Annelien Diedericks het hierdie berig saamgestel* vir die Vriende van NALN pas ná Smith se dood in die middernagtelike ure bekend gemaak is. LitNet plaas dit met haar toestemming.
R.I.V. Wilbur Smith (9 Januarie 1933 - 13 November 2021). Ons dink met liefde aan Wilbur Smith (88) se familie en vriende.
Smith het bykans 49 topverkoper-romans geskryf en altesaam meer as 140 miljoen kopieë is wêreldwyd verkoop. Sy romans is in vele tale vertaal.
Wilbur Addison Smith, ’n Zambies-Suid-Afrikaanse romanskrywer, het gespesialiseer in historiese fiksie oor Suider-Afrika, gesien vanuit die gesigspunte van verskeie bevolkingsgroepe.
Nadat hy by Rhodes Universiteit studeer het, het hy as rekenmeester gewerk. Hy wou eintlik ’n joernalis word.
Na die verskyning van sy eerste roman het hy voltyds begin skryf. When the lion feeds (1964) was ’n wêreldwye treffer en is ook verfilm. Aangesien die Engelse publikasie in Suid-Afrika verbied is, is die Afrikaanse vertaling, Iets moet sterf (Nasionale Boekhandel, 1965), se inhoud ietwat aangepas.
Ter viering van die vyftigste jaar van When the lion feeds is nog ’n Afrikaanse vertaling van Smith se debuutroman as Witwatersrand (Adamastor, NB-Uitgewers) in 2014 gepubliseer. Verskeie Afrikaanse vertalings het later die biblioteekrakke gevul.
Zirek van den Berg het die volgende boeke vir Afrikaanse lesers toeganklik gemaak: Donderslag (2015) = The Sound of Thunder (1966); Wildernis (2017) = A Sparrow Falls (1977); Goudmyn (2017) = Gold Mine (1970).
Ons salueer Wilbur Smith vir sy kosbare nalatenskap. Dink net hoeveel lesers is aangeraak deur die miljoene Wilbur Smith-boeke wat wêreldwyd in vele tale hul weg na soveel harte gevind het.
Dalk vind jy 'n boek van Wilbur Smith in die Vriende van NALN se unieke Boekemark in die pragtige ou Ketelkelder van die Ou Goewermentsgebou in President Brandstraat, Bloemfontein.
* Kontak die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN): naln@sacr.fs.gov.za sou daar feitelike gegewens wees wat bygevoeg kan word – betroubare voorstelle word verwelkom.
The post NALN gedenk Wilbur Smith appeared first on LitNet.