Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Ek onthou – ’n outistiese seun se lewensreis: ’n onderhoud met Anton en Corrie Müller

$
0
0

Foto van Anton Müller uit: Ek onthou

Ek onthou
Anton Müller
Flyleaf
ISBN: 9781990977916

Waarom het Anton Müller, ’n man wat in die Stellenbosse dorpsbiblioteek werk, ’n outobiografie geskryf?

Trisa Hugo verskaf die boek se agtergrond in haar persoonlike indrukke van Anton Müller se boek:

Hierdie is die outobiografie van ’n outistiese man. Hy is op die ouderdom van drie jaar gediagnoseer as outisties en is as onopvoedbaar beskou. Daar is aanbeveel dat hy in ʼn inrigting geplaas word. Sy ma het dit nie aanvaar nie en het dit haar lewenstaak gemaak om te sorg dat hy wel ʼn gewone skool kan bywoon.

In die boek kan mens lees hoedat die boek ontstaan het, hoe Bun Booyens hierby betrokke was, wat outisme is, en baie van Anton Müller se herinneringe. ’n Mens lees hoedat hy deur die laerskool gevorder het, hoedat hy eers in Paul Roos was en later na ’n ander skool geskuif het. Mens lees name van prominente onderwysers en volwassenes wat Anton op sy lewenspad help vorder het. Vakansieherinneringe, herinneringe uit die kerke waar hy grootgeword het (sy pa, wyle Bethel Müller, was ’n teoloog). Alles neergeskryf in Anton se unieke styl en met ’n manier van praat wat enigeen wat hom al ontmoet het, sal herken.

Die boek is in Stellenbosch bekendgestel, asook op Woordfees-TV.

Trisa Hugo skryf haar gedagtes van die bekendstelling:

My gunstelingproduksie van die [Woordfees se] skrywersgesprekke, was sonder twyfel Anton Müller met sy memoir Ek onthou: 'n outistiese seun se lewensreis. Hannes van Wyk het met hom en sy broer Corrie gesels. Hannes van Wyk – vaardige onderhoudvoerder wat hy is – se vrae aan Anton was met soveel liefde, deernis en begrip gestel dat Anton heeltemal gemaklik was om op nasionale televisie te verskyn. Hy het geredelik en met trots sy vaardighede om datums en dae te onthou vir die gehoor gewys.

Hoe het dit gekom dat hierdie outistiese man inderdaad in ’n biblioteek werk en ’n boek geskryf het?

Lees Trisa Hugo se indrukke van die boek ter agtergrond.

Anton en sy broer Corrie vertel oor ’n koppie koffie vir Naomi Meyer van Anton se lewe en van die boek se geboorte, waarby Bun Booyens (wat saam met Anton op laerskool was) betrokke was.

Anton dra ’n masker van lap, asook ’n deursigtige gesigmasker. Hy beantwoord die vrae in afgemete styl en elke antwoord, asook elke datum, kom sonder aarseling.

Anton, hoe het dit gekom dat jy ’n boek geskryf het?

“Ek het ’n opstel geskryf oor my oorlede ma. En toe het iemand in die dorp my gemug en daardie boek by my gesteel.”

Watse dag was dit? Toe die boek gesteel is?

“Dit was die 22ste Oktober 2016. Dit is vyf jaar en 12 dae gelede. Dit was die dag met my verjaardag. Dit was op my 58ste verjaardag.”

In Ek onthou lees mens:

