#kouekoffie
Carla Lang
Protea Boekhuis
SKU: 9781485312321
Carla Lang praat met Naomi Meyer oor Carla se boek wat onlangs by Protea verskyn het, #kouekoffie.
Carla, hoekom hou jy so baie van koue koffie dat jy ’n boek daarna vernoem? In alle erns: Vertel my van jou boek se titel (wat ek seker is enige ma met jong kinders dadelik sal verstaan).
Ek hou beslis nie van koue koffie nie, ook nie kitskoffie nie – haha! Net warm filterkoffie vir my, assebliéf – alhoewel ek tans maar droëmond is, want ek is swanger met my derde kind, so probeer die kaffeïen-inname so effens beperk
Oor die titel: Dit het regtig net vanself gekom – dis realiteit in my lewe vanaf my eerste kind se geboorte. Selde dat ek ’n warm koppie koffie of tee gedrink kry. Ek is seker baie ma’s kan vereenselwig.
.......
Selde dat ek ’n warm koppie koffie of tee gedrink kry. Ek is seker baie ma’s kan vereenselwig.
.........
Vertel my van jou boek. Hoe het dit begin? Waarom wou jy neerskryf hoe jy die lewe van ’n jong ma ervaar?
.......
Nadat ek bedank het as voltydse werknemer en meestal by die kinders by die huis was, het ek begin om my dae saam met hulle neer te pen. Eerstens omdat ek daarvan hou om te skryf; tweedens omdat ek die herinneringe wou bewaar vir eendag; en laastens omdat ek besef het hoe alleen moederskap kan wees.
.........
Ek het nie beplan om die boek te skryf nie. Dit het ook soort van vanself gebeur. Ek was nog altyd lief vir skryf en lees. Nadat ek bedank het as voltydse werknemer en meestal by die kinders by die huis was, het ek begin om my dae saam met hulle neer te pen. Eerstens omdat ek daarvan hou om te skryf; tweedens omdat ek die herinneringe wou bewaar vir eendag; en laastens omdat ek besef het hoe alleen moederskap kan wees. Dit help om te weet dat ander ouers ook dikwels sukkel, en dis waaroor ek skryf: die goeie dae wanneer ek voel soos Superwoman en Supermom, maar ook die ander dae wanneer alles net chaos is en ek ernstig aan myself as ma twyfel. Ek wou eerlik wees en my gevoelens en ervaringe met ander ouers deel. Ek wil hê ouers moet weet: Dit gaan nié net in jóú huis so nie!
Ek het dit op my persoonlike blad op Facebook begin plaas (terloops, waar ek ’n klein groepie "friends" het – vriende, kollegas, familie – want eintlik hou ek van privaatheid). Ná ek baie positiewe terugvoering ontvang het, het ek besluit om ’n aparte blad vir hierdie rubrieke te skep. Met die hulp van Willemien Brümmer en Gert van der Westhuizen het my rubrieke toe ook op Netwerk24 begin verskyn. Protea Boekhuis het my toe op ’n stadium genader en ’n boekkontrak aangebied.
Was dit eers blogs? Is die boek ’n kombinasie van jou skrywes wat eers op Netwerk24 verskyn het en nuwe artikels?
Sien bo. En: Ja, die boek is ’n kombinasie van my skrywes op Netwerk24, asook nuwe skrywes, tesame met interessante opnames vanaf my blog. Wat dit ook anders maak, is dat ek my volgelinge ’n stem gee deur van hulle kommentare in te voeg. Opgesom: ’n humoristiese blik op die vreugdes en uitdagings van moederskap en vrouwees, deur die neerpen van die goeie en moeiliker tye saam met my kinders.
Praktiese vraag: Waar het jy die tyd gekry om neer te skryf wat jy ervaar? (Ek verwys na een van jou hoofstukke se opskrif en wys uit, ter verheldering van die vraag: "Van die huis af werk? Wat is dit?")
