Elders gesien op die "Graaff-Reinet history"-Facebook-groep
Een van die mees vergenoegde karakters wat ek ooit leer ken het, was Dalene Matthee, toe nog onbekend en plain net ’n inwoner van Graaff-Reinet. Nou word haar boeke wyd gelees oor die hele wêreld. Sy’t van die Swartland gekom. Weskus se koers en had ’n effense bry. Lekker mens… swart krulkop, fyn sproete oor die neus, g’n make-up en plain down to earth. G’n aansit. Finish en klaar …
Haar man Larry was bestuurder by Standard Bank (in Oupa Dappies se kantoor) en het saam met Mrs Parker se man Ernest gewerk. Hy was die accountant. Potlood agter die oor. Saggesproke, Engelse omie, goue bril, altyd gesmile. Mrs Parker, saggeaarde musiekonderwyser met rooi sout-en-peper hare, altyd styf in ‘n chignon gedraai. Dit het so reg gepas…
Ek het musiek talent gehad daai dae en oupa het my die tonic solfa geleer. Hy en mammie het lekker saam musiek gemaak – viool en klavier. Ons lewe was musiek, orals oor. Ek moes musieklesse kry, het oupa gesê, en Mrs Parker was my teacher vir lesse. Liewe teacher gewees en was baie gevoelvol. Maar sy was ’n teacher en jy moes beste maniere hê. En mens moes oefen, oefen, oefen…!
Sy’t my begelei ôk as ek moes sing: konserte, prize givings, assemblies by die skool, Remembrance Day-dienste by die Anglikaanse kerk in Somersetstraat – Rev Childs het mens altyd gevra. Musiekeksamen moes gespeel word by die Te Water Saal langs die dairy van Mrs Gouws. Ek was toe reeds in die hoërskool.
Mrs Matthee wou my toe onverwags sien om vir haar drie dogters wat klavierspeel “ekstra lesse” te gee! Mr Parker het seker gespog met Mrs Parker se “bright” pupil en sy’t toe Mrs Parker gevra om my te oorreed om vir haar te kom kuier. Op my bicycle moes ek gaan kuier toe, toe hul nog in die Paxtons se huis gebly het in Parkstraat. Ons het sommer baie gepraat uit die staanspoor uit. Sy én haar dogters Toni, Hillary en Amanda. Cooldrink en koffie gedrink en sy’t gerook. Baie…! Larry was maar min daar en ek het hom nie juis leer ken nie. Dis toe dat sy gesê het ek kan haar mos maar op haar naam noem. Sy was dan gedoop!
Van “lesse” was daar min. Ek het so op my senuwees gehad en kon nie van quavers en treble cleffs in Afrikaans vertel nie. Daar was nie Graaffrikaans gepraat nie. Sy was mos Afrikaanse skrywer. Die kinders ook en sou nie verstaan nie. Ek het musiek by Mrs Parker net in Engels geleer. Ek was ’n Union High School pupil mos gewees.
Later van tyd was ek ouer en hul het getrek na, ek dink Van Ryneveldstraat. Anyway net onderkant Marius Strydom se garage en die traffic park vir kinners. Dis waar ons geleer het van traffic signs en veilig links, ry in die straat op jou bicycle by Mr Drury die traffic cop. Van Ryneveldstraat was ’n doodloopstraat. Sy’t altyd by die venster gesit met die Remington tikmasjien en stories opmaak. Altyd sigaret byderhand. Ons het baie soms gekuier so deur die venster en oor allerhande goed gepraat. As ek met my bicycle stop, het sy die cigarettes oopgemaak en agteroor gesit met ’n welkom smile. Sy’t lekker gelag en baie cigarettes gerook. So het ons toe goeie vriende geword ten spyte van ’n redelike ouderdomsverskil.
G’n wonder haar eerste gepubliseerde kortverhaal “Vir 14 sigarette” was oor cigarettes nie! Dit was in die Rooi Rose of Sarie… Snaaks dat dit oor sigarette gegaan het, het ek gedink.
Ek het dit self gesien. Dit was oor soldaatgoed. Ons het dit ge-celebrate met Oros!
Ons het nou en dan kontak gehou selfs toe ek begin werk het en diens moes doen op ander dorpe en stede. Tot sy baie, baie bekend geword het. Sy’t mos stories oor’ie Bos geskrywe by Knysna waar oupa gebore was. En die olifante het ôk daar gebly… Ek het toe op Swakopmund gewerk.
Toe sy oud was, het ek eendag op pad Baai toe gestop by haar in Hartenbosch en ons het só lekker saam gekuier oor die ou dae dat ons oor’ie vier ure se rytyd geverloor het… Ek het al my Dalene Mathee boeke saamgevat dat sy dit moes teken.
Sy’s nie baie lank daarna nie Boheentoe…
Ek het nog kontak met Toni – haar dogter.
Maar Dalene was nie die enigste skrywer van Graaff-Reinet af nie. Daar was sommer ’n hele paar groot name. Alhoewel nie almal daar gebore. Net gebly. Maar hulle het ek nie self geken nie – net meestal gelees…
Een vanaf Graaff-Reinet was Erika Barnard die digter – die dogter van Martha Barnard die music teacher van Laer Volkskool en het in Pretoria gebly. Sy was ’n blonde met drie dogters en kon so lekker lag. By haar het ek Jeanne Goosen leer ken.
En daar was MM Walters, ook ‘n digter van Graaff-Reinet en vroeër buurman van oom Johnny en ant Ada van Rensburg in Rothmanstraat. Hy’t klas gegee by die college. Sal hom altyd onthou vir sy handvaardigheid. Very artistic. Hy’t ’n droë doringboom gevat, onderstebo gedraai en takke gelyk gesaag met die vloer. Fyn takkies en pendorings weggesnoei. Mooi skoongemaak en gestain. Met ’n fitting en ’n wye raffia shade op het hy dit ’n staanlamp vir sy sitkamer gemaak… Hy het latertyd loop klasgee op Stellenbosch by die universiteit waar oupa klas geloop het.
Ai tog, die indrukke van ’n kind… Ek wou toe ook ’n lamp maak en neem toe ’n wynkan van Lieberstein, nes ’n kruik gelyk maar was glas. Een van Mammie se gemmerbierbottels! Ek maak dit toe vol albasters met ’n electric fitting en ’n shade. Maar ek het mooi die plug verkeerd aangesit! Die positiewe en negatiewe koorde verkeerdom. Dis hoekom die bulb nie wou brand nie. Dis toe Oupa my geleer het die bruin draad kom regs en die bloue links - onthou net die “r” in bruin en “l” in blou. Regs en links. Dit werk in Engels ôk… Die gele is earth. Vandag as ek een moet aansit, dink ek altyd aan Oupa en daardie les wat hy my geleer het.
Lyk my ek was maar ’n baie vryprater en na-aper… grootmense wat notisie geneem het van ’n mens het my so maklik excite en beïndruk!
Lees ook:
The post Elders gesien: Dalene Matthee – g’n aansit, finish en klaar … appeared first on LitNet.