Ek is Corrie Müller, Anton se middelste broer. Hy bly tans op Stellenbosch in ’n woonstel reg langs my. Hierdie boek het in 2014 sy oorsprong gekry toe Anton begin het om aantekeninge in ’n Croxley-skryfboek te maak. Ek het my nie veel daaraan gesteur nie, omdat Anton hom in elk geval gewoonlik met boeke en skryfbehoeftes omring. Ek het wel opgelet dat hy die boek oral met hom saamdra, maar ek het nooit gekyk wat daarin staan nie. Op ’n dag toe Anton in Andringastraat deur die dorp stap, is hy deur ’n grypdief oorval wat onder meer met sy Croxley-boek vort is. Ek was onbewus van hoe erg die voorval Anton ontstel het. Hierdie projek wat hy gekoester het, het net daar gesneuwel. Ek het hom eers maande later gevra wat in boek was en hy het gesê dit was “’n opstel oor Ma”. Dit was ’n belangrike oomblik – ’n keerpunt – want Anton moes besef het dat die tyd besig is om aan te stap en dat dit belangrik vir hom, sy broers en die Müller-kleinkinders is om Ma-Helen, wat toe reeds amper 40 jaar gelede oorlede is, se rol in sy lewe op te teken – ’n sonderlinge insig vir iemand met Anton se graad van outisme. Ek het lank reeds besef daar is waardevolle lesse uit Anton se lewe te leer, maar die verlies van daardie Croxley-boek het my opnuut onder die indruk gebring van hoeveel getuies ons toe reeds aan die dood afgestaan het. In daardie tyd het my pa se lewenskrag ook begin taan. Ons was besig om die skip se anker te verloor. Ek het ’n Croxley-boek gaan koop en vir Anton gevra om weer sy verhaal te begin skryf, en so het die projek momentum begin kry. Dié proses sou meer as drie jaar duur. Getrou aan sy aard het Anton sy verhaal binne ’n streng chronologiese raamwerk vertel, gelaai – soms oorlaai – met fyn besonderhede, soos wie almal by ’n geleentheid was en wat presies op die spyskaart was. Ek het Anton tussendeur begin pols oor stories, insidente en mense, en hiermee saam het sy verhaal begin lewe kry.

Ek onthou is nie ’n fiksieboek nie, omdat dit ’n outobiografie is. Maar die verhaal skop af soos ’n prikkelende literêre werk wat dadelik die leser betrek by die beweging van ’n Croxley-pen oor papier. Die eerste toneel in die boek, geskryf deur al drie Anton se broers – Pieter, Corrie en Richard – beskryf die rol van penne in hul ouerhuis:

In die jare toe ons kinders was, het die maatskappy Staedtler ’n reeks balpuntpenne uitgebring. Die Staedtler Stick was ’n pen met ’n eenvoudige ontwerp. Die blou pen se skag was blou en sy doppie was blou, die rooi pen se skag was rooi en sy doppie rooi en die swarte se skag swart en sy doppie swart. Net een deel van die pen was nie die kleur van die ink daarbinne nie: die plat plastiekproppie aan die agterkant van die pen, daardie gedeelte wat jy aan flarde gekou het as jy ’n penkouer in die klas was. ’n Geel proppie was vir ’n pen met ’n ysterbolletjie van 0,5 mm en ’n wit proppie vir ’n dikker pen van 0,7 mm. Blou, rooi en swart Stick-penne was oral in ons huis gewees. Oral. Ons pa was ’n dosent op Stellenbosch en hy het met die swart penne geskryf. Die bloues en rooies was vir die res van die huis. Ons ma het sakke en sakke daarvan gekoop vir almal om te gebruik, maar sy het net een doel voor oë gehad met daardie penne: Om ons oudste broer, Anton, met sy skoolwerk te help. Daar het altyd ’n rooi en blou pen op ons ma se naaimasjientafel gelê. Dit was Anton se studeertafel, reg onder ons ma se wakende oog. Ons het van kleins af die klank leer ken van ’n kloppende Staedtler Stick-pen se wit proppie. “Nee, Anton, die vyf oorsake van die Eerste Wêreldoorlog was ...” en dan hamer die agterkant van die Staedtler Stick op ’n boek of die geelhouttafel. Doef, doef, doef, doef ... doef. Dan skryf sy die vraag in rooi neer, met die vyfpunt-antwoord netjies onder dit in blou. Anton is outisties.

Anton, wat onthou jy van jou ma?

.......

Ek was altyd goed om ’n reeks boeke in ’n numeriese volgorde te rangskik. Ek was baie opgetense as ek agterkom dis nie reg nie. My oorlede ma het agtergekom ek is goed daarmee. En sy het besluit ek moet eendag in ’n biblioteek gaan werk.

........