Ek skryf wanneer ook al ek ’n tydjie kry: die 10 minute alleen in my kar ná ’n tandartsafspraak; die vyf minute voor die skoolhek voor ek vir Boeta oplaai; die 20 minute wanneer ek wag vir ’n naskoolse aktiwiteit om klaar te maak.
Ek glimlag vir jou vertellings van ander ma’s. Want om ’n ma te wees, beteken outomaties mens se kinders word gebore. En jy ontmoet ander ma’s. Hoe ervaar jy ander ma’s – die verskillende tipes/soorte?
Ek wil nie oordeel nie, want ek dink nie daar is ’n reg of ’n verkeerd nie: Doen wat vir jóú werk. Daar is wel dikwels ’n groot verskil tussen ’n eerstekind-ma en ’n tweede-/derdekind-ma. ’n Eerstekind-ma is gewoonlik baie meer angstig en pedanties en presies: bekommer haar vreeslik oor organiese babakosse, kindervelprodukte, slaaptye, eettye, ontwikkeling, en so meer. Die ma van ’n tweede kind is gewoonlik baie rustiger en het al besef dat baie van daardie dinge nie regtig saak maak nie en mens jouself sal gek maak as jy alles "volgens die boek" wil doen. (Jou kind gaan een of ander tyd begin stap; sy sal niks oorkom van ’n soetding of een aand se later slaap nie.) Dikwels is dit dieselfde ma wat ’n heel ander tipe ma is met haar tweede of derde kind – soos in my geval ook.
Dan kry jy natuurlik ook die pragtige gym-mammas wat heeldag in hulle sexy oefenklere rondloop en hul lywe “afwys” – ek beny hulle! Ongelukkig is ek een van dié wat vir omtrent nog twee jaar ná my kind se geboorte steeds swanger lyk, uitasem, vel vetterig en hare dun ...
Jy kry ook voltyds werkende mammas wat gewoonlik nie baie simpatie het vir huismammas nie. Ek dink soms besef hulle nie noodwendig hoe harde werk dit is om heeldag na kinders om te sien nie – geen grootmensgeselskap, geen dinkwerk nie. Jou lewe bestaan 24/7 uit doekruil, borsvoed, spoeg opvee, huisskoonmaak, baba aan slaap sus, kosmaak, vloermoere hanteer, wasgoedwas en "Baa, baa, swart skaap" sing. Maar dan is daar natuurlik werkende mammas wat dit 100% verstaan en wens hulle kon eerder by die huis wees, maar omstandighede laat dit ongelukkig nie toe nie.
Daar is mammas wat verkies om meer hands-off te wees en die kinderdinge hoofsaaklik oor te laat aan ’n skooltjie of kinderoppaster; en dan is daar weer die helikoptermammas wat beheervrate is en niks aan iemand anders kan oorlaat nie.
........
En so kan ek aangaan, maar hoe dit ook al sy, watter tipe ma jy ook al is: Solank dit vir jou en jou gesin werk – hou so aan! En kom ons ondersteun mekaar eerder as om te oordeel of te vergelyk.
.......
En so kan ek aangaan, maar hoe dit ook al sy, watter tipe ma jy ook al is: Solank dit vir jou en jou gesin werk – hou so aan! En kom ons ondersteun mekaar eerder as om te oordeel of te vergelyk.
En wat van die pa’s? Ek moet jou vra oor die man(s) in die prentjie. Ek sonder hierdie uit: jou vraag oor wat is meer sexy – ’n man wat ’n doek kan ruil, of ’n man met ’n six-pack. 98% van die vroue het reageer: ’n man wat ’n doek kan ruil. Vertel my asseblief wat jy dink oor die man(s)/pa’s van die kinders – persoonlike ondervindings of gedagtes.
