As leerlinge van die Hoërskool Adelaide het ek en my neef Tollie ons vanmelewe se dae as juniors deeglik teenoor seniors laat geld deur noulettend kennis van hulle swak- of kwesbaarhede soos byname en eienaardighede te neem en dan op veilige afstand die "menere" daarmee te terg of te treiter.
So byvoorbeeld was Ezra, ons frisgeboude buurmanseun, se bynaam op skool "Donkie" en as ek en my genoemde boesemvriend-neef vanuit die klein hekkie na skool in Thompsonstraat huis toe stap en "Donkie" nog waaksaam buite op hulle stoep vertoef, het Tollie op veilige afstand luid soos 'n donkie begin balk ...
Totdat "Donkie" vir Tollie een fatale middag teen polisie-sersant Smuts se heining vasgekeer het en hy met 'n hele paar blou letsels op die lyf losgelaat is om tuis oor sy gedrag te gaan nabetragting hou.
Dit was ook die geval met ons streng en voorbeeldige prefek wat in dieselfde straat te Adelaide gewoon het en wie se naam "toevallig" ook Paul Kruger en dus die genant van president Paul Kruger was.
Ons het Paul se manier van loop as voldoende on- of buitengewoon beskou om dit op oordrewe manier vanaf 'n veilige afstand na te boots wanneer ons Thompsonstraat vanaf Greystraat binneloop en Paul ewe rustig en waardig op die stoep van hulle hoekhuis gesit en peins het.
Terwyl hy loop, het Paul sy gewig naamlik met elke voorwaartse tree op die hak van die agterste voet geplaas en dit met 'n opwaartse rol- en wipbeweging na die punt van die skoen verplaas ter voorbereiding van die volgende tree.
Ek het hierdie indrukwekkende loopstyl van die latere suksesvolle sakeleier in PE soms vir my eie familielede vir die aardigheid gedemonstreer!
Dit sou bloot 'n kwajongstreek in my geheue gebly het as ek nie heelwat later in Johannes Meintjes se fassinerende biografie oor President Paul Kruger (Cassell, London) die volgende verrassende beskrywing van die identiese loopstyl van die president deur Olive Schreiner se eggenoot opgemerk het nie.
Meintjes skryf: "Her (Olive Schreiner's) husband Cronwright recorded that Kruger even in old age impressed them with his massive frame, ‘his powerful bone, the quick step and the hold his foot took of the ground as he walked, the way it seemed to grip the ground and lift him along, and the look of alertness and energy' which still indicated a man 'as outstanding physically as he was in character and in certain mental qualities' ". (Verw. 821op pp. 214/215).
My slotsom? Waar bloed nie kan loop nie, kruip dit!
The post Oom Paul se stap appeared first on LitNet.