Op die man af, Freek Robinson se outobiografie, is onlangs deur Tafelberg gepubliseer. In dié boek gee een van Suid-Afrika se bekendste nuusmanne ’n agter-die-skerms-blik op sy belewing van die mees dramatiese politieke periodes in die land se geskiedenis. Hy praat ook reguit oor die teleurstellings, uitdagings en hoogtepunte in sy persoonlike lewe.
***
Met die uitbreek van die COVID-19-pandemie in 2020 is Freek Robinson gedwing om vroeg af te tree. Deesdae hou hy hom besig met die skryf van artikels, gaslesings by universiteite en opleiding in TV-vaardighede vir die land se topsakelui. Sy Zoom-onderhoude op LitNet, Reguit met Robinson, kry ook groot aftrek. Maar die geleentheid om meer betrokke by sy gesin en kleinkinders te wees, veral as pa van twee seuns wat nog in die huis is, verskaf vir hom die grootste plesier.
En hy kon tyd inruim vir sy memoir, Op die man af, al het hy nie kon raai dat so ’n projek oor sy pad sou kom nie.
“Toe ek in televisie begin werk het,” vertel hy, “het ek nooit gedink dat ek eendag ’n bekende gesig in mense se huise sou wees nie. Daar was ’n stadium toe ek gedink het ek moet my naam, Freek, verander na iets soos Fred of Jacob sodat my noemnaam en van darem bymekaar sal pas. Engelse mense het my altyd ‘Freak’ genoem.”
Freek se loopbaan as nuusman het in TV se begindae in Suid-Afrika afgeskop, en in die loop daarvan het die mees dramatiese politieke gebeure in die land se geskiedenis voor sy oë afgespeel. Feitlik elke prominente rolspeler het in die ateljeestoel teenoor hom stelling ingeneem – van PW Botha tot Nelson Mandela. Freek is egter beskeie, en veral diplomaties, wanneer hy terugkyk na sy rol as fasiliteerder van gesprekke tussen politieke opponente: “Vroeg in my joernalistieke loopbaan het ek my voorgeneem om deur my werk ’n positiewe bydrae te probeer lewer tot groter begrip tussen alle mense in ons land. Dit was nooit die bedoeling dat ek eer daarvoor sou kry nie. Dit was net ’n persoonlike besluit sodat ek binne myself groter sin aan my lewe kon gee.”
Meer as een keer het die vrae wat hy aan politici gestel het, gehelp om skaakmatsituasies tydens onderhandelinge te ontlont. In Op die man af roep hy byvoorbeeld ’n Agenda-onderhoud met Roelf Meyer en Cyril Ramaphosa in herinnering. Nadat ’n dooiepunt in die grondwetlike onderhandelinge bereik is, het dié twee here hul gesprekke hervat nadat Freek hulle met vrae gepeper het. “’n Mens kan nie regtig dink dat jy sommer met een geselsie wondere sal verrig nie, dis ’n stadige proses wat oor ’n tyd dalk ’n verskil maak. Cyril en Roelf het sigbaar saam in die ateljee verskyn nadat hulle vir maande nie in die openbaar met mekaar gepraat het nie. Maar wie sê dis my oorredingsvermoë wat hulle laat besluit het om saam te verskyn en onderhandelinge weer te hervat?”
In die dae toe PW Botha die leisels gehou het, was dinge beslis minder aangenaam. Toe Freek by die destydse SAUK se TV-nuusspan aangesluit het, was die instelling stewig in die hande van die Broederbond en apartheidpolitici. In Op die man af word breedvoerig geskryf hoe Freek, en vele ander mense – ook ministers – slagoffers geword het van Botha se diktatoriale inmenging. Die berugte voorval toe Allan Hendrickse in Port Elizabeth in die see gaan swem het en kort daarna uit die driekamerparlement bedank het, is nog vars in Suid-Afrikaners se geheue.