Ek is in die bevoorregte posisie dat my man ’n baie betrokke pa is. Ek besef egter dat dit nie by almal so is nie – en almal dit nie noodwendig so verkies nie. Daar is van my volgelinge wat sê hulle verkies dat hul mans eerder nie te betrokke by die kinders is nie, hulle wil graag self die kinders hanteer – en daar is absoluut geen probleem as dit is wat jy verkies nie. Ek verkies egter wel dat my man betrokke is. Alhoewel hy voldag werk, hanteer hy gereeld saans badtyd en slaaptyd, het hy nog nooit geskrik vir doekruil nie, staan hy ook vir die kinders in die nag op en spandeer hy baie tyd saam met hulle op ’n naweek. Voor mens trou/saamkom, weet mens nie hoe jou man met kinders gaan wees nie. Dis iets wat mens eers kan sien wanneer die kinders kom. Maar dis ook nie iets waaroor mens noodwendig jou brein breek op jou troudag nie. Dan kyk mens na ander goed: verliefdheid, voorkoms, loopbaan ... Maar ek dink wat vir jou belangrik is in ’n maat, verander definitief ná die kinders kom.
Ek weet van pa’s wat voltydse tuisblypa’s is terwyl die ma’s werk. En dis wonderlik as dit is wat ’n paartjie verkies. Dan is daar ook mans wat voel dat kinders net die vrouens se werk is. Ek stem nie hiermee saam nie – of die vrou nou ’n tuisblymamma is of nie: Om mamma te wees is ’n voltydse – 24 uur per dag, nie agt ure per dag nie – werk. Sy kan nie smiddae ná werk by die huis kom en ontspan nie, op ’n naweek gaan gholf speel of middae ná werk gou ’n drankie saam met kollegas drink nie. Ek dink ook nie pa’s "babysit" of "help uit" nie. Dis hulle kinders ook, so dis hulle verantwoordelikheid ook.
Het jy hierdie boek gedurende die inperkingstyd geskryf? Ek verwys na hierdie sinne:
"As jy kantoor toe gaan, kan jy 100% op werk konsentreer, en as jy by die huis kom, 100% op die kinders. Maar as jy van die huis af werk, word daar van jou verwag om heeltyd 100% werknemer, 100% ma en 100% huisvrou te wees. (Want mens werk mos nie as jy van die huis af werk nie ...)"
Wil jy dalk nog iets hieromtrent sê, of daarop uitbrei?
Nee, ek het al voor die inperkingstyd begin skryf. Ek werk al van voor kinders af van die huis af – die kantore is in Pretoria en ek is in die Kaap.
Dit is nes ek beskryf hier bo in jou vraag. Ek kry altyd die gevoel dat mense wat van die huis af werk, nie noodwendig dieselfde respek kry as mense wat van kantore weg van die huis af werk nie. Dis asof as jy van die huis af werk, jy nie regtig werk nie. Bygesê, ek dink baie mense se perspektief hieroor het verander vanaf inperking – en hulle self dalk van die huis af moes begin werk. Hulle het besef hoe moeilik dit is om kinders te hanteer en te werk tegelyk, asook die deurklokkie te beantwoord, gou die wasgoed in te gooi, kos te maak tussendeur, die tuinwerker opdragte te gee, ens.
Ek lees baie humor in jou skrywes, en ek lees ook skuldgevoelens. Dalk lees ek dit raak omdat enige ma dit gereeld ervaar. Watter emosies kan jy uitsonder wat sterk na vore kom as mens ’n ma van jong kinders is?
Ek kry baie terugvoer oor die humor in my boek. Ek dink ek het van nature ’n goeie sin vir humor – en já, sonder dit sou julle my seker al in die Groendakkies moes opsluit!
........
Kinders is vir my baie snaaks en ek het vroeg-vroeg besef dat lag oor kinderdinge en my mammafoute ’n beter opsie is as om daaroor te huil.
........
