Hoe ouer en meer gevestig ’n instelling is, hoe groter die kanse dat hulle sistemies patriargaal is en stadig sal verander. Kerke is in sommige opsigte selfs meer rigied in hulle strukture as ander instellings.
Die Rooms-Katolieke Kerk, wat in 2016 nog nie vroue toelaat om priesters te word nie, is maar een voorbeeld. Die Church of England, die Anglikaanse Kerk in Engeland, het in 2016 hulle eerste vroulike biskop ingeseën. Selfs die Anglikaanse Kerk in Afrika, tradisioneel meer rigied en patriargaal, het voor hul Engelse broeders vroulike biskoppe ingeseën. Die Church of England het so ver gegaan as om manlike priesters finansiële vergoeding te betaal vir die pyn en lyding wat hulle moet deurgaan toe die eerste vroulike priesters toegelaat was. Daar was in elke kerk kennisgewings opgeplak indien vroulike priesters gaan preek, sodat gemeentelede kon wegbly indien dit te traumaties sou wees om nagmaal van ’n vrou te ontvang.
In Suid-Afrika was ons gelukkig. Gedurende die apartheidsera het die Anglikaanse Kerk ’n trotse reputasie as kampvegter vir menseregte ontwikkel. Aartsbiskop emeritus Desmond Tutu is veel meer bekend vir sy uitgesproke kritiek teen apartheid. Wat min mense buite die kerk besef, is dat die eerste vroulike priesters in Suidelike Afrika onder sy leierskap, tydens apartheid, ingeseën was. Hy was binne die kerk uitgesproke daaroor dat vroue gelyke regte met mans moet hê. Sy opvolger, aartsbiskop emeritus Njongonkulu Ndingana, het nie dieselfde charismatiese verhouding met die media gehad nie, met die gevolg dat sy leierskap grootliks onder mediaradar plaasgevind het. Die bydrae wat hy gelewer het om vroueregte te vestig, die grondslag wat hy gelê het om gendergelykheid te verseker, was egter moontlik selfs groter as ++Tutu s’n. [Dit is tradisioneel om, wanneer daar oor ’n aartsbiskop geskryf word, “++” voor sy/haar naam te plaas om rang aan te dui. Vir ’n biskop is dit “+”. Ek volg hierdie konvensie.] ++Njongonkulu het seker gemaak dat vroue in besluitnemingsposisies aangestel word; hy het sisteme ingestel om te verseker dat vroue gehoor word en nie net “window-dressing” is nie.
Een van die kerk se grootste pluspunte, en waarskynlik ook sy grootste swakheid, is dat hy elke sogenaamde provinsie toelaat om sy eie besluite te neem oor goed soos seksualiteit, oor hoe vroue hanteer word en veel meer. Dis hoekom ACSA in 1992 alreeds vroue as priesters toegelaat het, en Engeland eers veel later. Dis hoekom ACSA alreeds in 2013 ’n vroulike biskop kon hê, en Engeland nou eers. Dis hoekom die kerk in Noord-Amerika (die Episcopalian in die VSA en die Anglican in Kanada) gay priesters toelaat om kerk te hou, terwyl die kerk in byvoorbeeld Uganda die staat ondersteun.
Vra egter enige genderaktivis, en hulle sal dadelik antwoord dat complacency die grootste gevaar vir enige aksie vir gelykheid is. Die regte grondwerk kan gelê wees, maar indien daar nie konstant gewaak word om seker te maak regte word beskerm nie, kan dit katastrofiese gevolge hê. Die gebeure in Kaapstad die afgelope week is bewys daarvan.
Verlede week het ’n vroulike priester ’n eetstaking begin in protes teen die manier waarop die Anglikaanse kerk in Kaapstad haar behandel.
Ter agtergrond is dit nodig dat ek verduidelik hoe die kerk bestuur word. Die Anglikaanse kerk wêreldwyd is opgedeel in sogenaamde provinsies. Die Anglican Church in Southern Africa bestaan uit Suid-Afrika, Namibië, Lesotho, Angola, Mosambiek, Swaziland asook Tristan da Cunha en St Helena (eilande in die Suid-Atlantiese Oseaan). Omdat dit so ’n wye area beslaan, is dit onderverdeel in bisdomme, elkeen met sy eie biskop wat aan die aartsbiskop verantwoording doen. Die aartsbiskop is ook altyd die biskop van Kaapstad. Dit plaas Kaapstad in ’n unieke posisie, as die enigste bisdom wat beide die aartsbiskop en ’n suffragaanbiskop in beheer het. Tans is Garth Counsel die suffragaan.
Gedurende 2013 het eerwaarde June Major, ’n charismatiese jong priester met ’n belowende toekoms, by +Garth aangemeld dat ’n senior priester in die bisdom haar seksueel teister en selfs so ver gegaan het as om haar te probeer verkrag. Sy het verwag dat haar biskop haar te hulp sou snel. In stede daarvan is sy egter met verbysterende minagting bejeën en haar verhaal as belaglik en onwaar afgemaak. Die priester wie sy beskuldig het, het sy invloed gebruik om haar toenemend uit te skuif, na beweer word skynbaar met die stilswyende medewete van die biskop. Na beweer word, het +Garth selfs so ver gegaan as om te kenne te gee dat sy sielsiek is en eerder sielkundige behandeling moet ontvang. Haar posisie het so onhoudbaar geword dat sy in 2014 bedank het as priester in die bisdom, met die hoop dat sy die hele situasie agter haar kan plaas.