Na dié gebeurtenis het daar groot drama in die nuusateljee op Freek gewag. Hendrickse se bedanking was die hoofitem in die bulletin, en PW se afdankingsbrief aan Hendrickse is later in die bulletin gemeld – PW wou natuurlik die eerwaarde se bedanking na ’n afdanking laat lyk. In opdrag van Riaan “Koedoe” Eksteen, destydse grootbaas by die uitsaaier, moes Freek die President se afdankingsbrief drie keer tydens die bulletin voorlees.
Mens kan nie anders as om te wonder of Freek nie soms nog koue rillings kry as hy aan daardie onstuimige jare terugdink nie. “Die tagtigerjare was wel ’n tyd van beproewing vir joernaliste. Wat politici nie verstaan nie, is dat jy die geloofwaardigheid van die platform (soos die SAUK) ondergrawe deur sulke optrede. As die instelling nie geloofwaardig is nie, glo niemand jou meer nie. Niks wat jy dan sê, maak saak nie.”
In sy boek vertel Freek van PW Botha se emosionele uitbarstings waartydens hy kabinetslede soos kinders behandel het. “In Botha se termyn was dit maar hy wat die mag-septer geswaai het. ’n Voorbeeld is die storie oor Minister Danie Steyn wat ek in die boek beskryf.” In die boek vertel Freek hoe hy ’n verbouereerde minister met vrae moes begelei nadat PW vir Steyn terug ateljee toe gejaag het om ’n onderhoud oor te doen nadat sy eerste probeerslag nie vurig genoeg was nie.
“PW het nie net politieke mag gehad nie, hy was ook die hoof van die staatsveiligheidsraad – wat éintlik sy magsbasis was. Hy het dus beheer gehad oor alle veiligheidsinstellings. Met verloop van tyd in die tagtigs het dit duidelik geword dat die veiligheidsinstansies besig was met ’n eie aksie buite die politieke raamwerk. Gereeld het berigte verskyn van mense wat verdwyn het en vermoor is – soos die Cradock-4.
“By geleentheid in 1987 het ’n klompie van ons joernaliste in die parlement se perskroeg aan die gesels geraak met etlike jong parlementslede van die Nasionale Party. Hulle het steen en been gekla oor PW se diktatoriale optrede. Ons het toe gevra: maar doen dan iets. Staan op en praat of knoop minstens in die binnekring, soos die koukus, ’n gesprek aan daaroor. Maar hulle het gesê dis uiters gevaarlik en hulle enigste hoop is dat die liewe Here sal ingryp. En so was dit in 1988 toe PW se bewind ten einde geloop het na ’n beroerte-aanval.”
Baie lesers sal nog goed onthou dat Freek as gevolg van die staat se inmenging met bedrywighede by die nasionale uitsaaier teen sy sin Londen toe “gepos” is. Clarence Keyter, wat in daardie stadium in die Britse hoofstad gestasioneer was, moes sy pos voortydig ontruim om vir Freek plek te maak. Die posisie in Londen het Freek in staat gestel om wyd in Europa te reis en die kontinent te verken, maar die persoonlike prys was hoog. Sy eerste huwelik het dit nie oorleef nie.
In Engeland het hy, toe die ANC nog ’n verbode organisasie was, geheime ontmoetings met mense soos Thabo Mbeki gehad. In daardie periode het Freek dié wysheid teëgekom: “You need to be exposed to the radical extremes in order to determine the parameters of sanity.” In ’n ware demokrasie, sê hy, is dit nodig dat mense, en veral nuusmense, standpunte van alle kante aanhoor. “Dit is nodig sodat jy vir jouself kan besluit wat vir jou onaanvaarbaar is. Dan is die kanse goed dat jy, soos die meeste mense, jouself êrens in die middelspektrum sal plaas.”
Die gevoel van bevryding was byna tasbaar toe die demokratiese proses in die laat tagtigs onverwags momentum kry en beperkings op “verbode” organisasies opgehef is. Freek beskryf die dekade daarna as “die goue jare van joernalistiek” in Suid-Afrika.
