“Ons voel soos celebs,” sê een van die meisies op die rooi tapyt.
“Julle is mos,” sê ek.
*
Soos 'n hert in dorre streke, skreeuend dors na die genot van die helder waterbeke
...
In my prille jeug was Psalm 42 een van my gunstelinge. Donderdagaand, 12 Mei 2016, het dit gedurig deur my kop gedraai.
Die Hoërskool Sao Bras is ’n trotse fontein van kennis in ’n brandarm woonbuurt in Mosselbaai. Die skool verskaf onderrig wat gewoonlik net te kry is in duur privaatskole, tog kan talle leerders glad nie skoolgeld bekostig nie.
Sao Bras. ’n Mens spreek nie die laaste s uit nie.
Waar daar water geskep word
Sao Bras. Die skool is vernoem na plekke waar water volop is. Soos ’n oase in die woestyn, so is die skool, sê mnr H Petersen sommer met die intrapslag toe hy open met skriflesing en gebed.
Ondanks armoede, tik en vigs wat die skool omring, kon Sao Bras oor die afgelope 18 jaar ’n gemiddelde matriekslaagsyfer van 88% handhaaf. In 2013 was die syfer 97,2%. Dit is hierdie prestasies wat gemaak het dat die Hoërskool Sao Bras op 12 Mei deur die ATKV as ’n Sterskool aangewys is.
Leerders wat huishou
Jerome Steenkamp, projekleier vir die Sterskole en seremoniemeester by die geleentheid, plaas Sao Bras se prestasie in perspektief toe ons ontmoet, net ’n paar uur voor die toekenning.
In hierdie arm woonbuurte is pa en ma dikwels afwesig, sê hy. Daar is verskeie redes, een is die geweldige lang ure wat mense werk. Die skoolkinders moet dan die huishouding aan die gang hou. Vanaand, wanneer hulle alles gedoen het in die huis, is hulle klaar moeg. Nou moet hulle eers begin leer.
Jerome, ’n oudonderwyser, weet waarvan hy praat. Dit is eintlik onregverdig om van kinders in sulke buurte te verwag om met kinders uit gegoede buurte mee te ding, sê hy.
Dit plaas egter die prestasie van skole soos Sao Bras net soveel duideliker in perspektief. Hulle ding nie net mee nie, hulle troef talle ander veel meer gegoede skole.
Groei
Die skoolhoof, Chantal Briesies, is baie trots op haar skool, wat die afgelope 52 jaar baie gegroei het. Hul eerste onderdak was ’n eenvoudige houtgeboutjie met vier klaskamers wat vandag nog in gebruik is. Daar was drie opvoeders en 65 leerders.
Die skool lyk tans heeltemal anders.
Vandag is daar 1 201 leerders, ’n personeel van 39 opvoeders, twee administratiewe klerke, vier niedoserende personeellede en ’n koshuispersoneel van agt lede en ses toesighouers.
Die Hoërskool Sao Bras is deesdae gesog, want sukses lok sukses. Beide die Stellenbosch Universiteit en die Universiteit van Wes-Kaapland het reeds belê in Sao Bras, dus het die skool het deesdae uitstekende rekenaar- en laboratoriumtoerusting.
Die skoolkoshuis is gemoderniseer en word nou as ’n winsgewende besigheid bedryf wat weer geld genereer vir die skoolfonds, want talle van die leerders kan eenvoudig nie skoolgeld bekostig nie. Funksies soos troues en kongresse word hier aangebied.
Mense sien die sukses raak. Sakelui in die omgewing waardeer wat die skool doen en is dus bereid om by te dra.
Briesies het in haar toespraak genoem dat die skool se leuse is Fortuna Audaces Juwat. Dit beteken geluk begunstig dié wat moed het.
Ek vermoed dit is eerder ’n geval van sukses begunstig dié wat hard werk.
Nie altyd so maklik nie
Spreker ná spreker het vertel presies hoe hard almal moes werk om te kom waar hulle vandag is.
Mev Smith, tans van die onderwysdepartement, is ’n baie trotse oudskolier van Sao Bras. Sy onthou hoe die onderwysers haar en die ander leerders in die 1980's aangemoedig het om aan te hou studeer toe die land gebrand en apartheid ’n ferm greep op almal gehad het.
