Klouter deur die heining, Ma,
gooi af die karos
los maar die grashalms waaraan ons vashou –
die stories van nou'ie dag
en nog ’n bietjie dit.
Fnuik die hanslammers
waai vir die kinders in die dam
kies die kortpad – verby die uilebos
om met die bult deur die plaat proteas –
vlieg hoër as Amper Bo.
Dis oukei as die koffie koud word
die brood verbrand
krane drup en verf afdop
rose ongesnoei blom.
Daar’s ’n nuwe plaas daar anderkant
doer waar die son rus,
waar die maan dou
en die uile roep
en die dans van die reën wag.
Stap die see in, swem diepkant toe
verby ons horison
nie bang wees nie
nie terugdeins nie –
kies die brekergolwe.
Daar’s ’n nuwe strand daar anderkant
’n goeie uitkykplek
met oorgenoeg dryfhout en stroke hardloopsand
en vreemde skulpiesoekgoed.
Pak torings gladde klippe
maak ’n groot vuur, solank.
Lag oopmond sing voluit
spring uit Ma se vel uit
en voel hoe die wêreld
wegwieg na die groter omhelsing.
The post Gedig: So lank appeared first on LitNet.