Sy het toe aansoek gedoen, en is ’n posisie in die bisdom van Wangaratta in Australië aangebied. Normaalweg word daar, as ’n hoflikheidsgebaar tussen kollegas, ’n verslag oor die priester aangevra van die bisdom waar sy vandaan kom, deur die bisdom waarheen sy op pad is. Die biskop in Wangaratta het dan ook so ’n versoek aan ++Thabo gerig, wie dit op sy beurt aan +Garth aangestuur het. +Garth het egter geweier om die “Safe to Receive”, soos wat die getuigskrif genoem word, aan te stuur, en op grond daarvan is die aanbod aan haar teruggetrek. Eerwaarde Major kan nie op geen plek as priester werk nie, omdat sy waar sy ook al gaan in die wêreld, afhanklik is van +Garth om ’n “Safe to Receive” te voorsien. En hy weier.
June Major is in ’n ander bisdom as die een waarin ek is, maar daar is min genoeg vroulike priesters dat ek almal ten minste by aangesig ken. Ek het haar ontmoet by ’n optog teen geweld teen vroue, en ek was beïndruk met hierdie priester wat, klerklike boordjie en al, bereid was om saam te stap, saam op ’n trok te klim en saam deel te neem aan toesprake wat geweld teen vroue veroordeel. Nie een manlike priester het opgedaag nie. Ek kon die vroulike priesters op die vingers van een hand tel, en sy was een van hulle. Ek het gedink sy’s dapper. Ek het gehoor dat sy besig is om opgang te maak in die kerk, dat sy beslis een van die toekomstige leiers is. Alle aanduidings dus dat sy “safe to receive” is.
Die enigste “swart” merke teen haar is die klag van seksuele teistering wat sy gelê het, en haar ondersteuning van Palestina in die Palestynse/Israeliese konflik. Sy is beslis nie die enigste priester wat hulle aan die Palestynse kant skaar nie, en nie een van die ander het negatiewe gevolge ervaar as gevolg van hulle ondersteuning nie. Die afleiding kan dus gemaak word dat sy gepenaliseer word omdat sy durf waag het om ’n senior lid van die kerk van onbehoorlike gedrag te beskuldig.
Enige ander vrou in ’n soortgelyke situasie sou haar na die arbeidshof kon wend, constructive dismissal pleit en die hof kry om haar te hulp te snel. Ons landshowe het egter alreeds verskeie kere beslis dat die verhouding tussen ’n priester, haar biskop en die kerk nie ’n tradisionele arbeidsverhouding is nie, en dat ons land se howe geen jurisdiksie het nie. Die kerk het sy eie interne regstelsel, die kanonieke reg, met sy eie howe, en dis waar sy haar heil moet soek.
Die eerste plek waarheen sy dus moet gaan vir hulp, is die Bishop’s Court. Met +Garth as voorsitter van die hof. ++Thabo het nie reageer op haar vertoë nie.
In desperaatheid het eerwaarde Major dus besluit dat haar enigste opsie is om op ’n eetstaking te gaan. Dit het sy begin op 10 Mei 2016, en terselfdertyd het sy ’n tent opgeslaan by die ingang van die bisdom se kantoor in Zonnebloem, waar sy van voorneme was om te bly totdat +Garth of ++Thabo haar kom besoek. Op Vrydag 13 Mei het twee dokters haar ondersoek, en gewaarsku dat sy gevaar staan om in ’n koma te gaan – haar bloedsuiker was 3. Sy het toe sedert Dinsdag nog niks ingeneem nie, ook nie vloeistowwe nie. Op aanbeveling van die dokters het sy dus water begin drink.
Intussen het die ANC, verskeie Moslem-organisasies en die pro-Palestynse beweging in Suid-Afrika op rekord gegaan dat hulle haar ondersteun. Leraars van verskeie denominasies het haar kom besoek. Geestelike leiers van ander gelowe het haar kom besoek en ondersteun. +Garth, wat elke dag verby haar moet ry om by sy kantoor te kom, het nie.
Op Sondag 15 Mei, eers nadat die pro-Palestynse groep ’n ope brief gerig het waarin hulle pertinente vrae vra oor die wyse waarop die kerk haar behandel, en nadat joernaliste begin vrae vra het, het ++Thabo by haar aangekom en afgespreek om haar op Maandag 16 Mei te woord te staan, met haar prokureurs teenwoordig. Sy het toe haar eetstaking beëindig.
Is dit ’n gelukkige einde? Nee, want ongeag wat die uitslag van die vergadering is, het die Anglikaanse Kerk gewys dat hy voete van klei het. Mens kan nie anders as om te wonder of dit nie beeldpoetsery is wat veroorsaak dat ++Thabo op Sondagaand kom nagmaal deel het met eerwaarde Major nie.
Die Anglikaanse Kerk het nie net een van sy eie priesters gefaal nie, hulle het dit duidelik gemaak dat vroue in die kerk nie veilig is nie, dat hulle nie kan staatmaak op beskerming van die kerk nie. Hulle het duidelik gemaak dat die kerk skynbaar net omgee wanneer daar gevaar van negatiewe publisiteit is. Hulle het duidelik gemaak dat die masjinerie van die kerk gebruik sal word om stilswye af te dwing. Hulle het gewys dat, net soos in die Rooms-Katolieke Kerk, priesters beskerm word op die hoogste vlak teen die gevolge van hulle eie wandade.
En die beweerde sekspespriester is nog veilig in sy werk.
The post June Major se eetstaking: het die Anglikaanse Kerk sy vroue gefaal? appeared first on LitNet.