Kinders is vir my baie snaaks en ek het vroeg-vroeg besef dat lag oor kinderdinge en my mammafoute ’n beter opsie is as om daaroor te huil. Ek het ook goeie mamma-vriendinne en ons lag gereeld saam. My kinders verskaf vir my regtig baie plesier. Maar terselfdertyd – ja, ek het gereeld skuldgevoelens. Spandeer ek genoeg tyd saam met die kinders? Genoeg kwaliteittyd? Is ek te ongeduldig? Eet hul te veel suiker? Ek dink ’n ma het altyd iets waaroor sy haar bekommer, iets om oor te lag, en iets waaroor sy skuldig voel. As ’n ma wil jy altyd net beter doen – die beste vir jou kinders wees.
Vir wie het jy die boek geskryf en wie is jou ideale leser?
Die boek is eerstens vir my, my man, my kinders en toekomstige kleinkinders. Ek dink dis wonderlike herinneringe. Ek geniet ma-wees werklik baie. Dit is die mees uitdagende maar ook mees vervullende taak wat ek nog ooit gehad het. Ek sal die oomblikke saam met my kinders vir ewig koester.
Verder is dit ook vir elke ouer daar buite wat soms alleen en onseker voel; en ook dié wat sommer net wil lag en ontspan. Die mark is ouers en grootouers.
Jy is ’n toegelate prokureur en ’n uitgewer. Jy is ’n ma. Maar vir doeleindes van die gesprek is jy ’n skrywer en jy skryf oor wat rondom jou is. Jy skryf fiksie en jy skryf die waarheid – jóú waarheid. Wat dink jy gaan jou kinders raaksien as hulle eendag jou boek lees? Ek gooi sommer nog ’n vraag hierby in: Is dit moontlik om iets van die nuwe fases van ouerskap te voorspel, dink jy, en hoe sien jy die toekoms as ma (van ouer kinders)?
Ek dink hulle gaan so ’n bietjie besef waardeur ek is om hulle groot te kry! Hulle gaan dalk ook meer voorbereid wees om self eendag ouers te wees en te weet wat om te verwag (alhoewel niks en niemand jou werklik kan voorberei voor jy self in die situasie is nie). Ek dink hulle sal die herinneringe spesiaal vind en oor hulle eie geite lag.
Boeta is nou 6, Pops 3 en nog ’n dogtertjie is op pad (April 2022). Newborn-fase is vir my erg: Dis vir my stresvol; borsvoed is harde werk; die min slaap raak mens erg. Vanaf 18 maande tot voor 2 is hulle vir my vrek oulik! Veral as hulle begin praat. Terrible two’s word so genoem om ’n goeie rede ... En om ’n threenager te hê is soos een lang, nimmereindigende stoeigeveg. Dan is daar die 4-jariges, maar ek is nie seker of ek die swetswoord mag gebruik wat hulle genoem word nie? Want dan is hulle net te slim en bevraagteken alles – een aanhoudende, uitputtende debat. 5 en 6 is sover vir my hanteerbaar. Ek neem aan die volgende uitdagende fase is dan seker die vreesaanjaende tienerjare ... Ek is nie seker wat vir my voorlê nie. Ek hoop net dat ek altyd ’n noue verhouding met my kinders sal hê – dat hulle na my toe sal kom met enigiets, enige tyd. Sonder vrees of skaamte. Ek sal dit wel mis om my kinders afhanklik van my te hê, onder my vlerk. Ek wens hul nie groot en uit die huis nie. Alhoewel so ongelooflik uitdagend en uitputtend, geniet ek hul kinderjare geweldig baie en verruil ek ma-wees vir absoluut niks! Ek is mal oor my kinders – nog nooit het ek so ’n liefde ervaar nie.
.......
Alhoewel so ongelooflik uitdagend en uitputtend, geniet ek hul kinderjare geweldig baie en verruil ek ma-wees vir absoluut niks! Ek is mal oor my kinders – nog nooit het ek so ’n liefde ervaar nie.
........
- Die boek is by alle groot boekwinkels beskikbaar, en kan ook direk by Carla bestel word (getekende kopie): kouekoffiema@gmail.com.
The post <em>#kouekoffie</em>: ’n Onderhoud met Carla Lang appeared first on LitNet.