“Ek was altyd goed om ’n reeks boeke in ’n numeriese volgorde te rangskik. Ek was baie opgetense as ek agterkom dis nie reg nie. My oorlede ma het agtergekom ek is goed daarmee. En sy het besluit ek moet eendag in ’n biblioteek gaan werk. En ek kan onthou op die 30ste Januarie 1990 het Johan Rademan ’n radio-onderhoud met my gevoer; hy wou ’n onderhoud voer oor ’n outistiese seun. Randall Wicomb, ’n vriend van Johan Rademan, het voorgestel dat hy met my ’n onderhoud voer. Ek kon vir hulle vertel my oorlede ma het haar lewensideaal verwesenlik. Want nou werk ek in ’n biblioteek.”

Die radio-onderhoud in 1990 … Wat onthou jy nog alles van 1990?

“Ek onthou 2 Februarie 1990, want toe was daar besluit dat Nelson Mandela vrygelaat moes word.”

Corrie vra vir Anton wat hy op 27 April 1994 agtergekom het.

“Ons het toe ’n nuwe Suid-Afrika geword en apartheid is afgeskaf. Daardie dag het ek ryker geword en ek het agtergekom dat ek baie meer broers het as wat ek gedink het.”

Anton, wat onthou jy van stemdag 2021?

“Ek het my favourite kos gekry. Ek het bobotie en tert gekry, want ek het mos nou net die anderdag verjaar.”

Anton vertel met groot entoesiasme van die lekker bobotie.

“Ek wou sê baie dankie vir die lekker bobotie wat met soveel sorg vir my gemaak het. Ek het ook lekker tert geëet wat met groot sorg vir my gemaak is.”

Corrie vertel: “Dis hoekom dit ’n voorreg is om met Anton saam te leef. Ons almal het lankal verbybeweeg van dankbaarheid vir kos. Maar Anton vind so iets belangrik. Hy is dankbaar.”

Hoe lank werk jy al by die Stellenbosse dorpsbiblioteek?

“Die 19de November is ek 42 jaar by die biblioteek en dan is ek twee maal mondig by die biblioteek en toe ek die jaar mondig was, het ek by die biblioteek begin werk. En dit was op die 19de November 1979. En daardie jaar was ’n hoogtepunt vir Stellenbosch se geskiedenis. Stellenbosch was daardie jaar 300 jaar oud. Sewe jaar later was die Moedergemeente van Stellenbosch ook drie eeue oud. Daardie dag toe ek by die biblioteek begin werk het, was Stellenbosch 300 jaar en sewe dae oud.”

Maar die biblioteek was verlede jaar ’n ruk lank toe. Hoe het die virus en die inperkingsmaatreëls jou lewe beïnvloed?

“Ek dink hulle het op 5 Maart 2020 daarvan gepraat dat die virus in Suid-Afrika aangekom het. Ek het op die nuus gekyk. Ek het gesien op die nuus dat die virus oor die grense van Suid-Afrika gespoel het. Op die 26ste Maart verlede jaar het ek gehoor dat ek by die huis moes bly.”

Wat het jy by die huis gedoen?

“Ek het krale ingeryg. En ek was besig met ’n stokperdjie. En die krale wat ek ingeryg het, was vir Solinda en haar klerewinkel. En dat sy dit moes verkoop. Toe daar besluit was ek kan weer fiets ry, het ek elke dag met my fiets tot by die verkeerseiland [naby Boland Kollege in Stellenbosch] gery vir oefening.”

Wat het jy ook gedoen?

“Ek het die boek klaar geskryf en Corrie het my gehelp om die boek te skryf.”

Hoe het jy die boek geskryf?

“Voor die lockdown het ek al begin skryf oor verskillende onderwerpe. Ek het in ’n boek begin skryf. Ek het op die 25ste Mei 2017 begin skryf. En die eerste datum wat ek onthou was die 13de Oktober 1961. Toe het ons teruggekom van Holland af Suid-Afrika toe. Toe het ek van die land af teruggekom waar ek gebore is, na my eintlike land. Dit was ’n Vrydag. Ons het met ’n vliegtuig gekom. Dit was vir my ’n groot aanpassing.”

