Quantcast
Channel: LitNet
Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Die knieval: Van versetsimbool tot opvoerigheid?

$
0
0

Na ’n munisipale verkiesingsaanloop, weereens gekenmerk deur politieke vuurvretery, sondebokkery en opruiende en selfs skokkende politieke uitsprake, is die soveelste aanlyn oorlog oor die Black Lives Matter-knieval nie ligte leesstof nie.

Mense is regtig venynig. Voeg daarby die pandemietoestande, die hulpelose regerende party en in Max du Preez se woorde, “die weggesteekte wond” van die Julie-opstande, en ’n mens verstaan dat polarisasie van dié aard moontlik is. Lank reeds is ons verby die “eenderse politieke denke”-reënboogfase van die vroeë demokrasie. Onlangs agter ons en steeds om ons hakke kef die skynheil en bedrog van Zumafikasie. Die relatief nuwe fase waarin ons samelewing nou verkeer, kan as gesond dog gevaarlik geïnterpreteer word: Mense dink nie meer polities eenders nie, en “eenderse denke”-politiek maak plek vir uiteenlopendheid. Die groot partypolitieke wenners het te kampe met onafhanklike kandidate en alternatiewe, prakties-ingestelde gemeenskapsbewegings. Heilige koeie van die vroeë eendersdenkende reënboogdemokrasie word geslag: Dink aan die dekolonialiseringsbewegings, die fundamentele kritiek op die ANC se model van regstellende aksie en die bevraagtekening van die sentralistiese regeringsmodel. In hierdie jongste fase is die noodsaak van eerlike dog onbevange, nederige dialoog en standpuntinname uiters belangrik. Pogings om wat ’n gedeelde nasionale agenda behoort te wees te oorheers, hetsy deur oor-en-weer-kansellasie of deur openbare heksejagte, sal nog vlamme en verdeeldheid veroorsaak.

In hierdie konteks dan die onlangse [en aanvanklike] weiering deur Quintin de Kock om ingevolge ’n opdrag van Krieket Suid-Afrika (KSA) die alombekende knieval teen rassisme mee te maak. De Kock se weiering het beteken hy het nie in die daaropvolgende T20-wedstryd gespeel nie. Intussen het De Kock ook ’n verklaring uitgereik, na ’n spannende stilte, waarin hy sy onttrekking verduidelik. Hy het toe voor Saterdag 30 Oktober se wedstryd wel aan die knieval deelgeneem.

Die vraag het by my opgekom oor waarom die KSA-dekreet self so ongelooflik ongemaklik voel. Ek self het vroeg in die dae na die George Floyd-moord my steun vir die idee uitgespreek dat die wêreld vir ’n diep oomblik moet stilstaan en besin oor hoe swart Afrikane en hul Amerikaanse slawediaspora se lewens beslis vir eeue gering geskat is deur wit Westerse oorheersing, maar spesifiek hoe hierdie nagevolge steeds met ons is, ten spyte van grootskaalse vooruitgang wat gelykheid betref.

Is hierdie ongemak tekenend van die gereelde verklaring dat ons bleekvelliges ’n streep geïnternaliseerde rassisme ronddra? het ek gewonder. Dis natuurlik ’n verklaringspoging wat nie kritiekvry staan nie, gegewe die essensialisme wat dit veronderstel. Wat van ander verklarings, gebaseer op die botsing van geldige belange?

