Spelers: Jordan Baker (Skinn), Desmond Dube (Buthelezi), Bayo Gbadamosi (Ben), Austin Hardiman (James), Sibusiso Mamba (Masinga), Kim Sanssoucie (DJ Mavovo/Dr Pravesh), Lunga Radebe (Shabangu)
Skrywer: Mongiwekhaya
Regisseur: Noma Dumezweni
Dit is ‘n alombekende feit dat meer as twintig jaar ná apartheid, vryheid vir Suid-Afrikaners steeds ‘n idealistiese konsep bly. Goed, ons kan nou wel almal dieselfde sosiale, akademiese, politieke en geestelike ruimtes betree (bygesê: as jy finansieel welaf genoeg is en voldoende opvoeding het), maar kan ons ooit werklik vry wees?
Die sogenaamde kollektiewe geheue van ‘n twintigjarige Suid-Afrikaner betrek so 'n wye poel ervarings en gebeure dat dit byna onmoontlik is vir ‘n viserektor, charismatiese politieke leier of selfs ‘n nasionale sportspan om ‘n goue draad tussen almal te trek.
Wat is dit dan wat ons almal Suid-Afrikaners maak?
I see you vertel die verhaal van Ben, ‘n jong student, wat Skin een aand raakloop. Dié twee word later deur die polisie afgetrek en Ben word in hegtenis geneem vir ‘n misdaad waaraan hy nie skuldig is nie. Daarna ontvou die verhaal soos die komplekse geskiedenisse van elke karakter ontbloot word en uiteindelik saamspan en die kollig plaas op die intrinsieke detail van die weefwerk waaruit die Suid-Afrikaanse samelewing bestaan.
Die produksie getuig van ‘n sterk regisseursvisie wat bydra tot die algehele vloei en die genuanseerde tempo en ritme van die werk. Die slim gebruik van die stel, asook die posisionering van die gehoor en die gebruik van die speelruimte, laat werklik nie die gehoor toe om onskuldige toeskouers te wees nie en dra sterk by tot die onderliggende tema van getuienis in die teks.
Alhoewel sommige van die aksente van veral die Afrikaanse karakters nie ten alle tye so presies is soos verwag nie, skep die akteurs sterk karakters wat almal baie akkurate Suid-Afrikaanse “tipes” uitbeeld. Die ensemblespel van die geselskap moet ook gekomplimenteer word.
Soos reeds genoem, ondersoek die teks die idee van getuienis en trek dit baie duidelike parallelle tussen hoe dit verander of dieselfde gebly het tussen toe (apartheid) en nou (postapartheid). Die getuienisbank sit steeds stampvol in ons moderne Suid-Afrikaanse konteks, maar die vraag is nou baie meer kompleks: Wie is nou ‘n getuienis van wat, en waarvan lê ons wel getuienis af versus wat “ongesiens” verbygaan?
I see you ondersoek voorts die konsep van naamgewing en daag die idee uit dat ‘n roos met enige ander naam steeds so soet sal ruik. Karaktername en die karakters se verhouding tot hul name vorm ‘n prominente tema in die teks. Hierdie tema gaan ook hand aan hand met die spel rondom taal.
Taal, soos velkleur, staan in ‘n Suid-Afrikaanse konteks hoegenaamd nie geïsoleerd van ‘n politieke konnotasie nie. Wat gebeur egter met ‘n mens wanneer jy op ‘n traumatiese wyse weggeruk word van die konteks wat jou moedertaal skep en, asof met kunsmatige inplanting, in ‘n ander kulturele konteks ingedompel word?
As óns konteks werklik so uitdagend is om te fasiliteer, waarom verlaat ons nie hierdie ruimte nie, of hoekom keer ons so dikwels daarna terug as geografiese ligging, in verhale en veral in die teater? Die chroniese soeke en behoefte na ‘n gemeenskaplike goue draad, al is dit hóé onderbewustelik, is myns insiens wat ons almal Suid-Afrikaners maak.
Dit is juis hierdie kompleksiteit – waaroor ons byna nie eers kan begin praat nie, nog minder ‘n naam voor kan gee – wat die verhaal aanwakker. I see you sorg hoegenaamd nie vir ‘n gemaklike aand by die teater nie, maar is nietemin iets waarvan Suid-Afrikaners getuies behoort te wees.
I see you is tot en met 28 Mei by die Fugardteater in Kaapstad te sien. Kaartjies is by Computicket beskikbaar.
The post Teaterresensie: I see you by die Fugardteater appeared first on LitNet.