooreenkoms nie haalbaar is nie, mag die staat die eiendom onteien teen betaling van vergoeding wat regverdig en billik is. Hierdie vergoeding moet ’n billike ewewig tussen die openbare belang en die belange van diegene wat geraak word, toon. Die betaling van vergoeding ingevolge die wetsontwerp strook met artikel 25 van die Grondwet. Soos die Grondwet bepaal, is markwaarde onder die wetsontwerp een van meerdere faktore wat in ag geneem moet word om te bepaal of vergoeding regverdig en billik is.

Die wetsontwerp definieer onteiening as die gedwonge verkryging van eiendom deur die onteieningsowerheid (maw die staat). Dit beteken egter nie dat die staat die uiteindelike begunstigde hoef te wees met alle onteienings nie. Die 1975-Wet bevat ’n bepaling wat die minister toelaat om eiendom namens ’n regspersoon, soos ’n opvoedkundige instelling, te onteien indien sodanige onteiening vir ’n openbare doel geskied. Sulke onteienings staan bekend as derdeparty-oordragte. Die wetsontwerp maak nie in soortgelyke terme voorsiening vir sulke onteienings nie, maar bepaal in klousule 9(1)(a) dat eiendomsreg sal oorgaan “op die persoon namens wie die eiendom onteien is” (vry vertaal). Hierdie bepaling vervul ’n belangrike rol, aangesien onteienings vir grondhervormingsdoeleindes derdeparty-oordragte sal behels. Dit word ook voorsien dat derdeparty-oordragte ten gunste van opvoedkundige instellings die openbaredoel- en openbarebelang-vereistes onder die huidige wetsontwerp sal bevredig. Dit is egter debatteerbaar of derdeparty-oordragte vir blote ontwikkelingsdoeleindes (bv die bou van nuwe winkelsentrums) die openbaredoel- of openbarebelang-vereistes sal bevredig. In die VSA word sulke onteienings nie goed ontvang nie en kan dit op die misbruik van die staat se onteieningsbevoegdheid neerkom. Nietemin, die feit dat klousule 2(1) van die wetsontwerp bepaal dat onteienings nie arbitrêr mag wees nie, beteken waarskynlik die howe sal in die vervolg die geleentheid hê om die doel van die onteiening beter te ondersoek as wat tans die geval onder die 1975-Wet is.

Die staatsvoogdyskapmodel beteken nie – soos soveel mense vrees – dat die staat sekere kategorieë eiendom op ’n indirekte manier mag verkry (of selfs nasionaliseer) sonder om vergoeding daarvoor te betaal nie. Volgens artikel 25(1), wat die regulering van eiendom beheers, moet daar voldoende redes wees ten einde so ’n voogdyskapmodel in te stel. Sonder sulke redes is so ’n model ongrondwetlik. Die konstitusionele hof se Agri SA-uitspraak van 2013 verskaf daarom nie gesag vir die aantyging dat staatsvoogdyskap van alle eiendom, soos bv eiendomsreg in grond, noodwendig met die eiendomsklousule sal strook nie.

Rakende die vraag of die wetsontwerp in staat is om grondhervorming te bevorder, moet die wetsontwerp beskou word teen die agtergrond van Suid-Afrika se apartheidsgeskiedenis asook die Grondwet se uitdruklike magtiging van grond- en ander hervormings in artikel 25(4)–(9). Anders as sy voorganger, wat onteiening slegs vir openbare doeleindes toegelaat het, laat die wetsontwerp die staat toe om ’n aktiewe hervormingsagenda na te streef. Klousule 3(2) stel ’n staatsorgaan, wat die Departement van Landelike Ontwikkeling en Grondhervorming insluit, in staat om die minister te versoek om grond vir grondhervormingsdoeleindes te onteien. Dit strook duidelik met die openbarebelang-vereiste. Die wetsontwerp sal daarom waarskynlik gebruik word om grondhervorming aktief na te streef sodra dit as wetgewing aangeneem word.

 

EJ Marais is ’n senior lektor in die Departement Privaatreg aan die Universiteit van Johannesburg en BV Slade is ’n senior lektor in die Departement Publiekreg aan die Universiteit Stellenbosch. Beide spesialiseer in, onder andere, onteieningsreg. Hulle is alumni van die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Sakereg. Die sienings wat in hierdie opiniestuk vervat is, is hul eie menings en moet nie toegeskryf word aan enige van hulle werkgewers nie. Hierdie artikel is ’n vertaalde en verwerke weergawe van ’n stuk wat oorspronklik in die Mail & Guardian (29 April tot 5 Mei 2016) verskyn het.

 

The post ’n Positiewe blik op die onteieningswetsontwerp appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20659

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>