Corrie vertel op daardie punt dat sy tannie toe hulle vir Anton daardie dag gesien het, sy vertel het dat sy dink Anton het medikasie nodig.

Corrie vertel dat sy pa teruggekom het as dominee en dat gemeentelede daarheen kom as veilige hawe en die dominee “kan sy eie kind nie dissiplineer nie”. Die tuinman moes met Anton gaan rondry as daar mense kom. Anton se pa moes sy pastorie so bestuur. Daar is baie kritiek ontvang. Hoekom dissiplineer jy nie jou kinders nie? So ’n boek soos hierdie is bedoel om vir mense hoop te gee. Daar is moontlikhede as iemand outisties is.

Anton, lees jy sommige van die boeke in die biblioteek?

“Ja, ek lees van die boeke. Ek lees boeke soos Vorster, die mens. Ek hou van outobiografieë van staatsmanne. Van Malan, Strydom, Vorster, professor Thom en Mike de Vries. En ek het besluit om outobiografieë van die rektore ook te lees. Wim de Villiers was ’n klasmaat van my. Ek wil ook van professor Bobby Wilcocks lees. Ek wil ook lees van Nelson Mandela en Jacob Zuma en Cyril Ramaphosa. Ek wil ook van die kerkgeskiedenis lees. Ek het ook in my bachelor’s flat boeke soos gedenkboeke van die kerk. Nog ’n kwarteeu van genade, Swellendam se gedenkboek wat uitgee is met Swellendam se 175ste verjaardagfees in 1973. Ek is lief vir geskiedenis en in die laerskool was ek goed in geskiedenis en dit was my favourite vak.”

Corrie: “Dit spoel baie oor na sy lewe. Die kerkgeskiedenis en mylpaalgeleenthede. Die kerke is lief daarvoor om die woord ’genade’ by te voeg. Die kerkboeke lê klem daarop. Anton is besig om die genade te versinnebeeld.”

Anton onthou gebeurtenisse en datums asof hy baie boeke binne hom het. En al die boeke se inligting is vir hom belangrik. Al die boeke is vir hom ewe belangrik.

Sy pa se neerslag in sy lewe is sigbaar weens sy fokus op en betrokkenheid by die kerk.

Anton Müller het sy ma se lewensideaal verwesenlik. Hy, seuntjie wat gediagnoseer is as ’n kind wat onopvoedbaar is, ’n mens sonder uitsig of toekoms, werk in ’n omgewing waar hy daagliks omring is met boeke.

Anton Müller het sy eie boek geskryf, ’n “blitsverkoper”, soos wat hy op die Woordfees-TV verklaar het. (Profetiese woorde, want soos soetkoek verkoop hierdie boek, en kort na die bekendstelling op TV was die boek in die winkel op Stilbaai uitverkoop.)

......

Corrie noem dat hy uit terugvoer oor die boek kan agterkom dat baie versorgers van mense met outisme of versorgers van ander mense wat spesiale sorg nodig het, baie baat by die boek gevind het.

........

Corrie noem dat hy uit terugvoer oor die boek kan agterkom dat baie versorgers van mense met outisme of versorgers van ander mense wat spesiale sorg nodig het, baie baat by die boek gevind het.

Die rede is duidelik: Dis ’n boek wat hoop gee. In Anton se geheue is geen klein verhaal onbelangrik, ondergeskik aan ander verhale of onbenullig nie.

Anton Müller onthou. Alles. Datums. Geskiedenis. Vir ander mense traak ’n sny tert in ’n bak nie meer nie. Maar Anton onthou. Tot in die fynste besonderhede. En met dankbaarheid.

Anton Müller wérk nie net in ’n biblioteek nie. Anton Müller is self ook een.

Lees ook:

Toyota US Woordfees-TV 2021: enkele gedagtes

Woordfees op die teevee

Anton Müller – Ek onthou: ’n outistiese seun se lewensreis: persoonlike indrukke

The post <em>Ek onthou – ’n outistiese seun se lewensreis</em>: ’n onderhoud met Anton en Corrie Müller appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>