Gister se Twitter-storm het gewys waarom ons #blaclivesmatter moet ondersteun.
De Kock se besluit om nie te kniel nie, is een ding. Die gal wat sy wit ondersteuners gebraak wys egter waarom daardie gebaar by ’n volgende wedstryd broodnodig sou wees.
Ek veroordeel die krieketbase se besluit
Die besluit van ons krieketowerhede om alle spelers te dwing om te kniel, moet veroordeel word, want die oomblik wanneer jy protes in die meesternarratief verander, gee jy die einste protes in effek die doodsteek.
Gister se debakel wys hoe verkeerd die krieketbase is, want nou is De Kock die slagoffer en die hele rede waarom daardie knie-aksie in die eerste plek bestaan, word vergeet.
Deur spelers se reg op protes te verander in ’n opdrag, het hulle die idee agter #blaclivesmatter skade aangedoen.
Die reg op protes vs die meesternarratief
Ek het onlangs ’n interessante stuk navorsing raakgelees. Moin Syed, Monisha Pasupathi en Kate C McLean het probeer vasstel hoe stories mense se gedrag kan help verander, of nie. Meesternarratiewe word dikwels goed bedoel, in hulle oë:
Master narratives provide a template for how to tell a story, a good story about what it means to be a part of a particular cultural community; a story of one’s life and how it fits with the cultural definition of success. (https://osf.io/wa3r7/download)
Die narratief word geskep om mense te help om hulself en hul omgewing te verbeter. Die sielkunde agter die vertel van stories is juis dat mense hulle gedrag uiteindelik moet aanpas om hulself en die samelewing gesonder en beter te maak.
Ons sien tans hoe sportspanne wêreldwyd die knie buig en so die gees van #blaclivesmatter omarm. Dit is pragtig. Dit vertel ’n mooi storie.
Donald Trump se aggressie jeens #blaclivesmatter was egter ook ’n wonderlike hupstoot vir die beweging. Dit is die punt. Moenie protes in ’n meesternarratief verander nie.
Syed et al, wat juis die positiewe in die begrip meesternarratief soek, sê:
1) Master narratives are fundamentally about ethics in that they outline and convey culturally held ideas about the nature of a good life; 2) While all master narratives are grounded in ethics, not all master narratives are moral; and 3) Despite proposition 2, master narratives can come to exert moral force.
Vir my is daar ’n verskil tussen “moral force” en “moral pull”.
Trump het enorm baie gedoen om #blaclivesmatter aantreklik te maak, juis omdat hy dit geopponeer het.
Die probleem is dat enige meesternarratief, hoe goed die bedoeling ook al is, in wese nie ruimte laat vir grys gebiede nie. ’n Populêre artikel deur Matt Sheenan stel dit so:
These stories create a single story in the mind of the audience about that population, absent of complexity, diversity and nuance, and as a result, reinforce stereotypes and biases. (https://medium.com/science-of-story-building/science-of-story-building-master-counter-narratives-1992bec6b8f)
Daarom is die sosiale media ’n kragtige wapen teen meesternarratiewe. Die klein mens se verhaal word sentraal gestel teen die mag van die owerheid, aldus Sheenan:
Black Twitter regularly shares personal stories to combat stereotypical news coverage of police violence toward the black community through campaigns like #iftheygunnedmedown and #sayhername.
Dis waar ons dierbare krieketbase hulle voete deeglik in die dinges geplaas het. Hulle ongenuanseerde magsug het van De Kock ’n slagoffer gemaak. Die stereotipe dat die wit man onder druk is in Suid-Afrika, is bevestig. Wit Twitter het ’n orgasme gehad.
Wat is #blaclivesmatter en waar kom dit vandaan?
Op die webruimte van #blaclivesmatter staan:
#BlackLivesMatter was founded in 2013 in response to the acquittal of Trayvon Martin’s murderer. Black Lives Matter Global Network Foundation, Inc. is a global organization in the US, UK, and Canada, whose mission is to eradicate white supremacy and build local power to intervene in violence inflicted on Black communities by the state and vigilantes.
Interessant genoeg is die soort openlike rassisme en nasionalisme wat ons in Suid-Afrika so gereeld op Black Twitter sien, iets wat die beweging teenstaan:
We are a collective of liberators who believe in an inclusive and spacious movement. We also believe that in order to win and bring as many people with us along the way, we must move beyond the narrow nationalism that is all too prevalent in Black communities.
Mooi ideale. As wit spelers soos Heinrich Klaasen kniel en sy vuis in die lug steek, gaan dit oor meer as solidariteit met sy kaptein. Dit gaan oor die erkenning dat ons nog baie moet doen.
Vir ’n wit man is dit net so nodig om openlik solidariteit te toon met #blaclivesmatter as wat dit vir enige man noodsaaklik is om homself ’n feminis te noem.
#SuidAfrikaOnsMoetNogVerStap
Ek weet nie waarom die De Kock nie wou kniel nie. Ek dink egter dis jammer dat ’n dom besluit deur die krieketbase nou van hom ’n held gemaak het.
As ’n mens die sosiale media gevolg het, sou ek dink dat De Kock nou op sy knie moet gaan, sy vuis moet lig en in Afrikaans skryf: Ek is jammer oor my ondersteuners se reaksie, hulle het my gewys dat #blaclivesmatter nodig is.
The post Quinton de Kock se ondersteuners wys hy én Krieket SA is verkeerd appeared first on LitNet.