André Bartlett skryf oor hoe hy die Bybel ten opsigte van gaywees verstaan.
By die pas afgelope algemene sinode van die NG Kerk het dié kerk met sy besluite oor die status van vaste selfdegeslag-verhoudings die spreekwoordelike Rubicon oorgesteek.
Die sinode het nie net erkenning gegee aan sulke verhoudings en dit moontlik gemaak vir NG predikante om die bevestiging van burgerlike verbintenisse van persone van dieselfde geslag te hanteer nie, maar ook die selibaatsvereiste wat tot nou toe gegeld het vir gay en lesbiese predikante, opgehef. Dit alles as uitvloeisel van ʼn verbintenis tot die gelykwaardige en menswaardige behandeling van alle lidmate van die kerk, ongeag hulle seksuele oriëntasie.
Wat opvallend was in die debat wat tot hierdie besluit gelei het, is dat daar ten opsigte van Bybelgebruik en Bybelverstaan twee baie duidelike lyne gevolg is.
Aan die een kant was daar die benadering om van ʼn paar “proeftekste” gebruik te maak om aan te dui dat die Bybel gekant is teen enige vorm van homoseksuele gedrag en dat die kerk dus in gehoorsaamheid aan hierdie tekste nie anders kan as om te volstaan met ʼn verbod op verhoudings tussen mense van dieselfde geslag nie. Van die mense wat hierdie lyn gevolg het, het wel die voorstel dat daar eers weer verdere studie gedoen moet word voor ʼn volgende algemene sinode ʼn besluit neem, gesteun, maar met die veronderstelde verwagting dat hierdie tekste dan steeds die deurslag sal gee.
Aan die ander kant was daar die benadering om nie vanuit enkele tekste ʼn saak op te bou nie, maar om eerder die breë lyne van die Bybel te probeer volg, en dan veral vanuit die perspektief van die Jesusverhaal soos wat dit in die Nuwe Testament uitdrukking vind. Daar is wel ook na die sogenaamde proeftekste gekyk, maar daar is bevind dat hierdie tekste te doen het met seksuele uitwasse tussen mense van dieselfde geslag en dus nie bruikbaar is in die beoordeling van selfdegeslagverhoudings van wedersydse liefde en trou nie.
In die lig van die Jesusverhaal is daar op veral twee aspekte gefokus: Jesus se radikale insluiting van mense wat om een ander rede deur die samelewing gemarginaliseer is, en die wyse waarop Jesus die wet as maatstaf vir menslike gedrag hanteer het.
Uit Jesus se optrede teenoor gemarginaliseerdes is dit baie duidelik aangedui dat hy uitgebeeld word as iemand wat baie doelbewus mense wat deur samelewingsnorme en -strukture uitgesluit is, in te sluit by die gemeenskap wat hy rondom hom vergader het. Dit het ook mense ingesluit wat op grond van Ou-Testamentiese rituele en reinheidsreëlings uitgesluit is van volle deelname aan die lewe van die geloofsgemeenskap.
Ten opsigte van die tweede aspek (Jesus se hantering van die wet) is sy samevatting van die wet in die dubbele liefdesgebod as uitgangspunt geneem. In die lig hiervan word die liefde as maatstaf gebruik om te bepaal of menslike gedrag (ook seksuele gedrag) reg of verkeerd is. Die vraag hoe hierdie norm konkreet hanteer moet word, kan op twee maniere beantwoord word: enersyds op negatiewe wyse deur te verwys na Paulus se uitspraak in Romeine 13:10 dat “die liefde die naaste geen kwaad aandoen nie”, en andersyds op positiewe wyse deur te verwys na Jesus se woorde in Johannes 10:10: “Ek het gekom sodat hulle die lewe kan hê, en dit in oorvloed.”
Die klassieke voorbeeld in hierdie verband is die antwoord van Jesus aan diegene wat hom gekritiseer het oor sy dissipels se oortreding van die Sabbatsgebod toe hy gesê het: “Die Sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die Sabbatdag nie” (Markus 2:27). Hieruit is dit duidelik dat die “lewe in oorvloed” waardeur die naaste nie kwaad aangedoen word nie, belangriker is as die strakke nakoming van een of ander bepaling van die wet.
Indien die lens van die liefdesgebod (in positiewe én negatiewe sin) oor die sogenaamde proeftekste geplaas word, sou daar bevind kon word dat die gedrag wat daarin beskryf word, wel afkeurenswaardig is – nie omdat dit ʼn algemene oordeel oor homoseksuele gedrag uitspreek nie, maar omdat dit verwys na spesifieke gedrag wat die medemens kwaad aandoen. Dit gaan immers in hierdie tekste oor sake soos groepsverkragting (die verhaal van Sodom), tempelprostitusie (die Levitikus-tekste), uitspattige seksorgies (Romeine 1) en die seksuele uitbuiting van ondergeskiktes en minderjariges (1 Korintiërs 6 en 1 Timoteus 1). Sulke gedrag doen nie net die medemens kwaad aan nie, maar dra ook nie by tot die verwesenliking van ʼn “lewe in oorvloed” nie, en word om dié rede steeds as onaanvaarbare en sondige gedrag beskou.
Indien die liefdesgebod as norm hanteer word om menslike verhoudinge te beoordeel, dan behoort daar wat sowel heteroseksuele as homoseksuele verhoudings betref, die dubbele vraag gevra te word: Doen dit die medemens kwaad aan, en staan dit in diens van ʼn lewe in oorvloed?
Indien twee persone in ʼn verhouding van liefde en trou staan waar hulle mekaar nie kwaad aandoen nie en mekaar se lewens verryk, is dit ʼn verhouding wat die toets van die liefdesgebod deurstaan en as eties aanvaarbaar beskou kan word. Dan maak dit ook nie saak of dit ʼn verhouding tussen persone van dieselfde geslag of tussen persone van teenoorgestelde geslagte is nie.
ʼn Mens sou verder kon gaan deur te sê dat dit téén die bedoeling van die liefdesgebod is om van enigiemand op grond van sy/haar seksuele oriëntasie te verwag om te kies vir ʼn lewe van eensaamheid en onvervuldheid. Volgens die tweede skeppingsverhaal in die Bybel het God self aan die begin gesê dat “dit nie goed is dat die mens alleen is nie” en toe vir die mens ʼn medemens gemaak “wat by hom pas”.
Met die besluit om te kies vir die erkenning van selfdegeslagverhoudings het die algemene sinode nie net ʼn bepaalde etiese beslissing gemaak nie, maar ten diepste gekies vir ʼn meer verantwoordelike wyse om met die Bybel om te gaan in die soeke na antwoorde op lewensvrae.
Hierdie LitNet Akademies-webseminaar sluit ook in:
Daar is 'n olifant in die kerk
Jean Oosthuizen |
|
Homoseksuele predikante: ’n Regs- en morele dilemma
Helena van Coller |
|
Homoseksualiteit en sewe klassieke Bybelse tekste: Antigay of misverstaan?
Ernest van Eck, Ralph Barnard |
The post Sinode se gay-besluit: keuse vir verantwoordelike gebruik van die Bybel appeared first on LitNet.