Anne-Marie Mischke skryf op Facebook
Dit het gister al begin en vandat ek vroeg vanoggend die radio aangeskakel het, was dit steeds aan die gang, sekerlik tot ten minste slapenstyd, voordat dit geleidelik oor die volgende dae gaan afneem: die debat oor FW de Klerk, oor of hy boos was, of goed, of albei.
Ek wil dus nie ook nog ’n eier daaroor lê nie, behalwe dat ek deel in die ambivalensie daarvan, die skeeftrekkings en feitefoute daar gelaat (soos dat hy hoof was van die veiligheidsraad tydens die moord op die Cradock Vier).
Ek eer hom vir 2 Februarie 1990, ek het bedenkinge oor sy politiek voor en ná dié dag.
Maar die groot ontsagwekkende kwessie van lewe en dood, die grootsheid en die tragedie daarvan, het nietemin gisteraand by my opgekom tydens – van alle dinge – Christiane Amanpour se program op CNN.
Dis sy wat amper tien jaar gelede ’n vernietigende onderhoud met FW de Klerk gevoer het waarin hy feitlik apartheid verdedig het. Haar aanbod gister was goed en gebalanseer, maar hier’s die ding: Sy verwys tussen twee onderhoude met Suid-Afrikaners deur na daardie onderhoud van haar en speel ’n stukkie daaruit. De Klerk, toe tien jaar jonger en nog gesond het amper arrogant oorgekom. Sy verwys toe na die video wat hy ’n paar dae voor sy dood laat maak het, duidelik ’n sterwende man, amper onherkenbaar verouder, met die naaste wat hy ooit aan ’n opregte apologie gekom het en speel ’n greep daaruit.
Die verskriklike kontras het haar opsigtelik geraak. Sy het gesê sy het die sterfbed-een nie voor die tyd gesien nie.
Die twee video’s het my lank bygebly en ek het die hele aand nog loop en respekte betoon aan die groot kringloop van lewe en dood en hoe ons almal onafwendbaar daardeur beweeg.
Lees ook:
FW de Klerk vra vir oulaas verskoning vir die pyn van apartheid
The post FW de Klerk en die twee video’s appeared first on LitNet.