Sewe-en-twintig persent van kiesers landwyd het Maandag hulle kruisie gaan trek. Van daai groep was daar ’n hele paar wat vooraf aangedui het hulle gaan hulle stembriewe bederf uit protes teen die proses.
Natuurlik verskil die persentasie van provinsie tot provinsie. Daar is ook groot verskille tussen voorstede en townships. Ek het nog nie gesien dat daar enige analise gedoen is tussen stedelik en landelik nie, maar ek vermoed ook daar sal daar merkwaardige verskille wees.
Die politiek is altyd persoonlik. Daarom wil ek heel eerste my indrukke deel oor die proses waar ek was.
Ek was 30ste in die ry toe ek 06h55 heel rustig by my stemlokaal opdaag. ’n Vriendin moes 10h00 omdraai omdat sy toe 150ste in die ry was, en dit in die reën. Kiesers was regtig nie oral apaties nie.
.......
Anders as met vorige verkiesings was die gebrek aan jovialiteit opmerklik.
.......
Anders as met vorige verkiesings was die gebrek aan jovialiteit opmerklik. Die verskillende partye het miserabel by hul tafeltjies gesit. Die gebruiklike vroegmôre-geskerts was afwesig. Niemand het musiek gespeel nie. Die mense in die toue was geïrriteerd met mekaar. Die gebruiklike partytjie-atmosfeer was algeheel afwesig.
Boonop het kiesbeamptes die heeltyd gesukkel om mense sover te kry om afstand te hou. Daar was ’n miniskermutseling in die tou toe ’n groep mans probeer indruk het.
Die polisie het op ’n afstand arms gevou gestaan en als dophou. Dalk sou hulle optree as die kiesers begin appels swaai het, wie weet.
Dalk was die gespannenheid omdat dit koud was en die reën gedreig het. Dalk was dit omdat mense net nie meer gewoond is daaraan om in groepe bymekaar te kom nie.
Of dalk is dit omdat hierdie verkiesing regtig nie veel keuses gebied het nie en ‘n bietjie soos ’n oefening in futiliteit gevoel het.
Selfs nadat ek my kruisies getrek en die lokaal verlaat het, het ek nie verlig gevoel, seker in die wete dat my kruisie ’n verskil maak nie. Terwyl ek met die stembriewe gestaan het, toe ek my wykskandidate sien, het ek ernstig oorweeg om tog maar daai stembrief te bederf, want herder, dit was ’n keuse tussen onbekend, inkompetent en sertifiseerbaar. Watse keuse is dit?
........
Selfs nadat ek my kruisies getrek en die lokaal verlaat het, het ek nie verlig gevoel, seker in die wete dat my kruisie ’n verskil maak nie. Terwyl ek met die stembriewe gestaan het, toe ek my wykskandidate sien, het ek ernstig oorweeg om tog maar daai stembrief te bederf, want herder, dit was ’n keuse tussen onbekend, inkompetent en sertifiseerbaar. Watse keuse is dit?
........
En dis die probleem met hierdie verkiesing. Nie een van die groot partye is sonder meer die regte keuse nie.
Die uitslae sover bewys dit. In die meeste munisipaliteite sal daar koalisies gevorm moet word om enige besluite geneem te kry. Die ANC en DA is albei gelooi vir hul arrogansie en aanname dat hulle weer gaan wen.
In my munisipaliteit, gewoonlik ’n DA-vesting, is daar nie ’n volstrekte meerderheid nie. GOOD met hul drie setels het baie beter gevaar as wat verwag is, en as hulle hulle kaarte reg speel, is hulle die sleutelspeler. Selfs die EFF met hul een setel kan hul lyf rondgooi.
Dis ’n scenario wat hom in meerdere munisipaliteite gaan uitspeel. Dit kan goed wees, omdat mense nou meer op hul tone moet wees om hulself te bewys en harder moet werk om koalisies te vorm. Of dit kan besluitneming verlam omdat kaartmannetjies grootmeneer kan speel. Watter kant toe die dobbelsteen gaan val, sal ons oor die volgende paar jaar sien uitspeel.
........
En dis die probleem met hierdie verkiesing. Nie een van die groot partye is sonder meer die regte keuse nie.
........
Al die partye behoort ernstige selfondersoek te doen. Hoekom het kiesers verkies om eerder met hul voete te stem en weg te bly?
Meer fundamenteel, daar is algemene eenstemmigheid dat ’n leerder op 33 persent nog slaag. Dit beteken dat ons demokrasie met sy 27 persent-opkoms klaaglik gedruip het in hierdie verkiesing. Gaan politici hul moue oprol en daaraan werk om reg te maak wat in hul partye verkeerd is, of gaan hulle tevrede wees met die Pyrrhus-oorwinning wat hulle hier behaal het?
Maar van veel groter belang vir my is: Wat gaan ons kiesers doen? Vir ’n demokrasie om te slaag, moet burgers betrokke wees by die proses. Burgers moet hul verkose leiers tot verantwoording roep.
Die sukses van ActionSA bekommer my. In hierdie klimaat van werkloosheid en onsekerheid oor die toekoms mag ’n party wat Suid-Afrikaners eerste stel, goed klink. Dis hoe Hitler begin het. Dis waarop Trump sy aanvanklike sukses gebou het. Dis hoe die meeste partye wat uiteindelik regs leun, begin.
Daar is ander partye wat fokus op etniese identiteit. Dit voel alte veel of ons besig is om terug te beweeg na die laermentalitiet waarvan ons nou reeds twee dekades lank probeer ontslae raak.
Ons as betrokke burgers kan dit nie toelaat nie.
Ons moet self skouer aan die wiel sit om die situasie om te keer. Dit beteken dat ons mekaar moet verantwoordelik hou omtrent ons burgerlike verpligtinge. Maar dit beteken ook ons moet aktief wees om ons volgende geslag politici op te lei om meer moreel, meer demokraties, meer verantwoordelik te wees.
In die VSA het Brand New Congress begin om politieke leiers wat hul ideale verteenwoordig, te identifiseer en voor te berei vir ’n politieke loopbaan. Alexandria Ocasio-Cortez en die res van die sg Squad is die gevolg.
Dalk het dit tyd geword dat ons iets soortgelyks in Suid-Afrika begin.
Dit gaan nie van politieke leiers afhang hoedat ons toekoms gevorm word nie. Dit gaan van ons afhang, van ons aktivisme, ons kieserbetrokkenheid, ons burgerlike verantwoordelikheid.
Sewe en twintig persent is nie aanvaarbaar nie. Dit kan nooit wees nie.
Ons verdien beter.
The post Verkiesing 2021, die Groot Wegbly appeared first on LitNet.