  • Soos die Quintons van die wêreld se oortuiging dat daar ook ander kwessies is wat insgelyks aandag verdien, benewens rassisme in sport, en dat die verbreking van die knievalpatroon dalk sélf ’n protesdaad is? In De Kock se verklaring verduidelik hy dat dit vir hom onverstaanbaar was dat hy, wat reeds ’n [sogenaamde] nierassige lewe lei, deur bevel en opvoering moes aanhou “bewys” dat hy rassisme verwerp.
  • Of wat van die goedgestaafde argument (waarmee ek nie eens heeltemal saamstem nie) dat sport nie heeltyds die aangewese platform vir maatskaplike protesaksie moet wees nie en dalk juis ’n sosiale hulpbron van ’n heel ander aard is?
  • Of dat die KSA en die Minister van Sport tydens jare se tweespalt en organisatoriese skandes nog weinig vir voetsoolvlak-geleentheidskepping deur sport gedoen het?
  • En wat van die redelike moontlikheid dat KSA, soos faksies in die regerende party, toenemend voorskriftelik wil wees oor hoe individue oor groepsverhoudinge en die geskiedenis dink, en daarmee ’n absolutistiese, ongenuanseerde lig-teenoor-donker-nasionalisme kweek?

Daar bestaan dus redelike twyfel oor die verklarings vir veral wit mense se ongemak met die KSA-dekreet en hul begrip vir Quinton de Kock, benewens die oordonderende verklaringspoging dat hulle almal heimlike rassiste is. Hoe dan gemaak met die knieval self? Hoe dring ’n mens aan dat jy nie rassisme goedkeur wanneer jy die knieval weier nie?

Kom ek probeer.

Die Afrikaanse aanlyn tydskrif Klyntji het na die Floyd-moord heel eiesoortig die boodskap huis toe gebring met ’n sosiale-media-plasing wat lui: “Swart Lewens Maak Saak.” Die plasing het gewys dat dit moontlik is om in Afrikaans stil te staan en te reflekteer oor die nagevolge van wit oorheersing. Dit het ook simbolies die regering tydens die 2020-grendelstaat daaraan herinner dat die agtergestelde swart bevolking, wat op daardie stadium deur ons eie soldate en polisie straffeloos gebrutaliseer en soms vermoor is, se lewens saak maak. Dit is natuurlik skreiend dat die voormalige bevrydingsparty hieraan herinner moes word.

Die Klyntji-plasing lê egter die breë gewaarwording en beginsel van Swart Lewens Maak Saak, wat ek voorts afkort as SLMS, vas. In die eerste fase van die SLMS-gewaarwording het Colin Kaepernick op die voetbalvelde van die VSA die knieval uitgevoer. Dit was ’n kragtige teken, ’n eerste fase van verset en die opsetlike verbreking van ’n patroon wat sport as sogenaamd “neutraal” en verwyderd van samelewingsvrae probeer isoleer het. In die tweede fase is Kaepernick nagedoen, uit oortuiging en omdat die oomblik wêreldwyd ryp was in die nadraai van die Floyd-moord, om erns te maak met die kwessie van geskiedkundig ongewaardeerde swart lewens.

In die eerste en tweede fase was daar reeds uiteenlopende verskille oor die Black Lives Matter-beweging. Die kritiek wat daarteen gerig is, was kennelik nie oor die SLMS-gewaarwording self nie: Min mense behalwe keiharde rasmeerderwaardiges het openlik betwyfel dat swart lewens saak maak. Die debat was grootliks oor die politiek van spesifieke leiersfigure in die VSA, en oor die BLM-slagspreuk self. Dit was ’n belangrike stadium, wat kon help uitklaar dat leiersfigure in BLM se politiek nie noodwendig die SLMS-gewaarwording self besmet nie, en dat dit moontlik is om alle lewens te waardeer terwyl daar stilgestaan en gereflekteer word oor sistemiese nagevolge van wit oorheersing.

Die derde fase is waar ons nou trek, en wat my kwel. In die voorafgaande twee fases het die breër filosofie van SLMS uiteenlopend verwikkel: Van sentristiese en linkse en gematigde posisies tot selfs konserwatiewe en libertariese ander benaderings om by dieselfde SLMS-gewaarwording uit te kom. SLMS is veelkantig.

Die KSA-styl gevolgtrekking dat slegs ’n sekere performatiewe en narratiewe benadering tot die gedeelde gewaarwording geldig en tekenend van antirassisme is, is skadelik. Die gevolg is die onmiddellike slotsom dat Quinton de Kock en almal wat selfs die geringste begrip vir sy optrede toon, dus rassiste moet wees.