“Julle mag nie nou ophou nie,” het die onnies gesê. In dieselfde saal waarin ons op 12 Mei feesgevier het, kon sy uiteindelik matriek skryf.
Daar was talle ander kwessies wat oorkom moes word. Weens die apartheidstelsel was daar gewoon nie veel opgeleide wiskunde- en skeinatonderwysers wat in ’n bruin skool sou kon of wou klasgee nie. In ’n stadium het die skool die plaaslike apteker gevra om skeinat te doseer – hy het minstens al die chemie verstaan!
Nog ’n oudleerder, mnr D Petersen, deesdae die hoof van ’n ander skool, onthou dat al die beste leerders uit die Mosselbaaistreek Worcester toe gegaan het waar daar gevestigde skole vir bruin kinders was. Sao Bras moes hard werk om sy goeie leerders te behou en net mooi toe hulle op dreef kom met hul wiskunde- en skeinatonderrig, val apartheid en die beste leerders loop onmiddellik weer na die voormalige Model C-skole.
Ondanks alles het die bestuur en die onderwysers van Sao Bras voortgegaan. Vandag is dit baie anders. Daar is talle leerders wat van baie ver af kom om deel te wees van hierdie wenspan.
Die skool het reeds ’n groot aantal mediese dokters en ingenieurs, ’n aktuaris en twee bekende akteurs opgelewer. June van Merch is ’n oudstudent, so ook Theodore Jantjies, wat Xander speel in 7de Laan.
Klim uit jou gemaksone
Theodore Jantjies was die gasspreker op 12 Mei.
Jantjies het bitter arm grootgeword in Heidelberg, ’n klein dorpie ’n aantal kilometer van Mosselbaai af.
Vandag wil hy ’n rolmodel wees vir alle kinders van Heidelberg en Mosselbaai.
“Klim uit jou gemaksone,” was sy boodskap aan die matrikulante wat die geleentheid bygewoon het. “Jou fondasie is reg.”
Wie se water was dit?
Danny Titus, hoofdirekteur Kultuur van die ATKV, het daarop gewys dat ons Sao Bras se geskiedenis moet terugspoor na die dag toe Dias by Mosselbaai aan land gegaan het tydens sy reis om die Kaap. Daardie water wat hy so dorstig geneem het, wie se water was dit? Wat was die regstelsels van daardie tyd? Dit is iets wat hom, as regsgeleerde, gereeld besig hou.
Die ATKV doen daarom moeite om ook die geskiedenis te ondersoek vanuit die perspektief van die strand, nie net die perspektief van die skepe af nie, sê Titus.
Nog ’n voorbeelde van die ATKV se werk is Kook saam Kaaps, wat deur Lapa uitgegee en deur twee vroue van Bonteheuwel geskryf is. Vir twee agtereenvolgende weke was Koelsoem Kamalie en Flori Schrikker die beste verkoper van alle Suid-Afrikaanse boeke. Dit wys jou, sê Titus.
Of wat van die riel? Die riel was sterwend tot die ATKV ingegryp het. In 2015 het Die Nuwe Graskoue Trappers in Los Angeles goud met die riel gewen.
Dit is waarin die ATKV belê en dit werk.
“Maar ons wou ook aan die onderwys ’n verskil maak,” sê hy. In Suid-Afrika is daar 24 000 skole, waarvan net 3 000 goed bestuur word. Die ATKV wil dit verander. Die Sterskoolprojek is een van die maniere om skole aan te moedig om te presteer.
Onderwys, my verantwoordelikheid
Seymour Bothman, senior bestuurder van onderwys by die ATKV, het die commendatio gelewer.
Hy het onderstreep dat die ATKV se leuse is: Onderwys, my verantwoordelikheid.
Daarna is talle sertifikate oorhandig.
Chantal Briesies het die toekenning ontvang van Danny Titus. Die ATKV skenk ook ’n kontantprys van R15 000 aan die skool.
Al die topleerders van die vorige jaar is vereer, maar daar is ook ’n besondersee toekenning. By elke Sterskoolfunksie vra die ATKV dat die skool een leerder sal aanwys wat goed presteer ondanks haglike omstandighede. Hierdie jaar is die prys gegee aan Angelo May. Angelo is ’n hert en het gedrink van die helder waterbeke wat Sao Bras hom gebied het.
The post Bron van kennis in arm streke appeared first on LitNet.