’n Gespreksreeks gefokus op geestesgesondheid word as deel van die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se eerste Virtuele Absa Kuierkameraangebied.
Skielik is die ligte af, gelei deur kliniese sielkundige en psigoanalitiese terapeut Melody Pick, plaas die soeklig op die impak van die Covid-19-pandemie op die kunste in Suid-Afrika. Covid-19 het ’n negatiewe sosio-ekonomiese én sielkundige impak op die land gehad, met die kunste wat die hardste getref is sedert die eerste inperking in Maart 2020.
Baie betrokkenes in dié bedryf het werkloosheid, finansiële nood en ander verliese in die gesig gestaar. Tydens Skielik is die ligte af word gesprekke met verskeie rolspelers uit die bedryf gevoer. Die doel van die gesprekke is om bewustheid te skep oor die uitdagings van geestesgesondheid en om na oplossing te kyk vir die herstel van die bedryf, asook die instel van bedryfverwante inkomste-beskermingsmaatreëls.
Pick sê sy het hierdie projek aan die einde van April 2020 uit ’n plek van diep bekommernis begin ontwikkel. “Dit was duidelik dat ons almal erge geestelike trauma ervaar – veral mense in die kunste – ’n industrie wat persoonlik so baie vir my as mens beteken. Ek het op daardie stadium as terapeut ongelooflik hulpeloos gevoel, omdat ek baie min kon doen gedurende die aanvanklike inperking. My hoop met hierdie reeks is dat mense verstaan dat hierdie ’n gedeelde stryd is, dat daar wel binne hierdie storm mense en organisasies is wat wil help en dat ons hierdie pandemie dalk as ’n katalisator vir strukturele hervorming kan sien,” sluit sy af.
“Ons hoop dat hierdie reeks betrokkenes in die kunste help en moontlik ook ander wat met soortgelyke situasies kan identifiseer, asook om vir die publiek ’n vergrootglas op die spesifieke uitdagings wat betrokkenes in die kunste tans beleef te plaas,” sê Hugo Theart, artistieke direkteur van die KKNK.
Theart sê verder die gesprekke eindig met ’n groepbespreking. “Melody het ’n besonderse aanslag met die sessies en benader die reeks as ’n geheel. Daar is sessies met ander terapeute met sielkundige agtergronde of invalshoeke en sy gesels meer noukeurig met betrokkenes uit die bedryf. Ses sessies word vrygestel, wat met ’n interaktiewe groepsessie afgesluit word,” vertel hy.
In die eerste sessie gesels Pick met prof. Desmond Painter van die Departement Sielkunde aan die Universiteit Stellenbosch (US). Die volgende twee sessies is ’n gesprek met Amelda Brand, wat ’n agtergrond in dramaterapie het en klasgee aan die Dramadepartement van die US.
Vir sessie vier en vyf sluit Cornelia Faasen, uitvoerende hoof van die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) en Fahiem Stellenboom, bemarkingsbestuurder van die Baxterteater by Pick aan. In die sesde sessie gesels Pick met die kunstenaars Lynelle Kenned en Cintaine Schutte oor kreatiwiteit as ’n terapeutiese proses. Die reeks word afgesluit met ’n laaste interaktiewe sessie met verskeie deelnemers in die bedryf. Die groepsessie word regstreeks op die KKNK se webblad gestroom.
Alle episodes is in die Virtuele Absa Kuierkamer se Forum beskikbaar om te kyk tot en met einde-November 2021. Die reeks word in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Teaterinisiatief (NATi) aangebied.
’n Verskeidenheid gratis inhoud kan by www.kknk.co.za verken word. Vir meer inligting, besoek ook die KKNK se sosiale mediaplatforms.
The post Persverklaring: Webinaar ondersoek impak van COVID-19 op kunste in SA appeared first on LitNet.