Die derde fase van die SLMS-gewaarwording word nou geken deur ’n dominante “voorskrif” om jou teenrassisme te betoon, ongeag of jy goeie redes het om die uitvoering van jou SLMS-gewaarwording te kenne te gee – soos Quinton de Kock, vir wie die gebaar leeg voel in die konteks daarvan dat hy sy teenrassisme uitleef, en in daardie opsig sy aanvanklike weiering ’n tipe protes was teen die vestiging van ’n patroon wat toenemend deur dekreet, opvoerigheid (performativity) en stigmatisering besoedel word. Indien die performatiewe dwangbuis nie aan gehoor gegee word nie, is die onintelligente en absolutistiese oordeel dat jy dan beslis ’n rassis moet wees.

Dit herinner sterk aan van my swart studentekollegas wat as sogenaamde coconuts uitgekryt is omdat hulle, ten spyte van hul steun van die FeesMustFall-gewaarwording, nie wou deelneem aan protesaksies of die rektors wou verskree nie, of hulself in openbare forums wou oordra nie, maar dalk eerder in hul studentegemeenskappe aan kritiese gesprekke oor studentegelde wou deelneem.  

Ideologiekritiese gewaarwordinge soos SLMS is ’n belang wat dikwels reeds baie wyd gedeel word, dog verskillend benader word.

Daarom is die berugte foto van Protea-spelers in wisselende liggaamshoudings tydens die Teenrassisme-Gedenkoomblik tydens die T20-Wêreldbekerkriekettoernooi geensins skandalig nie. Die spelers betwyfel na alle waarskynlikheid nie een die SLMS-gewaarwording nie, al het hulle [moontlik] verskillende sentimente oor hoe en waar die gewaarwording te kenne gegee moet word; die Protea-kaptein Bavuma en sy span se respek vir en kameraadskap met De Kock op 27 Oktober 21 bewys dit. Die foto beeld in werklikheid die kosbare balans tussen gedeelde basiese gewaarwordinge enersyds en uiteenlopende bolangse politieke denkpatrone andersyds treffend uit.

Om agbare, redelike ideologiekritiese gewaarwordinge te vervang met opvoerigheid, soos ek voorheen hier geskryf het, skep ’n beleidsblindheid vir praktiese oplossings en daadwerklike regstelling. Deur onsself so toe te spits op die uitvoer van ’n ritueel en deur selfingenome suiwerheidskruistogte van stapel te stuur, vergeet ons om te besin, genuanseerd te stry en voort te bou op die beginsels wat ons wel deel.

The post Die knieval: Van versetsimbool tot opvoerigheid? appeared first on LitNet.


Viewing all articles
Browse latest Browse all 20660

Trending Articles


Wiskunde, graad 6: Vraestel en memo (November)


Weer 'n kans op geluk (Deel II)


Maak jul eie reënmeter


Hoe om ’n aangebrande pot of oondbak skoon te maak


8 Wenke om water te bespaar


Die beste tyd van my lewe


Koshuiskaskenades


’n Beoordeling van die vertaling van σάρξ (vlees) in die Direkte Vertaling...


Welkom in die wêreld, Baba Strauss!


Warrelwind skep my op in die lug…los my op ‘n Wolk se rug


Een vakansie tydens my kinders se sporttoere ...


Graad 4-wiskundevraestel en -memorandum (November)


Mikrogolf-vrugtekoek


18 unieke kosse wat net Suid-Afrikaners sal ken


Gedig: Populiere


Breekpunt deur Marie Lotz: ’n lesersindruk


Graad 6, 2016: Vraestelle en memoranda


Wonder ek oor die volgende ….


Die oplossing vir yl hare is hier


Kyk watter glanspaartjie is verloof!



<script src="https://jsc.adskeeper.com/r/s/rssing.com.1596347.js" async> </script>