Die WAT maak vanjaar geskiedenis met die aankondiging dat Borg ’n Woord vir 2021 – 2022 beide ’n beskermvrou en beskermheer het! Amanda Strydom en Hannes van Wyk is onderskeidelik beskermvrou en beskermheer.
Volgens Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die WAT, word die persone aangewys op grond van hulle positiewe bydrae tot Afrikaans en omdat mense wat lief is vir Afrikaans met hulle identifiseer. Die fondsinsamelingsprojek is vanjaar reeds in sy twaalfde jaar. Vorige beskermhere en –vroue sluit in: David Kramer, Charlene Lackey, Marita van der Vyver, Nataniël, Dave Pepler, Deon Meyer, Karen Zoid, HemelBesem, Tracy Lange, Laurika Rauch en Dawie Roodt.
Amanda Strydom se gunstelingwoord is piekfyn. Sy moedig mense aan om hul liefde vir Afrikaans te wys deur ook woorde te borg of te koop. “Kom pluk vir jou ’n woord in ons lieflingtaal se boord! Ek het piekfyn gepluk en daar’s nog baie vir jou oes – watter een kies jy?”
Vir Hannes van Wyk is Afrikaans die taal waarin hy dink, droom, liefhet, lewe en werk. “Afrikaans is my taal en my trots. Voel jy dieselfde? Borg of koop ’n woord wat vir jou uitstaan en help so om die toekoms van ons hartstaal te verseker … My keuse is die eenvoudige woordjie ma.”
“Borg ’n Woord se doel is om mense bewus te maak van die waarde van woorde – die mooie, die skoonheid van woorde,” verduidelik dr. Willem Botha. “Elke mens het ’n besonderse woord, en ons wil hê mense moet bewus word van daardie woorde en dit hulle eiendom maak deur dit te borg of te koop.”
Dit kos R100 om ’n woord te borg en R5 000 om dit eksklusief te koop, dan behoort daardie woord net aan jou. Jy ontvang ’n sertifikaat met jou naam en woord, sowel as toegang tot die Aanlyn WAT vir ses maande as jy ’n woord borg of vir vyf jaar as jy ’n woord koop. Boonop word jy ingeskryf vir ’n gelukkige prystrekking van R25 000 geborg deur Sanlam.
Gaan na die webwerf www.wat.co.za en klik op Borg ’n Woord. Deur ’n woord te borg of te koop werk jy mee aan die weerspieëling van die Afrikaanse taal in sy wydste omvang in die WAT.
The post WAT-persverklaring: Amanda Strydom en Hannes van Wyk as beskermvrou en beskermheer aangewys appeared first on LitNet.