“Skielik, met die ontbanning van die ANC en ander politieke partye, die vrylating van Nelson Mandela en ander gevangenes, Kodesa en die eerste demokratiese verkiesing, gevolg deur die presidentskap van Mandela, was joernaliste vry. Jy kon oor enigiets met ieder en almal praat.
“Dis ’n vryheid wat ons aangegryp het. Dit was ’n tyd dat ons die versmoringskleed van inperkings kon afruk en bloots die waarheid kon vertel. Dit het ons en elke burger laat besef dat ons maar blootgestel kan word aan ’n verskeidenheid van standpunte en dat dit nie beteken jou denke sal besoedel word deur die blote aanhoor of sien van ander menings nie.”
Freek was in Parys toe hy Nelson Mandela tydens sy eerste oorsese reis, kort na sy vrylating, ontmoet het. Tydens ’n nuuskonferensie in die Franse hoofstad het Madiba verrigtinge onderbreek toe hy vir Freek in die perskorps gewaar. Net daar, omring deur die wêreldpers, het Mandela vir Freek gegroet en hom vertel hoe hy hom in die tronk op TV dopgehou het. Madiba het Freek terstond vertel dat dit tyd is om uit Londen terug te keer sodat hy aan die nuwe Suid-Afrika kan help bou.
Maar hoe voel Freek vandag, meer as 30 jaar later, oor Nelson Mandela se inspirerende visie vir die land? Dinge het intussen immers verander, en beslis nie altyd ten goede nie.
“Suid-Afrika was al in ’n moeilike finansiële situasie nog voordat die pandemie toegeslaan het. Ons sal gelukkig wees as ons oor die volgende tien jaar kan inhaal om te wees waar ons ’n dekade gelede was.”
Korrupsie is tans, volgens Freek, die grootste doring in die vlees. “As ’n ontwikkelende land kan ons dit nie bekostig dat een enkele sent onproduktief aangewend word nie. President Ramaphosa het beloof hy sal korrupsie uitroei. Sover lyk dit of die wiele van die reg stadig maar seker besig is om te draai.” En hoewel verskeie syfers al genoem is oor die skade wat korrupsie aan die ekonomie aangerig het, kan “niemand nog met sekerheid die regstreekse en onregstreekse skade bepaal nie”.
“As die president by sy woord hou en net die korrupsie alleen uitroei, sal daar vir seker meer hoop wees. Dit sal ook Suid-Afrika se beeld in die buiteland verbeter. En dit kan natuurlik lei tot hernieude bereidwilligheid om in die land te belê, wat die ekonomie sal stimuleer en armoede verlig.”
Die Amerikaanse nuusman Ted Koppel het ’n invloed op Freek se styl as nuusman gehad.
“Koppel het beslis ’n indruk op my gemaak, en dis om altyd in beheer van jouself te wees. Om te luister en rustig te formuleer en vrae te stel. ’n Ander anker wat indruk gemaak het, was Jeremy Paxman van die BBC se News Night.”
In 1995 het dié kalm benadering Freek goed te staan gekom in die aanloop tot die eerste demokratiese verkiesing in Suid-Afrika. Terwyl Freek besig was om vanuit Johannesburg ’n onderhoud met Sifiso Zulu in die Durbanse ateljee te voer, het Mangosuthu Buthelezi vanuit ’n ander ateljee op ’n monitor gesien wat Zulu oor hom kwytraak. Dit was nie lank nie of die Inkatha Vryheidspartyleier storm die ateljee saam met sy veiligheidsmense binne en raak handgemeen met Freek se gas – alles regstreeks op die lug. Freek het vir Buthelezi rustig nader geroep om ook sy standpunt te stel.
As nuushond het Freek op heelwat sendings saam met mense soos Pik Botha, destyds die minister van buitelandse sake, gegaan. Soms het dié sendings in die geheim plaasgevind, soos die keer toe ’n ryk Duitser sy Kalahari-plaas vir samesprekings oor die Namibië-Angola-konflik beskikbaar gestel het. Franz Jozef Strauss, destyds die staatshoof van Beiere, en Jonas Savimbi van Unita was teenwoordig.
