Titel: Op ’n mooi dag
Skrywer: Irna van Zyl
Uitgewer: Penguin
ISBN: 978-1-4859-0443-4 (Druk)
ISBN: 978-1-4859-0492-2 (ePub)
In hierdie vierde spanningsroman uit die skrywer se pen breek sy weg van haar vorige hoofkarakter, Storm van der Merwe, wat lesers leer ken het in Moordvis (2016), Gifbeker (2018) en Bloedsteen (2020).
Direk na die inleidende hoofstuk, wat 21 jaar gelede afspeel, spring die roman weg met iets wat waarskynlik die meeste van ons se grootste vrees is: dat ’n geliefde op ’n mooi dag spoorloos verdwyn; nie tuiskom soos gewoonlik nie, veral as julle laaste kommunikasie ’n kinderagtige argument was. Dis die situasie waarin Kristien haar bevind: Haar geliefde Louw verdwyn sonder taal of tyding. Nie die polisie of Kristien se boesemvriendin, Zanie, is oortuig dat daar werklik rede tot kommer is nie – Louw het vyf jaar gelede ook spoorloos verdwyn vir ’n nag en toe doodluiters tuis opgedaag. Kristien glo egter hierdie keer is dit anders.
En asof dit nie erg genoeg is nie, moet sy verneem dat Louw ’n voortvlugtende moordverdagte is – die gasspreker by ’n spanbousessie wat Louw bygewoon het, is dood. Geskiet met ’n wapen soortgelyk aan een wat Louw besit. En die sekuriteitskameras wys duidelik hoe Louw van die toneel verdwyn, klaarblyklik op vlug. Ten spyte van ’n hele paar jaar saam, moet Kristien die werklikheid in die oë staar: Louw het dinge vir haar weggesteek.
Aanvanklik is die leser net so in die duister soos Kristien: Wie het die moord gepleeg en waarom? Waar is Louw?
Die hoofstukke uit Kristien se perspektief is kort, en die hele roman – met die uitsondering van terugflitse na Louw se verlede – speel oor slegs enkele dae af. Die tempo is dus vinnig en het my gereeld soos ’n Pac-Man-speler laat voel: Storm in ’n rigting, slaan remme aan en storm in die teenoorgestelde rigting. Herhaal.
Die hoofstukke uit Louw se perspektief is meer gekompliseerd. Dit fokus op die huidige en betrek die leser by haar desperate vlug saam met ’n Zimbabwiese Uber-bestuurder, Trevor, maar ook by twee voorvalle in haar verlede: die eerste toe sy as matriekdogter haar ma se gewelddadige ontvoering hulpeloos moes aanskou en die ander die nag, vyf jaar gelede, toe sy ook nie huis toe gekom het nie.
Die ooreenkoms tussen die ontvoering van Louw se ma 21 jaar gelede en Louw se huidige verdwyning is nogal ironies: In beide gevalle glo vriende, familie en gesagsfigure aanvanklik nie dat dit werklik ’n noodgeval is nie en Kristien kry sodoende ’n intiemer blik op Louw se gevoelens van desperaatheid en magteloosheid van destyds. Die rol van twee sekondêre karakters, Trevor en Zanie, dra beslis by tot die veelkleurigheid van die roman. Trevor se Griekse vrou se spandabelrigheid veroorsaak op die ou end dat hy ondeurdagte keuses maak wat Louw se vlug selfs meer kompliseer, en Zanie, die eksentrieke vriendin met die kattehotel en onwettige Airbnb, verskaf ’n paar vermaaklike kinkels in die kabel.
Die roman is egter ongelukkig nie sonder probleme nie. Twee ongeloofwaardighede krap veral. Eerstens vind ek dit onrealisties dat Louw, wat in ’n jare lange verhouding met Kristien is, sal verdwyn sonder om Kristien eers in haar vertroue te neem. Dis wel ’n essensiële deel van die spanningslyn, maar sou meer realisties gewees het as Louw ten minste gepoog het om Kristien te kontak voor haar vlug en verdwyning. Die tweede geval grens bykans aan die absurde en is so vergesog dat dit ernstige afbreuk doen aan die roman in sy geheel. Ek verwys hier na ’n toneel waar Louw op ’n vlot in ’n dam vasgekeer is. Die gebeure herinner sterk aan ’n tweederangse aksierolprent en is so oortuigend soos ’n politikus se beloftes.
Die karakter Niklaas se insluiting in die roman maak van meet af aan, anders as die ander twee bovermelde sekondêre karakters, nie behoorlik vir my sin nie. Aanvanklik het ek hom as irrelevant ervaar, maar later is dit duidelik dat hy by die resep gevoeg is bloot om die ontknoping te kompliseer. Sy bestaansreg in die roman is derhalwe debatteerbaar.
Die keuse van Louw se naam interesseer my nogal. Op die agterplat word daar bloot na die karakter as ’n naam verwys; en waarskynlik omdat die voornaam meestal as manlik aangewend word, was ek, en verskeie ander lesers, onder die indruk dat dit na ’n manlike karakter verwys. Wanneer die leser besef dat Louw vroulik is, dien dit amper as ’n ligte oor-die-vingers-tik-wekroep om behoorlik aandag te gee en nie aannames te maak nie; goeie raad om in gedagte te hou tydens die lees van die roman.
Daar is op die ou end verskeie raaisels wat deur die leser ontrafel moet word, baie meer as net die identiteit van die moordenaar en die motief vir die moord; die twee voorvalle uit Louw se verlede moet ook ontsyfer word voordat daar sin van die teenswoordige gemaak kan word.
Ten spyte van die vermelde probleme was die roman ’n positiewe leeservaring – perfek vir lesers wat dit geniet om leunstoelspeurder te speel.
#uitdieperdsebek
The post Anschen Conradie resenseer <em>Op ’n mooi dag</em> deur Irna van Zyl appeared first on LitNet.