Hoe dikwels het dit gebeur dat welgestelde burgers ontmoetings soos dié gefasiliteer het? En het sulke geleenthede ’n konstruktiewe bydrae tot politieke verwikkelinge lewer?
“In hierdie bepaalde geval het die eienaar van die plaas wel ’n positiewe bydrae gelewer deur net die geriewe beskikbaar te stel vir die geheime en sensitiewe samesprekings. Maar soos ons nou baie duidelik in getuienis voor die Zondo-kommissie gehoor het, kan die verhouding van ’n politikus of hoë amptenaar met mense in die privaatsektor maklik tot korrupsie lei, met ernstige nadelige gevolge vir die belastingbetaler.”
’n Ander politikus wat intussen byna in die vergetelheid verdwyn het, met wie Freek in sy standerd 9-jaar in Pretoria kennis gemaak het, was Jaap Marais, toe nog leier van die Herstigte Nasionale Party (HNP). As skoolseun het Freek se belangstelling in die politiek net begin ontluik toe hy en ’n vriend gereeld by Marais gaan kuier het. In sy boek skryf Freek dat dié eerste kennismaking met die politiek vanuit ’n agterna-perspektief “op die verkeerde voet” begin het. Oom Jaap het die seuns tydens besoeke “vol regse propaganda geprop”.
Maar die politiek ten spyt, was oom Jaap volgens Freek ’n interessante figuur. “Hy het ’n groot versameling voëls gehad,” vertel Freek. “Ons het soms saam met hom na die hokke gegaan as hulle gevoer word. Hy kon jou dan in detail vertel van elke voël. Hy was ’n besonder goeie spreker – amper ’n vroeëre Eugène Terre’Blanche wees, net hy het nie so ’n sterk stem gehad nie. Maar hy kon kwaai opgewerk raak. Gewoonlik het hy sy toesprake saamgestel uit koerantuitknipsels oor dinge wat lede of leiers van die Nasionale Party sou gesê het, wat hy dan sterk aangevat het as tekens dat die party apartheid verwater.”
In Op die man af neem Freek lesers terug op die spoor na al die plekke waar hy grootgeword het, en ook die Afrikalande waar sy ouers in hulle jongdae gewerk het. Bestemmings soos die Oos-Kaap en ook drie lande in suidelike Afrika waar sy pa ’n konstruksiewerker was, onder meer in Malawi (destyds Njassaland), word genoem. Dit het heelwat opleeswerk en navorsing gekos om sy lewensverhaal akkuraat te beraam.
“Met die skryf van die boek het ek my verwens dat ek in my lewe nie meer dikwels persoonlike aantekeninge gemaak en bygehou het nie. Waar my geheue my in die steek gelaat het, moes ek oudkollegas, vriende of nuusmakers opbel en vra hoe hulle so en so ’n gebeurtenis onthou. Hier en daar was ek gelukkig – soos die proefskrif wat ek in Stellenbosch opgespoor het. Die doktorale student het die geskiedenis weergegee van die Nkhoma-sendingstasie in Malawi – juis ook in die tyd toe my pa in daardie omstreke gewerk het. Uit die aanhaling daaruit is dit duidelik dat wit mense met wrewel bejeën is. ’n Mens kan jou net indink hoe my ouers holderstebolder alles gelos en gevlug het uit vrees dat ons as gesin leed aangedoen sou word.”
Wanneer dit by sy persoonlike lewe kom, skryf Freek nugter en onbevange. Hy draai nie doekies om oor die armoede wat hy as kind ervaar het nie. Ook nie oor ’n huwelik wat skeefgeloop het en die spanning wat dit tussen hom en sy kinders veroorsaak het nie. Dit moes bepaald moeilik wees om so diep te gaan delf om sy hart in die oopte te bring? “Ek het onder druk van die uitgewer eintlik meer gesê as wat ek wou. Maar ek verstaan dat uitgewers oor jare ’n aanvoeling begin kweek het oor wat werk en wat nie werk nie,” sê hy.
“Ek het my dogters vooraf geraadpleeg net om seker te maak dat ek nie dinge sal kwytraak wat hulle kwets nie. Meer besonderhede oor my oudste broer se siektes en dood het ek wel ingeperk weens besware van ons skoonsus. Die doel was nie soseer om daaroor te skryf nie, maar net om die punt te maak dat sy situasie ’n fundamentele invloed op my lewe gehad het en bygedra het tot die swak verhouding wat ek met my pa gehad het.”
Freek se vader het op ’n gevorderde ouderdom as mediese dokter gekwalifiseer nadat sy moeder die gesin vir jare lank finansieel gedra het. En net toe hy as dokter sy voete vind, gaan raak hy verlief op ’n pasiënt. Na sy ouers se egskeiding was Freek lank kwaad vir sy pa, maar vandag is hy spyt oor die “verlore jare” in hul verhouding. As hy dit moet waag om vir iemand anders raad oor gesinsverhoudings te gee, sou hy die volgende uit sy ervaring deel: “Met die tyd, die ervaring en die dieper besin daaroor, moet ’n mens aanvaar dat die gesin/familie ’n veilige hawe moet wees. Daar moet jy geborge voel, alles verdra, alles vergewe, steeds ’n steunpilaar wees, begrip kweek, nooit veroordeel en afkraak nie.
“Selfs al sou ’n gesins- of familielid iets vreeslik aanvang, soos om ’n misdaad te pleeg, moet ’n mens daardie persoon bly ondersteun. Dit beteken nie dat jy moet saamstem of alles goedkeur nie, maar met liefde erkenning aan die mens gee. Dit was nie nodig om bande met my pa te verbreek nie. Ek moes eintlik net gesê het dat ek nie sy optrede goedkeur nie, maar dat ek hom steeds as pa erken en respekteer. So kon ek ook die verhouding met my dogters beter hanteer het.”
Freek se passie vir Afrikaans blyk duidelik in Op die man af. Hy het ’n honneursgraad in Afrikaans en Nederlands, en die legendariese Elize Botha was sy gunstelingdosent. Hy het ook ’n kreatiewe streep en het al liedjies vir Laurika Rauch geskryf. In sy dae as jong joernalis was Koos du Plessis ’n kollega. Koos Doep het hom aangemoedig om in Afrikaans liedjies te skryf toe Freek gedink het dit is beter om in Engels te skryf. Na sy aanstelling deur SAUK-TV het Freek gedink hy sou na ’n jaar of twee in die nuusafdeling oorskuif na die TV-drama-afdeling sodra daar ’n pos oopgaan. “Maar toe ’n regisseurspos inderdaad beskikbaar word, het ek besluit dat ek goed doen by nuus en dat ek daar sou bly. Met verloop van tyd het my lewe so verstrik geraak in die nuusveld dat ek eintlik net van die kantlyn af kennis geneem het van wat in die Afrikaanse letterkunde aangaan. As skrywers met die politici gebots het, het ek wel daaroor berig, maar ek het maar min tyd gehad om my te verdiep in letterkunde.”
In die boek is daar ’n vermaaklike staaltjie oor Freek en ’n TV-span se besoek aan die Noord-Kaap. Hy en ’n vroulike kollega moes letterlik hul deure in die plaashuis waar hulle oornag het, sluit om die driftige behoefte van die boervrou én haar seun vry te spring. Maar dit was darem seker nie die enigste keer dat hy as openbare figuur in só ’n benoude situasie beland het nie?
Dit baat egter nie veel om vir Freek, die ewige diplomaat, oor sulke dinge te probeer pols nie. “Die optrede van die driftige boervrou was seker die ergste wat ek beleef het,” antwoord hy. “Van tyd tot tyd het ek wel ‘fan mail’ gekry, maar dit was meestal skaflik en opreg.”
* Kyk hier na Reguit met Robinson, Freek se Zoom-onderhoude op LitNet.
The post <i>Op die man af</i> – Freek Robinson lig die sluier oor ’n vol, opwindende lewe appeared first on LitNet.